Die boerderykrisis sal eindig
“PARTY wat as buitestanders na die situasie van boere kyk, moet seker wonder waarom enigiemand wil aanhou boer”, sê Rodney, wie se familie al drie geslagte lank boer. En tog is daar wêreldwyd miljoene wat aanhou boer. In sommige ontwikkelende lande is daar dalk nie baie ander werksgeleenthede nie; om te boer kan ’n gesin ten minste help om aan die einde van die dag iets op die tafel te hê.
Bowendien voel baie gesinne dat boerdery nie net ’n werk is nie maar ’n lewenswyse. Die aantal mense wat aangehou boer het ten spyte van droogte, siekte, swaar ekonomiese toestande en ander krisisse, lewer bewys van hulle herstelvermoë en hulle liefde vir die plaaslewe. Voordat ons die oplossing vir die boerderykrisis ondersoek, kom ons kyk hoe party boere gehelp is om dit te hanteer.
Hoe party die krisis hanteer
Boerdery gaan gepaard met verskeie onvermydelike uitdagings. Ons moet toegee dat die weer, die ekonomie en baie ander faktore eenvoudig nie beheer kan word nie. “’n Swaar les vir baie boere is dat harde werk nie altyd met sukses beloon word nie”, sê ’n verslag wat deur Noord-Carolina se Koöperatiewe Uitbreidingsdiens uitgegee is. “Die werketiek wat ’n inherente deel van elke boer se lewe is, lewer nie altyd die belonings wat dit belowe nie. Vir elke boer is daar toestande en faktore wat buite sy of haar beheer is.” Een bejaarde boer beskryf wat hy gedoen het om gelukkig te bly en sê: “Ek het eenvoudig geleer om met die onvermydelike saam te werk.”
’n Ou spreuk sê: “Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 11:4). Onsekerheid en besluiteloosheid kan verlammend wees. Onnodige spanning kan verminder word as negatiewe gedagtes met positiewe dade vervang word.
’n Gesonde dieet, genoeg rus en voldoende oefening kan ook voordelig wees. The Western Producer sê dat boere wat gesond bly “beter besluite neem”. ’n Boer genaamd Eugene en sy vrou Candace het vir Ontwaak! gesê: “Genoeg rus help ons om spanning te hanteer. Probleme lyk kleiner en makliker om op te los wanneer ons uitgerus is. Gesonde maaltye help ook, veral as die gesin saam eet.” Hierdie raad is in harmonie met die Bybel se woorde: “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:13.
Sien om na jou gesin
Een boer het vir Ontwaak! gesê: “Baie boeregesinne moes ook ander werk kry om hulle te onderhou. Hoewel dit bedoel is om finansiële spanning te verlig, kan dit tot ander probleme in die gesin lei. Party boeregesinne wat vroeër baie heg was, het nou van mekaar vervreemd geraak.” Wat kan gesinne doen?
Sowat 2 700 jaar gelede is gesinshoofde aangespoor: “Maak jou werk buitenshuis klaar, en maak dit vir jou op die land gereed. Daarna moet jy ook jou huisgesin opbou” (Spreuke 24:27). Randy, ’n pa wie se familie al vier geslagte lank boer, sê: “Dit is noodsaaklik om tyd opsy te sit om jou waardering vir die res van die gesin te wys. Elke gesinslid het ondersteuning en liefde nodig. Vriendelike woorde en dade laat almal voel dat hulle nodig is en waardeer word.”
Kinders moet veral gerusgestel word wanneer drastiese veranderinge plaasvind. Die verlies wat kinders voel wanneer die gesin hulle plaas verloor het, is al vergelyk met dié van kinders wie se ouers geskei of gesterf het. Hulle moet weet dat die probleem nie hulle skuld is nie en dat die gesin bymekaar sal bly.
Hoe ander kan help
Gespanne boere sal hulle dalk afsonder en selfs hulle vriende vermy (Spreuke 18:1). Maar gedurende spanningsvolle tye het ’n mens die ondersteuning van ander nodiger as ooit!
Het jy enige vriende of bure wat ly as gevolg van die boerderykrisis? Dit kan hulle help as ’n mens selfs net empatie betoon. “Die wete dat ons vriende verstaan hoe moeilik dit vir ons is, is op sigself vertroostend”, sê ’n boer genaamd Ron. Ja, lê die inisiatief aan die dag om by jou vriende te gaan kuier en te luister wanneer hulle hulle gevoelens uitspreek.
Jack het by sulke besoeke baat gevind. Hy vertel: “Ek sal nooit die tye vergeet toe my vriende gesien het onder hoeveel druk ek verkeer en by my kom kuier het om my aan te moedig nie.” ’n Mens hoef nie veel van boerdery te weet om ondersteuning te gee nie. Rodney, wat aan die begin aangehaal is, sê: “Net die feit dat my vriende weet dat ek ’n swaar werklas het, gee my die krag en begeerte om te doen wat ek kan.” Ons word herinner aan die Bybelspreuk: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.
’n Permanente oplossing
Die boerderykrisis is net een van die baie bewyse dat die mens nie die vermoë het om die aarde en sy hulpbronne suksesvol te bestuur nie. Die profeet Jeremia het gesê: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is duidelik dat die mens God se hulp nodig het. En jy kan verseker wees dat ons binnekort hierdie hulp sal ontvang.
Die Bybelverslag sê: “Jehovah God het toe die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en daarvoor te sorg” (Genesis 2:15). Ja, dit was ons Skepper wat mense beveel het om te begin boer! Eeue later het God sy volk Israel in die land Kanaän ingebring. Die geïnspireerde verslag sê aangaande daardie land: “Van die reën van die hemel drink dit water; ’n land waarvoor Jehovah jou God sorg. Die oë van Jehovah jou God is voortdurend daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar” (Deuteronomium 11:11, 12). Jehovah het ook wette voorsien wat die Beloofde Land teen misbruik beskerm het. Die Israeliete moes byvoorbeeld elke sewende jaar hulle lande, wingerde en olyfboorde onbewerk laat (Eksodus 23:10, 11). So het die land vrugbaar gebly.
Ons kan vol vertroue wees dat boerdery in die toekoms sal floreer onder die heerskappy van God se Koninkryk—’n hemelse regering met Jesus Christus as heerser (Jesaja 35:1-7). Toe die aangestelde Heerser van hierdie Koninkryk, Jesus Christus, op die aarde was, het hy getoon dat hy die vermoë het om die natuurkragte te beheer waarvan boerdery afhanklik is (Markus 4:37-41). Psalm 72 beskryf die toestande wat sal heers wanneer hy hierdie gesag uitoefen om die aarde en sy inwoners te genees. Dit verseker ons: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees. Sy vrug sal wees soos op die Libanon, en dié wat uit die stad kom, sal bloei soos die plante van die aarde” (Psalm 72:16). In daardie beloofde nuwe wêreld sal God se volk hulle daarin verlustig om buitengewone groot oeste in te samel.
[Lokteks op bladsy 9]
“’n Swaar les vir baie boere is dat harde werk nie altyd met sukses beloon word nie”
[Prente op bladsy 10]
Help gesinslede deur in hulle emosionele en geestelike behoeftes te voorsien
[Prent op bladsy 10]
Onder God se heerskappy sal die aarde oorgenoeg kos voortbring
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Garo Nalbandian