Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 11/22 bl. 21-24
  • Die Noordwestelike Deurvaart—’n Droom wat bewaarheid is?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Noordwestelike Deurvaart—’n Droom wat bewaarheid is?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ysversperring
  • Waar is Franklin?
  • Eerste deurbraak
  • ’n Onverwagte oplossing?
  • Op soek na ’n noordelike deurvaart
    Ontwaak!—2010
  • Die land watnooit smelt nie
    Ontwaak!—1994
  • Die Arktiese grondeekhoring se brein
    Is dit ontwerp?
  • Indrukwekkende vaartuie gereed om te help
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 11/22 bl. 21-24

Die Noordwestelike Deurvaart—’n Droom wat bewaarheid is?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

AARDVERWARMING word gewoonlik met nadelige gevolge verbind. Maar dit sal dalk help om een van die grootste drome van seevaarders te verwesenlik—’n maklik bevaarbare roete van die Noordwestelike Deurvaart. Volgens die tydskrif Science kan hierdie skakel tussen die Atlantiese en die Stille Oseaan bo om die Noord-Amerikaanse vasteland nog hierdie eeu vir gereelde seeverkeer oop wees. “Dit is 11 000 kilometer korter as die Europa-na-Asië-roete deur die Panamakanaal en 19 000 kilometer korter as die reis om Kaap Hoorn vir reusetenkskepe wat nie deur die kanaal kan vaar nie”, verduidelik Science.

So ’n deurvaart is meer as 500 jaar gelede in die vooruitsig gestel. Kort nadat Christophorus Columbus Amerika ontdek het, is van die eerste pogings aangewend om ’n noordelike deurvaart te vind. In 1497 het koning Hendrik VII van Engeland John Cabot opdrag gegee om ’n seeroete na die Ooste te vind. Soos Columbus het Cabot van Europa af wes gevaar, maar sy koers was meer noord. Toe Cabot aan wal gaan, moontlik op Newfoundland in Noord-Amerika, was hy seker dat hy Asië bereik het. Hoewel daar later besef is dat ’n hele Nuwe Wêreld tussen Europa en Asië lê, was die idee van ’n noordelike deurvaart na die Ooste nie vergete nie. Kon ’n mens bo om hierdie nuutgevonde vasteland vaar?

Ysversperring

In teorie het dit dalk gelyk of dit maklik sou wees om die Noordwestelike Deurvaart te vind en daardeur te vaar. Maar in werklikheid het die strawwe toestande van die Noordpoolstreek die taak moeiliker gemaak as wat enigiemand hom moontlik destyds sou kon voorstel. Die grootste hindernis was die ys. “Dit het geskuif en gedryf, oopgegaan om skepe deur te laat, en daarna het dit soos ’n strik toegegaan en die skepe en hulle bemanning vasgekeer of verpletter”, skryf James P. Delgado in sy boek Across the Top of the World.

Sir Martin Frobisher, leier van die eerste ekspedisie wat noord van die Noord-Amerikaanse vasteland na die Noordwestelike Deurvaart deur die Noordpool gesoek het, het met ys te kampe gehad. ’n Vloot van twee skepe en ’n boot het in 1576 uit Londen vertrek. Frobisher het ook Innuïts, inboorlinge van die Noordpool, teëgekom. Hy het eers gedink dat hulle robbe of visse is, “maar toe hy nader gaan, het hy gesien dat hulle manne is in bootjies wat van leer gemaak is”, vertel ’n boek oor Frobisher se reis. Frobisher het altesaam drie reise na die Noordpool onderneem, maar hy het nooit die Noordwestelike Deurvaart gevind nie. Frobisher was egter gelukkig om ongedeerd van al sy Noordpoolekspedisies af terug te keer huis toe. Dit was nie die geval met ander ontdekkingsreisigers wat na die legendariese deurvaart gesoek het nie. Vir baie was die Noordpool—die ys, die koue, die gebrek aan vars kos—een te veel. Nogtans het tientalle skepe en duisende manne gedurende die jare ná Frobisher noordwaarts gevaar en deur die ys probeer kom.

Waar is Franklin?

In die 19de eeu het die Britse Vloot ’n hele paar groot ekspedisies gereël om na die Noordwestelike Deurvaart te soek. Een daarvan het tot die grootste ramp in die geskiedenis van Noordpoolreise gelei. Sir John Franklin, ’n ervare Noordpoolreisiger, is gekies om die ekspedisie te lei. Stoomenjins is in twee groot vaartuie ingebou. Albei skepe is met die bekwaamste manne in die vloot beman en met genoeg kosvoorraad vir drie jaar toegerus. Boonop is baie aandag aan die emosionele welsyn van die bemanning gegee. Die skepe het byvoorbeeld volledige biblioteke gehad, en selfs draaiorrels het deel uitgemaak van die toerusting. ’n Offisier wat saam op die ekspedisie gegaan het, het geskryf: “Feitlik niks wat nuttig sou wees, is nagelaat nie, en ek dink regtig nie dat ek enigiets sou wou koop as ek ’n uur of twee in Londen kon wees nie!” Die ekspedisie het in Mei 1845 uit Engeland vertrek en Baffinbaai in Julie bereik.

’n Jaar het verbygegaan. En toe nog ’n jaar. Uiteindelik was die drie jaar verby waarvoor hulle voorberei het en wat hulle gedink het in die ergste geval nodig sou wees, maar niks is van Franklin se ekspedisie gehoor nie. Die raaiselagtige verdwyning van die twee skepe en hulle bemanning het tot ’n skielike toename in Noordpoolreise gelei. Tientalle ekspedisies het nie net lig gewerp op die lot van Franklin se ekspedisie nie, maar ook op die raaisel van die Noordwestelike Deurvaart.

Kaptein Robert McClure was ’n gesagvoerder op een van twee skepe wat gestuur is om na Franklin te soek. Die skepe het in 1850 uit Londen vertrek en van die Stille Oseaan af deur die Beringstraat na die noordkus van Amerika gevaar. Die ambisieuse McClure het een skip agtergelaat en vasbeslote in die rigting van die Noordelike Yssee beweeg. Kort voor lank het hy in waters gevaar waar geen Europeër ooit tevore was nie. Hy het baie gewaag en uiteindelik by die kus van Banks-eiland aangekom, waar hy ’n opwindende ontdekking gemaak het. Dit was dieselfde eiland as wat Edward Parry jare tevore gesien het toe hy uit die ooste na die Noordwestelike Deurvaart gesoek het. As McClure na die anderkant van die eiland kon vaar, sou hy die Noordwestelike Deurvaart voltooi!

Maar sy skip het vasgeys. Twee jaar later het McClure en sy manne nog steeds in die ys vasgesit. Toe dit lyk of daar geen hoop meer was nie, het hulle egter manne op die horison gesien wat na die skip toe kom. Dit was soos ’n wonderwerk. Henry Kellett, ’n kaptein op ’n ander ekspedisie, het ’n boodskap gekry wat McClure op Melville-eiland gelaat het en kon manne stuur om hom te help. McClure se manne, wat teen daardie tyd halfdood was, is na Kellett se skip geneem, waarin hulle huis toe gevaar het—langs die oostelike roete. Stel jou voor, Kellett het van die Atlantiese Oseaan af na die noordkus van Amerika gekom! McClure “was dus die eerste een wat die Noordwestelike Deurvaart voltooi het, al was dit in meer as een skip en deels te voet”, sê The New Encyclopædia Britannica.

Maar wat het van Franklin se ekspedisie geword? Verskillende leidrade werp lig op die gebeure ná 1845. Al twee skepe van die ekspedisie het in die Victoria-seestraat vasgeys. Teen die tyd dat die skepe 18 maande lank in die ys vasgevries was, was Franklin en ’n hele paar ander manne al dood. Die oorlewendes het besluit om die skip te verlaat en te voet in ’n suidelike rigting te gaan, maar die manne, wat reeds swak was, het op pad gesterf. Nie een van die bemanning het dit oorleef nie. Die lot van die ekspedisie is nog steeds ’n onderwerp waaroor daar bespiegel word. Selfs loodvergiftiging van blikkieskos is al as ’n rede aangegee waarom die manne so gou gesterf het.

Eerste deurbraak

Hoewel die bestaan van die Noordwestelike Deurvaart reeds bewys was, is daar eers in die 20ste eeu daardeur gevaar. Die jong Roald Amundsen het die groep van sewe Noorweërs gelei wat die reis onderneem het. Hulle het ’n klein vissersboot met die naam Gjøa gebruik, wat heeltemal anders as die indrukwekkende Britse oorlogskepe was. Maar die klein vaartuig wat in vlak water kon vaar, was ’n ideale vervoermiddel in die Noordelike Yssee, waar daar talle nou deurgange sowel as rotse en sandbanke was. Amundsen en sy bemanning het op 16 Junie 1903 vertrek op die lang reis van Oslo na die Noord-Amerikaanse Noordpool langs die oostelike roete. Meer as twee jaar later, op 27 Augustus 1905, het die bemanning op die Gjøa ’n walvisskip gesien wat langs die westelike roete, deur die Beringstraat, na die Noordelike Yssee gekom het. Amundsen het oor die ondervinding geskryf: “Die Noordwestelike Deurvaart is voltooi. My kinderdroom—op hierdie oomblik is dit verwesenlik . . . Ek het trane in my oë gehad.”

Tot dusver was dit egter nie moontlik om die deurvaart vir gereelde verkeer te gebruik nie. Sedert Amundsen se tyd het ’n aantal vaartuie bo om Noord-Amerika gevaar, maar dit is nog ’n moeilike reis. Tog sal dit dalk nie meer lank die geval wees nie.

’n Onverwagte oplossing?

Noordpoolys smelt nou verbasend vinnig. Gevolglik kon ’n Kanadese polisieskip in die jaar 2000 die Noordwestelike Deurvaart in ongeveer ’n maand voltooi. Toe The New York Times ná die reis ’n onderhoud met die skipper, sersant Ken Burton, gevoer het, het hy sy kommer uitgespreek omdat hulle nie probleme met ys gehad het nie. “Daar was ’n paar ysberge, maar ons het niks gesien wat ons bekommerd gemaak het nie. Ons het ’n paar smal stroke dryfys gesien wat oor baie jare gevorm het, maar almal was klein en versplinter, en ons kon om hulle vaar”, het Burton gesê. Volgens die tydskrif Science “het die omvang van die Noordpoolys oor die afgelope 20 jaar met 5% afgeneem, het dit dunner geword en toon klimaatvoorspellings dat dit sal aanhou afneem namate wêreldtemperature styg”. Die artikel verwys na ’n verslag wat deur die Amerikaanse Kommissie vir Noordpoolnavorsing vrygestel is waarin voorspel word dat die Noordwestelike Deurvaart binne ’n dekade “minstens ’n maand lank in die somer vir vaartuie sonder versterking teen die ys oop kan wees”.

Ironies genoeg, “deur eenvoudig by die huis te bly en miljarde tonne fossielbrandstof te brand”, sal mense nou die droom verwesenlik wat hulle vroeër beweeg het om geweldige moeite te doen, sê die tydskrif Science. Maar navorsers is bekommerd oor die uitwerking wat smeltende ys en gereelde seeverkeer op ysbere, walrusse en inboorlinge van die Noordpool sal hê. Boonop kan die begaanbare Noordwestelike Deurvaart tot politieke konflikte lei. Wat sal die moontlike opening van die Noordwestelike Deurvaart nog beteken? Die tyd sal leer.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Martin Frobisher se roete in 1578

John Franklin se roete 1845-48

Robert McClure se roete 1850-54

Roald Amundsen se roete 1903-5

(Stippellyne dui binnelandse reis aan)

Noordpool

RUSLAND

ALASKA, VSA

KANADA

GROENLAND

[Prent op bladsy 23]

John Cabot

[Erkenning]

Culver Pictures

[Prent op bladsy 23]

Sir Martin Frobisher

[Erkenning]

Painting by Cornelis Ketel/ Dictionary of American Portraits/ Dover Publications, Inc., in 1967

[Prent op bladsy 23]

Sir John Franklin

[Erkenning]

National Archives of Canada/C-001352

[Prente op bladsy 23]

Robert McClure en sy skip “Investigator” (onder)

[Erkennings]

National Archives of Canada/C-087256

National Archives of Canada/C-016105

[Prent op bladsy 23]

Roald Amundsen

[Erkenning]

Brown Brothers

[Prent op bladsy 24]

Die styging in wêreldtemperature maak toegeyste deurvaarte toegankliker

[Erkenning]

Kværner Masa-Yards

[Foto-erkenning op bladsy 21]

From the book The Story of Liberty, 1878

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel