Ons beskou die wêreld
Verstaanbare hondetaal?
’n Japannese speelgoedvervaardiger het ’n toestel ontwikkel wat na bewering hondeblawwe in woorde kan vertaal, berig Japan se Inligtingsnetwerk. Die apparaatjie bestaan uit ’n draadlose mikrofoon wat aan die hond se halsband vasgemaak word en dan klankseine na ’n klein ontvanger stuur. Die ontvanger ontleed glo die geluide wat die hond maak en klassifiseer hulle in ses emosionele toestande: frustrasie, woede, blydskap, hartseer, begeerte en aggressie. Die resultate verskyn op die ontvanger se vloeikristalskerm en dit sluit frases in soos: “Ek voel wonderlik!” “Dit maak my so vies!” en “Komaan, speel met my!” Die vervaardiger het gesê dat hulle al 300 000 van die toestelle, wat R740 kos, in Japan verkoop het, en daar word gehoop dat hulle eenmiljoen eenhede sal verkoop wanneer dit in Suid-Korea en die Verenigde State bekend gestel word.
Geen vertroue in kerke nie
“Duitsers stel baie vertroue in die polisie en die weermag, maar nie in kerke nie”, berig die koerant Leipziger Volkszeitung. Volgens ’n “opname oor vertroue” deur die Wêreld- Ekonomiese Forum onder 17 vername publieke instansies het kerke laaste gekom. Die sosioloog Armin Nassehi het gesê dat Duitsers in hierdie tye van toenemende onsekerheid meer vertroue stel in organisasies wat ’n “onderskeid tref tussen goed en kwaad”, soos die polisie en die weermag. Waarom vertrou mense nie die kerke nie? Nassehi sê: “Ondanks ’n herlewing van godsdienstigheid glo mense nie dat die kerk hulle fundamentele probleme kan oplos nie.” Die kerke in Duitsland het “nie veel meer as rituele om aan te bied nie”, sê hy.
Egskeidings onder middeljariges
In Duitsland “skei meer egpare as ooit tevore nadat hulle jare lank getroud was”, berig Berliner Morgenpost. Gina Kästele, ’n huweliksberader van München, Duitsland, sê dat vroue se toenemende onafhanklikheid, veral in geldelike sake, ’n groot rol daarin speel. “Die man het sy vroeëre posisie as die hoofbroodwinner verloor”, sê Kästele. ’n Algemene beskouing is dat middeljariges skei omdat hulle egskeiding uitstel totdat die kinders uit die huis uit trek. Maar meer dikwels skei middeljariges, volgens Kästele, omdat die man ’n buite-egtelike verhouding het.
Die krag van ’n glimlag
“Tot 74 persent van respondente wil nie met droefgeestige mense besigheid doen nie, en 69 persent sal nie met hulle vriende kan maak nie.” So berig die tydskrif Wprost oor ’n studie deur die Sosiologie-instituut by die Jagielloniese Universiteit in Krakau, Pole. Een rede wat hiervoor gemeld is, is dat mense dink dat swaarmoedige persone iets wegsteek. Openbare figure is al lank daarvan bewus, en dit verklaar waarom “politici, sakemense, popsterre, TV-aanbieders, skakelbeamptes, bemarking- en verkoopspersone [so dikwels] glimlag”, sê Wprost. Navorsers het ook gevind dat meer bloed ons brein bereik wanneer ons glimlag, en dit verbeter ons gemoedstemming. Een sakevrou het gesê: “Ek probeer glimlag selfs wanneer ek nie lus voel om te glimlag nie. Wanneer ek glimlag, voel ek ’n verandering in my binneste en dit laat my werklik beter voel.”
Waarskuwing oor kampvure
Meer as 70 persent van die kampvuurbrandwonde wat deur kinders in Australië opgedoen word, word “veroorsaak deur warm kole eerder as vlamme”, berig die Medical Journal of Australia (MJA). En in Australië word die meeste kampvuurbrandwonde opgedoen “in die oggend ná die kampvuur oënskynlik geblus is”. Hoe so? Navorsers het gevind dat die kole ná agt ure tot 16 grade Celsius gedaal het wanneer die vuur met water geblus is. In teenstelling hiermee was die temperatuur van party kampvure wat met sand geblus is, ná agt ure nog 91 grade Celsius—warm genoeg om ’n derdegraadse brandwond te veroorsaak as dit net een sekonde lank in aanraking met die vel was. “Omdat die gevaar net weggesteek word wanneer die vuur met sand geblus word”, sê MJA, “is die enigste veilige manier om ’n kampvuur te blus met water.”
