Wanneer die son nie opkom nie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND
“DIE son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom”, sê die Bybel (Prediker 1:5, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Maar van die middel van November tot die einde van Januarie is die sonsopkoms en -ondergang nie duidelik sigbaar in baie gebiede noord van die Arktiese sirkel nie. Hier het mense geen ander keuse as om die lang, donker nagte van die Arktiese winter te verduur nie.
Lang nagte word ook in ’n mindere mate in gebiede suid van die Arktiese sirkel ondervind. Byvoorbeeld, in St. Petersburg, Rusland; Helsinki, Finland; Stockholm, Swede; en Oslo, Noorweë—stede wat almal minder as 800 kilometer suid van die Arktiese sirkel geleë is—is daar in die hartjie van die winter net omtrent ses uur lank daglig.
“Die idee dat Arktiese winters pikdonker is, is verkeerd”, sê Ari, wat sy kinderjare in Kiruna, Sweedse Lapland, deurgebring het. ’n Groot gedeelte van die dag kan opgesom word in een woord—skemer. Paula, ’n kunstenares wat in Finse Lapland woon, sê: “Wanneer Lapland in sneeu gehul is, verander die kleure na pastelskakerings van blou en pers.”
Donker winters het ’n negatiewe uitwerking op party mense. “Die klimaat- en seisoensveranderinge het ’n groot uitwerking op my”, het Jean Sibelius, ’n beroemde Finse komponis, geskryf. Hy het bygevoeg: “In die winter, wanneer die dae kort is, ly ek altyd ’n ruk lank aan depressie.” Sibelius is beslis nie die enigste een wat ’n slagoffer van die sogenaamde winterdepressie was nie. Selfs die Griekse geneesheer Hippokrates (ca. 460-ca. 377 v.G.J.) het geglo dat seisoene mense se gemoedstemming beïnvloed.
Dit was egter eers in die 1980’s dat winterdepressie as ’n sindroom geïdentifiseer is. Studies onder mense wat in noordelike gebiede woon, het getoon dat ’n klein persentasie van die bevolking aan seisoenale gemoedsteuring (SAD) ly. ’n Minder ernstige vorm, wat subsindromale SAD genoem word, is drie of vier keer meer algemeen. Honderdduisende mense word glo in sekere mate daardeur aangetas.
Andrei, in St. Petersburg, Rusland, sê: “Ek wil die hele tyd net slaap.” Annika, wat in Finland woon, word bedruk wanneer die winter naderkom. “Soms laat die donkerte my amper kloustrofobies voel”, sê sy, “omdat ’n mens nêrens daarvan kan wegkom nie.”
Deskundiges beveel ’n verskeidenheid metodes aan om winterdepressie die hoof te bied. Party stel byvoorbeeld voor dat ’n mens gedurende die dagligure soveel as moontlik buite moet wees. Diegene wat gedurende die winter aan buitelugaktiwiteite deelneem, sê ook dat hulle verligting van winterbedruktheid kry.
Jarmo, wat winters in die noorde sowel as die suide van Finland beleef het, sê: “Gedurende die donkerste tyd brand ons meer kerse en skakel ons meer ligte aan.” Party het al verligting gekry deur helderligterapie te ontvang. Ander breek weg van die donker winter deur vakansie te gaan hou in ’n land wat verder suid geleë is. Party waarsku egter dat ’n sonnige vakansie in so ’n land sekere mense selfs bedrukter kan laat voel wanneer hulle na die donkerte van die winter moet terugkeer.
Voeding is nog ’n faktor om in ag te neem. Omdat sonlig die liggaam help om vitamien D te vervaardig, kan ’n gebrek aan sonlig ’n tekort aan vitamien D veroorsaak. Gevolglik beveel party aan dat ’n mens in die winter meer kos eet wat ryk is aan vitamien D, soos vis, lewer en suiwelprodukte.
Dieselfde faktore wat die winter so donker maak, bring later ook ’n oorvloed daglig mee. Terwyl die aarde in sy wentelbaan beweeg, draai sy koue bokant bietjie vir bietjie na die son toe. Geleidelik begin sonlig die dag oorheers. Dan begin die Arktiese somer, ’n seisoen wanneer sonlig selfs in die middel van die nag geniet kan word!
[Lokteks op bladsy 27]
’n Groot gedeelte van die dag kan opgesom word in een woord—skemer
[Prent op bladsy 26]
Twaalfuur die middag gedurende die Arktiese winter
[Erkenning]
Dr. Hinrich Bäsemann/Naturfoto-Online
[Prent op bladsy 26]
Die gebrek aan direkte sonlig kan baie mense aan depressie laat ly