Gevaar op groot hoogtes—Die behandeling van hoogtesiekte
“In Peru is daar ’n baie hoë bergreeks met die naam Pariacaca . . . Toe ek opgaan teen die hoogste deel van daardie bergreeks, wat die Trappe genoem word, het ek ewe skielik so ’n dodelike angs beleef dat ek gedink het ek moet van my perd afspring en op die grond gaan lê. . . . Dit is spoedig gevolg deur hewige, krampagtige braking wat my laat dink het ek gaan [sterf]. Ek moet sê dat ek sekerlik sou gesterf het as dit aangehou het, maar dit het slegs drie of vier uur geduur, totdat ons ’n hele ent teen die berg afbeweeg het en ’n draagliker hoogte bereik het.”—José de Acosta, uit die boek Natural and Moral History of the Indies.
TEEN die einde van die 16de eeu het die Spaanse Jesuïet José de Acosta die onaangename ervaring hierbo gehad terwyl hy die Pariacaca in die Peruaanse Andes geklim het. Destyds is sulke simptome gewoonlik aan giftige vrystellings deur die minerale in die berge of aan die uitwasemings van moedswillige gode toegeskryf. Volgens wat ons nou weet, het Acosta die kenmerkende simptome van soroche—hoogtesiekte—vertoon.
Hoogtesiekte is die liggaam se reaksie op die lae suurstofkonsentrasie op groot hoogtes. Daar neem die barometriese druk af en absorbeer die longe minder suurstof.a
Simptome van hoogtesiekte verskyn dikwels sowat vier uur nadat ’n persoon ’n groot hoogte bereik het en kan een tot vier dae lank duur. Gedurende hierdie tydperk sal die beperkte suurstof in die bloed die vervaardiging van meer rooibloedselle stimuleer, wat ná ’n ruk die bloedsomloopstelsel sal help om meer suurstof te voorsien.
As iemand egter te vinnig tot op ’n groot hoogte beweeg of hom ooreis voordat hy akklimatiseer, kan vloeistowwe in die longe of om die brein versamel. As niks omtrent hierdie toestand gedoen word nie, kan dit noodlottig wees.
Hoe om hoogtesiekte te voorkom
Reisigers en klimmers het al baie dinge probeer om hoogtesiekte te voorkom of te behandel. Party stappe sluit die volgende in:
● Moenie tot op groot hoogtes reis as jy aan ’n asemhalingskwaal of bloedarmoede ly nie.
● Medisyne soos diuretikums, anti-inflammatoriese middels of ander middels word dikwels aanbeveel om simptome van hoogtesiekte te behandel of te voorkom. Raadpleeg jou dokter.
● Die beste behandeling vir hoogtesiekte is om na ’n laer hoogte terug te keer. Indien moontlik moet jy warm bly op pad ondertoe en rus wanneer jy daar kom.
Party van die asemrowendste landskappe word in die hooglande en bergreekse van die wêreld gevind (Psalm 148:9, 13). As jy versigtig is wanneer jy reis, sal jy gesond kan bly terwyl jy die prag van die skepping geniet.
[Voetnoot]
a Die meeste mense kan tot op ’n hoogte van 1 800 meter bo seevlak reis sonder om enige probleme te ondervind.
[Lokteks op bladsy 20]
Simptome van hoogtesiekte verskyn dikwels sowat vier uur nadat ’n persoon ’n groot hoogte bereik het en kan een tot vier dae lank duur
[Lokteks op bladsy 20]
Die beste behandeling vir hoogtesiekte is om na ’n laer hoogte terug te keer