Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 8/22 bl. 23-27
  • St. Petersburg—Rusland se “venster op Europa”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • St. Petersburg—Rusland se “venster op Europa”
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ontstaan van ’n hoofstad
  • Volharding ondanks teëspoed
  • Bydraes tot die wêreld
  • ’n Tyd om na te dink
  • Meer as wat gesien kan word
  • Rusland se eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1992
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2004
  • ‘Ons wêreld sou anders wees’
    Ontwaak!—2000
  • “Duidelike lig” op die Bybel uit Rusland se oudste biblioteek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 8/22 bl. 23-27

St. Petersburg—Rusland se “venster op Europa”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN RUSLAND

“Ek bemin jou, werk van Pieter se hand! / Ek bemin jou sterk, simmetriese vorm; / Die Newa se stroom, so kalm en vroom / Tussen haar kaaie van graniet.”—ALEKSANDER SERGEJEWITSJ POESJKIN.

POESJKIN se beroemde gedig oor St. Petersburg, wat deels hier aangehaal word, vestig die aandag op die stad se stigter en op sy ligging in die verre noorde, waar die Newa-rivier in die Baltiese See invloei. ‘Maar hoe’, wonder jy dalk, ‘het hierdie belangrike wêreldstad in ’n moerasland ver in die noorde ontstaan?’

Teen die laat 17de eeu is Rusland se groei belemmer omdat dit nie toegang tot die see gehad het nie. Dit was Rusland se jong tsaar, Pieter die Grote, se droom om vir Rusland ’n “venster op Europa” te gee in die vorm van ’n poort tot die see. In die suide is toegang tot die Swart See deur die Ottomaanse Ryk versper. Pieter het dus sy aandag op die noorde gevestig waar die gebied langs die Baltiese See aan Swede behoort het.

Om sy droom te verwesenlik, het Pieter in Augustus 1700 oorlog teen Swede verklaar. Hoewel sy militêre aanvalle aanvanklik afgeweer is, het hy nie tou opgegooi nie. Teen November 1702 het Pieter die Swede gedwing om van die Ladoga-meer te onttrek. Dit is die grootste meer in Europa en word deur die Newa-rivier met die Baltiese See verbind, wat ongeveer 60 kilometer daarvandaan is. Die Swede het weerstand gebied in ’n vesting op ’n klein eiland naby die plek waar die Newa uit die meer vloei. Pieter het dit reggekry om hierdie eilandvesting van die Swede te verower en het dit Shlissel’burg genoem.

Later het die Swede ’n verdedigende posisie ingeneem in ’n vesting met die naam Nienshants, naby die plek waar die Newa in die Baltiese See invloei. In Mei 1703 is die Sweedse garnisoen daar verslaan. Hierdie oorwinning het die Russe beheer oor die hele delta gegee. Pieter het onmiddellik ’n vesting op die nabygeleë eiland Zajatji begin bou om die mond van die Newa te verdedig. Op 16 Mei 1703, ongeveer 300 jaar gelede, het Pieter die Grote dus die eerste steen gelê van wat vandag as die Petrus-Paulus-vesting bekend staan. Dit word beskou as die stigtingsdatum van St. Petersburg, wat vernoem is na die tsaar se beskermheilige, die apostel Petrus.

Die ontstaan van ’n hoofstad

Anders as baie ander hoofstede is daar uit die staanspoor uit beplan om St. Petersburg ’n indrukwekkende hoofstad te maak. Ondanks sy ligging in die verre noorde—dit lê op dieselfde breedtegraad as die hedendaagse stad Anchorage, Alaska—het Pieter doelgerig met die bouwerk voortgegaan. Hout is van die gebied om die Ladoga-meer en van Nowgorod gebring. Een manier waarop Pieter klip vir die bouwerk gekry het, was om ’n kwotastelsel in te stel. Enige Rus wat goedere na St. Petersburg gebring het, moes ook ’n sekere aantal klippe bring. Pieter het ook die bou van kliphuise verbied, eers in Moskou en daarna in die res van sy ryk. Gevolglik het werklose messelaars in St. Petersburg opgedaag.

Die bou van die stad het volgens The Great Soviet Encyclopedia “vir daardie tyd besonder vinnig” gevorder. Dreineerkanale, fondamentheipale, strate, geboue, kerke, hospitale en regeringskantore het kort voor lank verskyn. Gedurende die jaar waarin die stad gestig is, is bouwerk aan ’n skeepswerf begin, wat as die Admiraliteitsgebou bekend gestaan en mettertyd die hoofkwartier van die Russiese vloot geword het.

