Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/8 bl. 14-19
  • Museums—Waarom is dit die moeite werd om hulle te besoek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Museums—Waarom is dit die moeite werd om hulle te besoek?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Museum van museums
  • Stel jy in geld belang?
  • ’n Museum gewy aan massamoord en oorlewing
  • ’n Waarlik Amerikaanse museum
  • Kuns deur die eeue heen
  • ’n Slagtingsgedenkmuseum en Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1993
  • Sigbare bewyse van die Slagting
    Ontwaak!—1993
  • Die nuwe voorkoms van die Britse Museum
    Ontwaak!—2001
  • Standvastig gedurende die Nazi-besetting van Nederland
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/8 bl. 14-19

Museums—Waarom is dit die moeite werd om hulle te besoek?

DIE hoofstad van die Verenigde State, Washington, DC, is ’n magneet vir toeriste.a Wat lok mense hierheen? Een van die groot trekpleisters is die Wit Huis, die president se amptelike woning in Pennsylvania-laan 1600. Hierdie landmerk trek elke jaar meer as een en ’n half miljoen besoekers. Hulle word toegelaat om deur sekere vertrekke te stap wat in verskillende historiese style versier is. Daar is waardevolle antieke meubels asook antieke porselein en silwerware in die vertrekke te sien.

Nog ’n indrukwekkende gebou is die Kapitool, die setel van die sentrale regering van hierdie land met ’n bevolking van bykans 300 miljoen mense. Terwyl jy deur die sale en gange loop, sal jy standbeelde van beroemde leiers van die verlede sien. As jy oplettend is, sal jy dalk ook ’n bekende senator of kongreslid sien. Maar nie alle toeriste word deur hierdie geboue gelok nie. Baie word aangetrek deur die sentrums van kultuur wat in hierdie stad gevind word—die museums en kunsgalerye.

Daar is soveel museums en kunsgalerye in Washington, DC, dat dit onmoontlik sou wees om almal van hulle te bespreek, en ’n mens sou baie lank in Washington moes bly om hulle almal te besoek. Kom ons kyk hoeveel ons gedurende ’n besoek van net ’n paar dae kan inpas.

’n Museum van museums

Die museum wat die meeste belangstelling wek, is ongetwyfeld die Smithsonian-instituut. Waarom? Want dit is nie net een museum nie—dit is ’n hele versameling museums en sentrums van kennis. Die Smithsonian-kasteel is maklik om uit te ken in die National Mall-distrik—die een en ’n half kilometer lange groen strook met die Kapitool aan die een punt en die Washington-monument aan die ander punt. Die kasteel is die kleurvolle rooi sandsteengebou wat aan die linkerkant van die beroemde Mall-distrik gesien kan word wanneer ’n mens in die rigting van die Washington-monument kyk.

Wat is die gewildste van die Smithsonian se fasiliteite? In ons wetenskaplike era is dit die Nasionale Lugvaart- en Ruimtemuseum—wat volgens een reisgids “deur meer mense besoek word as enige ander museum ter wêreld”. Waarom is dit so gewild? Dit het 23 groot galerye, en sy uitstallings, waarvan baie van die plafon hang, beeld die opwindende geskiedenis van die lugvaart uit. In die enorme “Mylpale van Lugvaart”-galery word selfs die Flyer uitgestal, die einste vliegtuig wat Orville Wright gebruik het vir sy geskiedkundige vlug in 1903 by Kitty Hawk, Noord-Carolina. Daar naby is Charles Lindbergh se Spirit of St. Louis, die vliegtuig wat hy spesiaal laat bou het om in 1927 die prys te wen vir die eerste solovlug oor die Atlantiese Oseaan. En daar is natuurlik moderne uitstallings van geskiedkundige ruimtetuie sowel as klippe wat van die maan af teruggebring is.

Stel jy in geld belang?

Net suid van die Mall-distrik en binne loopafstand van die Washington-monument is ’n gebou wat duisende nuuskierige besoekers lok, en hulle het waarskynlik van die produkte wat van hierdie plek af kom in hulle sak—banknote! Dit is die Buro van Graveer- en Drukwerk. Tydens die 40 minute lange toer word die graveer- en drukproses verduidelik wat nodig is om die dollarnote te vervaardig wat mense van dag tot dag gebruik. Geld ter waarde van meer as R920 miljard word elke jaar hier gedruk! Is die spesiale papier wat gebruik word ’n staatsgeheim? Hoe lank bly ’n dollarnoot in sirkulasie? Watter stappe word geneem om vervalsers se pogings te fnuik? Hierdie en baie ander vrae word op dié toer beantwoord.

Langs die Buro is ’n unieke gebou wat in 1993 geopen is en besoekers van oor die hele wêreld lok. Dit is die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum, wat ’n mens werklik stof tot nadenke gee.

’n Museum gewy aan massamoord en oorlewing

“Die Slagting was die staatsondersteunde, stelselmatige vervolging en uitwissing van Europese Jode deur Nazi-Duitsland en sy medewerkers tussen 1933 en 1945.” Jode was die hoofslagoffers, maar die staatsbeleid het ook probeer om Roma en Sinti (twee Sigeuner-stamme), gestremdes, Pole, Russiese krygsgevangenes, homoseksuele, Jehovah se Getuies en politieke andersdenkendes uit te wis.

Die eerste indruk wat jy kry wanneer jy by die gebou instap, is nie dié van ’n hartlike verwelkoming nie. Nazi-konsentrasiekampe was bedoel om te intimideer. Die museum wek daardie selfde gevoel. Wat jy om jou sien, is ’n toringhoë, koue, onpersoonlike, industriële staal-enbaksteen-gebou. Van die Saal van Getuienis op die grondverdieping af kan jy boontoe kyk en die staal-en-glas-dak van die derde verdieping sien. Die uitsig deur die dakvenster, soos dit in ’n amptelike brosjure beskryf word, “is verwronge, misvormd en teen ’n vreemde hoek”. Die argitek se doel was om ’n atmosfeer te skep waarin die besoeker voel dat “iets fout is”.

Die museum het vyf verdiepings, maar die hooftoerarea vir die publiek is van die vierde verdieping ondertoe na die tweede verdieping, en daar word aanbeveel dat ’n mens die toer op die vierde verdieping begin. Dit is ’n onbegeleide toer en kan twee tot drie uur duur. Weens die eksplisiete beelde van die vervolging en moord van die slagoffers, word daar aanbeveel dat kinders jonger as 11 nie die Permanente Uitstalling besoek nie. Op die grondverdieping is daar ’n afsonderlike uitstalling vir jong kinders, wat Daniël se Verhaal genoem word. Dit gee die geskiedenis van die Slagting weer uit die perspektief van ’n kind in Nazi-Duitsland.

Die hysbakke wat ’n mens na die vierde verdieping neem, is soos koue, sombere staalhouers. Die verhaal begin op hierdie verdieping en dek die “Nazi-aanslag”—1933-39. Hier kan jy sien hoe die Nazi’s deur propaganda beheer oor die Duitse bevolking gekry het en vrees en angs ingeboesem het, veral in die harte van die miljoene Duitse Jode. Wat vind ’n mens op die derde verdieping?

Hierdie verdieping het die onheilspellende tema “Finale oplossing”—1940-45. Dit “beskryf die ghetto’s, deportasies, slawearbeid, konsentrasiekampe en die uitvoering van die ‘Finale oplossing’ [uitwissing van die Jode en ander] deur middel van instrumente van vernietiging soos mobiele uitwissingseenhede en die doodskampe”, volgens die besoekersgids.

Die tweede verdieping het ’n positiewer tema, “Laaste hoofstuk”. Dit beskryf “redding, weerstand, bevryding asook oorlewendes se pogings om hulle lewe weer op te bou”. Aan een kant van die verdieping is die Wexner-leersentrum, wat iets insluit waarin baie Getuies van Jehovah grootliks belangstel. By rekenaarterminale kan die besoeker toegang kry tot verhale van party van die Getuies wat gely en, in sommige gevalle, hulle lewe verloor het.

Jy kan byvoorbeeld die verhaal lees van die moedige Helene Gotthold, van Dortmund, Duitsland. Sy was die moeder van twee kinders en het aangehou om Christelike vergaderinge by te woon ten spyte van ’n Nazi-verbod. Sy is in Desember 1944 deur die guillotine tereggestel. Daar kan baie meer verhale van slagoffers en martelaars van die konsentrasiekamp-era gesien word.

Op hierdie verdieping is daar ook die merkwaardige Toring van Lewe (ook bekend as die Toring van Gesigte), wat drie verdiepings hoog is. Dit is ’n versameling van honderde foto’s van die Joodse inwoners van Eishyshok, nou bekend as Eisiskes, ’n klein dorp in wat vandag Litaue is. Die foto’s is tussen 1890 en 1941 geneem. Dit was ’n Joodse gemeenskap wat 900 jaar lank gefloreer het. Toe, in 1941, het ’n mobiele SS-uitwissingseenheid (Einsatzkommando) die hele Joodse bevolking binne net twee dae uitgemoor! Volgens amptelike Nazi-verslae is 3 446 Jode uitgewis—989 mans, 1 636 vroue en 821 kinders. Die Nazi-burokrasie was baie deeglik.

Die Saal van Herinnering is ook op die tweede verdieping, en Bybeltekste, soos Deuteronomium 30:19 en Genesis 4:9, 10, is op die marmermure gegraveer. Verskeie bewyse van die vervolging van Jehovah se Getuies is ook ingesluit, soos die pers driehoek wat hulle vir identifikasie moes dra. Kyk of jy dit kan sien wanneer jy jou toer doen. Daar is nog baie dinge in die museum wat die moeite werd is om te ondersoek, insluitende die groot navorsingsfasiliteit op die vyfde verdieping.

Wanneer jy die museum verlaat en weer buite is, sal jy verlig voel. Maar kom ons gaan nou na die nuutste van Washington se museums, een wat ’n ander soort geskiedenis dek wat ook pogings tot volksmoord insluit.

’n Waarlik Amerikaanse museum

Dit is die jongste van die Smithsonian-museums en herdenk die vroeë inwoners van die Amerikas—die meer as 500 Indianestamme wat in hierdie land gewoon het voordat Europeërs of Afrikane hier voet aan wal gesit het. Dit is die Nasionale Museum van die Amerikaanse Indiane (NMAI), wat langs die Lugvaart- en Ruimtemuseum in die Mall-distrik geleë is. Dit is op 21 September 2004 ingewy. Die museum kan maklik uitgeken word aan sy unieke kromlynige ontwerp. Die gebou, wat 23 000 vierkante meter beslaan, is met Kasota-kalksteen uit Minnesota bedek. Dit laat dit lyk soos “’n klipmassa wat uit verskillende lae bestaan en deur die wind en water uitgekerf is”.

Wat kan jy verwag om daarin te vind? Die vyf vernaamste openingsuitstallings “bestaan uit ongeveer 7 000 voorwerpe van die wêreldberoemde NMAI-versameling van sowat 800 000 etnografiese en argeologiese voorwerpe” (Insight, die Smithsonian-nuusbrief). Daar is mandjies, erde- en kralewerk wat stamme verteenwoordig wat so ver uitmekaar is soos die Mapuche in Chili, die Quechua in Peru, die Lakota in die Verenigde State en die Anishinabe in Kanada.

In die woorde van W. Richard West jr., wat aan die Suidelike Cheyenne-stam behoort en die stigter van die museum is, is die doel daarvan om “wanopvattings reg te stel, en alle mense, Indiaan sowel as nie-Indiaan, ’n beter begrip te gee van die lewe en kultuur van die Indiane van hierdie halfrond”. Dit neem ongeveer twee uur om hierdie Indianeversameling te besigtig. Waar gaan ons hiervandaan op ons vinnige toer deur Washington se talle uitstallings?

Kuns deur die eeue heen

Kom ons stap na die oorkant van die Mall-distrik na die pragtige Nasionale Kunsgalery. Die galery is in 1941 geopen. Die toer sal jou deur agt eeue van kuns neem. As jy ’n kunsliefhebber is, sal dit goed wees om ’n nuwe dag hier te begin, want dit gaan jou ’n hele paar uur neem om hierdie wonderlike versameling te besoek en te waardeer, afhangende van jou geliefkoosde kunsperiode. Gelukkig is daar baie sitplek as jy enige van die kunswerke wil bestudeer of net wil rus.

Omdat die Katolieke Kerk tussen die 13de en 15de eeu die belangrikste bevorderaar van die kunste was, het die meeste van die skilderye godsdienstemas. Jy sal Giotto se “Madonna en kind”, Raphael se “Die Alba-madonna” (1508) en werke deur Leonardo da Vinci sien. Uit die 16de eeu is daar werke deur Tintoretto, Titiaan en ander kunstenaars. Bybelstudente sal belangstel in Tintoretto se “Christus by die See van Galilea” (omstreeks 1575/1580), wat Christus se dissipels in ’n vissersboot tydens ’n storm uitbeeld. ’n Ander skildery met ’n Bybelse tema is El Greco se “Christus wat die tempel reinig”. Vergelyk die uiteenlopende style van hierdie kunstenaars—kyk na die helder kleure en die dramatiese aksie in El Greco se werk.

Die 17de-eeuse versameling sluit werke in deur Rubens en Rembrandt. Bybelstudente sal weer eens gefassineer wees deur Rubens se uitbeelding van “Daniël in die leeukuil”, wat omstreeks 1615 geskilder is. Let op Daniël se kalm uitdrukking terwyl hy God dank omdat Hy sy lewe bewaar het. Kom ons spring nou vorentoe in die tydstroom na die 19de eeu en die Franse Impressioniste.

Dit is een van die beste versamelings van impressionistiese kunswerke buite Parys. As ’n mens jare lank met die afdrukke van skilderye tevrede moes wees, is dit opwindend om voor die oorspronklike werke te staan. Bekende skilderye deur Cézanne, Manet, Renoir, Degas en Monet sal jou asem wegslaan terwyl jy hulle style en hulle interpretasie van lig ondersoek. Amerikaanse kunstenaars soos Mary Cassatt (“Children Playing on a Beach”), James Abbott McNeill Whistler (“The White Girl”) en Winslow Homer (“Breezing Up”) se skilderye word ook uitgestal.

Daar is nog ’n uitstalling wat jy dalk sal wil besoek, die Oostelike Gebou, wat ’n versameling moderne en kontemporêre kunswerke bevat. In die binneplein is daar ’n paar groot beeldhouwerke deur onder meer Alexander Calder en Henry Moore. Jy sal ook ’n tapisserie vind deur die Kataloniese kunstenaar Joan Miró.

Soos jy kan sien, sal die Nasionale Kunsgalery jou ure lank besig hou, of ten minste so lank as wat jy energie het. Daar is natuurlik ander galerye wat ’n mens kan besoek, soos die Corcoran-kunsgalery, wat ’n eersterangse versameling kunswerke bevat deur Europese en Amerikaanse meesters, insluitende skilderye deur Impressioniste soos Monet en Renoir. Dit het ook die grootste versameling skilderye deur Jean-Baptiste Camille Corot buite Frankryk. Hoeveel tyd en energie het jy? Dit sal bepaal hoeveel ander galerye jy kan besoek.

Maar jy sal Washington verlaat met ’n groter waardering vir kultuur. En miskien sal jy die Franse outeur Destouches se woorde beter verstaan: “Kritiek is maklik, kuns is moeilik.” Jou besoek sal jou dalk aanspoor om die museums en kunsgalerye te besoek in die omgewing waar jy woon. Doen dit gerus en sien tot watter mate godsdiens en die Bybel ’n invloed daarop gehad het.

[Voetnoot]

a Waarom “DC” (Distrik Columbia)? Omdat die hoofstad nie aan enige staat behoort nie, maar ’n federale gebied van 177 vierkante kilometer beslaan. Die “DC” onderskei dit ook van die staat Washington, aan die weskus, sowat 3 000 kilometer daarvandaan.

[Prent op bladsy 14]

Die Smithsonian-kasteel

[Erkenning]

Smithsonian photo by Eric Long

[Prente op bladsy 14, 15]

Die Nasionale Lugvaart- en Ruimtemuseum huisves die oorspronklike “Flyer” van 1903 (regs) en Lindbergh se “Spirit of St. Louis” (onder)

[Prente op bladsy 15]

Die Buro van Graveer- en Drukwerk lok baie besoekers

[Prent op bladsy 16]

Die Toring van Lewe is drie verdiepings hoog

[Prent op bladsy 16]

’n Uniform wat een van Jehovah se Getuies in ’n konsentrasiekamp gedra het

[Prent op bladsy 17]

Die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum

[Prent op bladsy 17]

Helene Gotthold

[Erkenning]

USHMM, courtesy of Martin Tillmans

[Prent op bladsy 18]

Die Nasionale Museum van die Amerikaanse Indiaan het ’n unieke kromlynige ontwerp

[Erkenning]

Photo by Robert C. Lautman

[Prent op bladsy 18]

’n Blompot van geblaasde glas deur ’n moderne Indianekunstenaar

[Erkenning]

Photo by Ernest Amoroso, © Smithsonian Institution/National Museum of the American Indian

[Prent op bladsy 18]

Winslow Homer se “Breezing Up” in die Nasionale Kunsgalery

[Erkenning]

Winslow Homer, Breezing Up (A Fair Wind), Gift of the W. L. and May T. Mellon Foundation, Image © Board of Trustees, National Gallery of Art, Washington

[Foto-erkennings op bladsy 15]

Bo: Agtergrond: Smithsonian photo by Dane Penland; vliegtuig: © Mark Polott/Index Stock Imagery; toer: Photo by Carolyn Russo/NASM; onderste drie foto’s: Courtesy of the Department of the Treasury, Bureau of Engraving and Printing

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel