Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 11/22 bl. 11-14
  • Die lewe met veelvuldige sklerose

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewe met veelvuldige sklerose
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is veelvuldige sklerose?
  • Hoe om MS te behandel
  • Hoe om met MS saam te leef
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2004
  • Dokters onder druk
    Ontwaak!—2005
  • ’n Pasiënt se reg om te besluit
    Ontwaak!—2009
  • Hoe ek ondanks lupus die mas opkom
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 11/22 bl. 11-14

Die lewe met veelvuldige sklerose

AVIS het alleen huis toe gery toe haar sig skielik dof geword het. Sy het dadelik stilgehou. Sy kon ná ’n paar minute weer sien en het toe verder gery en die voorval aan moegheid toegeskryf. Vier jaar later, terwyl sy met vakansie was, het Avis in die middel van die nag wakker geword met ’n kwaai hoofpyn. Sy het hospitaal toe gegaan, waar ’n dokter haar ’n pynstiller gegee en haar onder waarneming gehou het omdat hy bang was dat sy moontlik ’n aneurisme gehad het.

Die volgende dag was die pyn weg. Maar Avis het baie swak gevoel. Sy het dit selfs moeilik gevind om ’n glas water vas te hou en het ’n prikkelende brandgevoel aan die regterkant van haar liggaam gehad. Omdat sy en haar man bekommerd was, het hulle hulle vakansie kortgeknip en huis toe gery. Die volgende oggend by ontbyt kon Avis nie ’n vurk behoorlik vashou nie en die hele regterkant van haar liggaam het nou swak gevoel. Sy het hospitaal toe gegaan, waar dokters ’n hele reeks toetse op haar gedoen het wat die moontlikheid van ’n beroerte uitgeskakel het. Die dokters het nie van die voorval geweet wat vier jaar vroeër plaasgevind het nie en het gemeen dat hulle nie na aanleiding van die toetsresultate ’n besliste diagnose kon maak nie. Ná etlike maande kon Avis weer die regterkant van haar liggaam gebruik. Sy het tot die slotsom gekom dat sy ’n vreemde virus gehad het.

Nog vier jaar het verbygegaan. Toe het Avis een Vrydagoggend wakker geword met dowwe sig in haar linkeroog. Haar dokter het dit aan spanning toegeskryf. Maar teen Sondag was sy blind in daardie oog. Avis was vreesbevange en in trane toe sy haar dokter gebel het, wat haar dadelik vir ’n ondersoek gestuur het. Behandeling met steroïede het haar gesigsvermoë gedeeltelik herstel. Ná verdere toetse het dokters Avis se probleem gediagnoseer. Sy het veelvuldige sklerose, of MS, gehad.

Wat is veelvuldige sklerose?

MS is ’n chroniese, inflammatoriese siekte van die sentrale senuweestelsel, wat uit die brein en rugmurg bestaan. Baie geneeskundiges dink dat MS ’n outo-immuunsiekte is. Hierdie term verwys na ’n groep siektes waarin die immuunstelsel abnormaal reageer en sekere weefsels van die liggaam aanval. Die oorsaak van MS is onbekend, maar virusinfeksie word beskou as ’n moontlike faktor wat daartoe aanleiding kan gee. Blykbaar is die eindresultaat dat komponente van die immuunstelsel die miëlienskede om die senuvesels van die sentrale senuweestelsel aanval en plaak of letsels op die miëlien, ’n belangrike vetterige stof, agterlaat. Trouens, die naam veelvuldige sklerose verwys na die veelvuldige kolle littekenweefsel wat op senuvesels voorkom.

Miëlien beskerm sekere senuvesels en voorsien ’n soort elektriese insulasie. Wanneer die miëlien dus beskadig word, kan elektriese impulse heeltemal versper word of ’n kortsluiting met aangrensende senuwees laat ontstaan, wat ’n abnormale impuls veroorsaak. En omdat skade op enige plek in die sentrale senuweestelsel kan plaasvind, het geen pasiënt presies dieselfde simptome as ’n ander nie. Een pasiënt het dalk verskillende simptome met elke aanval, afhangende van watter deel van die sentrale senuweestelsel aangetas is. Nogtans sluit simptome dikwels die volgende in: uitputting, swakheid, ’n dooie gevoel in die arms en bene, loopprobleme, dowwe sig, prikkelende en brandsensasies en versteurings in die werking van die blaas en ingewande sowel as onoplettendheid en belemmerde oordeelsvermoë. Maar gelukkig raak baie pasiënte “nie ernstig gestremd nie”, sê Die Nasionale Vereniging vir Veelvuldige Sklerose in die Verenigde State.—Sien die venster “Veelvuldige sklerose—die vier hoofsoorte”.

Soos in Avis se geval kan diagnose aan die begin moeilik wees, want simptome is dalk soortgelyk aan ’n aantal ander siektes. Maar wanneer geneeskundiges vasstel dat daar ’n geskiedenis van herhaalde episodes is, kan hulle gewoonlik ’n akkurater diagnose maak.—Sien die venster “Standaardtoetse vir veelvuldige sklerose”.

Ongeveer 2,5 miljoen mense wêreldwyd het MS. Daardie syfer sluit nagenoeg 50 000 Kanadese en 350 000 inwoners van die Verenigde State in, waar ongeveer 200 mense elke week met die siekte gediagnoseer word. “Naas trauma [is MS] die algemeenste oorsaak van neurologiese ongeskiktheid onder jong tot middeljarige volwassenes”, sê een mediese naslaanwerk. Verder tas dit byna twee keer soveel vroue as mans aan, en die simptome begin gewoonlik tussen die ouderdomme van 20 en 50 verskyn.

Hoe om MS te behandel

Omdat MS nog steeds ongeneeslik is, probeer dokters die siekte behandel deur die verloop daarvan te stuit of te vertraag en deur die simptome te behandel. Geneesmiddels wat bedoel is om die verloop van MS te stuit of te vertraag en om aanvalle minder ernstig te maak, sluit ten minste twee soorte interferons in (’n natuurlik proteïen wat deur immuunselle geproduseer word) en ’n middel wat glatiramerasetaat genoem word.

Dokters skryf ook vir party pasiënte middels voor wat kortikosteroïede genoem word om inflammasie te voorkom en die herstelproses te bespoedig wanneer daar terugslae is. Maar “langtermynbehandeling met kortikosteroïede is selde geregverdig en kan tallose mediese komplikasies insluitende osteoporose, maagsere en suikersiekte veroorsaak”, sê die mediese publikasie The Merck Manual. Daarbenewens verander behandeling met steroïede dalk nie die langtermynverloop van die siekte nie. Gevolglik verkies party dokters om nie ’n geringe aanval te behandel nie.a

Party navorsers het ’n ander benadering en bestudeer maniere waarop beskadigde miëlien herstel kan word. In laboratoriumstudies het hulle al sekere voorloperselle geïdentifiseer wat volgroeide miëlienproduserende selle kan voortbring. As hulle leer hoe om hierdie proses aan die gang te sit, kan hulle moontlik die liggaam stimuleer om beskadigde senuwees te herstel.

Hoe om met MS saam te leef

Meer as 50 persent van MS-lyers sê dat uitputting een van die moeilikste probleme is waarmee hulle te kampe het. Uitputting kan die simptome van die siekte vererger, wat ’n mens se werk en werksvooruitsigte kan raak. Dit kan ook ’n mens se gevoel van beheer oor die siekte ondermyn. Gevolglik vind baie mense wat in die middae moeg word dat dit nuttig is om hulle werk vroeër in die dag te doen en om ’n gereelde middagslapie te geniet. ’n Uur se rus elke middag help Avis byvoorbeeld om met haar werk as ’n voltydse vrywillige bedienaar voort te gaan.

Met betrekking tot die algemene gesondheidsorg vir MS-lyers beklemtoon Harrison’s Principles of Internal Medicine die belangrikheid daarvan om gesond te bly, wat “die vermindering van spanning, ’n gebalanseerde dieet, vermyding van vinnige gewigsverlies en voldoende rus insluit”. Die meeste navorsers meen dat spanning aanleiding kan gee tot terugslae. Dit is dus vir individue die moeite werd om spesifieke spanningsfaktore te identifiseer wat redelikerwys vermy kan word.

Aan die ander kant moet MS-lyers ’n lewenswyse handhaaf wat so normaal en bedrywig moontlik is, maar sonder om hulle te oorwerk, uit te put of aan uiterste hitte of koue bloot te stel. Hulle moet ook gepaste oefening doen. The Merck Manual sê: “Gereelde oefening (soos om op ’n oefenfiets te ry, op ’n trapmeul te loop, te swem, rekoefeninge te doen) word aanbeveel, selfs vir pasiënte met meer gevorderde MS, omdat dit die hart en spiere kondisioneer, spierstyfheid verminder en sielkundige voordele inhou.”

“Dit is belangrik om jou liggaam te ken”, sê Avis. “Wanneer ek baie moeg begin voel of ’n prikkelende of dooie gevoel in my hande en voete kry, dan weet ek dat ek ’n dag of wat rustig moet wees. Dit het my gehelp om met die siekte saam te leef.”

Depressie kan ook ’n probleem vir MS-lyers wees, maar nie noodwendig as ’n direkte gevolg van die verloop van die siekte nie. Ná die skok van die eerste diagnose, gaan pasiënte gewoonlik deur verskillende stadiums van verdriet. Gevoelens kan ontkenning, woede, frustrasie, hartseer en hulpeloosheid insluit. Hierdie gevoelens is normaal en dit neem gewoonlik af, waarna dit deur ’n positiewer gemoedstemming vervang word.

Gesinslede en vriende kan natuurlik ook geraak word, en hulle deel dikwels in die pas gediagnoseerde persoon se smart. Maar dit sal vir hulle makliker wees om die situasie te verwerk en goeie ondersteuning te gee as hulle meer omtrent die siekte probeer leer. Dit is byvoorbeeld goed om te weet dat MS nie ’n mens se lewe aansienlik verkort nie, nie aansteeklik is nie en nie direk oorerflik is nie. Maar data dui wel daarop dat vatbaarheid vir die siekte oorgeërf word.

Baie mense wat aan MS ly, het ’n gelukkige, produktiewe lewe. Avis is verder versterk deur haar verhouding met God en deur haar Bybelse hoop vir die toekoms. Ja, sy wag gretig vir die tyd onder God se Koninkryk wanneer niemand sal sê: “Ek is siek” nie (Jesaja 33:24; Openbaring 21:3, 4). Hetsy jy MS of enige ander ernstige gesondheidsprobleem het, mag “die vertroosting van die Skrif” jou ook onderskraag en jou help om jou beproewinge doeltreffender die hoof te bied.—Romeine 15:4.

[Voetnoot]

a Onlangse studies toon dat tussen 50 en 60 persent van mense wat aan MS ly, vitamiene, minerale, kruie en ander dieetaanvullings gebruik. Hoewel party van hierdie aanvullings dalk onskadelik vir MS-lyers is, kan ander teenproduktief of selfs gevaarlik wees. Voordat pasiënte dus van enige ander terapieë of dieetaanvullings gebruik maak, moet hulle eers die moontlike risiko’s oorweeg.

[Venster op bladsy 12]

Veelvuldige sklerose—die vier hoofsoorte

Terugvallend: Dit is die tipiese vorm van die siekte en kom voor by 70 tot 80 persent van pasiënte wanneer simptome begin verskyn. Terugslae kan duidelik onderskei word van remissiefases waartydens simptome verdwyn of gedeeltelik verdwyn. Tussen terugslae is daar geen teken dat die siekte vererger nie.

Sekondêr progressief: Ongeveer 70 persent van die pasiënte wat aanvanklik die terugvallende vorm het, ontwikkel later sekondêr progressiewe MS. Hulle sal dalk nog terugslae ondervind, maar hulle neurologiese werking gaan ook stadig maar seker agteruit.

Progressief-terugvallend: Ongeveer 10 persent van pasiënte kry hierdie vorm van MS, en dit word voortdurend erger ná die aanvanklike verskyning daarvan. Pasiënte het hewige terugslae met of sonder herstel. Anders as die terugvallende vorm, vorder die siekte tussen terugslae.

Primêr progressief: Hierdie vorm van MS kom voor by 10 tot 15 persent van pasiënte. Van sy aanvang vorder dit byna voortdurend, sonder duidelik onderskeibare terugslae en remissies. Maar die tempo van vordering kan onreëlmatig wees met klein tydelike verbeterings. Dit is algemener by mense wat MS ná die ouderdom van 40 ontwikkel.

[Erkenning]

Bronne: Die Nasionale Vereniging vir Veelvuldige Sklerose in die Verenigde State en die boek Multiple Sclerosis in Clinical Practice. Die persentasiesyfers verskil effens na gelang van die bron.

[Venster op bladsy 13]

Standaardtoetse vir veelvuldige sklerose

Magnetiese resonansiebeelding (MRB): MRB is een van die nuttigste beeldvormingsmetodes wat beskikbaar is en kan hoogs gedetailleerde beelde van breinweefsel lewer. Hierdie beelde kan die waarskuwingstekens van MS blootlê of ten minste die moontlikheid van ander siektes uitskakel as die pasiënt MS het.

Ontleding van die harsingrugmurgvog: Harsingrugmurgvog word uit die ruggraat getrek. Dokters soek na abnormale vlakke van sekere stowwe in die immuunstelsel asook stowwe wat weens die beskadiging van miëlien ontstaan.

Ontloktereaksietoets: Rekenaartoerusting word gebruik om die gemiddelde tydsduur te meet wat dit senuweeseine neem om langs senuweebane te beweeg. ’n Abnormale reaksie word by 80 tot 90 persent van MS-lyers waargeneem.

[Venster/Prente op bladsy 14]

Hoe om met veelvuldige sklerose saam te leef

Ondersteuning: ’n Hegte verhouding met familie en vriende wat begrip het vir jou situasie en onder-steunend is, bevorder persoonlike welsyn. Vra dus vir hulp wanneer jy dit nodig het, en moet jou nie afsonder nie.

Openhartige kommunikasie: ’n Gewilligheid om openlik te praat oor MS en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, bevorder begrip en help lyers om daarmee saam te leef. Aan die ander kant kan ’n teësinnigheid om te kommunikeer misverstande, frustrasie en afsondering tot gevolg hê.

Geestelikheid: Daar is al hoe meer getuienis dat geestelikheid goed is vir ons gesondheid en dat dit ander positiewe eienskappe bevorder, insluitend ’n optimistiese beskouing van die toekoms. Dit strook met Jesus se woorde: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.”—Matteus 4:4.

Sin vir humor: Hoewel daar niks snaaks omtrent MS is nie, kan lag goeie terapie vir die liggaam en die verstand wees.

[Erkenning]

Gebaseer op die boek Multiple Sclerosis in Clinical Practice.

[Prent op bladsy 11]

MS is twee keer algemener by vroue as by mans

[Prent op bladsy 13]

Gereelde oefening is goed vir die liggaam en die verstand

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel