Ons beskou die wêreld
Seekoei-sonbrandmiddel
“Seekoeie beskerm hulle haarlose vel teen die son deur ’n sonbrandmiddel uit te sweet wat soortgelyk is aan kommersiële produkte wat mense gebruik”, berig The Independent van Londen. Toe die vloeistof getoets is wat deur ’n seekoei in die Tokio-dieretuin afgeskei is, het wetenskaplikes in Kioto, Japan, uitgevind hoe dit die seekoei se vel teen die aanslae van die tropiese son en stof beskerm. Die klewerige, kleurlose afskeiding word geleidelik rooi, dan bruin en plastiekerig. Terwyl dit bruin word, verander dit van ’n alkaliese na ’n uiters suur stof, en dit tree dus as ’n sterk antiseptiese middel op. Die bruin bedekking is ook ’n sonbrandmiddel omdat dit ultravioletlig absorbeer, net soos kommersiële sonbrandmiddels. Maar die koerant het ten slotte gesê dat maatskappye wat skoonheidsmiddels vervaardig, waarskynlik nie in die nabye toekoms seekoei-sonbrandmiddel gaan bemark nie, eerstens omdat daar te min seekoeie in die wêreld is en tweedens omdat die afskeiding ’n onaangename reuk het.
Gewigoptel verlig bejaardes se depressie
Volgens een studie “kan gewigoptel bejaardes 50 persent minder depressief laat voel”, berig die koerant The Australian. Dr. Nalin Singh, ’n spesialis in ouderdomsiektes by Sydney se Royal Prince Alfred-hospitaal, sê dat gewigoptel dus net so doeltreffend kan wees om depressie onder senior burgers te bekamp as behandelings met medisyne. Tydens die studie, waarby 60 mans en vroue met ’n gemiddelde ouderdom van 72 betrokke was, het selfs dié wat lae-intensiteitoefeninge gedoen het, “30 persent minder depressief gevoel, dieselfde as diegene wat nie gewigte opgetel het nie maar gewone mediese sorg ontvang het”, sê The Australian. Buiten dat dit depressie teëwerk, versterk gewigoptel “verouderende bene en spiere, wat bejaardes help om nie te val nie. Dit help ook om gewrigsontsteking, suikersiekte en hoë bloeddruk te beheer”, sê die koerant. Singh stel voor dat gewigoptel “aangebied moet word as ’n primêre behandeling vir depressie, veral vir bejaardes”.
TV leer mense om aggressief te wees
Volgens ’n studie waaroor daar in die Londense koerant The Times berig gelewer is, “bevorder televisiesepies verskillende soorte antisosiale gedrag by kinders, onder meer om agteraf kwaad te praat van ander, skinderstories en gerugte te versprei, ander mense se verhoudings op te breek en hulle met woorde af te knou”. In die studie, wat aan die Britse Sielkundige Genootskap voorgelê is, is ’n “belangrike skakel” gevind tussen sulke indirekte aggressie op TV en antisosiale gedrag onder adolessente, sê die koerant. In die ergste sepies was daar gemiddeld 14 gevalle per uur waar mense agteraf kwaadgepraat het van ander. Die lektrise Sarah Coyne van die Universiteit van Sentraal-Lancashire, Engeland, is bekommerd dat die “konstante en onophoudelike” uitbeelding van indirekte aggressie as iets wat geregverdig, aantreklik of met ’n positiewe resultaat beloon word, jongmense slegte rolmodelle gee.
Langtermyngevolge van laekoolhidraatdiëte
Hoewel mense wat op laekoolhidraatdiëte gaan, dalk gewig verloor, is daar min inligting beskikbaar oor die langtermyngevolge van sulke diëte. Sommige navorsers is bekommerd dat ’n proteïenryke dieet tot lewer- en nierprobleme, osteoporose en ander ernstige gesondheidsprobleme kan lei. “Baie van die lekkernye in laekoolhidraatdiëte—soos filet mignon met ’n béarnaisesous—is vol versadigde vette wat slagare verstop . . . , ’n groot risikofaktor vir hartsiekte en beroertes”, sê die tydskrif Time. Daarenteen sê dr. David Katz van die Yale-universiteit se Fakulteit van Openbare Gesondheid: “Daar is al in verskeie studies getoon dat diëte wat ryk is aan vesel en komplekse koolhidrate, wat in vrugte, groente, bone en heel graansoorte gevind word, bydra tot ’n lang lewe, blywende gewigsbeheer, die risiko verlaag van kanker, hartvatsiekte, suikersiekte en maag- en ingewandsteurnisse en goeie gesondheid oor die algemeen bevorder.”
Geverfde beeldhouwerk
“Argeoloë en kunsgeskiedkundiges is onwillig om af te sien van hulle beskouing dat sekere bekende beeldhouwerke uit die ou tyd [soos antieke Griekse standbeelde] nie geverf was nie”, sê die Duitse tydskrif Spektrum der Wissenschaft. “Hulle was in werklikheid helderkleurig.” Ondanks geskiedkundige verwysings na geverfde standbeelde en die ontdekking van spore van kleur op standbeelde het geleerdes nie baie aandag aan die onderwerp geskenk nie. Maar onlangs het indirekte bewyse dat standbeelde geverf is, aan die lig gekom deur die bestudering van wat bekend staan as kleurverweringreliëf. Verfpigmente breek teen verskillende tempo’s af, en gevolglik word sekere dele van ’n standbeeld se oppervlak voor ander dele aan die elemente blootgestel. Die verskil in blootstellingstyd veroorsaak ’n oneweredige verweringspatroon, wat daarop dui dat die standbeeld met verskillende kleure geverf is. Dit lyk asof die beeldhouwerke “in die oë van die Grieke en Romeine eers voltooid was wanneer kleur bygevoeg is”, sê die berig ten slotte.
Verkleurmannetjies se vinnige tong
Hoe kry ’n verkleurmannetjie dit reg om sy tong so vinnig uit te skiet om sy prooi te vang? “Die geheim is ’n veermeganisme wat energie stoor soos die rek van ’n kettie voordat dit gelos word”, berig die tydskrif New Scientist. Wetenskaplikes het geweet dat ’n verkleurmannetjie se tong skedes bevat wat deur ’n “versnelspier” omhul word. Nou, met behulp van videomateriaal wat in stadige aksie gespeel word, het Nederlandse navorsers ontdek dat ’n verkleurmannetjie, slegs 200 millisekondes voordat hy sy tong uitskiet, “die versnelspier gebruik om energie na die binnetongskedes oor te dra, sodat dit inmekaarskuif soos dele van ’n teleskoop. Wanneer die verkleurmannetjie sy prooi vang, kan die gestoorde energie binne net 20 millisekondes vrygestel word, wat die tongpunt uitskiet” om sy prooi te vang.
Ongelowige Britte
In ’n opname onder 10 000 mense in tien lande is bevind dat Brittanje “een van die mees ongelowige lande is . . . , met die laagste vlakke van godsdiensoortuiging en -bedrywigheid”, beweer The Times van Londen. Hoewel 46 persent van Britte gesê het dat hulle nog altyd in God glo, het net twee lande, Rusland en die Republiek van Suid-Korea, minder gelowiges gehad. Meer as 90 persent van die mense in Nigerië, Indonesië en Lebanon het geglo dat húlle god die enigste ware God is, maar net 3 uit 10 in Brittanje het so gevoel. In die meeste lande het meer as 80 persent gesê dat geloof in God jou ’n beter mens maak, maar net 56 persent van Britte het daarmee saamgestem. Hoewel 85 persent in die Verenigde State, 99 persent in Indonesië en 83 persent in Mexiko geglo het dat God die heelal geskep het, het slegs 52 persent in Brittanje dit geglo. Toe hulle gevra is of die wêreld vreedsamer sou wees sonder godsdiens, het 6 persent in die Verenigde State, 9 persent in Indië en 11 persent in Israel ja gesê, maar in Brittanje was die syfer 29 persent!