Dokters onder druk
“’n Jong egpaar het na my toe gekom, vol hoop dat ek iets vir hulle pasgebore baba kon doen. Terwyl ek hom ondersoek het, het my hart in my skoene gesak. Sy toestand was ongeneeslik. Kan jy jou voorstel hoe ek gevoel het toe ek vir hierdie nuwe ouers moes vertel dat hulle seuntjie nooit sal kan sien nie? Toe hulle uit my spreekkamer stap, het my emosies my oorweldig. Maar ’n oomblik later moes ek my volgende pasiënt met ’n glimlag verwelkom! Dis wat vir my stresvol is.”—’n Oogarts in Suid-Amerika.
PASIËNTE besoek gewoonlik nie die spreekkamer om na hulle dokter se probleme te luister nie. ’n Pasiënt se gedagtes word oorheers deur sy behoefte aan hulp. Gevolglik besef min mense hoeveel druk, oftewel stres, dokters ondervind.
Almal moet natuurlik stres die hoof bied, en die mediese beroep is nie die enigste stresvolle werk nie. Maar aangesien amper almal op die een of ander manier deur die dokter-pasiënt-verhouding geraak word, is dit nuttig om dokters se stres te verstaan, asook die uitwerking wat dit op hulle kan hê.
Dokters begin reeds vroeg leer om stres te verduur wanneer hulle toelating tot ’n mediese fakulteit probeer verkry. Maar wanneer hulle mediese opleiding begin, is dit gewoonlik ’n emosionele skok wat hulle nie vergeet nie. Dit is die begin van ’n proses wat die mediese student se gevoelens, selfs sy karakter, kan verander.
Mediese opleiding—’n skokkende ervaring
Die traumatiese eerste besoek aan die ontleedkamer kan reeds in die student se eerste week van mediese studies plaasvind. Baie studente het dalk nog nooit ’n lyk gesien nie. Om naakte, verrimpelde liggame te sien wat in verskillende stadiums van ontleding oopgesny is, kan nogal weersinwekkend wees. Studente moet maniere vind om hulle emosies te verwerk. Hulle wend hulle dikwels tot humor deur vir elke kadawer ’n snaakse naam te gee. Wat vir ’n buitestander uiters gevoelloos en oneerbiedig lyk, is noodsaaklik vir studente wat probeer om nie te dink aan die mens wat die liggaam vroeër was nie.
Dit word gevolg deur kliniese opleiding in ’n hospitaal. Die meeste mense word nie gedwing om oor die kortstondigheid van die lewe na te dink voordat hulle dalk eers hulle middeljare bereik nie. Maar mediese studente kry in hulle jeug regstreeks met ongeneeslike siektes en die dood te doen. Een student het sy eerste ondervindings in die hospitaal beskryf as “iets om van naar te word”. Dit kan ook nogal ’n skok wees vir studente in ryk sowel as arm lande wanneer hulle aanvanklik besef hoe dikwels pasiënte die nodige behandeling geweier word omdat daar nie genoeg geld is nie.
Hoe bied pas gekwalifiseerde dokters stres die hoof? Mediese personeel moet hulle dikwels emosioneel van pasiënte distansieer deur nie aan hulle as ’n persoon te dink nie. Pleks van na die persoon te verwys wat aandag nodig het, sê die personeellid dalk: “Dokter, daar is ’n gebreekte been in die tweede ondersoekkamer.” Dit klink dalk snaaks as jy nie verstaan waarom so ’n beskrywing gebruik word nie.
Empatie-uitputting
Dokters word as wetenskaplikes opgelei, maar vir baie bestaan die grootste deel van hulle werk daaruit om met pasiënte te gesels. Sommige geneeshere voel dat hulle nie gereed is vir die emosionele aspek van die dokter-pasiënt-verhouding nie. Soos in die inleiding gemeld is, is dit een van die moeilikste situasies vir ’n dokter om slegte nuus oor te dra. Party moet dit daagliks doen. Dikwels moet mense wat in ’n krisissituasie verkeer, uiting gee aan hulle angstigheid, en daar word van geneeshere verwag om te luister. Om met angstige, bang mense te werk, kan so uitputtend wees dat sommige geneeshere aan ’n soort uitbranding ly wat nou as empatie-uitputting bekend staan.
’n Huisdokter in Kanada het aangaande sy vroeë jare geskryf: “Ek was toegegooi onder die werk: mense wat hulp nodig gehad het en my aandag wou hê; bekommerde mense wat oor hulle bekommernisse wou praat; siek mense wat my nodig gehad het; mense wat my probeer manipuleer het; mense wat my kom spreek het; mense wat daarop aangedring het dat ek hulle besoek; mense wat deur middel van die telefoon in my huis—selfs my slaapkamer—ingekom het. Mense, mense, mense. Ek wou behulpsaam wees, maar die hele situasie was belaglik.”—A Doctor’s Dilemma, deur John W. Holland.
Word stres met die verloop van jare minder? Senioriteit het gewoonlik meer verantwoordelikheid tot gevolg. Dikwels moet lewensbelangrike besluite oombliklik geneem word, moontlik op grond van onvoldoende inligting. “Toe ek jonk was, het dit my nie gepla nie”, verduidelik ’n Britse dokter, “net soos dit jongmense nie pla om roekeloos te bestuur nie. Maar wanneer jy ouer word, word lewe vir jou kosbaarder. Nou maak besluite oor behandelings my angstiger as ooit tevore.”
Hoe word dokters deur stres geraak? Die gewoonte om hulle emosioneel van pasiënte te distansieer, kan ’n uitwerking op hulle gesinsverhoudings hê. Om daardie neiging te vermy, kan ’n uitdaging wees. Sommige geneeshere toon buitengewone empatie wanneer hulle pasiënte help om hulle gevoelens te verwerk. Maar hoe lank voordat hulle aan empatie-uitputting begin ly? Dit is die dilemma waarin die dokter verkeer.
