Van ons lesers
Die wetenskap en God Ek was opgewonde oor die reeks “Kan die wetenskap jou help om God te vind?” (22 Junie 2004). Ek het ’n eksemplaar vir my jongste stiefbroer, wat ’n kernfisikus is, gestuur. Die artikels is heeltemal reg waar dit praat van die druk wat op wetenskaplikes geplaas word om ateïste te wees. Ek glo dat ateïsme die godsdiens van die wetenskaplike wêreld geword het omdat mense wat godsdiensdogma voorstaan, die Bybel doelbewus verkeerd voorstel. Baie dankie dat julle die aandag op sulke onderwerpe vestig.
A. B., Verenigde State
Dit was weer eens ’n uitstekende reeks. Die treffende prente het ons begrip verbeter van die vier fundamentele fisiese kragte waardeur lewe op ons aarde moontlik gemaak word. En julle vrae aan godsdiensyweraars het hulle gebrek aan integriteit en beskeidenheid blootgelê. Baie dankie vir al die artikels in die reeks.
F. W., Verenigde State
Concorde Ek is 16 jaar oud, en ek wil net dankie sê vir die artikel “Die Concorde word deel van die lugvaartgeskiedenis” (22 Junie 2004). Van kleins af het hierdie blitsvinnige vliegtuig my gefassineer. Dit is fantasties om te sien wat die mens kan bou, danksy die intelligensie en wysheid wat God hom gegee het.
T.D.C., Frankryk
Ek het die voorreg gehad om in die Concorde te vlieg. Ek het dit veral geniet om die son in die weste te sien “opkom” nadat ons Londen in die donker verlaat het en net drie uur later in New York geland het waar dit ’n helder sonskynmiddag was!
R. M., Verenigde State
Kêrel wat mishandel Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek keer dat my kêrel my mishandel?” (22 Junie 2004). Ek was eenkeer in ’n verhouding wat fisies sowel as emosioneel gevaarlik was. Ek was bang vir my kêrel, wat die onaangename verhouding net langer uitgerek het. Gelukkig kon ek met die hulp van my ouers, Christen- ouer manne en Jehovah God die verhouding beëindig. Diegene wat hulp dringend nodig het, sal baat vind by hierdie artikel.
J. A., Verenigde State
Ek hoop dat hierdie artikel sal keer dat iemand met ’n man trou wat haar mishandel. Mondelinge, emosionele en fisiese teistering moet van die begin af nie geduld word nie! Ek het hierdie les op die harde manier geleer.
T. G., Kanada
Werkgewer slaan nuwe blaadjie om Ek het vyf jaar lank vir ’n saggeaarde, simpatieke man gewerk. Toe is die maatskappy verkoop, en ’n nuwe werkgewer het oorgeneem. Ek het die teiken van sy mondelinge teistering geword. Verkleinering, beledigings en leuens was my daaglikse lot. Ek was baie neerslagtig en gespanne. Toe het ek die Ontwaak! van 8 Mei 2004 ontvang met die reeks “Teistering by die werk—Wat kan jy doen?” Ek het die tydskrif op my lessenaar neergesit waar hy dit kon sien en dit kon lees as hy wou. Hy het dit toe gelees. Sedertdien het sy gedrag drasties verander. Hy teister my nie meer nie. Hy sê selfs dat ek vordering gemaak het met my werk. Wat ’n verligting!
K.D.A., Côte d’Ivoire
Eensaamheid Die voorbladreeks “Alleen maar nie eensaam nie” (8 Junie 2004) was uitstekend. Ek het veral gehou van die wenke in die venster op bladsy 7, “Wat jy omtrent eensaamheid kan doen”. Ek het al baie van hierdie wenke toegepas, en ek weet dat dit ook vir ander baie aanmoedigend sal wees.
E. M., Verenigde State