Olie—’n Vloek en ’n seën?
TOT watter mate is nywerheidslande van olie en olieprodukte afhanklik? Hulle kan nie sonder olie—en aardgas—klaarkom nie, en volgens Daniel Yergin se boek The Prize het dit ’n “Koolwaterstof-gemeenskap” geskep. Dink net aan verhittingsolie, smeermiddels, wakse, asfalt en die items wat van petrochemikalieë gemaak word—vliegtuie, motors, bote, kleefmiddels, verf, poliësterklere, seilskoene, speelgoed, kleurstowwe, aspirien, reukweerders, grimering, digitale skywe, rekenaars, TV’s, telefone. Elke dag gebruik baie mense verskeie van die meer as 4 000 produkte of items wat van olie verkry word en wat die lewe maak wat dit vandag is. Maar wat van die skade aan die web van die lewe wat die geskiedenis van olie van die begin af gekenmerk het?
’n Koning wat ‘nie met welwillendheid regeer nie’
Teen die einde van 1940, toe oorlog tussen Roemenië en Hongarye onvermydelik gelyk het, het die Nazi-diktator Adolf Hitler onmiddellik as bemiddelaar ingetree. Was dit ’n gebaar van welwillendheid? Hitler wou eintlik keer dat Roemenië se olieboorgate onder die beheer van die Sowjetunie kom. Olie was ook ’n belangrike rede waarom Irak Koeweit in 1990 ingeval het en waarom ander lande by die teenaanval betrokke geraak het. Hierdie is geensins alleenstaande gevalle nie. Die vasbeslotenheid om olie te beheer, was al baie dikwels die oorsaak van konflik en lyding.
Nie alleen is olie noodsaaklik vir die moderne lewe nie, maar dit is ook diepgewortel in die hart van die politiek en van spesiale belang vir ’n paar magtige mense. Soos die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL) onlangs gesê het, is olie nie ’n gewone produk nie, maar “’n strategiese bate”. Deur middel van handelsverbooie en sanksies het lande olie al as ’n politieke hefboom gebruik. Daarbenewens was olieboorgate, raffinaderye en olietenkskepe al die teiken van terreuraanvalle—en dit rig dikwels verskriklike skade aan die omgewing aan.
Die oliebedryf is al daarvan beskuldig dat dit die skade vererger wat aan die omgewing aangerig word deur koolstofdioksiedemissies, wat moontlik tot wêreldwye klimaatsveranderinge bydra. Volgens ’n verslag deur PEMEX (Mexikaanse Petroleum), een van die wêreld se grootste oliemaatskappye, word besoedelstowwe gedurende verskillende stadiums van petroleumverwerking afgegee. Hoewel petrol nou—byna ses jaar na die Kioto-protokol—waar 161 lande bymekaargekom het om stappe te doen om die bedreiging van wêreldwye klimaatsverwarming te verminder—skoner is, voel baie mense dat min verander het. Daarenteen sê OPUL dat “olie die bron van die rykdom en voorspoed is wat vandag [deur baie lande] geniet word”. Maar is dit altyd die geval?
Party wys dalk op die skade wat aangerig is omdat olieboorgate gesink en pyplyne aangelê is. Ander wys dalk op die groeiende werkloosheidsyfer in Saoedi-Arabië, die land met die rykste olievelde. Alí Rodríguez Araque, president van OPUL, sê: “Die regerings van nywerheidslande trek groot voordeel uit die opofferings wat hulle van vervaardigers, raffineerders en verbruikers vereis.”
CorpWatch, ’n organisasie wat probeer om korporasies aanspreeklik te hou vir die skade wat hulle aan die omgewing aanrig, sê: “Olie is nog steeds koning. Maar dit regeer nie met welwillendheid nie.”
Wat hou die toekoms vir olie in?