Waarom is daar nou soveel geweldsmisdade?
ALLE misdade is boos. Maar sinnelose, of doellose, misdade is moeiliker om te verstaan. Die feit dat daar dikwels nie ’n duidelike motief is nie, slaan speurders dronk. Omdat massakommunikasie in onlangse jare soveel doeltreffender geword het, weet miljoene, of selfs miljarde, mense binne ure van sulke verskriklike misdade. ’n Verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat “geen vasteland, geen land en min gemeenskappe vry van geweld is nie”.
Selfs op plekke wat vantevore as relatief veilig beskou is, was daar in onlangse jare meer voorvalle van sinnelose geweld. Japan het byvoorbeeld lank ’n lae geweldsmisdaadsyfer gehad. Maar in Junie 2001 in Ikeda het ’n man met ’n slagtersmes by ’n skool ingeloop en kinders begin steek. Binne 15 minute het hy 8 kinders doodgesteek en 15 ander gewond. Wanneer dit saam met ander verslae uit Japan beskou word, soos dié van jongmense wat wildvreemdes net vir die opwinding doodmaak, besef ’n mens dat dinge verander het.
Selfs in lande waar die misdaadsyfer hoog is, het party sinnelose dade mense met afgryse vervul. Dit was die geval ná die aanval van 11 September 2001 op die World Trade Center in New York. Die sielkundige Gerard Bailes het die volgende kommentaar gelewer: “Dit verander die wêreld in ’n heeltemal vreemde, gevaarlike plek waarin ons nie kan voorspel wat gaan gebeur nie.”
Waarom doen hulle dit?
Geen enkele faktor verklaar al die uiteenlopende dade van sinnelose geweld nie. Wat party misdade moeiliker maak om te verstaan, is dat dit so redeloos is. Dit is byvoorbeeld moeilik om te verstaan waarom iemand na ’n wildvreemde sal loop en hom sal doodsteek of waarom iemand verby ’n huis sal ry en blindelings sal skiet.
Party beweer dat geweld inherent aan mense is. Ander voer aan dat sinnelose misdade nie verklaar kan word as ’n onvermydelike deel van die menslike natuur nie.—Sien die venster “Tot geweld gedoem?”
Baie kenners dink dat daar ’n menigte faktore en omstandighede is wat mense daartoe dryf om redelose gewelddade te pleeg. ’n Verslag van die FBI (die Amerikaanse Federale Speurdiens) se Akademie in die Verenigde State sê selfs: “Moord word nie gepleeg deur ’n nugter persoon wat by sy volle verstand is nie.” Party gesaghebbendes sal nie saamstem met die bewoording van daardie stelling nie. Nietemin stem talle saam met wat dit impliseer. Om een of ander rede is die denke van diegene wat sinnelose misdade pleeg, nie normaal nie. Iets het hulle denkvermoë so aangetas dat hulle die ondenkbare sal doen. Watter bydraende faktore beweeg mense om sulke dinge te doen? Kom ons kyk na verskeie moontlikhede wat kenners genoem het.
Gesinsverbrokkeling
’n Ontwaak!-medewerker het Marianito Panganiban, ’n woordvoerder vir die Nasionale Speurdiens in die Filippyne, uitgevra oor die agtergrond van diegene wat wrede misdade pleeg. Hy het gesê: “Hulle kom uit gebroke gesinne. Hulle kry nie aandag of liefde nie. Mense word sedelik afgetakel in die sin dat hulle geen leiding ontvang nie en dan die spoor byster raak.” Baie navorsers sê dat swak gesinsverhoudings en ’n gewelddadige gesinsagtergrond algemeen onder aggressiewe misdadigers is.
Die Amerikaanse Nasionale Sentrum vir die Ontleding van Geweldsmisdade het ’n verslag uitgegee met ’n lys faktore wat kan help om jongmense te identifiseer wat moontlik dodelike geweld by die skool sal pleeg. Die volgende gesinsfaktore is ingesluit: ’n stormagtige ouer-kind-verhouding, ouers wat nie probleme in hulle kinders kan identifiseer nie, ’n gebrek aan innigheid, ouers wat min of geen perke aan ’n kind se gedrag stel nie, en kinders wat baie gesteld is op hulle privaatheid, ’n dubbele lewe lei en dus ’n deel van hulle lewe vir hulle ouers wegsteek.
Vandag is baie kinders slagoffers van gesinsverbrokkeling. Ander kinders se ouers het min tyd vir hulle. Duisende jongmense het sonder voldoende sedelike en ouerlike leiding grootgeword. Party kenners meen dat so ’n omgewing daartoe kan lei dat kinders nie die vermoë ontwikkel om hegte verhoudings met ander aan te knoop nie, wat dit vir hulle makliker maak om misdade teen hulle medemens te pleeg, dikwels sonder enige gewetenswroeging.
Haatgroepe en kultusse
Bewyse toon dat party haatgroepe of kultusse ’n groot rol gespeel het in sekere misdade. In Indiana, VSA, het ’n 19-jarige swart man huis toe gestap van ’n winkelsentrum af. Oomblikke later het hy langs die pad gelê met ’n koeël in sy kop. ’n Jong man het hom sommer uit die bloute geskiet. Waarom? Die moordenaar wou blykbaar ’n lid van ’n witoppermag-organisasie word en ’n spinneraktatoeëermerk as beloning kry vir ’n moord op ’n swart mens.
Die senugasaanval in 1995 in Tokio se moltreinstelsel; die massaselfmoord in Jonestown, Guyana, en die sterftes van 69 lede van die Orde van die Sontempel in Switserland, Kanada en Frankryk was alles kultusverwant. Hierdie voorbeelde lig toe watter kragtige invloed sekere groepe op die denke van party mense gehad het. Charismatiese leiers het mense die “ondenkbare” laat doen deur hulle met die een of ander veronderstelde beloning te verlok.
Die massamedia en geweld
Party vestig die aandag op bewyse dat verskeie vorme van moderne kommunikasie aggressiewe optrede kan aanmoedig. Daar word gesê dat gereelde blootstelling aan geweld op televisie, in rolprente, in videospeletjies en op die Internet die gewete ongevoelig kan maak en tot geweldsmisdade kan lei. Dr. Daniel Borenstein, voorsitter van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging, het gesê: “Ná meer as 30 jaar se navorsing is daar tans meer as 1 000 studies wat ’n oorsaaklike verband tussen mediageweld en aggressiewe gedrag by party kinders toon.” Dr. Borenstein het voor ’n komitee van die Amerikaanse senaat getuig: “Ons is oortuig dat herhaalde blootstelling aan al die verskillende vorme van geweld in die vermaaklikheidsmedia ’n baie nadelige uitwerking op die openbare gesondheid het.”—Sien die venster “Geweld in rekenaarspeletjies—’n dokter se beskouing”.
Spesifieke gevalle word dikwels aangehaal om te toon dat dit waar is. In die geval van die koelbloedige moordenaar van ’n egpaar wat na die sonsopkoms op ’n strand gekyk het, wat in die vorige artikel genoem is, het aanklaers bewyse voorgelê wat toon dat die moord gepleeg is omdat die skuldige herhaaldelik na ’n gewelddadige rolprent gekyk het. In ’n skoolskietery waarin 15 vermoor is, het die twee skuldige leerlinge blykbaar elke dag ure lank gewelddadige videospeletjies gespeel. Hulle het ook oor en oor na rolprente gekyk wat geweld en moord verheerlik.
Dwelms
In die Verenigde State het die aantal moorde wat deur tieners gepleeg is, gedurende ’n tydperk van agt jaar verdriedubbel. Wat is volgens gesaghebbendes ’n faktor wat hiertoe bydra? Bendes, veral bendes wat by crack-kokaïen betrokke is. Van die meer as 500 onlangse moorde in Los Angeles, Kalifornië, “was 75 persent volgens die polisie bendeverwant”.
’n Verslag van die FBI se Akademie maak hierdie stelling: “Dwelms speel ’n rol in ’n buitengewoon groot aantal moordgevalle.” Party mense wie se denke deur dwelmgebruik aangetas is, moor terwyl hulle onder die invloed is. Ander gebruik geweld om hulle dwelmsmokkelary te verdedig. Dit is duidelik dat dwelms ’n kragtige faktor is wat mense beïnvloed om verskriklike dade te pleeg.
Maklike toegang tot dodelike wapens
Soos in die vorige artikel genoem is, het ’n man in Tasmanië, Australië, 35 mense doodgeskiet. Hy het 19 ander gewond. Die man het half-outomatiese militêre wapens gebruik. Dit het baie die gevolgtrekking laat maak dat maklike toegang tot sulke wapens nog ’n faktor is wat tot die toename in geweldsmisdade bydra.
Een verslag toon dat daar in 1995 net 32 moorde met vuurwapens in Japan gepleeg is, waarvan die meeste gepleeg is deur bendelede wat ander bendelede geskiet het. Daarteenoor is daar meer as 15 000 moorde met vuurwapens in die Verenigde State gepleeg. Waarom die verskil? Party het Japan se streng vuurwapenregulasies as ’n rede aangegee.
Mense se onvermoë om hulle probleme te verwerk
Wanneer sommige mense van sekere grusame dade hoor, sê hulle dalk: ‘Daardie persoon moet mal wees!’ Nie alle mense wat sulke misdade pleeg, is egter geestelik versteurd nie. Maar baie sukkel wel om die probleme van die lewe te verwerk. Kenners vestig die aandag op persoonlikheidsafwykings wat tot uiterste gewelddade kan lei. Dit sluit onder meer in: leer- en sosiale probleme; negatiewe gevolge van fisiese of seksuele mishandeling; antisosiale eienskappe; haat teen ’n sekere groep, soos vroue; geen gewetenswroeging wanneer hulle iets verkeerds doen nie en ’n begeerte om ander te manipuleer.
Ongeag wat hulle probleem is, party raak so behep met hulle probleem dat dit hulle denke aantas, en dit kan daartoe lei dat hulle vreemde dade pleeg. ’n Voorbeeld hiervan is ’n verpleegster wat ’n abnormale begeerte vir aandag gehad het. Sy het klein kindertjies met ’n spierverslapper ingespuit wat hulle laat ophou asemhaal het. Dan het sy haar verlustig in die aandag wat sy gekry het wanneer sy elke kind “gered” het. Ongelukkig kon sy nie hulle almal kry om weer te begin asemhaal nie. Sy is aan moord skuldig bevind.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat ’n kombinasie van faktore mense beweeg om geweldsmisdade te pleeg. Maar ons lys sal onvolledig wees as ons nie nog ’n belangrike faktor bespreek nie.
Die Bybel se antwoord
Die Bybel help ons om te verstaan wat nou aangaan en waarom mense sulke wrede dinge doen. Dit gee ’n juiste beskrywing van gesindhede wat vandag algemeen is. Die lys in 2 Timoteus 3:3, 4 sê byvoorbeeld dat mense “sonder natuurlike geneentheid” sal wees en dat hulle “sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie” en “eiesinnig” sal wees. In ’n ander Bybelboek is Jesus se woorde aangehaal: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Matteus 24:12.
Die Bybel sê: ‘In die laaste dae sal daar kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Ja, wat ons sien, bewys dat ons aan die einde van die huidige stelsel van dinge lewe. Toestande, sowel as mense se gesindhede, gaan agteruit. Kan ons ’n onmiddellike oplossing verwag? Die Bybel antwoord: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger.”—2 Timoteus 3:13.
Beteken dit dat die mensdom gedoem is tot ’n eindelose kringloop van wrede geweld en toenemende misdaad? Kom ons ondersoek daardie vraag in ons volgende artikel.
[Venster op bladsy 6]
TOT GEWELD GEDOEM?
Party voer aan dat die neiging tot geweld of moord nog altyd eie aan mense was. Voorstanders van evolusie beweer dat ons van wilde diere afstam en eenvoudig hulle gewelddadige eienskappe geërf het. As hierdie teorieë waar is, is ons gedoem tot ’n eindelose kringloop van geweld waaruit daar geen hoop is om te ontsnap nie.
Maar daar is baie bewyse van die teendeel. Die teorieë wat hierbo genoem word, verduidelik nie waarom die voorkomssyfer van gewelddade en die soort gewelddade wat gepleeg word, so uiteenlopend in verskillende kulture is nie. Dit toon nie waarom dit lyk of gewelddadige reaksies in party kulture die norm is, terwyl daar in ander gemeenskappe baie min aangemelde gevalle van geweld en feitlik geen moorde is nie. Die psigoanalis Erich Fromm het swak plekke blootgelê in die teorie dat ons aggressie van primate geërf het deur daarop te wys dat party primate wel soms weens fisiese behoeftes of vir selfbeskerming gewelddadig is, maar dat mense die enigstes is wat daarvoor bekend is dat hulle ander vir die blote opwinding doodmaak.
Professors James Alan Fox en Jack Levin sê in hulle boek The Will to Kill—Making Sense of Senseless Murder: “Party mense is meer geneig om gewelddadig te wees as ander, maar hulle het nog steeds hulle vrye wil. Hoewel die wil om dood te maak deur verskeie interne en eksterne invloede bepaal word, sluit dit nog steeds keuses en besluite in, en dus aanspreeklikheid en strafbaarheid.”
[Venster/Prent op bladsy 7]
GEWELD IN REKENAARSPELETJIES —’N DOKTER SE BESKOUING
Dr. Richard F. Corlin, voormalige voorsitter van die Amerikaanse Mediese Vereniging, het ’n toespraak gehou voor ’n groep dokters by hulle gradeplegtigheid in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA. Daarin het hy gepraat van rekenaarspeletjies wat geweld aanmoedig. Van hierdie speletjies ken punte toe vir vleiswonde, meer vir lyfskote en nog meer vir ’n kopskoot. Bloed spuit uit en breinweefsel spat oral.
Dr. Corlin het gesê dat kinders nie toegelaat word om te bestuur, alkohol te drink of te rook wanneer hulle nog te jonk is nie. Toe het hy gesê: “Maar ons laat hulle wel toe om te leer hoe om ’n vuurwapen te gebruik op ’n ouderdom wanneer hulle nog nie hulle impulse kan beheer en glad nie volwasse of gedissiplineerd genoeg is om die wapens waarmee hulle speel, veilig te gebruik nie. . . . Ons moet ons kinders van die begin af leer dat geweld altyd gevolge [het]—ernstige gevolge.”
In plaas daarvan dat kinders geleer word dat misdaad gevolge het, is hulle ongelukkig dikwels die onskuldige slagoffers van geweldsmisdade. Statistiek toon dat tien kinders elke dag in die Verenigde State doodgeskiet word. Dr. Corlin sê: “Die Verenigde State is die wêreldleier—in die tempo waarteen sy kinders doodgeskiet word.” Sy gevolgtrekking? “Vuurwapengeweld is ’n bedreiging vir die openbare gesondheid van ons land. Dit is ’n feit.”
[Venster op bladsy 9]
FAKTORE WAT TOT GEWELDSMISDADE BYDRA
Baie kenners voel dat die volgende tot sinnelose misdade kan bydra:
Gesinsverbrokkeling
Haatgroepe, ekstremiste
Gevaarlike kultusse
Geweld in vermaak
Blootstelling aan werklike geweld
Dwelmmisbruik
Onvermoë om probleme te verwerk
Maklike toegang tot dodelike wapens
Sekere soorte geestesiektes
[Prent op bladsy 8]
Een van vyf bomontploffings waarin ten minste 12 gesterf en meer as 80 ander beseer is, Quezon City, Filippyne
[Erkenning]
AP Photo/Aaron Favila 30 Desember 2000
[Prent op bladsy 8]
Twee leerlinge skiet ’n onderwyser, 12 leerlinge en hulleself dood by Columbine-hoërskool, Colorado, VSA
[Erkenning]
AP Photo/Jefferson County Sheriff’s Department 20 April 1999
[Prent op bladsy 8, 9]
’n Motorbomontploffing waarin ten minste 182 gesterf en 132 gewond is by ’n nagklub in Bali, Indonesië
[Erkenning]
Maldonado Roberto/GAMMA 12 Oktober 2002