Teen 1710 is bouwerk aan die Somerpaleis begin, ’n somertuiste vir die tsare. In 1712 is Rusland se hoofstad met sy tallose regeringskantore van Moskou na St. Petersburg geskuif. Die stad se eerste klippaleis, wat vandag nog bestaan, is in 1714 voltooi. Dit is vir Aleksander Mensjikof, die stad se eerste goewerneur, gebou. In daardie selfde jaar is daar ook begin bou aan die Petrus-Paulus-katedraal in die vesting met dieselfde naam. Sy hoë toring is ’n landmerk in die stad. Die Winterpaleis langs die Newa-rivier is ook gebou, maar dit is in 1721 afgebreek en met ’n klipgebou vervang. Later is die huidige Winterpaleis met sowat 1 100 vertrekke gebou. Hierdie spogpaleis het die middelpunt van die stad en die beroemde Ermitage, die Staatsmuseum, geword.

Die eerste dekade van St. Petersburg se bestaan is deur verstommende uitbreiding gekenmerk. Daar was blykbaar teen 1714 sowat 34 500 geboue in die stad! Die bou van paleise en groot geboue het onverpoos voortgegaan. Godsdiens se kragtige invloed in Rusland se geskiedenis kan in baie van die stad se geboue gesien word.

Daar is byvoorbeeld die Kazan-katedraal, met sy halfmaanvormige ontwerp en kolonnade aan die voorkant. Die indrukwekkende voorkoms daarvan op die stad se belangrikste straat, Newski Prospekt, het daartoe bygedra dat dit as een van die wêreld se beroemdste strate beskou word. Later is daar aan die St. Isak-katedraal begin bou. Ongeveer 24 000 heipale is in die moerasagtige grond ingedryf om die gebou te ondersteun, en 100 kilogram suiwer goud is gebruik om sy enorme koepel te oordek.

Geboue in die buitewyke van St. Petersburg was ook indrukwekkend. Werk aan die Groot Paleis, ’n woning vir Pieter, het in 1714 in Pieterhof, nou Petrodworets, begin. Terselfdertyd is die weelderige Katharina-paleis vir Pieter se vrou gebou in die nabygeleë dorp Tsarskoe Selo, wat vandag Poesjkin genoem word. In die tweede helfte van dieselfde eeu is twee groot paleise in die twee suidelike voorstede, Pawlowsk en Gattjina, gebou.

Die honderde brûe wat oor die talle rivierlope en -kanale van hierdie nuwe stad gebou is, het baie tot die prag van hierdie nuut ontwikkelde stad bygedra. En daarom is St. Petersburg al dikwels as die “Venesië van die Noorde” beskryf. Franse, Duitse en Italiaanse argitekte het saam met talentvolle Russiese argitekte gewerk om volgens The Encyclopædia Britannica “een van die pragtigste en bes beplande stede van Europa” te bou.

Volharding ondanks teëspoed

Pieter se vyande het glad nie besef hoe hard die Russe sou veg om hulle venster op Europa te behou nie. Die boek Peter the Great—His Life and World verduidelik: “Van die dag dat Pieter die Grote by die mond van die Newa aangekom het, het die land en die stad wat daar ontstaan het, altyd Russies gebly.”

Trouens, die bogenoemde boek sê verder: “Deur die eeue heen kon nie een van die veroweraars—Karel XII, Napoleon, Hitler—wat Rusland in latere tye met magtige leërs binnegeval het, Pieter se Baltiese hawe verower nie, al het die Nazi-leër die stad gedurende die Tweede Wêreldoorlog 900 dae lank beleër.” Gedurende daardie lang beleg het ongeveer ’n miljoen mense in die stad gesterf. Baie het tydens die winter van 1941/42 van koue en honger omgekom, toe die temperatuur tot 40 grade onder vriespunt gedaal het. Dit is toevallig die temperatuur waar die Celsius- en Fahrenheitskale dieselfde lesing gee.

In 1914, toe die Eerste Wêreldoorlog begin het, is die stad se naam na Petrograd verander. Toe die eerste leier van die Sowjetunie, Wladimir Lenin, in 1924 gesterf het, is die naam daarvan na Leningrad verander. Die stad se oorspronklike naam, St. Petersburg, is uiteindelik in 1991, met die val van die Sowjetunie, herstel.

Bydraes tot die wêreld

In 1724, die jaar voor Pieter se dood op 52-jarige ouderdom, is die Russiese Akademie vir Wetenskappe op sy bevel gestig, en in 1757 is die Kunsakademie in die stad tot stand gebring. Die 19de-eeuse Russiese skilders Karl Brioellof en Ilja Repin het daar gestudeer en het later internasionale faam verwerf.

In 1819 is die Staatsuniversiteit van St. Petersburg en mettertyd talle ander institute van hoër onderwys gestig. In die laat 19de eeu het die Nobelpryswenner en Russiese fisioloog Iwan Pawlof die konsep van gekondisioneerde refleksreaksies ontwikkel terwyl hy in St. Petersburg gewoon het. En dit is hier waar die Russiese skeikundige Dmitri Mendelejef sy periodieke tabel van elemente, of die Mendelejef-tabel soos dit in Rusland bekend staan, saamgestel het.

Die stad se kulturele lewe het ook internasionaal aandag getrek. In 1738 is ’n dansakademie gestig, wat uiteindelik die wêreldbekende Mariinski-ballet geword het. Kort voor lank het die stad met baie ballet- en konsertsale asook teaters gespog. Beroemde komponiste, onder andere Peter Ilitsj Tsjaikofski, het St. Petersburg hulle tuiste gemaak. Hy is bekend vir tydlose musiek soos die klassieke balletkomposisies Die Slapende Skone, Swanemeer en Die Neutkraker sowel as sy beroemde komposisie die 1812-ouverture.

St. Petersburg was ook ’n kweekplek van beroemde Russiese digters en skrywers wat dit hulle tuiste gemaak het. Die jong Aleksander Sergejewitsj Poesjkin het volgens baie Rusland se “grootste digter en die stigter van die moderne Russiese literatuur” geword. Poesjkin is Rusland se Shakespeare. Sy werke is al in die vernaamste tale vertaal en sluit die ode aan sy aangenome stad in, wat aan die begin aangehaal is. Verder is daar Dostojewski, wat volgens The Encyclopædia Britannica “oor die algemeen beskou word as een van die beste romanskrywers wat nog geleef het”.

Daar kan dus gesê word dat St. Petersburg dit wat hy tydens sy nederige ontstaan van Europa ontvang het, ryklik teruggegee het. Deur die jare heen het sy bewoners beslis die wêreldkultuur verryk.

’n Tyd om na te dink

Gedurende die week van 24 Mei tot 1 Junie het honderdduisende besoekers aan St. Petersburg aan die viering van sy 300ste bestaansjaar deelgeneem. Terwyl hulle die vrugte van al die voorbereidingswerk geniet het, het baie nagedink oor die stad se prag en merkwaardige geskiedenis.

Toevallig het baie mense net die week tevore St. Petersburg besoek vir die toewyding van die vergrote fasiliteite van die Russiese takkantoor van Jehovah se Getuies, wat in ’n voorstad van die stad geleë is. Die volgende dag het 9 817 in St. Petersburg se Kirof-stadion bymekaargekom om na ’n hersiening van die toewydingsprogram en bemoedigende verslae oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies in baie lande te luister.

Meer as wat gesien kan word

Besoekers aan St. Petersburg voel dikwels dat daar soveel is om te sien dat hulle nie weet waar om te begin nie. Dit is die dilemma wanneer jy die Ermitage besoek. Daar is al geskat dat dit jou jare sal neem om die toer te voltooi as jy ’n minuut by elke voorwerp in die honderde vertoonkamers bestee.

Ander beskou St. Petersburg se ballet as een van sy betowerendste aantreklikhede. In die beroemde Mariinski-teater kan ’n mens byvoorbeeld onder sierlike kristalkandelare sit, omring deur skitterende fasades en mure wat met amper 400 kilogram goud verguld is. Terwyl ’n mens deur al hierdie weelde omring is, kan jy van die beste ballet ter wêreld geniet.

’n Wandeling in hierdie stad van sowat vyfmiljoen inwoners met sy elegante geboue langs die Newa-rivier kan ’n lonende ondervinding wees. Selfs ’n rit op die stad se buitengewone moltrein, een van die diepste ter wêreld, kan kultureel verrykend wees. Meer as tweemiljoen mense ry daagliks met die moltrein tussen die meer as 50 stasies op die sowat 100 kilometer lange spoor. Party stasies is van die mooiste wat op enige plek gevind kan word. In 1955, die jaar toe die moltreinstelsel geopen is, het The New York Times die stasies “’n reeks twintigste-eeuse ondergrondse paleise” genoem.

Dit is inderdaad moeilik om nie deur St. Petersburg beïndruk te wees nie—deur sy merkwaardige ontstaan en ontwikkeling, sowel as deur sy blywende erfenis van prag, kuns, kultuur, opvoeding en musiek. Ongeag waarin besoekers belangstel, hulle sal heel moontlik saamstem met die naslaanwerk wat St. Petersburg “een van Europa se mooiste stede” noem.

[Prent op bladsy 23]

Pieter die Grote, stigter van die stad

[Prent op bladsy 24]

Die Petrus-Paulus-vesting met sy katedraal, waar St. Petersburg sy ontstaan gehad het

[Prente op bladsy 24, 25]

Die Winterpaleis langs die Newa-rivier, nou die Ermitage-museum (binnekant ver regs)

[Erkenning]

Die Ermitage-museum, St. Petersburg

[Prent op bladsy 24, 25]

Die Groot Paleis

[Prent op bladsy 25]

St. Petersburg is al die Venesië van die Noorde genoem

[Prente op bladsy 26]

Die wêreldbekende Mariinski-teater

[Erkennings]

Steve Raymer/National Geographic Image Collection

Photo by Natasha Razina

[Prent op bladsy 26]

St. Petersburg se moltreinstasies is al as “ondergrondse paleise” beskryf

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Boonste foto: Edward Slater/Index Stock Photography; skildery en embleme: The State Hermitage Museum, St. Petersburg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel