Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/8 bl. 14-17
  • Die land watnooit smelt nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die land watnooit smelt nie
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons reis na Baffin-eiland
  • Verkeerde idees
  • Die nag het nooit aangebreek nie
  • Sou die Innuït ons verwelkom?
  • Die Noordwestelike Deurvaart—’n Droom wat bewaarheid is?
    Ontwaak!—2003
  • ’n Onvergeetlike reis op Seeweg Nr. 1
    Ontwaak!—2003
  • Indrukwekkende reuse van die Noorde van Kanada
    Ontwaak!—1993
  • ’n Fassinerende besoek aan die Olympic- Nasionale Park
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/8 bl. 14-17

Die land watnooit smelt nie

DIE verre Noorde het my nog altyd bekoor. Selfs terwyl ek as ’n jong seun in Gold Beach, Oregon, VSA, grootgeword het, het ek altyd kaarte van Kanada aandagtig bestudeer en gedroom van die dag wanneer ek plekke met eksotiese name sou verken, soos Groot Slawe-meer en Groot Bere-meer. Op ’n dag in 1987 het ek en my vriend Wayne dus planne begin beraam om Auyuittuq- Nasionale Park te besoek, Kanada se eerste nasionale park wat noord van die Noordpoolsirkel geleë is.

In die Innuïttaal beteken Auyuittuq “Die land wat nooit smelt nie”, en die park is opsygesit om ’n Noordpoolwildernis te bewaar wat bestaan uit ruwe bergpieke, diep valleie, skouspelagtige fjords, sowel as die natuurlewe in die see en aan die kusgebied. Die park sluit die Penny-yskap in, ’n reusagtige mantel van 5700 vierkante kilometer wat uit ys en sneeu bestaan en aan alle kante deur gletsers gedreineer word. Dit is geen wonder dat daar met geneentheid van Auyuittuq as die “Switserland van die Noordpool” gepraat word nie.

Baffin-eiland, wat ongeveer 1600 kilometer lank is, is die vyfde grootste eiland ter wêreld. Tog het nie een van ons vriende al ooit daarvan gehoor nie! Om die waarheid te sê, hulle het aanhoudend gevra: “Wanneer gaan julle Alaska toe?” (Baffin-eiland is ongeveer 3200 kilometer oos van Alaska, maar op ongeveer dieselfde breedtegraad.) Hoewel Jehovah se Getuies van Kanada die voortou met die evangelisasiewerk op Baffin-eiland geneem het, woon daar geen Getuies op die eiland nie. Trouens, die naaste gemeente is 1000 kilometer ver, in Labradorstad, Newfoundland.

In Auyuittuq is dit drie maande somer en nege maande winter; daarom het ons besluit om in Augustus 1988 te gaan, nadat die see-ys opgebreek het en die meeste bytende swartmuggies weg is. Dit is ook voor die Septembersneeu begin.

Ons reis na Baffin-eiland

Uiteindelik het die tyd aangebreek. Ons het per motor van ons tuiste in Noord-Carolina na Montreal, Quebec, gereis waar ons aan boord van ’n Boeing 737 gegaan het. Ná ons ’n uur in die lug was, het die wolke verdwyn en ons ’n onbelemmerde uitsig op die Kanadese Skild gegee, ’n rotsagtige gebied wat bar voorkom met honderde mere van allerhande vorme en groottes en absoluut geen bome nie. Nadat ons vlugtig by Kuujjuaq (vroeër Fort-Chimo) aangedoen het, het ons sneeu tot reg op seevlak begin sien. Ons het spoedig oor Ungava-baai gevlieg, wat tot ons verbasing vol ontelbare ysberge was so ver as wat ’n mens kon sien.

Ná ’n vlug van byna drie uur het ons by Iqaluit geland, wat “Plek van vis” beteken. Iqaluit, wat vroeër Frobisher-baai genoem is, vorm die polsslag van Baffin-eiland en is die grootste dorp, met ’n bevolking van ongeveer 3000.

Aangesien daar ’n tydsverloop van ’n paar uur tussen ons vlugte was, het ons besluit om die dorp te verken. Die eerste ding wat ons opgeval het, was die welige wolgras met hulle pofferige, wit blomme wat die Innuït (vroeër Eskimo’s genoem) pluk en uitdroog en soos bolletjies watte gebruik. Terwyl ons afgestap het hawe toe tot teenaan die water het ons opgemerk dat die gety vinnig verander het. Binne die eerste twee minute was 6 meter van die strand heeltemal droog!

’n Rukkie later het ons aan boord van ’n klein, skroefaangedrewe vliegtuig gegaan om na Pangnirtung, net onder die Noordpoolsirkel, te vlieg. Die vlug wat een uur geduur het, het ons ’n voorskou gegee van wat op ons gewag het. Deur die donker wolke wat kol-kol versprei was, het ons nou en dan ’n vlugtige blik gekry op ’n barre wildernis met groot gedeeltes sneeu, rotse en water. Alles het koud en donker gelyk. En toe die vliegtuig “Pang” nader, het dit net meer tot daardie indruk bygedra. Die vliegtuig het onder die plafon van donker wolke oor ’n diep fjord gesirkel wat deur sneeubedekte bergkranse omring was voor dit op ’n gruisaanloopbaan neergestryk het.

Verkeerde idees

Aangesien dit in “Pang” gereën het, het ons onder die vliegtuig se vlerk skuiling gesoek terwyl ons vir ons rugsakke met al ons kos, toerusting en ’n tas vol Bybellektuur gewag het. Nadat alles uit die laairuim gepak is, was daar geen teken van ons goed nie. In ’n piepklein terminusgeboutjie is daar vir ons gesê dat dit waarskynlik met die volgende vliegtuig sou kom, wat hulle binne twee uur verwag het. Ons het darem ons tent by ons gehad en ons het dus te voet na die kampterrein gaan soek sodat ons ons tent kon opslaan. Ons het in ’n klein winkeltjie naby die kampterrein teen die reën gaan skuiling soek en met die meisie wat in die winkel gewerk het oor die dorp en sy mense gesels.

Sy het van ons verkeerde indrukke uit die weg geruim. Eerstens het ons gereken dat daar meer as 300 huise behoort te wees, aangesien die dorp ’n bevolking van duisend mense gehad het. In werklikheid is daar net omtrent 180 huise. Die meeste voorrade kom per vliegtuig hier aan, nie waar nie? Nee. Jy het seker al die uitdrukking gehoor: “As my skip kom”. Wel, hulle skip kom een keer per jaar—vier skepe, om presies te wees. Een vir die Hudson Bay Company, die algemene winkel van die Noorde; een met boumateriaal; een met olie en petrol en een met handelsware vir al die ander winkels, waaronder al die blikkieskos vir die jaar. Die bederfbare produkte kom natuurlik per vliegtuig.

Die nag het nooit aangebreek nie

Nadat ons bagasie uiteindelik daar aangekom het, het ons in die reën kamp opgeslaan en aandete gekook. ’n Staptoergids het ons vertel dat hy al drie maande daar is en nege sonnige dae gesien het! Dit het warmer geword as wat verwag is—ongeveer 10 grade Celsius, dag en nag.

Die nag het egter nooit aangebreek nie; die hele tyd wat ons daar was, was dit daglig. Ons kon eenuur in die oggend in natuurlike lig foto’s neem. Maar hoe kon ons slaap as dit altyd lig was? Wel, dit was koel genoeg om wolhoede te dra, selfs om mee te slaap; wanneer ons dus die ligte gedoof het, het ons net ons hoede oor ons oë getrek.

