Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/15 bl. 22-24
  • “Maar dit beweeg tog!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Maar dit beweeg tog!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stellings deur die Kerk teengestaan
  • Nie ’n wetenskaphandboek nie
  • Galileo skuldig bevind aan kettery
  • Galileo
    Ontwaak!—2015
  • Galileo se botsing met die Kerk
    Ontwaak!—2003
  • ’n Boek wat verkeerd voorgestel word
    ’n Boek vir alle mense
  • Die wetenskap en godsdiens—die begin van ’n konflik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/15 bl. 22-24

“Maar dit beweeg tog!”

“DIE Bybel leer ons hoe om hemel toe te gaan, nie hoe dinge in die hemel werk nie”, het die 16de-eeuse Italiaanse wetenskaplike en uitvinder Galileo Galilei gesê. Sulke opvattings het hom met die Rooms-Katolieke Kerk, wat hom met marteling en opsluiting gedreig het, laat bots. Sowat 350 jaar later het die kerk die wyse waarop hy Galileo behandel het weer in oënskou geneem. Wat in Galileo se dag plaasgevind het, is al ’n “konfrontasie tussen die empiriese wetenskap en blinde dogmatisme” genoem.

Vandag kan soekers na waarheid uit Galileo se ondervinding leer. Maar waarom het so ’n konfrontasie ooit plaasgevind? ’n Kykie na die aanvaarde wetenskaplike beskouings van sy tyd sal die antwoord gee.

In die middel van die 16de eeu is daar gemeen dat die aarde die middelpunt van die heelal is. Daar is van die veronderstelling uitgegaan dat planete in volmaakte kringlope wentel. Hoewel hierdie opvattings nie deur wetenskaplike metodes bewys is nie, is hulle met vertroue as vasstaande feit aanvaar. Die wetenskap met sy “mistiese opvattings” was inderdaad onskeibaar van godsdiens.

Galileo is in 1564 in só ’n wêreld in Pisa vir ’n gerespekteerde familie gebore. Sy vader wou hê dat hy ’n dokter moes word, maar die weetgierige seun is deur die wiskunde geboei. Hy het mettertyd, as ’n wetenskapprofessor, sekere inersiebeginsels ontdek. Toe beskrywings van vroeë Nederlandse teleskope hom bereik het, het hy heelwat op die ontwerp daarvan verbeter en sy eie puik instrument gebou. Hy het daarmee na die hemele gekyk en het wat hy daaruit geleer het in sy eerste boek, Sidereus Nuncius (Boodskapper van die Sterre), gepubliseer en vier mane van Jupiter aan sy geslag bekend gestel. In 1611 is hy na Rome ontbied, waar hy sy bevindings aan die Jesuïtiese Collegio Romano (Roomse Universiteit) voorgelê het. Hulle het hom vereer deur ’n konferensie waartydens hulle sy bevindinge erken het.

Stellings deur die Kerk teengestaan

Voordat Galileo uit Rome vertrek het, het ’n invloedryke Jesuïet, kardinaal Bellarmine, ’n ondersoek na Galileo se stellings op tou gesit. Galileo het geglo dat die skepping deur wette beheer word wat mense deur middel van studie te wete kan kom. Die Katolieke Kerk het hierdie siening teëgestaan.

Selfs party sterrekundiges het beswaar gemaak teen Galileo se beskouing. Hulle was van mening dat dit onmoontlik was vir die teleskoop om die werklikheid te vergroot en dat die uitvinding ’n kullery was. Een priester het selfs gesê dat die sterre wat gesien is in die lens ingebou was! Toe Galileo berge op die maan ontdek het wat bevestig het dat die hemelliggame nie volmaakte sfere is nie, was die priester Clavius se antwoord daarop dat die maan in kristal omhul is sodat dit steeds ’n volmaakte bol is, hoewel ’n mens die berge kan waarneem! “Dit”, het Galileo op sy beurt gesê, “is ’n pragtige verbeeldingsvlug.”

Galileo se ywer om uit die “boek van die natuur” te lees, soos hy die studie van die skepping genoem het, het hom na die werk van die Poolse sterrekundige Nicolaus Copernicus gelei. In 1543 het Copernicus ’n boek gepubliseer wat sê dat die aarde om die son wentel. Galileo het dit gestaaf. Maar dit het Galileo met die wetenskaplike, politieke en godsdiensinstelling van sy dag laat bots.

Hoewel die Katolieke Kerk Copernicaanse sterrekunde gebruik het om datums, soos Paasfees, te bepaal, is Copernicus se beskouings nie amptelik aangeneem nie. Die kerkhiërargie het Aristoteles se teorie gesteun dat die aarde die middelpunt van die heelal is. Galileo se nuwe opvattings het egter hulle reputasie en gesag betwis.

Hoewel onafhanklike wetenskaplikes oor die hele Europa hulle daarvoor beywer het om die Copernicaanse stelsel te bevestig, was hulle tevrede om dit binne die akademiese wêreld te bespreek. Op daardie grondslag het die Katolieke Kerk hulle met rus gelaat. Galileo het nie in Latyn geskryf nie maar in die Italiaans van die gewone man en sy ontdekkings sodoende gewild gemaak. Die geestelikes het gemeen dat hy nie net hulle nie, maar God se Woord, betwis het.

Nie ’n wetenskaphandboek nie

Natuurlik betwis die ontdekking van die feite oor die heelal nie werklik God se Woord nie. Studente van daardie Woord besef dat die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, hoewel dit akkuraat is wanneer dit wetenskaplike sake aanroer. Dit is geskryf vir die geestelike ontwikkeling van gelowiges, nie om hulle fisika of die een of ander natuurwetenskap te leer nie (2 Timotheüs 3:16, 17). Galileo was dit hiermee eens. Hy het gesê dat daar twee taalsoorte is: die presiese terme van die wetenskap en die alledaagse woorde van die geïnspireerde skrywers. Hy het geskryf: “Dit is nodig . . . dat die Skrif so verduidelik word sodat gewone mense dit verstaan, om baie dinge te sê wat anders voorkom (wat die betekenis van die woorde betref) as die absolute waarheid.”

Daar is voorbeelde hiervan in verskeie Bybeltekste. Een daarvan is Job 38:6, waar die Bybel sê dat die aarde “fondamentklippe” en ’n “hoeksteen” het. Sommige het dit verkeerdelik gebruik as bewys dat die aarde nie beweeg nie. Sulke uitdrukkings word nie bedoel as ’n wetenskaplike beskrywing van die aarde nie, maar vergelyk die skepping van die aarde poëties met die oprigting van ’n gebou, met Jehovah as die Meesterbouer.

Soos biograaf L. Geymonat in sy boek Galileo Galilei toon: “Kleingeestige teoloë wat die wetenskap in die lig van Bybelse redenasie wou beperk, het niks anders gedoen as om die geloofwaardigheid van die Bybel self in twyfel te trek nie.” Om selfsugtige redes het hardkoppige mense presies dit gedoen. ’n Brief is aan die Heilige Offisie gestuur wat ’n ondersoek na Galileo aangevra het.

Op 19 Februarie 1616 is twee voorstelle aan Katolieke teoloë voorgelê: (1) “die son is die middelpunt van die heelal” en (2) “die aarde is nie die middelpunt van die heelal nie”. Op 24 Februarie het hulle beslis dat hierdie opvattings dwaas is en dat dit ’n dwaalleer is. Galileo is beveel om nie sulke teorieë voor te staan of te verkondig nie.

Galileo is stilgemaak. Nie net was die Katolieke Kerk teen hom gekant nie, maar sy vriende was magteloos om hom te help. Hy het hom eenvoudig op navorsing toegelê. As dit nie was vir ’n verandering van pous in 1623 nie, sou ons moontlik nooit weer van hom gehoor het nie. Maar die nuwe pous, Urbanus VIII, was ’n intellektueel en ’n ondersteuner van Galileo. Galileo is meegedeel dat die pous nie beswaar sou maak teen ’n nuwe boek nie. Hy het selfs ’n oudiënsie met die pous gehad. Ná hierdie duidelike blyk van die pous se ruim denke het Galileo aan die werk gespring.

