Van ons lesers
Jongmense vra Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het my ouer my nie lief nie?” (22 September 2002). Ek is 16 jaar oud en het laas my biologiese pa gesien toe ek 4 was. Hierdie artikel het presies gesê hoe ek voel. Dit was reg toe dit gesê het dat daar min dinge is wat so seermaak as om deur ’n ouer verwerp te word. Dankie vir hierdie geestelike voedsel op die regte tyd.
J. J., Verenigde State
My ouers het besluit om te skei 13 jaar nadat hulle uitmekaargegaan het. Ek kon nie verstaan waarom dit vir my so moeilik was nie, aangesien ek gedink het dat ek lankal oor die trauma was. Omdat ek verstaan waarom ek so verskriklik hartseer is, help dit my om meer spesifiek in my gebede te wees en selfs hierdie las op Jehovah te werp.
M. D., Italië
My pa het ons gesin verlaat toe ek ses jaar oud was. Sedertdien het hy baie min kontak met my gehad. Ek worstel al jare lank met skuldgevoelens. Daarom was dit nog altyd vir my moeilik om met ander oor my gevoelens te praat. Die ondervindinge in julle artikel het my geraak en gehelp om te sien dat ek nie die enigste een in hierdie situasie is nie. Moet asseblief nie onderskat hoe nuttig sulke artikels vir ons as lesers is en hoe baie ons dit waardeer nie!
A. H., Engeland
Ek is 16 jaar oud, en my pa het onlangs van my ma geskei. Ek, my jonger broer en ouer suster is verpletter. Hierdie artikel was regtig ongelooflik. Toe ek dit begin lees, het ek in trane uitgebars. Dit het elke gevoel beskryf wat ek binne-in my ervaar het. Die woorde daarin was so teer en liefdevol. Hoe meer ek gelees het, hoe meer het dit my geraak. Ek het baie keer gewonder of ek regtig my pa se liefde verdien. Dit is waarom hierdie artikel my so vertroos het. Die wete dat Jehovah my altyd sal liefhê, al het my pa my nie lief nie, is die allerbeste gevoel wat ’n mens kan hê. Ek hoef nie bekommerd te wees dat Hy skielik sal verander en sy rug op my sal keer nie.
A. M., Verenigde State
Ons gesin het grootgeword met ’n pa wat baie gedrink het, en my ma het baie swaargekry. Ons kinders het nie veel aandag gekry nie. Ek het waardeloos gevoel en selfs gedink dat dit beter sal wees om dood te gaan. Ek het om hulp gebid. Toe ek hierdie artikel gekry het, was ek so dankbaar. Dit het my vertroos om te dink dat mense wat hulle in hierdie situasie bevind, ook gelukkig en suksesvol kan wees deur Bybelbeginsels toe te pas. Ek besef dat ek ook gelukkig kan wees!
A. I., Japan
Vanielje Die artikel “Vanielje—’n spesery met ’n lang geskiedenis” (22 September 2002) het my ’n bietjie gepla. Jare gelede het ek ’n artikel oor ’n giftige vanieljeplant van Mexiko gelees. Baie mense koop dit en weet nie dat dit giftig kan wees nie.
P. D., Verenigde State
“Ontwaak!” antwoord: Van die vanielje wat in Mexiko—sowel as in ander lande—geproduseer word, bevat ekstrak van tonkaboontjies, wat ’n hoë konsentrasie coumarien het. Die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad het hierdie chemiese stof verbied omdat dit moontlik giftig kan wees. Aangesien ’n mens coumarien moontlik nie kan sien of kan ruik nie, word verbruikers aangeraai om vanielje slegs by gerespekteerde verskaffers te koop. Daarbenewens moet jy versigtig wees as jy ’n “winskopie” sien wat “te goed is om waar te wees”, aangesien suiwer vanielje-ekstrak duur is as gevolg van die produksiekoste daarvan.