Teen drie-uur een nag het ’n helder lig wat van die noorde af gekom het my wakker gemaak. Ek was dronkgeslaan. In die Noordelike Halfrond kom die son in die ooste op, is teen twaalfuur suid en gaan in die weste onder, maar dit verskyn nooit in die noorde nie. Toe het ek besef dat ons heel bo-op die aardbol was, en in die middel van die nag in die somer het die son dus wel vanuit die noorde geskyn. Dit het ’n tydjie geneem om daaraan gewoond te raak.

Sou die Innuït ons verwelkom?

Byna al die huise in Pangnirtung is met swaar kabels aan die grond vasgemaak om hulle teen die sterk winde te beveilig. Die meeste gesinne gebruik sneeumobiele as vervoer in die winter en klein drie- of vierwielvoertuie wat vir alle terreine geskik is in die somer. En daar is ’n paar motors, selfs al is die dorp se paaie altesaam net omtrent drie kilometer lank! Aangesien die dorp op ’n klein, plat gebied langs die fjord geleë is en deur hoë bergkranse omring word, is daar nêrens anders om heen te ry nie.

’n Groot deel van elke gesin se voedsel word voorsien deur die kariboe en die klein rob te jag, sowel as om arktiese bergforelle te vang. In Iqaluit het ons kariboeburger, muskusbeesburger en selfs ’n bietjie muktuk, walvisvel met spek daaraan, probeer. Anders as beesvet, het walvisvet, selfs as dit koud is, nie ’n olierige smaak nie, en dit bevat blykbaar ’n bietjie proteïene.

In die hele dorp het ons net ’n handjievol mense gevind wat al van Jehovah se Getuies gehoor het, en hulle was nie inboorlinge nie. Hulle het van ander plekke af hierheen verhuis. Die groot vraag was dus: Hoe sou hierdie noordelike mense op die Koninkryksboodskap reageer? Dit het nie lank geneem om uit te vind nie. Amper almal wat ons teëgekom het, het Bybellektuur geneem. Om die waarheid te sê, ek het elke dag 45 huise besoek, en elke dag het net drie mense gesê: “Ek stel nie belang nie.”

Toe ons die eerste dag aan deure begin klop het, het ’n jong man verby ons gehardloop tot in die huis waar ons besoek afgelê het en gesê: “Moenie klop nie. Loop net in. Dis wat almal hier doen.” Ons het dus die jong man se advies gevolg, die buitedeur verleë oopgemaak, ingestap tot by die tweede deur, wat gewoonlik oop was, en na die mense binne geroep. Die bewoners, meestal Innuït, was altyd eers agterdogtig. Maar deur vriendelik te glimlag, dadelik te sê wie ons is en hulle die pragtige prente in My boek met Bybelverhale te wys, het ons hulle vrese gou gestil en hulle belangstelling gewek. Dit het veral by hulle byval gevind wanneer ons hulle ’n prent gewys het van ’n kind wat met ’n leeu speel en hulle vertel het van die dag wanneer selfs die ysbere mak en vreedsaam sal wees en kos nie so duur sal wees nie.

Nadat ons al die huise in die dorp besoek het, het ons ses dae met ’n rugsak in Auyuittuq- Nasionale Park gestap, ’n towerland van sneeu, ys, gletsers, rotsagtige pieke en watervalle.

Terwyl ons vliegtuig van Pangnirtung af opgestyg en suid oor die fjord uitgesirkel het, het ons Jehovah God gedank vir die geleentheid wat ons gehad het om hierdie afgesonderde gebied te besoek. Tot vandag toe dwaal ons gedagtes steeds terug na daardie vriendelike Innuït wat so ontvanklik vir Bybelwaarheid was, in die land wat nooit smelt nie.—Bygedra.

[Prente op bladsy 16, 17]

Wolgras. Thor-piek, Baffin-eiland, styg op die agtergrond 1500 meter bo die valleivloer uit

Ver regs: ’n Stewige vastrapplek is nodig om ’n yskoue rivier oor te steek

Ver regs onder: Bote wat teen laagwater by Pangnirtung gestrand is

Regs: ’n Innuïtmeisie hou haar kosbare “Bybelverhale”-boek styf vas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel