’n Onvergeetlike reis op Seeweg Nr. 1
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NOORWEË
ELKE aand van die jaar vertrek ’n skip uit die stad Bergen, aan die suidwestelike kus van Noorweë, en vaar dit noord op ’n 11 dae lange reis van sowat 4 500 kilometer. Dit vaar verby duisende eilande en deur baie fjords en seestrate terwyl dit by die stede, dorpe en nedersettings aan Noorweë se ruwe en pragtige kus aandoen.
Hoewel baie mense die seeroete van die Noorweegse Kusvaartdiens as die mooiste reis ter wêreld beskou, verskaf dit ook ’n nuttige diens—dit vervoer goedere, pos en passasiers tot by die hawe by Kirkenes, die eindpunt van die roete diep binne die Noordpoolsirkel.
Hoe vaar skepe in daardie poolwaters, veral in die winter wanneer ys ’n groot deel van die Noordpool onbegaanbaar vir skepe maak? Weens Noorweë se ligging word die land se klimaat beïnvloed deur die warm waters van die Noord-Atlantiese Seestroom en die gematigde westewinde. Dit maak Noorweë se klimaat matiger sodat dit aangenamer is as wat ’n mens van ’n land wat so ver noord is, sou verwag. Trouens, Noorweë se hawens is feitlik ysvry, selfs in die winter.
’n Seeweg kom tot stand
Laat in die 19de eeu, toe daar oorweeg is of die land se kusbevolkings per pad, spoor of skip verbind moet word, is daar uiteindelik ten gunste van ’n seeroete besluit. Maar destyds het selfs daardie roete probleme opgelewer, want hoewel die see nie toegeys het nie, was dit gevaarlik om in die nag en in slegte weer te vaar.
’n Gereelde kusvaartdiens is op 2 Julie 1893 ingestel, hoofsaaklik danksy die verbeelding en vasberadenheid van die skeepskaptein Richard With. Daardie dag het die eerste skip van hierdie kusvaartdiens uit Trondheim vertrek, met Hammerfest, die noordelikste stad in Europa, as sy eindbestemming. Hoewel baie negatief was, het die diens sukses behaal. Trouens, dit is later uitgebrei tot 34 hawens van Bergen tot Kirkenes—wat vandag nog die eindpunte is. Die nie-amptelike naam wat die kusbewoners die seeweg gegee het, naamlik Seeweg Nr. 1, is moontlik die grootste bewys van die sukses—en belangrikheid—daarvan.
Deesdae word ’n vloot van 11 moderne skepe op Seeweg Nr. 1 gebruik, waarvan een elke 24 uur vertrek. Maar omdat die pad-en-spoor-netwerk wat talle van die dorpe aan die kus verbind, baie verbeter het, is die kusvaartdiens al hoe meer op toerisme gerig, en dit kan uit die ontwerp van die skepe gesien word.
’n Ontvouende panorama
Die skepe vaar op ’n roete wat hulle hoofsaaklik deur beskutte waters neem. Passasiers kan dus 11 dae lank van die mooiste tonele in Noorweë geniet—karaktervolle dorpies omring deur welige weivelde, vissersdorpe, gletsers, fjords, sneeubedekte berge, kranse bespikkel met tallose seevoëls, majestueuse watervalle en selfs walvisse.
Wanneer die skepe by dorpies aandoen, kan die passasiers as ’n bykomende bonus aan land gaan om die plekkies te besigtig. Die dorp Molde bied byvoorbeeld ’n pragtige uitsig oor die 87 sneeubedekte pieke in die Romsdal-Alpe. By Alesund en Trondheim het besoekers dalk selfs tyd vir ’n kort uitstappie, waartydens hulle deur die strate kan wandel en die unieke plaaslike boustyle kan geniet. By party dorpe huur passasiers ’n motor en gaan hulle later by die volgende hawe weer aan boord.
Nadat die skepe uit die dorp Bodö vertrek het, vaar dit verby Vest Fjorden op pad na die Lofoten-eilande, ’n 175 kilometer lange eilandgroep met baie bergpieke en oulike vissersdorpies. Party van Lofoten se buitenste eilande is eintlik net riwwe, rotseilandjies en kranse wat bo die see uitsteek, waarop daar soms ’n vuurtoring of ’n baken is. Die eilandgroep is ook die tuiste van party van die wêreld se grootste seevoëlkolonies, wat bestaan uit meeue, seeswaels, eidereende, papegaaiduikers, duikerhoenders, kormorante, Atlantiese drietonige seemeeue, alke en soms stormvoëls. Daar is letterlik miljoene voëls.
Elke winter is die see om Lofoten vol vissersbote wat uitgaan om skrei, ’n soort kabeljou, te vang. Hierdie gebied is ook bekend vir walvisse. Hoe opgewonde raak die passasiers tog wanneer hulle sien hoe hierdie reusesoogdiere uit die water opspring en ’n straal misreën uitspuit!
In die somer wyk die skepe van die roete af en vaar hulle in Troll-fjord in. Die ingang van hierdie fjord is só nou en steil dat dit voel of jy jou hand oor die skip se reling kan uitsteek en aan die rotswand kan raak. Hier blaas die stuurman nie die skip se horing nie, want dit kan maklik ’n rotsstorting veroorsaak! Met sneeubedekte bergpieke in die agtergrond is hierdie deel van die kus ’n fotograaf se droom!
Nadat die skepe by verskeie ander stede en vissersdorpies aangedoen het, draai hulle ooswaarts na ’n deel van die kuslyn wat vir baie die hoogtepunt van die reis is. Passasiers kan byvoorbeeld van die Honningsvag-hawe op ’n uitstappie gaan na Noordkaap, waar ’n 300 meter hoë krans feitlik loodreg uit die Noordelike Yssee verrys en asemrowende tonele bied.
Die skepe dok net ’n paar uur by Kirkenes, die noordelike eindpunt, voordat dit weer die reis terug na Bergen begin. Tydens die suidwaartse skof van die reis kan passasiers tonele geniet wat hulle dalk op die noordwaartse skof gemis het terwyl hulle geslaap het. By die Noordpoolsirkel kan ’n mens byvoorbeeld die ontsaglike Svartisen-ysveld sien, wat oor ongeveer 370 vierkante kilometer strek. Die skepe vaar dan verby die pragtige bergreeks wat die Sewe Susters genoem word, sowel as verby Torghatten, ’n lae, bolvormige berg met ’n groot natuurlike tonnel wat regdeur loop en dit soos ’n hoed met ’n gat in die bol laat lyk. Tussen die dorpe Malöy en Florö gaan die skepe verby die Hornelen, ’n 860 meter hoë berg wat so skerp uit die see verrys dat die stuurman hier ook nie die horing blaas nie uit vrees vir ’n rotsstorting.
Die middernagson en die poolnag
Toeriste wat die reis in die somer onderneem, kan feitlik gedurende die hele reis ononderbroke daglig hê. Trouens, ’n groot deel van Seeweg Nr. 1 is in “die land van die middernagson”, noord van die Noordpoolsirkel. Hier skyn die somerson deur die nag. By Noordkaap gaan die son byvoorbeeld 12 weke lank nie onder nie!
Winterreisigers ondervind die teenoorgestelde—’n lang poolnag. Maar die winter het sy eie prag wanneer die lug, see, berge en sneeu in die sagte kleure van die skemer gehul is terwyl die son die horison nader, maar nie bo dit opkom nie. Daarbenewens is die winterhemel die volmaakte agtergrond vir een van die skouspelagtigste vertonings—die beroemde aurora borealis, of noorderlig. Wanneer winde van elektries gelaaide sondeeltjies die poolhemel binnedring, dans ontsagwekkende gordels en gordyne groen en geelgroen lig, wat soms skakerings van rooi insluit, deur die sterrehemel wat volgens hulle eie kosmiese ritme boë vorm, flikker en golwe maak.
Jy hoef natuurlik nie op ’n skip te wees om baie van hierdie pragtige tonele te sien nie. Danksy ’n uitgebreide pad-en-spoor-netwerk kan ’n groot deel van Noorweë ook deur die venster van ’n motor of trein besigtig word. Hierdie vervoermiddels sal moontlik vir mense met ’n knap begroting bekostigbaarder opsies wees. Maar watter roete jy ook al kies, een ding is seker—jy sal nooit moeg word vir die tonele wat hulle aan Noorweë se skilderagtige kus ontvou en met elke kilometer en elke seisoen verander nie.
[Kaart op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FINLAND
SWEDE
NOORWEË
OSLO
Seeroete
▿ ▵ Bergen
▿ ▵ Florö
▿ ▵ Malöy
▿ ▵ Alesund
▿ ▵ Molde
▿ ▵ Trondheim
NOORDPOOL-SIRKEL
Gedenkteken by die Noordpoolsirkel
▿ ▵ Bodö
▿ ▵ Lofoten-eilande
Troll-fjord
▿ ▵ Tromsö
▿ ▵ Hammerfest
▿ ▵ Honningsvag
▿ ▵ Kirkenes
[Erkenning]
Gebaseer op kaart: Hurtigruten
[Prent op bladsy 15]
In die Troll-fjord, omring deur Alpynse pieke
[Erkenning]
TO-FOTO AS, Harstad
[Prente op bladsy 15]
Die Lofoten-eilande is die tuiste van baie seevoëls, waaronder seemeeue, dikbekduikerhoenders en papegaaiduikers
[Prent op bladsy 16]
Seeweg Nr. 1 begin by Bergen
[Prent op bladsy 16]
Gedenkteken by die Noordpoolsirkel
[Prent op bladsy 16]
Middernagson
[Erkenning]
TO-FOTO AS, Harstad
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Sewe Susters
[Erkenning]
Per Eide
[Prent op bladsy 17]
Kusdorp in die donker wintertyd
[Prent op bladsy 17]
Aurora borealis, die noorderlig
[Erkenning]
© TO-FOTO AS, Harstad
[Prent op bladsy 17]
Die reis eindig by Kirkenes
[Erkenning]
Hallgeir Henriksen
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Nancy Bundt