Die lewe bo die wolke
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BOLIVIA
DIE geleentheid om alleen te wees, die pragtige natuurskoon en die kans om te gaan stap, klim en ski, lok baie vakansiegangers na die berge. Daarbenewens is daar miljoene mense wat in valleie en op plato’s woon wat hoër as talle wolkformasies is. As mense so hoog bo seespieël woon, kan dit egter ’n vreemde uitwerking op hulle gesondheid, op hulle motors asook op die voorbereiding van hulle kos hê. Wat gee aanleiding tot hierdie probleme, en wat kan daaromtrent gedoen word? Eerstens, is daar werklik so baie mense wat hoog in die berge woon?
Baie hooglande het gebiede geword waar die ekonomie floreer. Mexikostad se miljoene inwoners woon meer as 2 000 meter bo seespieël. Denver, Colorado, VSA; Nairobi, Kenia, en Johannesburg, Suid-Afrika, is meer as 1 500 meter bo seespieël. Miljoene mense in die Himalajas woon op ’n hoogte van meer as 3 000 meter. In die Andes is verskeie groot stede meer as 3 300 meter bo seespieël, en mense werk in myne wat op ’n hoogte van 6 000 meter is. Aangesien soveel mense in hoogliggende gebiede woon, word daar al hoe meer aandag geskenk aan die studie van hoe die liggaam hom by die lewe daar aanpas. Die kennis wat opgedoen is, kan ons waardering vergroot vir die wonderlike manier waarop ons liggaam ontwerp is.
Wat om te verwag
Die simptome wat Doug ondervind het toe hy hoog in die Andes aangekom het, is nie ongewoon nie. Hy sê: “Toe ek ons tasse by die lughawe optel, het ek skielik duiselig gevoel en amper flou geword. Hoewel ek gou beter gevoel het, het ek gedurende die eerste week of twee hoofpyne gehad en sleg geslaap. Soms het ek skielik wakker geword en gevoel asof ek versmoor. Gedurende die daaropvolgende paar maande het ek my eetlus verloor, vinnig moeg geword en meer slaap nodig gehad.” Katty voeg by: “Ek het altyd gedink dat mense se klagtes oor die probleme wat hulle in hoogliggende gebiede ondervind, net in hulle verbeelding is. Nou weet ek dat dit nie so is nie.”
Dokters noem die slaapprobleem wat Doug ondervind het, periodieke asemhaling. Dit is algemeen onder mense wat kort tevore in hooggeleë gebiede aangekom het. As dit met jou gebeur, sal dit jou dalk baie bang maak. Terwyl jy slaap, sal jy dalk van tyd tot tyd ’n paar sekondes lank ophou asemhaal. Met tye kan dit jou skielik laat wakker skrik terwyl jy na jou asem snak.
Party mense ondervind geen probleme nadat hulle in hooggeleë plekke aankom nie. ’n Aantal mense ondervind ’n onaangename reaksie op 2 000 meter, en vir omtrent die helfte van besoekers is dit ook onaangenaam op 3 000 meter. Interessant genoeg, inboorlinge van hooggeleë gebiede wat terugkeer huis toe nadat hulle net ’n week of twee in laagliggende gebiede was, het dikwels dieselfde reaksies. Waarom?
Waarom hoogte ’n uitwerking op jou liggaam het
Die meeste van die probleme word deur ’n gebrek aan suurstof veroorsaak. Omdat die atmosferiese druk laer is hoe hoër jy gaan, bevat ’n gegewe volume lug op 2 000 meter bo seespieël ongeveer 20 persent minder suurstof as op seespieël, en op 4 000 meter bevat dit 40 persent minder suurstof. ’n Gebrek aan suurstof het ’n uitwerking op die meeste van ons liggaamsfunksies. Jou spiere kan minder werk verrig, jou senuweestelsel kan minder spanning verwerk en jou spysverteringstelsel kan vet nie meer so goed verteer nie. Gewoonlik wanneer jou liggaam meer suurstof nodig het, haal jy outomaties swaarder asem om daarvoor te kompenseer. Waarom gebeur dit dan nie wanneer jy op ’n hooggeleë plek aankom nie?
Presies hoe jou liggaam jou asemhalingstempo beheer, is ’n wonderwerk wat nie ten volle verstaan word nie. Maar wanneer jy jou inspan, word swaar asemhaling nie bloot deur ’n gebrek aan suurstof veroorsaak nie. Dit lyk eerder asof die toename van koolstofdioksied in die bloed wat veroorsaak word deur spierwerking, ’n sleutelfaktor is wat jou meer laat asemhaal. Op hoërliggende plekke haal jy in werklikheid swaarder asem, maar nie genoeg om op te maak vir die aanhoudende tekort aan suurstof nie.
Wat veroorsaak die hoofpyne? ’n Spreker by die Eerste Wêreldkongres oor Geneeskunde en Fisiologie op Groot Hoogtes, wat in La Paz, Bolivia, gehou is, het verduidelik dat baie van die simptome van bergsiekte ontstaan as gevolg van ’n ophoping van vloeistof in die brein. Vir party mense veroorsaak dit drukking in hulle kop. As gevolg van die grootte van hulle skedel ervaar party mense blykbaar nie hierdie probleem nie. Maar in seldsame gevalle kan ’n lewensgevaarlike toestand wel ontwikkel. Verlies van spierbeheer, dowwe sig, hallusinasies en verstandelike verwarring is waarskuwingstekens dat jy onmiddellik mediese hulp moet kry en na ’n laerliggende gebied moet gaan.
Verstandige voorsorgmaatreëls
Hoogtesiekte is gewoonlik op die tweede of derde dag op sy ergste, en daarom is dit beter om ’n paar dae voor en ná jou aankoms net ligte maaltye te eet, veral in die aand. Ná jou aankoms moet jy wegbly van vetterige kos en eerder koolhidrate, soos rys, hawermout en aartappels, eet. Dit sal goed wees as jy die volgende wenk volg: “Eet ontbyt soos ’n koning, maar eet aandete soos ’n bedelaar.” Jy moet ook fisiese inspanning vermy, want dit kan ’n ernstige aanval van bergsiekte veroorsaak. Miskien omdat jongmense geneig is om hierdie raad te ignoreer, ly hulle dikwels die meeste daaronder.
“Sit ’n hoed op en smeer sonbrandmiddel aan”, is ook goeie raad om hier te volg, aangesien daar minder atmosfeer is om jou teen die gevaarlike sonstrale te beskerm. Omdat hierdie strale jou oë kan irriteer of selfs beskadig, moet jy ’n goeie sonbril dra. Die dun berglug droog ook jou trane op wat verdere oogirritasie veroorsaak. Daarom is dit goed om baie vloeistof in te neem.
Dokters het mense wat ernstig oorgewig is of aan hoë bloeddruk, sekelselanemie en hart- of longsiekte ly, aangeraai om vir ’n deeglike mediese ondersoek te gaan voordat hulle besluit om ’n reis bo die wolke te onderneem.a As jy ’n slegte verkoue, brongitis of longontsteking het, sal dit dalk verstandig wees om jou reis uit te stel, aangesien die hoogte tesame met ’n asemhalingsinfeksie of swaar oefening soms ’n gevaarlike ophoping van vloeistof in die longe kan veroorsaak. Asemhalingsiektes kan selfs veroorsaak dat mense wat hulle hele lewe lank in hoogliggende gebiede woon, ’n suurstoftekort en ernstige gesondheidsprobleme ondervind. Aan die ander kant voel asmalyers dikwels beter as hulle op hoërliggende gebiede woon. Trouens, ’n groep Russiese dokters het in ’n verslag aan die Eerste Wêreldkongres oor Geneeskunde en Fisiologie op Groot Hoogtes gesê dat hulle pasiënte met sekere siektes na ’n hoogliggende kliniek vir terapie stuur.
Hoe die liggaam hom aanpas
Daar is geen rede om bang te wees om in hoogliggende gebiede te woon nie. Trouens, party hoogliggende gebiede soos die Kaukasus-gebergte is bekend vir die aantal plaaslike mense wat buitengewoon oud geword het. En party mense het jare lank uiterste hoogtes verduur. ’n Ontwaak!-leser in die Andes sê: “Ek het 13 jaar lank by ’n myn gewoon en gewerk wat op ’n hoogte van 6 000 meter naby die bokant van ’n vulkaan geleë is. Dit was harde werk om blokke swael met ’n smidshamer stukkend te slaan. Tog het ons aan die einde van die dag gewoonlik sokker gespeel!” Die menseliggaam se ongelooflike vermoë om hom by nuwe toestande aan te pas, vul ons met verwondering vir die Skepper se wysheid. Hoe hanteer jou liggaam die gebrek aan suurstof op sulke hoogtes?
Wanneer jy in ’n hoogliggende gebied aankom, is jou liggaam se eerste reaksie om jou hart en longe vinniger te laat werk. Dan verlaag die plasmavlak in jou bloed, wat die konsentrasie van suurstofdraende rooibloedselle laat toeneem. In ’n kort tydjie word ekstra bloed na jou brein gestuur, waar dit die nodigste is. En binne net ’n paar uur vervaardig jou beenmurg alreeds ekstra rooibloedselle, wat dalk ’n groter suurstofdraende vermoë het. Dit alles beteken dat hoewel dit maande kan neem om ten volle aan die hoogte gewoond te raak, jou hartklop en asemhaling binne net ’n paar dae weer normaal kan wees.
Probleme met jou motor en die voorbereiding van kos
Dit is egter nie net jou liggaam wat ’n tekort aan suurstof het nie. Jou motor sal ook maar ’n bietjie traag wees. Selfs al sou jou plaaslike motorwerktuigkundige die brandstofmengsel aanpas en die vonkreëling vervroeg, sal jou motor se enjin nog steeds minder krag hê. Maar wat gebeur in die kombuis?
’n Plat koek, krummelrige brood, boontjies wat nie wil kook nie en ’n gekookte eier wat loperig is, is maar net van die probleme wat ’n kok tot trane kan dryf. Waarom gebeur dit, en wat kan ’n mens daaromtrent doen?
’n Mens maak meer dikwels en makliker flaters in die kombuis wanneer jy bak. Die laer lugdruk veroorsaak dat die gasse wat brode en koeke ligter maak, meer uitsit as op seespieël. Die klein borreltjies in die deeg of beslag word groot, wat dan die produk krummelrig maak, of nog erger, die borreltjies kan bars wat die koek sal laat platval. Maar dit is nie moeilik om die probleem op te los nie. As die koek met geklopte eiers ligter gemaak word, moet jy dit net eenvoudig nie so baie klop nie. Of as die resep ’n rysmiddel insluit, moet jy minder daarvan gebruik. The New High Altitude Cookbook stel voor dat 25 persent minder rysmiddel op 600 meter gebruik moet word en tot 75 persent minder op 2 000 meter.
Wanneer jy suurdeegbrode bak, moet jy seker maak dat die deeg nie meer as dubbel sy oorspronklike grootte rys nie. Aangesien eiers die selstruktuur van koeke versterk, moet jy ekstra groot eiers gebruik wanneer jy jou resepte aanpas. Aan die ander kant verswak te veel suiker die selstruktuur, en daarom moet jy ’n bietjie minder gebruik, aangesien lae lugdruk ook die konsentrasie van suiker in jou beslag laat toeneem deur die water vinniger te laat verdamp. Eintlik vereis die meeste resepte meer vloeistof, want die dun, droë berglug maak die kos droog.
Amper alle kos neem langer om te kook in hoogliggende gebiede. ’n Gekookte eier het byvoorbeeld ’n ekstra minuut nodig op 1 500 meter en drie ekstra minute op 3 000 meter. Jy sal ’n drukkoker van onskatbare waarde vind. Trouens, in hoërliggende gebiede kan jy nie boontjies of ertjies daarsonder kook nie.
Moet dus nie bang wees om na hoërliggende gebiede te reis nie. Jy sal dalk ’n ruk lank na jou asem hyg, jou sponskoek sal dalk meer soos ’n pannekoek lyk en die motor wat jy bestuur, sal dalk soos ’n skilpad met gewrigsontsteking reageer, maar as jy redelik gesond is, sal jy die ondervinding heel moontlik baie verfrissend vind.
[Voetnoot]
a Party dokters skryf asetasolamied voor om asemhaling op baie hoë hoogtes te stimuleer. Ander medisyne vir bergsiekte word geadverteer, maar nie alle dokters beveel dit aan nie.
[Diagram/Prente op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Van die wêreld se hoogliggende stede en hoë berge
—9 000 meter—
Everest, Nepal en China
8 850 meter
—7 500 meter—
—6 000 meter—
Kilimandjaro, Tanzanië
5 895 meter
Aucanquilcha, Chili
5 346 meter
Mont Blanc, Frankryk
4 807 meter
—4 500 meter—
Potosí, Bolivia
4 180 meter
Puno, Peru
3 826 meter
Foedji, Japan
3 776 meter
La Paz, Bolivia
3 625 meter
—3 000 meter—
Trongsa Dzong, Boetan
2 398 meter
Mexikostad, Mexiko
2 239 meter
Die berg Washington,
New Hampshire, Verenigde State
1 917 meter
Nairobi, Kenia
1 675 meter
Denver, Colorado, Verenigde State
1 609 meter
—1 500 meter—
—Seespieël—
[Prent op bladsy 10]
La Paz, Bolivia 3 625 meter
[Prent op bladsy 10]
Johannesburg, Suid-Afrika 1 750 meter