’n Boek wat verkeerd voorgestel word
“Die leer van die dubbele beweging van die aarde, om sy eie as en om die son, is onjuis en geheel en al in stryd met die Heilige Skrif.” Dit was die woorde van die Kongregasie van die Indeks van die Rooms-Katolieke Kerk in ’n raadsbesluit in 1616.1 Strook die Bybel werklik nie met wetenskaplike feite nie? Of is dit verkeerd voorgestel?
IN DIE winter van 1609/10 het Galileo Galilei met sy pas ontwerpte teleskoop na die hemel gekyk en vier mane ontdek wat om die planeet Jupiter draai. Wat hy gesien het, het die heersende opvatting verpletter dat al die hemelliggame om die aarde moes wentel. Vroeër, in 1543, het die Poolse sterrekundige Nicolaus Copernicus die teorie gehad dat die planete om die son draai. Galileo het bevestig dat dit ’n wetenskaplike waarheid was.
Maar vir Katolieke teoloë was dit kettery. Die kerk was lank van mening dat die aarde die middelpunt van die heelal is.2 Hierdie beskouing was gegrond op ’n letterlike uitlegging van tekste wat die aarde beskryf het as iets wat gegrond is “op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Galileo is na Rome ontbied, waar hy voor die Inkwisisie verskyn het. Hy is aan streng ondervraging onderwerp, gedwing om sy bevindings terug te trek, en hy het die res van sy lewe onder huisarres deurgebring.
In 1992, ongeveer 350 jaar ná Galileo se dood, het die Katolieke Kerk uiteindelik erken dat hy toe al die tyd reg was.3 Maar as Galileo reg was, was die Bybel dan verkeerd?
’n Begrip van die ware sin van Bybelverse
Galileo het geglo dat die Bybel waar is. Toe sy wetenskaplike ontdekkings die heersende uitleg van sekere Bybelverse weerspreek het, het hy geredeneer dat teoloë nie die ware sin van die verse begryp het nie. Trouens, “twee waarhede kan mekaar nooit weerspreek nie”, het hy geskryf.4 Dit was sy teorie dat die presiese terme van die wetenskap nie die alledaagse woorde van die Bybel weerspreek nie. Maar teoloë wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het volgehou dat alle Bybelse stellings oor die aarde letterlik opgeneem moes word. Gevolglik het hulle nie net Galileo se ontdekkings verwerp nie, maar hulle het ook nie die ware sin van sulke skriftuurlike uitdrukkings begryp nie.
Gesonde verstand moet tog vir ons sê dat dit nie beteken dat die Bybelskrywers gedink het die aarde is letterlik vierkantig wanneer die Bybel van “die vier hoeke van die aarde” praat nie (Openbaring 7:1). Die Bybel is in die taal van gewone mense geskryf en dit gebruik dikwels treffende beeldspraak. Wanneer dit dus praat van die aarde se “vier hoeke”, “grondveste” wat nie kan wankel nie, “fondamentklippe” en ’n “hoeksteen”, gee die Bybel nie ’n wetenskaplike beskrywing van die aarde nie; dit maak ongetwyfeld gebruik van figuurlike taal, soos ons dikwels in alledaagse spraak doen.a—Jesaja 51:13, vgl. NW; Job 38:6.
Biograaf L. Geymonat het in sy boek Galileo Galilei gesê: “Kleingeestige teoloë wat die wetenskap in die lig van Bybelse redenasie wou beperk, sou niks anders doen as om die Bybel self in ’n slegte lig te plaas nie.”5 Dit is presies wat hulle gedoen het. Eintlik was dit die teoloë se uitleg van die Bybel—nie die Bybel self nie—wat onredelike beperkings op die wetenskap geplaas het.
Vandag verdraai godsdiensfundamentaliste eweneens die Bybel wanneer hulle volhou dat die aarde in ses dae van 24 uur geskep is (Genesis 1:3-31). So ’n beskouing kom nie ooreen met die wetenskap of met die Bybel nie. Die woord “dag” word in die Bybel, soos ook in alledaagse spraak, op verskillende maniere gebruik, en dit druk tydeenhede van verskeie lengtes uit. In Genesis 2:4 word daar na al ses skeppingsdae as een alomvattende “dag” verwys. Die Hebreeuse woord wat in die Bybel met “dag” vertaal word, kan eenvoudig “’n lang tyd” beteken.6 Daar is dus geen Bybelse rede om vol te hou dat die skeppingsdae elk 24 uur lank was nie. Deur iets anders te leer, gee fundamentaliste ’n wanvoorstelling van die Bybel.—Sien ook 2 Petrus 3:8.
Deur die geskiedenis heen het teoloë dikwels die Bybel verdraai. Beskou ’n paar ander maniere waarop die godsdienste van die Christendom dit wat die Bybel sê verkeerd voorgestel het.
Deur godsdiens verkeerd voorgestel
Die dade van diegene wat sê dat hulle die Bybel volg, beklad dikwels die reputasie van die boek wat hulle beweer dat hulle hoogag. Sogenaamde Christene het mekaar se bloed in die naam van God vergiet. Tog vermaan die Bybel volgelinge van Christus om ‘mekaar lief te hê’.—Johannes 13:34, 35; Matteus 26:52.
Party geestelikes melk hulle kudde deur hulle swaar verdiende geld af te rokkel—heeltemal anders as die Bybelse opdrag: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:8; 1 Petrus 5:2, 3.
Dit is duidelik dat die Bybel nie geoordeel kan word volgens die woorde en dade van diegene wat dit bloot aanhaal of beweer dat hulle daarvolgens lewe nie. Gevolglik sal ’n onbevooroordeelde persoon moontlik self wil vasstel presies wat die Bybel bevat en waarom dit so ’n merkwaardige boek is.
[Voetnoot]
a Selfs hedendaagse sterrekundiges wat uiters gesteld is op letterlikheid sal byvoorbeeld praat van die “opkoms” en “ondergang” van die son, sterre en konstellasies—hoewel dit in werklikheid weens die aarde se aswenteling net lyk asof hulle beweeg.
[Prent op bladsy 4]
Twee van Galileo se teleskope
[Prent op bladsy 5]
Galileo voor sy inkwisiteurs