Kankeragtige moesies
Die meeste moesies op die vel is goedaardig. Dit is nietemin goed om op die uitkyk te wees vir kankeragtige moesies. Volgens Mexikostad se koerant Milenio moet jy die moesie deur ’n dokter laat ondersoek as jy die volgende tekens sien: Een helfte van die moesie is nie dieselfde grootte as die ander helfte nie, die rand is ongelyk, daar is ’n verandering in grootte en kleur, dit is meer as 6 millimeter in deursnee [die grootte van ’n potlooduitveër] of die moesie bloei of juk. Dr. Nancy Pulido Díaz, van die La Raza- Nasionale Mediese Sentrum, sê: “Waarvoor ’n mens veral versigtig moet wees, is die moesies waarmee ’n mens gebore is en dié wat op die handpalms en voetsole voorkom.”
Leer ’n ander taal aan
Wil jy ’n ander taal aanleer? Die Poolse tydskrif Poradnik Domowy gee die volgende wenke. “As jy ’n ander taal aanleer, gaan jy beslis foute maak. Aanvaarding van hierdie feit is die eerste stap tot sukses.” Verder moet ’n mens “gewillig wees om risiko’s te neem”. As ons nie weet hoe om iets te sê nie, “moet ons partykeer op ons intuïsie vertrou, of ons moet eenvoudig raai”, wat beter is as om niks te sê nie. “Ons besef selde dat die oorsaak van ons probleme dalk vrees of skaamte is”, sê die tydskrif. “As ons dit kan regkry om hierdie swakhede te oorkom, sal ons ongetwyfeld vinniger vorder.” ’n Goeie onderwyser kan ’n mens ook help om vrees te oorkom en vinniger te vorder.
‘Gewelddade het 1,6 miljoen lewens geëis’
“In 2000 het gewelddade 1,6 miljoen lewens geëis, net soveel soos tering en meer as malaria, volgens ’n nuwe verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat vir die eerste keer probeer om ’n wye spektrum gewelddade te kwantifiseer”, sê The Wall Street Journal. Die skatting is gebaseer op data wat in 70 lande ingesamel is en sluit oorlog, aanrandings, selfmoorde en skietvoorvalle in. “Navorsers het gevind dat gewelddadige sterftes ongeveer 3% van alle sterftes in die wêreld verteenwoordig”, voeg die artikel by. “Die omvang van geweld—teen vroue, kinders, bejaardes, jong mans en gemeenskappe oor die algemeen—was baie groter as wat hulle verwag het. Volgens navorsers is een rede hiervoor dat geweld dikwels nie aangemeld word nie.” Die kategorieë van gewelddadige sterftes is: Selfmoord—50 persent, moord—30 persent en oorlog—20 persent. Oos-Europa het die hoogste selfmoordsyfers gehad, met die Russiese Federasie en Litaue boaan die lys. Die verhouding van vuurwapenverwante sterftes was die hoogste in Albanië—22 per 100 000 mense. Die Verenigde State het 11,3 per 100 000 mense gehad, terwyl die Verenigde Koninkryk en Japan onderskeidelik 0,3 en 0,1 per 100 000 mense gehad het.
“Oudiostampwedren”
Hoeveel harder speel een motorradio as ’n ander? Hierdie vraag het ’n nuwe internasionale kompetisie laat ontstaan wat as dB-stampwedrenne bekend staan, berig National Public Radio in die Verenigde State. By georganiseerde samekomste word die klankvlakke van motorradio’s—wat in desibel, of dB, gemeet word—bepaal met instrumente wat binne die voertuie geplaas word. Klank wat buite die motor gehoor kan word, gaan verlore, en daarom versterk deelnemers die struktuur van hulle motor om te verhoed dat klank ontsnap. “In die voertuie wat die meeste omgebou is, . . . is die vensters 7 [of] 10 sentimeter dik”, sê ’n deelnemer, Wayne Harris, “en die deure is met beton en staalstutte versterk.” Deelnemers sit nie in hulle motors wanneer die klank harder gedraai word nie—en met goeie rede.