Moeilike pasiënte
Wanneer dokters uitgevra word oor die spanning van dokter-pasiënt-verhoudings, beskryf hulle dikwels heel eerste moeilike pasiënte. Dalk herken jy van die volgende soorte.
Eerstens is daar die pasiënt wat die dokter se tyd mors deur nie tot die punt te kom en te verduidelik wat sy probleem is nie. Dan is daar die veeleisende pasiënt wat die dokter in die nag of oor naweke skakel as dit nie ’n noodgeval is nie of wat op behandeling aandring wat die dokter liewer nie sou aanbeveel nie. Dan is daar ook die wantrouige pasiënt. Party mense doen navorsing oor hulle toestand, dalk op die Internet, en dit kan nuttig wees. Maar sulke navorsing kan daartoe lei dat hulle vertroue verloor in die mediese deskundige wat hulle kom raadpleeg het. ’n Dokter het dalk nie die tyd om die voor- en nadele te bespreek van alles wat sulke navorsing oplewer nie. Dit is frustrerend vir ’n dokter wanneer sy pasiënt weens wantroue nie inskiklik is nie. Laastens is daar die ongeduldige pasiënt. Hy staak die behandeling nog voordat dit kans gehad het om te werk en gaan soek moontlik elders raad.
In sommige wêrelddele is dit egter nie die pasiënt wat die hoofbron van dokters se stres is nie, maar die regsgeleerde.
Defensiewe geneeskunde
Baie lande sê dat daar ’n merkbare toename in die aantal wanpraktyksake teen dokters is. Party regsgeleerdes stel onbenullige eise in om geld te maak. “Hulle laat premies vir mediese aanspreeklikheidsversekering die hoogte inskiet”, het die president van die Amerikaanse Mediese Vereniging verduidelik. “Hierdie hofsake het ook ander slegte gevolge. ’n Ongegronde regsaak kan ’n dokter groot skade berokken—verleentheid, verlore tyd, . . . spanning en angstigheid.” Dit het al selfs sommige dokters tot selfmoord gedryf.
Gevolglik voel baie geneeshere dat hulle “defensiewe geneeskunde” moet beoefen, dat hulle besluite moet maak op grond van die moontlikheid dat hulle dit in die hof sal moet verdedig en nie van wat in die pasiënt se belang is nie. “Om geneeskunde te beoefen terwyl jy jou voortdurend teen moontlike hofsake moet beskerm, het nou ’n lewenswyse geword”, het die Physician’s News Digest gesê.
Terwyl die druk op dokters bly toeneem, wonder baie van hulle wat die toekoms inhou. Baie pasiënte vra dieselfde vraag wanneer hulle sien dat al hoe meer mense weens sekere siektes ly ondanks vooruitgang in die mediese wetenskap. Die volgende artikel bied ’n realistiese beskouing van die toekoms vir geneeshere sowel as pasiënte.
[Venster/Prent op bladsy 6]
WERK SAAM MET JOU DOKTER
1. Benut jou tyd by die dokter goed deur voor die tyd te dink hoe jy jou probleem volledig maar saaklik sal verduidelik, en begin by jou grootste bekommernis
2. Moenie jou dokter ná ure skakel as dit nie ’n noodgeval is nie
3. Wees geduldig. ’n Behoorlike diagnose en behandeling neem tyd
[Venster/Prente op bladsy 7]
‘SELFS ALLEDAAGSE GEVALLE KAN BEVREDIGEND WEES’
“Die kloof tussen geneeskunde hier en in meer ontwikkelde gebiede is baie groot. Opleiding vir ’n beroep word hier beskou as ’n manier om armoede vry te spring, en geneeskunde is dus ’n gewilde studierigting. Maar daar is baie dokters en min werk. Gevolglik word dokters nie veel betaal nie. Min mense kan bekostig om as ’n privaat pasiënt vir ’n konsultasie te betaal. Ek werk in ’n ou hospitaal met ’n lekkende dak en slegs die mees basiese toerusting. Ons personeel bestaan uit twee dokters en vyf verpleegsters. Ons sien om na 14 000 mense.
“Soms dink pasiënte dat ek hulle nie behoorlik ondersoek nie, maar as daar 25 pasiënte is wat wag, is daar nie tyd vir lang konsultasies nie. Nogtans vind ek dit bevredigend om pasiënte te behandel, selfs alledaagse gevalle. Moeders bring byvoorbeeld dikwels hulle kinders na my toe wat diarree het en ondervoed en ontwater is. Hulle het dowwe oë en angstige gesigte. Ek moet maar net vir die moeder vertel hoe om rehidrasiesoute, parasietmedisyne en antibiotika te gebruik. Sodra dit begin werk, begin die kind weer eet. ’n Week later lyk hy of sy soos ’n ander kind—die ogies blink en die kind glimlag en is vol lewe. Die vooruitsig om sulke ondervindinge te hê, het gemaak dat ek ’n dokter wou wees.
“Ek het van kleins af daarvan gedroom om siek mense te help. Maar mediese opleiding het my verander op ’n manier wat ek nie verwag het nie. Ek het gesien hoe mense sterf omdat hulle nie eens die bietjie geld gehad het wat nodig was vir lewensreddende behandeling nie. Ek moes ongevoelig raak sodat die hartseer nie ’n uitwerking op my het nie. Eers toe daar uit die Bybel vir my gewys is wat die oorsaak van lyding is, het ek God se medelye verstaan en kon ek weer empatie vir ander voel. Ek kon toe weer huil.”
[Prente]
Dr. Marco Villegas werk in ’n afgesonderde Amasonedorp in Bolivia