Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/09 bl. 21-23
  • Hoe moderne boerdery die wêreld verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe moderne boerdery die wêreld verander het
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Omwenteling begin
  • Wetenskaplike boerderymetodes bring nog veranderinge
  • Die boer se lewenswyse het verander
  • Boere nog steeds in ’n krisis
  • Die boerderykrisis
    Ontwaak!—2003
  • Die boerderykrisis sal eindig
    Ontwaak!—2003
  • Wat sit agter die boerderykrisis?
    Ontwaak!—2003
  • Verskeidenheid—Noodsaaklik vir lewe
    Ontwaak!—2001
Ontwaak!—2009
g 9/09 bl. 21-23

Hoe moderne boerdery die wêreld verander het

WAAR kry jy jou voedsel vandaan? Koop jy dit of kweek jy dit self? Nie lank gelede nie was die meeste mense bestaansboere—dit wil sê, hulle het gelewe van die voedsel wat hulle vir hulleself gekweek het. Maar in sommige nywerheidslande werk net 1 uit 50 mense vandag in die boerderybedryf. Hoe het hierdie omwenteling plaasgevind?

Verbeterings in die doeltreffendheid van boerdery het stadig begin en toe versnel. Elke stap van die proses was vir miljoene gesinne traumaties, en dit duur wêreldwyd nog steeds voort. ’n Kykie na hoe vooruitgang in boerderymetodes mense se lewens geraak het, kan jou help om die hedendaagse wêreld te verstaan.

’n Omwenteling begin

Verbasend genoeg was een van die grootste stappe wat daartoe gelei het dat daar in Europa van bestaansboerdery wegbeweeg is, die uitvinding van die borsplaat vir perde in die 12de eeu. Dit het ’n perd in staat gestel om te werk sonder om homself te wurg. Perde wat so ingespan is, kon harder, vinniger en langer trek as die osse wat voorheen gebruik is. Deur middel van perdekrag kon boere hulle opbrengs vergroot. Hulle kon ysterploeë gebruik op grond wat voorheen onmoontlik was om te bewerk. Nog ’n vroeë stap vorentoe het plaasgevind toe boere grondverbeteringsgewasse begin kweek het—soos boontjies, ertjies, klawer en lusern—wat die grond met stikstof verryk. Vrugbaarder grond het groter oeste opgelewer.

Daardie vroeë vooruitgang het dit vir sommige boere moontlik gemaak om ’n surplus voedsel te kweek sodat hulle dit kon verkoop. Dit het tot die groei van dorpe gelei, waar mense hulle voedsel kon koop en as vervaardigers en ambagsmanne kon werk. Die uitvinders van die eerste landboumasjiene het uit die geledere van hierdie ryk vervaardigers, ambagsmanne en boere gekom.

In omstreeks 1700 het Jethro Tull, ’n Engelse boer, ’n saaimasjien ontwerp wat deur ’n perd getrek is en wat handsaai vervang het, ’n gebruik wat saad vermors het. In 1831, in die Verenigde State, het Cyrus McCormick ’n meganiese oesmasjien uitgevind wat deur ’n perd getrek is en wat graan vyf keer vinniger kon oes as ’n man met ’n sens. Ook omtrent hierdie tyd het handelaars bemesting van die Andiese kus van Suid-Amerika na Europa begin bring. Die gebruik van masjiene en bemesting het die opbrengs van plase drasties verhoog. Maar hoe het dit mense se lewens geraak?

Vooruitgang in die boerderybedryf het die industriële revolusie moontlik gemaak deur ’n groot hoeveelheid goedkoop voedsel vir die dorpe te voorsien. Hierdie revolusie het in Brittanje begin en van omstreeks 1750 tot 1850 geduur. Duisende gesinne moes na nywerheidsdorpe trek om in steenkoolmyne, ystersmelterye, skeepswerwe en tekstielfabrieke te gaan werk. Hulle het nie juis ’n keuse gehad nie. Die kleinboere wat nie die nuwe boerderymetodes kon bekostig nie, het minder geld vir hulle oes ontvang en kon dus nie hulle huur betaal nie. Hulle moes hulle plase verlaat om in oorvol, siektegeteisterde krotbuurte te gaan woon. In plaas daarvan dat gesinne saam boer, moes mans nou weg van die huis af werk. Selfs kinders het lang ure in fabrieke gewerk. Ander nasies het kort daarna soortgelyke veranderinge ondervind.

Wetenskaplike boerderymetodes bring nog veranderinge

Teen 1850 was sommige nasies welvarend genoeg dat hulle landbounavorsing kon finansier. Die wetenskaplike studie van landbou bring tot vandag toe steeds veranderinge mee. Kwekers het byvoorbeeld genetika bestudeer en plante gekweek wat groter opbrengste lewer of wat groter weerstand teen siektes het. Navorsers het ook die presiese kombinasie van nitrate en fosfate vasgestel wat sekere gewasse en grondsoorte nodig het. Plaaswerkers moes gewoonlik regdeur die groeiseisoen skoffel om van onkruid ontslae te raak. Maar baie van hierdie werkers het hulle werk verloor toe wetenskaplikes gesofistikeerde onkruiddoders ontwikkel het wat die groei van onkruid vertraag. Insekte, wurms en snuitkewers is ook ou vyande van die landbouer. Maar boere kan nou uit ’n arsenaal chemikalieë kies om van byna enige pes ontslae te raak.a

Die veeboer se lewe het ook verander. Danksy robotiese melkmasjiene en gerekenariseerde voermasjiene kan slegs een veewagter en sy helper na tot 200 koeie omsien. Boere kan kalwers en varke ook vinniger as ooit tevore gewig laat optel deur hulle in skure pleks van in die oop veld groot te maak, waar hulle hulle temperatuur en dieet kan beheer.

Die opbrengs wat wetenskaplike boerderymetodes gelewer het, was dikwels ongelooflik. Sommige boere het hulle opbrengs per werker verhoog tot honderd of selfs duisend keer wat dit voor sulke wetenskaplike vooruitgang was. Maar hoe het hierdie verwikkelinge mense se lewens geraak?

Die boer se lewenswyse het verander

Op baie plekke het masjiene die boer se lewenswyse verander. Vandag moet die meeste boere en plaaswerkers die vaardighede hê om met gesofistikeerde masjinerie te werk en dit in stand te hou. En hulle werk al hoe meer op hulle eie. Die kameraadskap wat bestaan het toe mense in spanne gesaai, geskoffel en geoes het, is vir goed verby.

In baie lande is daar nou ’n nuwe soort boer, ’n hooggeleerde sakeman wat spesialiseer in die massaproduksie van net ’n paar landbouprodukte of slegs een. Hy het baie belê in grond, geboue en masjinerie. Maar hy is beslis nie onafhanklik nie. Yslike voedselprodusente en kettingwinkels skryf nie net pryse voor nie, maar ook die variëteit, grootte en kleur van sy produk. Landbouingenieurs ontwerp sy produksiestelsel, en gespesialiseerde maatskappye voorsien hom van presies die regte bemesting, plaagdoders en bastersaad wat nodig is vir die spesifieke toestande op sy plaas. Hy het ’n lang pad gekom sedert die boerderymetodes van sy voorvaders. Maar hy sukkel steeds, en sommige mense is besorg oor die skadelike gevolge wat sekere boerderymetodes kan hê.

Boere nog steeds in ’n krisis

In welvarende lande word baie boere nog steeds gedwing om hulle plase prys te gee omdat hulle nie teen groot landboukorporasies kan meeding nie. Sommige boere kan net hulle geliefde lewenswyse behou deur te diversifiseer en ontspanningsdienste insluitende toeristeverblyf of bedrywighede soos kampering en gholf aan te bied en plattelandse kunshandwerk te vervaardig. Ander spits hulle toe op spesialiteitsprodukte—organiese voedsel, blomme, volstruise en alpakkas.

In armer lande, waar tot 80 persent van die bevolking ’n bestaan maak deur die grond te bewerk, ondervind baie bestaansboere ook traumatiese veranderinge. Internasionale maatskappye wat industriële boerderymetodes gebruik, verkry soms die meeste van die beste grond om gewasse vir verafgeleë markte te kweek. Bestaansboere bewerk dikwels onvrugbare grond of klein lappies met min, indien enige, masjinerie om voedsel vir hulle gesinne te voorsien.

Die grootskaalse bevolkingsbeweging wat nou in baie lande van dorpies na stede plaasvind, is die uiteinde van ’n proses wat eeue gelede begin het. Die verandering van plaaslewe na stadslewe bevoordeel nog steeds sommige terwyl dit vir ander ellende veroorsaak. Min regerings, indien enige, het die mense wat geraak word, op ’n doeltreffende en medelydende manier gehelp. Hoe dringend het die mensdom tog die Koninkryk van God nodig, wat ’n verandering tot ’n beter lewenswyse sal teweegbring!—Jesaja 9:6.

[Voetnoot]

a Ontwaak! beveel geen spesifieke boerderymetode aan nie.

[Venster/Prente op bladsy 23]

TWEE MANIERE VAN BOER

Eusebio woon in die Andes, waar hy gewasse kweek en 14 beeste het. “Hulle het almal name”, sê hy. “Ek geniet dit om te boer. Ons kweek al ons eie groente. Ek en my vrou help ons bure om te ploeg en te oes, en hulle help ons weer. Niemand het masjiene nie. Ons ploeg met bulle, en op steil hellings grawe ons met die hand.

“Eenkeer is byna al ons beeste weens siekte dood. Toe het ek ’n kort kursus in veeartsenykunde geloop. Sedertdien het ons nie een dier aan siekte afgestaan nie, en nou kan ek die bure met hulle diere help. Ons verkoop kaas by die dorpsmark, maar ons verdien baie min. Nogtans het ons altyd kos vir ons ses kinders.”

Richard boer op meer as 500 hektaar Kanadese prêrie. Hy werk alleen behalwe vir een arbeider wat in die saai- en oesseisoen saam met hom werk.

“Deesdae is die eise van boerdery meer verstandelik as fisies”, sê Richard. “My trekker en my stroper het albei kajuite met lugversorging wat my teen stof en insekte beskerm. Ek het masjiene wat nege meter breed is sodat ek 65 hektaar in net een dag kan besaai of oes. Maar ek maak baie op die masjiene staat, en dit is wat die stres veroorsaak. Soms moet ek skuld maak om hulle te vervang. Of ek die lening dan kan terugbetaal, hang van dinge af wat buite my beheer is—reënval, ryp, markpryse en rentekoerse. In hierdie gebied het die stres van boerdery tot baie huweliksprobleme onder boere gelei, en selfs tot selfmoord.”

[Prent op bladsy 21]

Die McCormick-oesmasjien, wat in 1831 uitgevind is, het boere gehelp om graan vyf keer vinniger te oes as tevore

[Erkenning]

Wisconsin Historical Society, WHi-24854

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel