Op soek na ’n noordelike deurvaart
SEEVAARDERS in die verlede het daarvan gedroom om ’n noordelike deurvaart te vind wat die Atlantiese en Stille Oseaan met mekaar verbind, maar hulle het voor ’n groot uitdaging te staan gekom: ys het die roete deur die Noordelike Yssee versper.
Nietemin was daar goeie rede om ’n korter roete oor die bopunt van die wêreld te vind. Teen die 16de eeu is handelsroetes na die Ooste—om die suidelike punte van Afrika en Suid-Amerika—deur Portugal en Spanje beheer. Handelaars van ander lande wat ook met die Ooste wou handel dryf, moes noordelike roetes soek. Baie het probeer, soos byvoorbeeld.
Die Engelse: In 1553 het die eerste Engelse ekspedisie onder leiding van sir Hugh Willoughby en Richard Chancellor vertrek. Nadat hulle skepe in ’n storm van mekaar geskei is, moes Willoughby noodgedwonge aan die dorre kus van die Kola-skiereiland in die verre noorde van Rusland oorwinter. Omdat hulle nie op die onherbergsame toestande voorbereid was nie, het hy en almal saam met hom omgekom. Chancellor het egter die hawe in Archangelsk bereik. Van daar af het hy na Moskou gereis op uitnodiging van tsaar Iwan IV Wasiljewitsj, die Verskriklike. Chancellor kon nie ’n deurgang na Asië vind nie, maar hy het wel die weg gebaan vir handel tussen Engeland en Rusland.
Die Nederlanders: In 1594 het Willem Barents eers na Nowaja Zemlja gevaar. Maar toe hy in 1596 op sy derde reis om die noordelike punt van hierdie Russiese eilandgroep gevaar het, het sy skip in die ys vasgesit en is dit onherstelbaar beskadig. Nadat hulle ’n strawwe winter deurgemaak het in ’n hut wat met wrakhout gebou is en die vleis van ysbere geëet het om aan die lewe te bly, het Barents se bemanning in twee bootjies teruggekeer. Barents het die reis nie oorleef nie.
Die Russe: Russiese ontdekkingsreisigers het ekspedisies onderneem met die doel om Siberië en die Russiese Verre Ooste deeglik te verken. In net 60 jaar, van 1581 tot 1641, het hulle van die Oeralgebergte tot by die Stille Oseaan gereis. Omstreeks dié tyd het die Kosakke op riviere in Siberië na die Noordelike Yssee gevaar. Hulle het Siberië vir Rusland opgeëis en was pioniers op die gebied van skeepvaart langs die noordooskus van Siberië. In 1648 het Russiese skepe deur die seestraat gevaar wat nou bekend staan as die Beringstraat, vernoem na die Deense seevaarder Vitus Bering.
Verdere ekspedisies
Van 1733 tot 1743 het sewe groepe van byna duisend man onder Bering se bevel die kusgebiede van Rusland aan die Noordelike Yssee en die Stille Oseaan verken. Hulle skepe het herhaaldelik in die ys vasgesit, en baie seemanne het gesterf. Nietemin het die ekspedisie byna die hele kusgebied van die Noordelike Yssee gekarteer. Die gegewens wat saamgestel is—insluitende kaarte, dieptepeilings en inligting oor ystoestande—was van onskatbare waarde vir seevaarders wat hierdie gebied later besoek het.
Houtskepe is vir al die seereise na die Noordelike Yssee gebruik. Maar Bering se ekspedisie het duidelik getoon dat houtskepe heeltemal ongeskik was vir die Noordelike Seeroete.a In 1778 het die Britse ontdekkingsreisiger James Cook tot dieselfde gevolgtrekking gekom toe hy in ’n westelike rigting deur die Beringstraat gevaar het en toe gevind het dat hy weens die ys nie verder kon gaan nie. Nog ’n eeu het verbygegaan voordat Nils Adolf Erik Nordenskiöld, wat van Finse afkoms was, daarin geslaag het om met ’n stoomskip daardeur te vaar.
Russiese kundigheid
Ná die Russiese Revolusie in 1917 is slegs Russiese skepe toegelaat in die Russiese deel van die Noordelike Yssee. Vanaf die 1930’s het die Sowjetunie die Noordelike Seeroete ontwikkel en hawens gebou vir nuwe industriële nedersettings. So het Rusland kundigheid verwerf in alle aspekte van seevaart in die Noordelike Yssee.
Tydens die Koue Oorlog was die Noordelike Seeroete vir buitelandse skepe gesluit. Maar weens politieke hervormings en die oorgang na ’n markekonomie bevorder die Russiese owerheid nou internasionale seevaart langs hierdie roete. Die volgende voorbeeld lig die voordele hiervan toe.
In die somer van 2009 het twee Duitse vragskepe deur die Beringstraat en toe weswaarts langs die byna ysvrye noordkus van Asië en Europa na Nederland gevaar. Dit was die eerste keer dat ’n nie-Russiese skeepvaartmaatskappy die hele Noordelike Seeroete afgelê het. Dit het die seereis met sowat 5 560 kilometer en met tien dae verkort. Die maatskappy wat die seereis onderneem het, skat dat hierdie korter roete sowat 300 000 euro (destyds R3 000 000) per skip gespaar het.
Vandag neem die hoeveelheid ys van die Noordelike Yssee vinnig af. Gevolglik is groot dele van die see nou elke somer oop.b Hoewel hierdie verwikkeling tot omgewingsprobleme kan lei as die ys aanhou smelt, sal skepe die vlak water langs die Russiese kus kan vermy en ’n direkte roete tussen die Atlantiese en die Stille Oseaan kan volg—reguit oor die bopunt van die wêreld.
[Voetnote]
a Die “Noordelike Seeroete” is die Russiese naam vir die roete wat elders die Noordoostelike Deurgang genoem word.
b Weens hierdie en ander faktore duur die vaarseisoen in die oostelike deel van die Noordpoolgebied byna drie keer so lank as voorheen en in die westelike deel meer as twee keer so lank.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VAARROETES VAN
Sir Hugh Willoughby en Richard Chancellor
Willem Barents
Vitus Bering
Nils Adolf Erik Nordenskiöld
Ysgrense
[Kaart]
NOORDELIKE YSSEE
Noordpool
Permanente ysgrens
Ysgrens in somer
Ysgrens in winter
NOORDPOOLSIRKEL
SWEDE
GROENLAND
KANADA
ALASKA
Bering-straat
RUSLAND
SIBERIË
OERALGEBERGTE
Nowaja Zemlja
Kola-skiereiland
Archangelsk
MOSKOU
[Prent op bladsy 16]
Die ys van die Noordelike Yssee is vinnig besig om te smelt
[Foto-erkenning op bladsy 14]
Library and Archives Canada/Samuel Gurney Cresswell collection/C-016105