Die kleine heer in die swart fluweelbaadjie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
DAAR is taamlik baie molle in die Noorde van Engeland, maar ek het nog nooit soveel molshope gesien soos toe ek oor die veld aan die anderkant van die plaaswerf se hek gekyk het nie. Klein, pas opgegraafde hopies grond was oral op die veld te sien. Weet jy watter soort dier die mol is en hoe hy lewe?
Min mense het al ’n mol gesien, aangesien hy die grootste gedeelte van sy lewe onder die grond deurbring. Dit is ’n klein diertjie wat ongeveer 14 sentimeter lank is. Die mannetjie weeg net minder as 115 gram. Die Britse mol het ’n donkergrys, amper swart, pels en word oor die algemeen, selfs op goedige wyse, die kleine heer in die swart fluweelbaadjie genoem.
Die hare van die mol se pels is nie kartelrig nie; met ander woorde dit groei vertikaal uit die vel. Dit maak dus nie saak hoe die mol in die grond wikkel of draai nie, hy kan dit met gemak doen. Jare gelede het moljagters die pelse verkoop om klere mee te maak, maar “dit neem geweldig baie molpelse om ’n jas te maak”, het een moljagter droogweg gesê.
Die mol se liggaam is hoogs gespesialiseerd vir sy werk om tonnels te grawe. Sy voorpote sit ver voor aan sy liggaam en sy palms is na buite gekeer. Vyf vingers en ’n bykomende halfmaanvormige been vorm twee doeltreffende grawe. Sy klein agterpote, wat alleenlik swak is in vergelyking met sy sterk voorpote, help die mol om vorentoe te beweeg. As jy ’n mol op sagte grond sit, sal hy binne vyf sekondes onder die grond verdwyn! Hy kan na raming teen ’n spoed van tot vyf kilometer per uur in sy donker, klam tonnels, of bogronds, beweeg.
Uitsonderlike sintuie
Die mol is nie heeltemal blind soos party mense dink nie, maar sy ogies, wat tussen sy hare versteek is, gee die diertjie waarskynlik net genoeg sig om lig van donker te onderskei. Terwyl die mol deur die grond grawe, word lang hare oor sy oë getrek om hulle te beskerm. Maar van baie groter belang as die mol se sig is sy sensitiewe reuk- en tassin.
Die Europese mol het duisende klein uitsteeksels op die punt van sy pienk snoet waarvan elkeen sy eie haar het wat sensitief vir aanraking is. Hy het ook lang snorhare op verskillende dele van sy kop en bykomende voelhare op die punt van sy stert. Die mol voel drukgolwe wat opbou terwyl hy in sy tonnel beweeg. Só kan hy vasstel waar daar versperrings is, soos groot klippe of selfs roofdiere, en dit vermy.
Die mol het nie baie goed ontwikkelde uitwendige ore nie, maar sy gehoor is skerp. Hy het die vermoë om vibrasies deur die grond waar te neem en daarop te reageer. Die mol se ore kan deur middel van sluitspiere toegemaak word, wat blykbaar voorkom dat daar sandkorrels in die delikate holtes kom.
Die mol se voedsel en nes
Terwyl ek oor die veld gekyk het, kon ek die ondergrondse spoor, of paadjie, sien wat deur die molle gebruik word. Die paadjie het net onder die oppervlak geloop en was effens gelig. Nuwe grondhope, wat gevorm is toe die molle opgegraafde grond uitgestoot het, was ook sigbaar. Wanneer die grond so omgedol word, word dit as ’t ware omgeploeg, wat help om die grond te dreineer en die vrugbaarheid daarvan te handhaaf.
Die mol se dieet bestaan hoofsaaklik uit erdwurms, en dit is waarom hulle tonnels grawe. Erdwurms beland in die mol se netwerk van gange terwyl hulle in die grond rondbeweeg. Dan kry die mol, wat vinnig deur die donker tonnels beweeg, weldra sy kos. Maar hy eet ook insekte, wat langpootmuskiete en kniptorre insluit. Die mol moet elke twee uur eet, anders sal hy sterf.
Die klein grondhopies van die mol moenie met die mol se nes verwar word nie. Die nes is baie groter en is ongeveer 30 sentimeter hoog en een meter breed. Dit word gewoonlik naby beskutte plekke aangetref—onder ’n boom of langs ’n laning waar nesmateriaal, soos gras, takkies en blare, maklik gevind kan word.
In die vroeë lente word tot sewe molle in ’n werpsel gebore. Babamolle is blind en naak by geboorte en weeg minder as drie gram. Ná vyf weke is hulle oud genoeg om vir hulleself te sorg en dan gaan hulle weg, moontlik so ver as 1,5 kilometer daarvandaan. Ná nege maande sal hulle gereed wees om te paar. Die mol se gemiddelde lewensduur is drie jaar. Baie van hulle word egter lank voor dit deur roofdiere doodgemaak.
’n Mol kan weliswaar probleme veroorsaak wanneer hy onder ’n goed versorgde grasperk of op ’n gholfbaan vir sy kos grawe, maar ons kleine heer in sy swart fluweelbaadjie bly nogtans ’n interessante deel van die lewe op die platteland.