Hoewel Galileo se Dialoog van Twee Wêreldsisteme in 1632 vir die eerste keer met die toestemming van die Katolieke Kerk gepubliseer is, het pouslike geesdrif spoedig gekwyn. Op 70-jarige ouderdom is Galileo ’n tweede keer ontbied om voor die Inkwisisie te verskyn. Die klag van kettery het vereis dat die kerk se magtiging om die boek te publiseer eers verduidelik word, en daar is beweer dat Galileo hulle bedrieg het deur die vroeëre verbod waardeur hy verbied is om Copernicanisme te verkondig geheim te hou. Aangesien die Dialoog astronomiese stelsels, waaronder die van Copernicus, vergelyk het, is daar beweer dat hy die verbod oortree het.

Galileo het geantwoord dat sy boek krities staan teenoor Copernicus. Dit was ’n swak verweer, want in die boek is ’n uiters oortuigende betoog vir Copernicus gelewer. Boonop is dinge wat die pous gesê het in die mond van die onnoselste karakter in die boek, Simplicio, gelê, iets wat pous Urbanus VIII aanstoot gegee het.

Galileo skuldig bevind aan kettery

Galileo is skuldig bevind. Omdat hy reeds siek was en met marteling gedreig is tensy hy sy siening terugtrek, het hy dit gedoen. Op sy knieë het hy onder eed verklaar: “Ek herroep . . . die beweerde onjuisthede en dwaalleringe . . . Ek sal nooit weer . . . sulke dinge spreek wat my onder soortgelyke verdenking kan plaas nie.” Dit is interessant dat hy, toe hy opgestaan het, volgens oorlewering op die grond geslaan en gemompel het: “Eppur si muove! [Maar dit beweeg tog!]”

Die vonnis was opsluiting en boetedoenings tot sy dood, wat nege jaar later plaasgevind het. ’n Brief wat hy in 1634 geskryf het, het gesê: “Die oorlog is nie deur enige opvatting van my begin nie, maar deur die feit dat ek in onguns by die Jesuïete was.”

In 1822 is die verbod op sy werke opgehef. Maar eers in 1979 het pous Johannes Paulus II die kwessie weer aangeroer en erken dat Galileo “baie gely het . . . deur die toedoen van die mense en die organisasies van die Kerk”. In die Vatikaanse koerant, L’Osservatore Romano, het Mario D’Addio, ’n bekende lid van die spesiale kommissie wat deur pous Johannes Paulus II aangestel is om Galileo se skuldigbevinding in 1633 te hersien, gesê: “Daar is geen grond vir die sogenaamde kettery van Galileo nie, hetsy teologies of onder die kerkreg.” Volgens D’Addio het die Inkwisisiehof sy gesag oorskry—Galileo se teorieë het geen geloofsartikel oortree nie. Die Vatikaanse koerant het erken dat Galileo se skuldigbevinding aan kettery ongegrond was.

Wat leer ons uit Galileo se ondervinding? ’n Christen moet besef dat die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie. Wanneer dit lyk of daar ’n konflik tussen die Bybel en die wetenskap bestaan, moet hy nie elke “teenstrydigheid” probeer uitwis nie. Christelike geloof is op stuk van sake gegrond op “die woord van God”, nie op wetenskaplike gesag nie (Romeine 10:17). Daarbenewens verander die wetenskap gedurig. ’n Teorie wat lyk of dit die Bybel weerspreek en wat vandag gewild is, kan dalk môre as onjuis bewys en verwerp word.

Maar wanneer ons na Galileo se geval verwys om te toon hoe godsdiens die wetenskap onderdruk, sal dit goed wees as wetenskaplikes onthou dat Galileo se ontdekking nie deur die navorsingsinstelling van sy dag aanvaar is nie. In stryd met hedendaagse denke was die Bybel in ooreenstemming met daardie waarheid. God se Woord het geen hersiening nodig gehad nie. Dit was die Katolieke Kerk se verkeerde vertolking van die Bybel wat die probleem veroorsaak het.

Die voortreflike harmonie en natuurwette in die heelal behoort almal met groter waardering vir die Skepper, Jehovah God, te vul. Galileo het gevra: “Is die Werk minder indrukwekkend as die Woord?” Die apostel antwoord: “[God se] onsigbare dinge [“eienskappe”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word.”—Romeine 1:20.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel