Galileo se botsing met die Kerk
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
DIT is 22 Junie 1633. ’n Bewerige ou man is op sy knieë voor die hof van die Romeinse Inkwisisie. Hy is ’n wetenskaplike, een van die bekendstes van sy dag. Sy wetenskaplike oortuigings is gebaseer op jare lange studie en navorsing. En tog moet hy verloën wat hy weet waar is as hy sy lewe wil red.
Sy naam is Galileo Galilei. Die Galileo-saak, soos baie dit noem, het bedenkinge, vrae en geskille laat ontstaan wat vandag, ongeveer 370 jaar later, nog nie heeltemal uit die weg geruim is nie. Die saak het ’n onuitwisbare merk op die geskiedenis van godsdiens en die wetenskap gelaat. Waarom het dit so ’n opskudding veroorsaak? Waarom het die Galileo-saak weer in ons moderne era aandag getrek? Verteenwoordig dit werklik ’n “breuk tussen die wetenskap en godsdiens”, soos een skrywer dit genoem het?
Baie beskou Galileo as die “vader van die moderne wetenskap”. Hy was ’n wiskundige, ’n sterrekundige en ’n fisikus. Galileo was een van die heel eerste persone wat die hemelruim met behulp van ’n teleskoop bestudeer het, en wat hy gesien het, het hy as ’n bevestiging vertolk van ’n opvatting wat in sy dag nog ’n vurige geskilpunt was: Die aarde wentel om die son en gevolglik is ons planeet nie die middelpunt van die heelal nie. Geen wonder dat Galileo soms beskou word as die een wat die moderne eksperimentele metode uitgevind het nie!
Wat is party van Galileo se ontdekkings en uitvindsels? As sterrekundige het hy onder meer ontdek dat Jupiter mane het, dat die Melkweg uit sterre bestaan, dat die maan berge het en dat Venus fases soos die maan het. As fisikus het hy die wette bestudeer wat die pendulum sowel as vallende voorwerpe beheer. Hy het instrumente uitgevind soos die geometriese kompas, ’n soort rekenliniaal. Met behulp van inligting wat hy uit Holland ontvang het, het hy die teleskoop gemaak wat die heelal vir hom ontsluit het.
Maar ’n langdurige konfrontasie met kerkleiers het hierdie beroemde wetenskaplike se loopbaan in ’n drama verander—die Galileo-saak. Hoe het dit begin, en waarom?
Botsing met Rome
Galileo het reeds teen die einde van die 16de eeu Kopernikus se teorie aangeneem, wat sê dat die aarde om die son wentel en nie omgekeerd nie. Dit word ook die heliosentriese stelsel genoem, waarvolgens die son die middelpunt van die planetestelsel is. Nadat Galileo in 1610 sy teleskoop gebruik het om hemelliggame te ontdek wat nog nooit tevore waargeneem is nie, was hy oortuig dat hy bevestiging vir die heliosentriese stelsel gevind het.
Volgens die Grande Dizionario Enciclopedico UTET wou Galileo meer doen as om net sulke ontdekkings te maak. Hy wou “die hooggeplaastes van sy tyd (vorste en kardinale)” daarvan oortuig dat Kopernikus se teorie waar is. Hy het gehoop dat hy met behulp van invloedryke vriende die kerk se besware sou kon oorkom en selfs hulle ondersteuning sou kon wen.
In 1611 het Galileo na Rome gegaan, waar hy hooggeplaaste geestelikes ontmoet het. Hy het sy teleskoop gebruik om vir hulle sy sterrekundige ontdekkings te wys. Maar die ontmoeting het nie die resultate opgelewer waarop hy gehoop het nie. Teen 1616 was Galileo onder die kerk se vergrootglas.
Teoloë van die Roomse Inkwisisie het die heliosentriese tesis “filosofies gesproke as dwaas, absurd en amptelik as kettery [bestempel], aangesien dit op baie plekke lynreg in stryd is met die letterlike betekenis van die verklarings in die Heilige Skrif, die algemene uitleg daarvan, en die vertolking van die Heilige Vaders en leraars van teologie”.
Galileo het kardinaal Robert Bellarmine ontmoet, wat as die grootste Katolieke teoloog van die tyd beskou is en “die hamer teen die ketters” genoem is. Bellarmine het Galileo amptelik gewaarsku om op te hou om sy opinies oor die heliosentriese stelsel te bevorder.
Voor die Inkwisisiehof
Galileo het versigtig probeer optree, maar hy het nie opgehou om Kopernikus se tesis te ondersteun nie. Sewentien jaar later, in 1633, het Galileo voor die Inkwisisiehof verskyn. Kardinaal Bellarmine was dood, maar nou was pous Urbanus VIII, wat hom vroeër goedgesind was, Galileo se grootste teenstander. Skrywers het al hierdie verhoor een van die bekendste en onregverdigste verhore in die geskiedenis genoem en dit selfs op dieselfde vlak geplaas as die verhore van Sokrates en Jesus.
Wat het tot die verhoor aanleiding gegee? Galileo het ’n boek geskryf met die titel Dialoog oor die twee groot stelsels van die wêreld. Dit het in werklikheid heliosentrisme voorgestaan. Die skrywer is aangesê om in 1632 voor die hof te verskyn, maar omdat Galileo siek en amper 70 jaar oud was, het hy die reis uitgestel. Hy het dit die daaropvolgende jaar onderneem, nadat hy gedreig is met gevangenskap en dat hy met geweld na Rome gebring sou word. Op bevel van die pous is hy ondervra en selfs met marteling gedreig.
Of hierdie siek ou man werklik gemartel is, word betwis. Soos in sy vonnis opgeteken is, was Galileo aan ’n “deeglike ondervraging” onderwerp. Volgens Italo Mereu, ’n Italiaanse regshistorikus, was daardie uitdrukking ’n tegniese term wat destyds gebruik is om marteling te beskryf. Verskeie geleerdes stem saam met hierdie verduideliking.
Hoe dit ook al sy, Galileo is op 22 Junie 1633 in ’n somber saal voor die lede van die Inkwisisie gevonnis. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy “die valse lering aangehang en geglo het, wat strydig is met die Heilige en Goddelike Skrif, dat die Son . . . nie van oos na wes beweeg nie en dat die Aarde beweeg en nie die middelpunt van die wêreld is nie.”
Galileo wou nie ’n martelaar word nie en is dus gedwing om sy opvattings te laat vaar. Nadat sy vonnis gelees is, het die bejaarde wetenskaplike, op sy knieë en geklee as ’n boeteling, plegtig verklaar: “Ek verloën, vervloek en verafsku die voorgenoemde dwalinge en kettery [Kopernikus se teorie] en ook enige ander dwaling, kettery of sekte wat strydig is met die Heilige Kerk.”
Daar is ’n gewilde legende—wat nie deur gegronde bewyse bevestig is nie—dat Galileo, nadat hy sy stellings teruggetrek het, sy voet op die vloer gestamp en in protes uitgeroep het: “En tog beweeg dit!” Kommentators sê dat die vernedering wat dit meegebring het om sy ontdekkings te verloën, hom tot sy dood toe gepynig het. Hy is tot tronkstraf gevonnis, maar sy straf is versag tot lewenslange huisarres. Terwyl hy in byna algehele afsondering gelewe het, het hy blind geword.
’n Konflik tussen godsdiens en die wetenskap?
Baie het tot die slotsom gekom dat Galileo se voorbeeld bewys dat die wetenskap en godsdiens heeltemal onverenigbaar is. Deur die eeue heen het die Galileo-saak mense in werklikheid van godsdiens vervreem. Dit het baie daarvan oortuig dat godsdiens uiteraard ’n bedreiging vir wetenskaplike vooruitgang is. Is dit werklik so?
Pous Urbanus VIII en die teoloë van die Roomse Inkwisisie het inderdaad Kopernikus se teorie verwerp en beweer dat dit strydig is met die Bybel. Galileo se teenstanders het na Josua se woorde verwys: “Son, staan stil”, wat volgens hulle vertolking letterlik verstaan moes word (Josua 10:12, Die Bybel, 1953). Maar weerspreek die Bybel werklik Kopernikus se teorie? Hoegenaamd nie.
In werklikheid was dit die wetenskap en ’n ooglopend verkeerde vertolking van die Skrif wat mekaar weerspreek het. Dit was hoe Galileo die saak gesien het. Hy het aan ’n leerling geskryf: “Hoewel die Skrif nie verkeerd kan wees nie, kan die vertolkers en uitleggers daarvan wel op verskillende maniere verkeerd wees. ’n Baie ernstige fout wat dikwels gemaak word, is dat hulle nooit verder as die suiwer letterlike betekenis daarvan wil kyk nie.” Enige ernstige Bybelstudent moet hiermee saamstem.a
Galileo het verder gegaan. Hy het gesê dat twee boeke, die Bybel en die boek van die natuur, deur dieselfde Skrywer geskryf is en mekaar nie kan weerspreek nie. Hy het egter bygevoeg dat ’n mens nie “met sekerheid kan sê dat alle vertolkers onder Goddelike inspirasie praat nie”. Hierdie geïmpliseerde kritiek op die kerk se amptelike vertolking is waarskynlik as ’n uitdaging beskou, wat daartoe gelei het dat die Roomse Inkwisisie die wetenskaplike veroordeel het. Hoe durf ’n blote leek hom immers met kerksake inmeng?
Verskeie geleerdes het al met verwysing na die Galileo-saak twyfel uitgespreek oor die onfeilbaarheid van die kerk sowel as die pous. Die Katolieke teoloog Hans Küng skryf dat “talle en onbetwisbare” foute in “die amptelike kerkleer”, insluitende “die veroordeling van Galileo”, twyfel laat ontstaan het oor die dogma van onfeilbaarheid.
Galileo se goeie naam herstel?
Johannes-Paulus II het in November 1979, ’n jaar ná sy verkiesing, die hoop uitgespreek dat Galileo se status hersien kon word. Die pous het erken dat Galileo “baie gely het . . . deur die toedoen van manne en instellings van die Kerk”. Dertien jaar later, in 1992, het ’n kommissie wat deur dieselfde pous aangestel is, erken: “Sekere teoloë, Galileo se tydgenote, . . . het nie die diepe, nie-letterlike betekenis van die Skrif begryp wanneer dit die fisiese werking van die heelal beskryf nie.”
Maar feit is dat die heliosentriese teorie nie net deur teoloë gekritiseer is nie. Pous Urbanus VIII, wat ’n prominente rol in die saak gespeel het, het onversetlik daarop aangedring dat Galileo ophou om die eeue oue kerkleer dat die aarde die middelpunt van die heelal is, te ondermyn. Hierdie lering kom nie uit die Bybel nie, maar van die Griekse filosoof Aristoteles.
Nadat die hedendaagse kommissie die saak breedvoerig hersien het, het die pous die veroordeling van Galileo “’n oorhaastige en tragiese beslissing” genoem. Beteken dit dat die wetenskaplike se goeie naam in ere herstel is? “Om soos party te sê dat Galileo se goeie naam in ere herstel is, is belaglik”, sê een skrywer, “want dit is die kerklike hof wat deur die geskiedenis veroordeel word, en nie Galileo nie.” Die geskiedskrywer Luigi Firpo het gesê: “Vervolgers het nie die reg om hulle slagoffers se naam in ere te herstel nie.”
Die Bybel is “’n lamp wat in ’n donker plek skyn” (2 Petrus 1:19). Galileo het dit teen wanvertolking probeer beskerm. Maar omdat die kerk ’n mensgemaakte tradisie ten koste van die Bybel voorgestaan het, het hulle die teenoorgestelde gedoen.
[Voetnoot]
a ’n Eerlike leser sal geredelik erken dat ’n stelling oor die son wat in die hemelruim stilstaan, nie as ’n wetenskaplike waarneming bedoel is nie, maar as ’n eenvoudige beskrywing van hoe dit gelyk het uit die gesigspunt van ’n menslike ooggetuie. Sterrekundiges praat ook dikwels van die opkoms en ondergang van die son, maan, planete en sterre. Hulle bedoel nie dat hierdie hemelliggame letterlik om die aarde draai nie, maar eerder dat dit lyk of hulle deur ons hemelruim beweeg.
[Venster/Prent op bladsy 14]
Galileo Se Lewe
Galileo, wie se vader ’n Florentyn was, is in 1564 in Pisa gebore, waar hy later geneeskunde aan die universiteit daar gestudeer het. Hy het min belangstelling in hierdie studieveld getoon en dit opgegee om fisika en wiskunde te studeer. In 1585 het hy na sy familie teruggekeer sonder dat hy enige akademiese kwalifikasie verwerf het. En tog het hy die respek van die grootste wiskundiges van sy tyd gewen en is hy as lektor in wiskunde aan die Universiteit van Pisa aangestel. Ná sy vader se dood het ekonomiese probleme Galileo genoodsaak om na Padua te trek, waar hy in ’n beter besoldigde posisie, as hoogleraar van wiskunde aan daardie stad se universiteit, aangestel is.
Gedurende die 18 jaar wat hy in Padua gewoon het, het Galileo drie kinders gehad by sy minnares, ’n jong Venesiaanse vrou. In 1610 het hy na Florence teruggekeer, waar sy ekonomiese situasie verbeter het, en dit het hom in staat gestel om meer tyd aan navorsing te wy—maar ten koste van die vryheid wat hy in die gebied van die Venesiaanse Republiek geniet het. Die groothertog van Toskane het hom as “eerste filosoof en wiskundige” aangestel. Galileo is in 1642 in Florence oorlede terwyl hy onder huisarres was weens die vonnis wat die Inkwisisie hom opgelê het.
[Erkenning]
From the book The Library of Original Sources, Volume VI, 1915
[Prent op bladsy 12]
Galileo se teleskoop, wat hom gehelp het om te bevestig dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie
[Erkenning]
Scala/Art Resource, NY
[Prente op bladsy 12]
Die geosentriese stelsel (aarde as middelpunt)
Die heliosentriese stelsel (son as middelpunt)
[Erkenning]
Agtergrond: © 1998 Visual Language
[Foto-erkenning op bladsy 11]
Prent: From the book The Historian’s History of the World