Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g04 4/8 bl. 16-19
  • My besoek aan ’n “uitgestorwe” voël

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My besoek aan ’n “uitgestorwe” voël
  • Ontwaak!—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n “Lewende museum”
  • Die “uitgestorwe” stormvoël maak weer sy verskyning
  • Hulp van die mens
  • In die reservaat
  • Die wonder van die volstruiseier
    Ontwaak!—2002
  • Waarom hy sy prioriteite verander het
    Ontwaak!—1996
  • Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Kerseiland—Waarom ons dit besoek het
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2004
g04 4/8 bl. 16-19

My besoek aan ’n “uitgestorwe” voël

EK IS nog altyd gefassineer deur die verskeidenheid en prag van voëls. Terwyl ek my voorberei het vir ’n besoek aan Bermuda, het ek afgekom op ’n verwysing na ’n seldsame voël wat die Bermudastormvoël genoem word. “Die enigste klein bevolking van hierdie spesie”, het een voëlboek gesê, word “net op die Castle Harbour-eilandgroep, die mees afgesonderde deel van Bermuda, gevind. Hier is hulle onder die streng toesig en beskerming van ’n bewaarder.”

My belangstelling was dadelik geprikkel! Ek was vasbeslote om self hierdie eksotiese voël te sien en het dus in aanraking gekom met dr. David Wingate, Bermuda se voormalige bewaringsbeampte. Hy het sedertdien afgetree, maar op daardie stadium was hy ook die bewaarder van die Castle Harbour-eilandgroep. Dr. Wingate was vriendelik genoeg om my toe te laat om die beskermde broeiplek van die Bermudastormvoël saam met hom te besoek.

’n “Lewende museum”

Die Castle Harbour-natuurreservaat is naby die hoofeilande van Bermuda, wat in die Atlantiese Oseaan geleë is, sowat 900 kilometer oos van Noord-Carolina, VSA. Nonsuch-eiland is die grootste van die nege klein eilande waaruit die reservaat bestaan. Nonsuch beslaan omtrent ses hektaar en is aan die oostelike punt van Bermuda geleë. Onder dr. Wingate se toesig is die eiland in ’n “lewende museum” omskep vir die uiteindelike hervestiging van Bermuda se oorblywende inheemse plant- en diersoorte.

Dit is ’n pragtige, helder dag. Ons ry in dr. Wingate se klein motorboot van Nonsuch na ’n nabygeleë eilandjie. ’n Visvalk vlieg laag oor die kalm see, en sy wit ondervlerkvere weerkaats die helder turkooisblou van die water. Pragtige tropiese voëls, wat in Bermuda witpylsterte genoem word, vlieg opgewonde rond as deel van hulle hofmaakgedrag terwyl hulle ekstra lang stertvere op en af beweeg. Hoewel ek gewoonlik baie opgewonde oor hierdie vertoning sou wees, kan ek vandag net aan die Bermudastormvoël dink.

Die “uitgestorwe” stormvoël maak weer sy verskyning

Dr. Wingate verduidelik: “Daar was berigte deur vroeë nedersetters oor seevoëls wat net snags teruggekom het land toe en dan ook net wanneer hulle gebroei het—wat albei kenmerkende gedragspatrone van die Bermudastormvoël is. Destyds was daar tienduisende van hierdie stormvoëls, maar dit het verander. Om en by die jaar 1560 het die Spanjaarde varke na Bermuda gebring. Dit was rampspoedig vir die stormvoëlbevolking omdat die varke hulle eiers en, waarskynlik, hulle kuikens en selfs volgroeide voëls geëet het. Die stormvoëls was ook ’n belangrike deel van die nedersetters se dieet. Toe rotte in 1614 per ongeluk na Bermuda gebring is, het nog baie meer van hierdie voëls gesterf. Die rotte het na die eilandjies geswem waar die stormvoëls se neste was en hulle eiers en kuikens geëet. Teen 1630 het die Bermudastormvoëlbevolking van derduisende dus in so ’n mate afgeneem dat mense gedink het dat dit heeltemal uitgesterf het.”

Oor die gedreun van die boot se motor vra ek: “Hoe is hierdie voëls weer ontdek?”

Dr. Wingate antwoord: “In 1906 het Louis Mowbray, ’n natuurkenner, ’n lewendige maar eienaardige seevoël op ’n eiland in Castle Harbour gevind. Dit is uiteindelik as ’n Bermudastormvoël geïdentifiseer. Later, in 1935, is ’n jong stormvoël gevind wat hom teen ’n ligtoring doodgevlieg het. En in 1945 het ’n volwasse voël op ’n strand by Cooper-eiland, Bermuda, uitgespoel. Dit was genoeg getuienis om ’n ekspedisie te regverdig om na hierdie ‘uitgestorwe’ voël te gaan soek. Die ekspedisie is aangevoer deur dr. Robert Cushman Murphy van die Amerikaanse Museum van Natuurgeskiedenis en deur Louis S. Mowbray, kurator van die Bermuda-staatsakwarium—seun van die Louis Mowbray wat die Bermudastormvoël in 1906 gevind het.”

Dr. Wingate glimlag terwyl hy vertel: “Ek het baie bevoorreg gevoel toe ek gevra is om deel van daardie ekspedisie te wees, veral aangesien ek maar net ’n 15-jarige skoolseun met ’n groot belangstelling in voëls was! Daardie Sondag, 28 Januarie 1951, was ’n dag wat die res van my lewe beïnvloed het. Ek sal nooit die vreugde op dr. Murphy se gesig vergeet toe hy en Mowbray daarin geslaag het om ’n lewendige stormvoël te vang wat ons in ’n diep skeur gevind het nie! Die regering het die eilandjies in Castle Harbour onmiddellik tot ’n reservaat vir die beskerming van die Bermudastormvoël verklaar. Nonsuch-eiland het in 1961 deel van die reservaat geword, en die volgende jaar het ek en my vrou daar gaan woon sodat ek toesig daaroor kon hou.”

“Hoeveel van die stormvoëls het julle gedurende daardie eerste ekspedisie gevind?” vra ek terwyl ons die natuurreservaat nader.

“Net agt broeipare is in die eerste jaar gevind”, antwoord hy. “Dit was so moeilik om die neste te vind dat dit tien jaar geneem het om die hele bevolking te vind, wat destyds uit 18 broeipare bestaan het. Ná nog 35 jaar van bewaring het hulle getalle toegeneem tot altesaam 52 pare.”

Hulp van die mens

“Die Bermudastormvoël bou sy nes in tonnels wat [twee tot drie en ’n half meter] lank is en ’n draai na binne het sodat lig nie die nes bereik nie”, sê dr. Wingate verder. “Om meer plekke vir neste te voorsien, het ons kunsmatige tonnels begin maak. Ons het dit gemaak deur slote uit te grawe en dan ’n sementdak daaroor te sit. Bo die nes aan die punt van die tonnel is daar ’n deksel wat opgelig kan word. Dit stel ons in staat om ’n oog oor die neste te hou om te sien of ’n eier gelê is of uitgebroei het en of ons ’n windeier het. Wanneer ’n windeier verwerp word, kan ons dit verwyder en ondersoek om te probeer vasstel wat verkeerd geloop het. In die middel-1960’s het oorblyfsels van die insekdoder DDT veroorsaak dat eierdoppe verdun en gevolglik gebreek het. Nou is ons besorg dat chemikalieë soos PCB [polichloorbifeniel] dieselfde uitwerking kan hê. Hoewel Noord-Amerika en Europa PCB’s verbied het, het baie ontwikkelende lande dit nie gedoen nie.”

Daar is ook ander uitdagings. Dr. Wingate sê: “Die stormvoëls en die aggressiewer tropiese voëls baklei voortdurend oor die broeiplekke. ’n Stormvoël sal dalk ’n nes net agter ’n holte maak en dan sal ’n tropiese voël reg by die ingang nesmaak! Die onbeskofte indringer sal die stormvoël se eier breek of die kuiken aanval en doodmaak. Albei spesies keer altyd na dieselfde nes terug, en dus is daar elke jaar dieselfde probleem. Om die stormvoël te red, het ons begin om eenvoudige houtskerms voor die ingange van hulle tonnels te plaas. Die skerms het ’n ovaalvormige gat wat net groot genoeg is om die stormvoël in te laat, maar die effens groter tropiese voël uithou. In hierdie geval beteken [drie millimeter] die verskil tussen lewe en dood.”

In die reservaat

Uiteindelik kom ons by die eilandjie aan. Tussen golwe klim ons versigtig uit die boot uit en op die ruwe rotse. Ons moet oor steil, skerp rotsformasies klim om by die neste uit te kom. Een nes kan net met behulp van ’n leer bereik word. Dit is dalk iets alledaags vir dr. Wingate, maar vir my is dit ’n unieke en opwindende ondervinding!

Dr. Wingate bestudeer elke nes en let op alle tekens. Besoek die broeipare nog hulle neste? Is daar spore wat in en uit die tonnels lei? Is daar enige windeiers? Ons kry een windeier, maar aangesien die ouers dit nog nie verwerp het nie, los dr. Wingate die eier daar. Die stormvoëls sal dikwels op ’n windeier bly sit en weier om op te gee. Dr. Wingate maak ook ’n onverwagte ontdekking—’n kuiken waar hy nie eers geweet het ’n eier gelê is nie! Hierdie vonds oortref die teleurstelling van die onuitgebroeide eier.

Dat alles die moeite werd is, word duidelik wanneer dr. Wingate ’n deksel bo ’n nes oplig en ek afkyk op ’n klein, grys bondeltjie vere—’n stormvoëlkuiken. Die kuiken, wat deur die lig gesteur word, beweeg elke nou en dan ’n bietjie. Ek kyk in ander neste af en sien volwasse voëls wat op ’n eier sit.

Dr. Wingate het al baie kuikens gered wat in die moeilikheid was. ’n Tropiese voël het een kuiken aangeval en die kuiken se snawel gebreek. Wingate het uit pure desperaatheid die snawel teruggeplak. Hoe verbaas en bly was hy tog toe die kuiken bly lewe het! By ’n ander geleentheid het hy ’n swak kuiken gered wat te vroeg deur sy ouers verlaat is. Hy het dit in ’n doos gehou en grootgemaak op ’n dieet van garnale, pylinkvis, lewertraan en vitamiene. Uiteindelik kon dit wegvlieg see toe. Tot dusver werp die pogings om die Bermudastormvoël te hervestig, stadig maar seker vrugte af. Trouens, die Bermudastormvoël is al ’n simbool van hoop vir bewaringsgesindes regoor die wêreld genoem. Dr. Wingate se doelwit is dat daar uiteindelik 1 000 pare Bermudastormvoëls op Nonsuch moet wees. Maar ons sal moet wag en sien of sy droom bewaarheid word.

My besoek aan die “uitgestorwe” Bermudastormvoël laat my dink. As die Skepper opmerk wanneer ’n gewone mossie op die grond val, sal hy sekerlik ook opmerk wanneer ’n hele spesie bedreig word, nie waar nie? (Matteus 10:29). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat die tyd sal kom wanneer die mensegemeenskap nie meer die bestaan van enige spesie op die aarde sal bedreig nie!—Jesaja 11:6-9.—Bygedra.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BERMUDA

Nonsuch-eiland

[Prent op bladsy 18]

’n Bermudastormvoël op sy nes

[Erkenning]

Jeremy Madeiros, Conservation Officer, Bermuda

[Prent op bladsy 18]

Die ingang van ’n Bermudastormvoëlnes

[Prent op bladsy 18]

Dr. Wingate wys na die skerm by die ingang van ’n stormvoëlnes

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Jeremy Madeiros, Conservation Officer, Bermuda

Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

© Brian Patteson

Jeremy Madeiros, Conservation Officer, Bermuda

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel