Sal die situasie ooit verbeter?
VANDAG het die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander besorgde groepe programme om siektes te monitor en onder beheer te hou. Verskillende agentskappe versprei inligting en bevorder navorsing oor nuwe geneesmiddels en beheermaatreëls, alles in ’n poging om die groeiende probleem van insekverspreide siektes die hoof te bied. Individue en gemeenskappe kan ook baie doen om hulleself in te lig en te beskerm. Maar om individue te beskerm is iets heeltemal anders as om siektes wêreldwyd onder beheer te hou.
Baie deskundiges meen dat siektes nie onder beheer gebring kan word sonder wêreldwye samewerking en vertroue nie. “Die snelle globalisasie van die mens se habitat vereis dat mense in alle wêrelddele moet ophou om hulle buurte, provinsies, lande of halfronde as die begin en einde van hulle persoonlike ekosfeer te beskou”, skryf Pulitzerpryswenner en verslaggewer Laurie Garrett in haar boek The Coming Plague—Newly Emerging Diseases in a World out of Balance. “Mikrobes en die organismes waardeur hulle versprei word, steur hulle nie aan enige van die kunsmatige grense wat mense opgerig het nie.” As ’n siekte in een land uitbreek, wek dit nie net kommer in buurlande nie, maar regoor die wêreld.
Party regerings en mense wantrou nog steeds enige vorm van ingryping—selfs siektebeheerprogramme—wat van buite hulle landsgrense kom. Daarbenewens belemmer politieke kortsigtigheid en kommersiële hebsug dikwels verenigde internasionale pogings. Sal die mikrobes die oorhand kry in die stryd tussen die mens en siektes? Die skrywer Eugene Linden, wat wel so dink, sê: “Ons tyd raak min.”
Rede vir hoop
Wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang is ver agter in die wedloop teen siektes. En insekverspreide siektes is natuurlik net een van baie gevare wat mense se gesondheid bedreig. Maar daar is rede vir hoop. Hoewel wetenskaplikes nou eers begin om die komplekse wisselwerking tussen lewende dinge te verstaan, besef hulle dat die aarde die potensiaal het om homself te herstel. Ons planeet het ingeboude meganismes wat die balans van natuurlike sisteme kan herstel. Woude groei byvoorbeeld dikwels weer op ontboste grond, en die balans tussen mikrobes, insekte en diere is geneig om met verloop van tyd te stabiliseer.
Nog belangriker, die komplekse ontwerp van die natuur dui op ’n Skepper, ’n God wat in die begin die aarde se meganismes in werking gestel het. Baie wetenskaplikes erken dat daar ’n hoër intelligensie moet wees wat die aarde geskep het. Ja, mense wat ernstig hieroor nadink, kan nie God se bestaan tereg ontken nie. Die Bybel beskryf die Skepper, Jehovah God, as almagtig en liefdevol. Ons geluk is vir hom van groot belang.
Die Bybel verduidelik ook dat die mens onvolmaaktheid, siekte en die dood geërf het weens die moedswillige sonde van die eerste mens. Beteken dit dat dit ons lot is om vir ewig te ly? Nee! God se voorneme is om die aarde in ’n paradys te omskep, waar mense in vrede met ander diere, groot en klein, kan lewe. Die Bybel voorspel ’n wêreld waar geen skepsel, hetsy ’n groot dier of ’n klein insek, ’n bedreiging vir die mens sal wees nie.—Jesaja 11:6-9.
Die mens sal natuurlik ’n rol speel in die instandhouding van sulke toestande—maatskaplik sowel as ekologies. God het die mens beveel om vir die aarde te “sorg” (Genesis 2:15). In die toekomstige paradys sal die mens hierdie taak volmaak uitvoer omdat hy die riglyne van die Skepper sal gehoorsaam. Ons kan dus uitsien na daardie tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.