Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wêreld se oudste universiteit?
  • Knoffelroomys?
  • Die Noordpool—vroeër subtropies
  • Die digitale skerm gaan skool toe
  • Eenmiljoen selfmoorde per jaar
  • Stofstormwaarskuwings
  • Bergklimmers betaal vir hulle roekeloosheid
  • Reusagtige fratsgolwe
  • “Ons onthou nog . . . die knoffel!”
    Ontwaak!—2005
  • Die geskiedenis van roomys
    Ontwaak!—1994
  • Die Noordwestelike Deurvaart—’n Droom wat bewaarheid is?
    Ontwaak!—2003
  • Op soek na ’n noordelike deurvaart
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 6/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die wêreld se oudste universiteit?

’n Span Poolse en Egiptiese argeoloë het die terrein van die eertydse universiteit van Aleksandrië, Egipte, opgegrawe. Volgens die Los Angeles Times het die span 13 lesingsale gevind—almal omtrent dieselfde grootte—wat altesaam tot 5 000 studente kon huisves. Hierdie sale, sê die koerant, “het aan drie kante van die vertrek rye trapvormige banke al langs die mure, en partykeer kom hulle . . . bymekaar om ’n ‘U’ te vorm”. In die middel is daar ’n verhoogde sitplek, heel moontlik vir die lektor. “Dit is die heel eerste keer dat so ’n kompleks lesingsale op enige Grieks-Romeinse terrein in die hele Mediterreense streek ontdek is”, sê die argeoloog Zahi Hawass, president van Egipte se Opperraad vir Oudhede. Volgens Hawass is dit “moontlik die oudste universiteit ter wêreld”.

Knoffelroomys?

Knoffel word al jare lank vir sy geneeskragtige eienskappe geprys. Nou het die Mariano Marcos-staatsuniversiteit in die noorde van die Filippyne knoffelroomys vir “gesondheidsredes” ontwikkel, berig die koerant die Philippine Star. Daar word gehoop dat die nuwe produk diegene kan help wat aan kwale ly waarvoor knoffel na bewering help. Dit sluit verkoue, koors, hoë bloeddruk, asemhalingsprobleme, rumatiek, slangbyt, tandpyn, tering, kinkhoes, wonde en selfs kaalhoofdigheid in. Knoffelroomys vir enigiemand?

Die Noordpool—vroeër subtropies

’n Internasionale span wetenskaplikes wat in die bodem van die Noordelike Yssee tussen Siberië en Groenland geboor het, sê dat die gebied vroeër ’n subtropiese klimaat gehad het. Die Noordpool-boorekspedisie het van drie ysbrekers gebruik gemaak en het sedimentmonsters van byna 400 meter onder die seebodem verkry. Klein fossiele van seeplante en -diere wat in daardie monsters gevind is, toon dat die seetemperatuur voorheen ongeveer 20 grade Celsius was, in plaas van die huidige minus 1,5 grade Celsius. Volgens professor Jan Backman van die Universiteit van Stockholm, wat deur BBC News aangehaal is, “sal die vroeë geskiedenis van die Noordpool-bekken geherevalueer word op grond van die wetenskaplike resultate van hierdie ekspedisie”.

Die digitale skerm gaan skool toe

In meer as 21 000 laerskoolklaskamers in Mexiko word die tradisionele swartbord, kryt en wisser vervang deur ’n elektroniese bord wat met ’n rekenaar verbind is, berig El Universal van Mexikostad. Die bord, wat byna twee meter breed en een meter hoog is, word voorlopig vir kinders in graad vyf en ses gebruik. Sewe digitale boeke is beskikbaar en kan gebruik word om klas te gee in geskiedenis, wetenskap, wiskunde, aardrykskunde en ander vakke. Video’s kan ook op die bord gewys word. Gevolglik het die leerlinge in een onderwyseres se klas “die piramides van Tikal en Palenque besoek, die tradisies van die Majas gesien en na [hulle] musiek geluister”. Watter voordele het dit? “Kinders skenk meer aandag, leer meer en neem meer deel”, sê die onderwyseres.

Eenmiljoen selfmoorde per jaar

Wêreldwyd is selfmoord verantwoordelik vir byna die helfte van alle gewelddadige sterftes. Elke jaar pleeg tot eenmiljoen mense selfmoord, ’n getal wat in 2001 meer was as die totale aantal sterftes as gevolg van moord en oorlog saam. Vir elke selfmoord is daar tussen 10 en 20 mislukte selfmoordpogings. Die getalle is bekend gemaak deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat in Genève, Switserland, gesetel is. Die WGO wys daarop dat daar vir elke selfmoord “baie gesinne en vriende is wie se lewe emosioneel, sosiaal en ekonomies verwoes word”. Volgens die verslag sluit faktore wat mense teen selfmoord beskerm, die volgende in: “’n goeie selfbeeld”, die ondersteuning van vriende en familie, stabiele verhoudings en ’n godsdienstige of geestelike verbintenis.

Stofstormwaarskuwings

Die gebruik van vierwielaangedrewe voertuie in woestyne “het bygedra tot ’n tienvoudige toename in stofstorms regoor die wêreld, en dit is nadelig vir die omgewing en die mens se gesondheid”, sê The Times van Londen. Die brose oppervlak van die woestyne word deur die voertuie opgebreek, wat stofdeeltjies dan laat wegwaai. “Daar is deesdae ’n groot aantal van hierdie voertuie wat nou oor woestyne ry”, sê professor Andrew Goudie, van die Universiteit van Oxford. “In die Midde-Ooste versorg nomades wat voorheen op kamele gery het, deesdae hulle kuddes in 4x4-voertuie.” Buiten dat dit die stof van die woestyne opskop, waarsku Goudie, “haal stofstorms onkruid- en plaagdoders uit die landbougrond en droë meerbodems uit en stel dit in die atmosfeer vry”. Daar is ook allergene en spore op die deeltjies in die lug, wat ernstige gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Omgewingsdeskundiges is bekommerd dat daar in dele van Afrika iets kan gebeur wat soortgelyk is aan die stofkom van die 1930’s, wat deur oorploeëry en droogte veroorsaak is en grasvlaktes in die Verenigde State verwoes het.

Bergklimmers betaal vir hulle roekeloosheid

Elke jaar sterf honderde mense terwyl hulle bergklim. Party word die slagoffers van vallende rotse of onverwagte gesondheidsprobleme, soos ’n hartaanval. Nogtans is een van die hoofredes waarom mense in die berge sterf, volgens die Duitse koerant Leipziger Volkszeitung, roekeloosheid. Die probleem is nie net beperk tot jong en onervare bergklimmers nie. Volgens Miggi Biner, president van die Berggidsvereniging in Zermatt, Switserland, “is dit dikwels ’n geval van iemand—hetsy ervare of onervare—wat sy vermoë oorskat of nie genoeg aandag aan die weer en die toestande skenk nie”. Party wat ’n selfoon by hulle het, het te veel vertroue dat daar altyd ’n helikopter beskikbaar sal wees om hulle uit enige noodsituasie te red.

Reusagtige fratsgolwe

Daar word gesê dat daar elke week êrens op die aardbol gemiddeld twee groot skepe sink. Selfs supertenkskepe en reusehouerskepe wat meer as 200 meter lank is, was al slagoffers van die see. Baie van hierdie rampe is glo deur reusegolwe veroorsaak. Berigte van reusegolwe in die oseaan wat groot skepe kan laat sink, word al lank as stories van seevaarders afgemaak. ’n Navorsingsprojek van die Europese Unie het egter getoon dat daar waarheid in hierdie stories steek. Satellietradarbeelde van die oseane is noukeurig ondersoek vir reusegolwe. Volgens die Süddeutsche Zeitung sê die projekleier, Wolfgang Rosenthal: “Ons het bewys dat reusegolwe algemener is as wat enigiemand gedink het.” Gedurende ’n periode van drie weke het sy span ten minste tien golwe geïdentifiseer. Hierdie golwe is amper vertikaal, dit kan tot 40 meter hoog wees, en sal oor ’n vaartuig breek en dit ernstig beskadig of selfs laat sink. Daar is min skepe wat hierdie golwe kan weerstaan. “Nou moet ons kyk of ons die golwe kan voorspel”, sê Rosenthal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel