“Die era van ontdekkings”—Teen watter prys?
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
“KYK wat het ek gekry!” roep die dogtertjie terwyl sy ’n pragtige skoenlapper vashou. Grootmense spog ook graag met hulle nuutste ontdekkings.
En waar kan ’n mens dit beter doen as by ’n universele uitstalling, of wêreldtentoonstelling? Die laaste en die grootste wêreldtentoonstelling van hierdie eeu, wat Expo ’92 genoem is, is van 20 April tot 12 Oktober 1992 in Sevilla, Suid-Spanje, gehou.
Die tema van Expo ’92 was “Die era van ontdekkings”, en daarom het die uitstallers probeer om hulle aandeel in die mensdom se ontdekkings in die hede sowel as die verlede uit te beeld. Die besoeker is ’n unieke geleentheid gebied om die kookkuns, die volksoorleweringe, die boustyle en die tegnologie van 111 lande van die wêreld te ontdek.
Maar in onlangse jare het ’n skadusy van ontdekkings sy verskyning gemaak. ’n Onaangename gevolg van baie ontdekkings is die verwoesting van die aarde se delikate omgewing. Net soos ’n dogtertjie die delikate vlerke van ’n skoenlapper kan seermaak, kan die onverantwoordelike gebruik van die tegnologie onherstelbare skade aan ons planeet aanrig.
Die Expo’92 Official Guide het verduidelik dat die doelstelling derhalwe nie bloot was om “’n huldeblyk aan die Mensdom se ontdekkingsvermoë” te bring nie, maar ook om die internasionale eensgesindheid te bevorder wat nodig is vir die beskerming van ons delikate planeet.
“Die wêreld op ’n eiland”
Sevilla, die gasheerstad, het in die goue eeu van ontdekkings ryk geword. Christophorus Columbus het uit Sevilla op sy tweede groot ontdekkingsreis vertrek. Gedurende die 16de eeu is die meeste van die goud en die silwer van die Amerikas deur Spaanse galjoene na Sevilla verskeep. Die goud en silwer—die vernaamste dryfveer vir baie vroeë ontdekkingsreisigers—is by die Torre del Oro (Toring van goud), een van die stad se bekendste landmerke, afgelaai.
Maar geld het onlangs eerder uitgevloei as ingestroom. In die afgelope vyf jaar is 28 miljard rand gebruik om die Andalusiese metropolis vir Expo ’92 voor te berei. Wat het al daardie geld tot stand gebring?
La Cartuja, ’n alluviale eiland wat deur die Guadalquivirrivier aan die buitewyke van Sevilla gevorm is, was die terrein van ’n ou klooster en ’n vervalle porseleinfabriek. Dit is omgeskep in ’n reusepretpark met boomryke lanings, tuine, kanale, oordekte wandelpaadjies en helder uitstallokale, en dit is alles deur etlike sierlike brûe met die stad verbind. Die koning van Spanje, Juan Carlos I, het die nuwe La Cartuja beskryf as “die wêreld op ’n eiland, en ’n eiland vir die wêreld”. Watter soort wêreld het besoekers aan Expo ’92 ontdek?
Expo ’92 het die klem blykbaar net soveel op kultuur, kookkuns en ontspanning laat val as op tegnologiese wonders. Skrywer César Alonso het gesê: “Ons het in Expo’92 gevorder van ’n optimistiese verering van Vooruitgang tot ’n waaksame agterdog jeens bloot wetenskaplike of tegniese prestasies.” Daarbenewens het die feit dat ’n rekordgetal kleiner lande deelgeneem het die tentoonstelling ’n menslike eerder as ’n tegnologiese kleur gegee.
Die verskeie uitstallokale het diegene wat moontlik nooit die kans sal kry om verre lande te besoek nie ’n kykie gegee in die prag, mense en geskiedenis van sulke lande. Dramatiese stamdanse van Nieu-Seeland en Papoea-Nieu-Guinee het met vrolike Russiese volksdanse, Spaanse sevillanas en grasieuse Indonesiese ritmes om die besoekers se aandag meegeding. Opera-aanbiedings, vuurwerkvertonings en straatkunstenaars het die atmosfeer nog kleurryker gemaak.
Ontdekkings in die verlede en die hede
Die besoeker kon sien hoeveel die wêreld in die afgelope vyf eeue verander het. ’n Uitstalling in La Cartuja se gerestoureerde klooster het uitgebeeld hoe die mense in 1492 gelewe het—nie net in Europa nie, maar ook in die Amerikas, die Ooste en die Islamitiese wêreld. Dié vier streke was destyds soos enorme eilande wat deur oseane, woestyne of deur wantroue van mekaar afgesny was.
Maar Expo ’92 het veral probeer om omgewingsvriendelik te wees. Bewaring is vir die eerste keer by ’n internasionale tentoonstelling reg op die voorgrond gebring. ’n Driedimensionele dokumentêre film het verduidelik hoe onlangse ontdekkings—soos die gat in die osoonlaag—mensgemaakte bedreigings vir ons planeet na vore gebring het. Die Omgewingsuitstallokaal het die probleem om ekonomiese groei met bewaring te balanseer ontleed, en in die Natuuruitstallokaal, waar daar ’n klein model van die Amasonereënwoud was, is die kwesbaarheid van hierdie kosbare erfenis beklemtoon.
In een van Europa se groot tuinbouprojekte is 30 000 bome en 300 000 struike op La Cartuja-eiland geplant. Die doel was om die tentoonstellingsterrein te verfraai en die boodskap oor te dra dat ontdekkings nie tot die verwoesting van ons omgewing moet lei nie. Rooi en geel waterlelies het met ’n gesofistikeerde kommunikasiesatelliet meegeding om ruimte, terwyl jakarandas gebloei het onder die oorhoofse treinspoor wat so kenmerkend van sulke tentoonstellings is, en uitgestrekte groen grasperke het ’n ingewikkelde optiesevesel-kommunikasiestelsel verberg.
Die argitektuur van baie van die uitstallokale was tradisioneel en baie treffend, óf met betrekking tot die ontwerp óf die boumateriaal. Daar is beweer dat die Japannese uitstallokaal die wêreld se grootste houtgebou was, terwyl die Switsers ’n hoë toring van papier gebou het. Marokko het ’n Arabiese paleis opgerig en die Verenigde Arabiese Emirate ’n minikasteel. Die voorkant van Nieu-Seeland se uitstallokaal was ’n rotsagtige krans met ’n waterval en ’n kolonie krysende seevoëls wat baie eg gelyk het, terwyl Indië se houtuitstallokaal met ’n reusagtige poustert gekroon was.
Dit is altyd ’n probleem om in die broeiende Sevilla-somer koel te bly. Die Expo-organiseerders het die probleem op ’n natuurlike wyse probeer oplos deur middel van die eeue oue stelsel van die More wat Sevilla eeue gelede bewoon het. Talryke fonteine en nagemaakte miswolke tesame met bome, struike en wandelpaadjies in die skaduwee het gehelp om die hitte draagliker te maak.
“Die grootste ontdekking van ons tyd”
Voordat Columbus op sy eerste seereis vertrek het, het hy in die ou klooster op La Cartuja tuisgegaan. Sy seereis het die era van ontdekking wat met die tentoonstelling herdenk is, ingelui. Maar ondanks die vooruitgang wat gedurende vyf eeue op baie gebiede gemaak is, gaan die mensdom die toekoms met toenemende kommer tegemoet. Koning Juan Carlos I het daarop gewys dat “gemeenskaplike strewes en optimisme in wese afhang van gesprekvoering tussen nasies en wedersydse begrip”.
Expo ’92 het juis daarom daarna gestreef om “’n boodskap van vrede, goeie buurskap en eensgesindheid vir al die bewoners van ons . . . planeet Aarde uit te dra”—nie ’n maklike doelstelling as ’n mens dink aan hoe lank hierdie aarde al verdeeld is nie. Soos die Official Guide erken het: “’n Nuwewêreld-orde wat op hierdie beginsels gegrond is, sou inderdaad die grootste ontdekking van ons tyd wees.”
[Prent op bladsy 17]
Sevilla se bekende 13de-eeuse Torre del Oro (Toring van goud)
[Prent op bladsy 18]
Waterlelies het met ’n kommunikasiesatellietuitstalling meegeding om ruimte
[Prent op bladsy 18]
Die Marokkaanse uitstallokaal is in die styl van ’n Moorse paleis