Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 7/22 bl. 14-17
  • Sevilla—’n Poort tot die Amerikas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sevilla—’n Poort tot die Amerikas
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Windwyser en ’n lemoentuin
  • Tuine, binnepleine en teëls
  • Internasionale gebeurtenisse in Sevilla
  • “Die era van ontdekkings”—Teen watter prys?
    Ontwaak!—1992
  • Die Spaanse Bybel se stryd om behoue te bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • ’n Botsing van kulture
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 7/22 bl. 14-17

Sevilla—’n Poort tot die Amerikas

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

IN DIE jaar 1493 het ’n flottielje van ten minste 17 skepe uit die Spaanse stad Cádiz geseil. Christophorus Columbus het saam met 1 500 matrose, avonturiers, priesters en koloniseerders op sy tweede ontdekkingsreis vertrek. Die hoofdoel van die ekspedisie was om die Amerikas te koloniseer.

Ná hierdie historiese reis het ’n ander Spaanse stad, Sevilla, ’n poort tot die Nuwe Wêreld geword. Kort voor lank het Sevilla die koninklike handelsmonopolie met die kolonies verkry. Spaanse galjoene het Sevilla verlaat en met groot vragte silwerstawe uit die myne in Bolivia, Mexiko en Peru teruggekeer. Die stad het binne ’n paar dekades een van die grootste en welvarendste stede in Europa geword. En die herinneringe aan daardie vergange tydperk leef nog voort in die vertrekke van Sevilla se antieke geboue.

Om die florerende handel met Amerika te organiseer, het die Spaanse koning Filips II ’n indrukwekkende markgebou langs die Guadalquivir-rivier opgerig waar ryk handelaars sake kon doen. (Die aartsbiskop het gekla omdat hulle die katedraal hiervoor gebruik het.) Twee eeue later het dieselfde gebou die Archivo General de Indias, Algemene Argief van Indië, geword, en vandag bevat dit so te sê al die verslae van Spanje se kolonisasie van die Nuwe Wêreld.a

Skattejagters wat soek na vergane galjoene, besoek vandag nog hierdie argief in Sevilla om die ou skeepsverslae te bestudeer. Maar geskiedkundiges sal dalk meer daarin belangstel om deur party van die oorspronklike briewe van Christophorus Columbus te gaan.

’n Windwyser en ’n lemoentuin

Sevilla het egter lank voor die ontdekking van Amerika ’n ander goue eeu beleef, en baie van die pragtige geboue dateer uit daardie vroeëre tydperk. Die More—waarvan die meeste van Marokko afkomstig was—het etlike eeue lank oor groot dele van Spanje geheers. Gedurende die 12de eeu het die Almohad-vorstehuis Sevilla sy hoofstad gemaak, en gedurende hierdie tydperk is ’n moskee gebou met ’n minaret wat nog steeds oor die moderne stad uitkyk.

Toe die More uit Sevilla verdryf is, het die inwoners die stad se moskee afgebreek om plek te maak vir die katedraal van Sevilla, die derde grootste katedraal in Europa (foto nr. 1). Maar die minaret was te mooi om af te breek en daarom het dit die kloktoring van die katedraal geword, wat langs dit opgerig is. Die toring se harmoniese proporsies, ingewikkelde steenwerk en ryk versierde vensters vorm ’n interessante kontras met die enorme katedraal.

Sowat 500 jaar gelede moes die boonste deel van die toring opgeknap word weens skade wat deur ’n aardbewing veroorsaak is, en die oorspronklike koepel is deur ’n bronswindwyser vervang. Die windwyser het die minaret sy Spaanse naam, La Giralda (foto nr. 2), gegee, en die toring het die bekendste baken in Sevilla geword. Die Giralda bied ook ’n asemrowende uitsig oor die stad vir energieke besoekers wat tot bo wil klim.

Aan die voet van die katedraaltoring is ’n klein Moorse binneplein wat deel was van die oorspronklike moskee, die Patio de los Naranjos. Hierdie plein, wat met rye lemoenbome versier is, het die voorloper geword van talle soortgelyke Andalusiese binnepleine.b En aangesien baie van die strate en pleine in Sevilla ook lemoenbome aan weerskante het, vul die geur van lemoenbloeisels die hele stad gedurende die lente. Boorde lemoenbome—wat aanvanklik deur die More na Spanje gebring is—omring nog steeds die stad, en die vrugte is baie gesog weens die marmelade wat daarvan gemaak word.

Die Guadalquivir-rivier, wat deur die stad vloei, was nog altyd die Sevilliaanse handelaars se lewenslyn. Dit het die stad die vernaamste Spaanse hawe vir handel met die Nuwe Wêreld gemaak, en skepe gebruik vandag nog die binnehawe. Daar is tuine aan weerskante van die rivier naby die middestad. En op een oewer is daar nog ’n herinnering aan Sevilla se Moorse verlede, La Torre del Oro, die Goue Toring.—Foto nr. 3.

Die toring se naam dateer uit die tyd toe goudkleurige teëls die buitekant daarvan bedek het. Dit is nie eintlik gebou om die stad te verfraai nie, maar eerder om dit te verdedig. ’n Swaar ketting het vroeër van die Goue Toring na ’n ander toring op die oorkantste oewer gestrek sodat verdedigers alle skeepvaart op die rivier kon beheer. Skepe van die Amerikas het heel gepas hulle goud en silwer hier afgelaai. Deesdae is dit toeristebote en nie galjoene nie wat hulle vrag langs die Goue Toring aflaai.

Tuine, binnepleine en teëls

Die More het paleise sowel as moskees gebou, en hulle het tuine aangelê om hulle paleise mooier te maak. Sevilla spog dus met een van die mooiste paleistuine in Spanje, die Reales Alcázares, die Koninklike Paleis (foto nr. 4). Die paleis dateer uit die 12de eeu, hoewel aansienlike veranderinge in die 14de eeu aangebring is. Die Moorse styl het egter behoue gebly, en besoekers is altyd beïndruk met die pragtig versierde vertrekke en binnepleine met hulle fyn afgewerkte boë, kleurvolle teëls en ingewikkelde pleisterwerk.

Rondom die paleis is ’n pragtige tuin met fonteine en palmbome. Die Moorse heerser het selfs ’n 16 kilometer lange akwaduk gebou om te verseker dat sy tuin genoeg water sou kry. Die paleis en sy tuine is so bekoorlik dat die Spaanse koninklike gesin dit al die afgelope 700 jaar as een van hulle ampswonings gebruik.

Net soos lemoenbome skadu en geur aan die strate van Sevilla verleen, gee kleurvolle teëls karakter aan die stadshuise. Die More het ook hierdie styl na Spanje gebring. Hulle het so te sê altyd teëls in hulle binnekamers gelê, wat met geometriese patrone versier is. Vandag verfraai feitlik elke soort sierteël die binnekant van huise, winkels en statige wonings.

Dit is nie net die teëls wat die smal strate van ou Sevilla kleurvol maak nie. Klein balkonne en blombakke vol malvas of rose helder die witgekalkte mure op. En danksy die gematigde klimaat blom die blomme so te sê regdeur die jaar, wat ’n tikkie alegría (vrolike bekoring) aan die stad gee.

Internasionale gebeurtenisse in Sevilla

Gedurende die afgelope eeu het internasionale gebeurtenisse die band tussen Sevilla en die Amerikas versterk. Die bekoorlike Plaza de España, die Plein van Spanje (foto nr. 5), is in 1929 vir die Internasionale Spaanse Tentoonstelling gebou, en dit is vandag nog ’n gewilde toeriste-aantreklikheid. Aan die een kant van die plein is daar ’n groot halfronde gebou met kunstige teëlwerk teen die mure wat elke provinsie in Spanje uitbeeld.

In 1992, vyf eeue nadat Columbus vir die eerste keer na Amerika gevaar het, was Sevilla die gasheerstad vir die Wêreldhandelskou wat as Expo ’92 bekend gestaan het. In ooreenstemming met die tema, “Die era van ontdekkings”, was daar op die tentoonstelling ’n lewensgrootte replika van Columbus se vlagskip (foto nr. 6), wat besoekers herinner het aan hoe gevaarlik daardie epiese seereise aan boord van so ’n klein vaartuig was. ’n Ander historiese tentoonstelling van die Expo, waarin daar nou ’n kunsmuseum is, is die gerestoureerde klooster La Cartuja (foto nr. 7), waar Columbus vir een van sy transatlantiese seereise voorberei het en waar hy oorspronklik begrawe is.

Nog ’n belangrike geleentheid sal in 2003 in Sevilla se nuwe Olimpiese stadion gehou word—’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies. Hierdie byeenkoms sal afgevaardigdes van Europa en die Amerikas die geleentheid bied om beter vertroud te raak met Sevilla—’n poort tot die Amerikas.

[Voetnote]

a Die argief bevat 86 miljoen manuskripte sowel as 8 000 kaarte en tekeninge.

b Andalusië is die suidelikste streek in Spanje, waar die Moorse invloed van byna agt eeue die opvallendste is.

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Godo-Foto

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Godo-Foto

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel