Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mite van haargroei
  • Pasop vir raserige speelgoed
  • Die uitdagings wat vergaderinge bied
  • Ondergrondse kwekery
  • Tuinmaak verlig die nadraai van beroerte
  • Versorging van bejaardes stuur op krisis af
  • Tuisbehandeling vir kinders?
  • Is jy bekommerd oor jou hare?
    Ontwaak!—2002
  • Beskerm jou gehoor!
    Ontwaak!—2002
  • Jou hare van naderby beskou
    Ontwaak!—2001
  • ’n Gladde skeer
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die mite van haargroei

“As jy jou hare sny of skeer, sal dit nie ’n uitwerking hê op die groeitempo, die tekstuur of die dikte daarvan nie”, sê ’n artikel oor fiksheid en gesondheid in The New York Times. Die mite dat hare vinniger en dikker sal teruggroei as dit gesny of geskeer word, bestaan al baie jare. Maar herhaalde studies sedert die 1920’s het getoon dat “die lengte, tekstuur en dikte van jou hare deur genetika en hormoonvlakke bepaal word, nie deur hoe dikwels jy skeer nie”, sê die artikel. Waarom duur die mite voort? Dalk is dit omdat baie mense vroeg in hulle lewe begin skeer, wanneer hulle hare nog nie op hulle vinnigste groei nie en die haarkleur ligter is. En “hare is donkerder en growwer by die wortels, wat die hare dikker laat lyk as die punte geknip word”, sê die Times. “Die borselrige stoppels wat uitgroei nadat iemand geskeer het, is dalk ook opmerkliker as dieselfde hoeveelheid groei wanneer hare reeds lank is.”

Pasop vir raserige speelgoed

“Raserige speelgoed beskadig kinders se gehoor”, sê die koerant Toronto Star. ’n Span Kanadese gehoorkundiges het “40 verskillende speelgoed wat vir kinders onder drie jaar bedoel is”, getoets en gevind dat “ten minste 25 soveel geraas maak dat dit klein oortjies kan beskadig”, sê die koerant. ’n Speelgoedselfoon, wat 115 desibel geregistreer het, het die hardste geluid voortgebring. Volgens die oudioloog Richard Larocque is dit “nie so raserig soos ’n straalvliegtuig nie, maar raseriger as die meeste diskoteke”. Die huidige standaard wat Health Canada toelaat, is 100 desibel. Die studie beveel aan dat “’n standaard van 87 desibel vir 30 minute se blootstelling beter beskerming vir die gehoor sal bied”, het die artikel gesê.

Die uitdagings wat vergaderinge bied

Baie maatskappye vind dat dit nodig is om vergaderinge kort te hou en selfs met onnodige vergaderinge weg te doen, berig The New York Times. Om te keer dat tyd by vergaderinge gemors word, het sommige bestuurders drastiese maatreëls getref, soos om van stophorlosies, fluitjies en ongemaklike stoele gebruik te maak, en hulle laat hulle personeel ook eerder staan as sit. Blykbaar is dit nie net die bestuurders wat so voel nie. In ’n opname onder meer as 600 werkers was “vergaderinge wat te lank duur”, boaan die lys van dinge wat tyd mors. Patti Hathaway, die skrywer van ’n boek wat raad gee oor hoe om situasies by die werk te hanteer, stel voor dat bestuurders eers na die agenda kyk om te besluit of ’n vergadering werklik nodig is. As die doel van ’n voorgestelde vergadering bloot is om inligting oor te dra, kan hulle dit oorweeg om die inligting per e-pos te stuur.

Ondergrondse kwekery

“’n Bedompige myn is net die plek om bome te kweek. Eerstens is die voggehalte en ’n geotermiese temperatuur van 25 °C heeljaar dieselfde”, sê die koerant Toronto Star. Sedert 1986 het Inco Beperk, ’n myn- en metaalmaatskappy, stilweg ’n ondergrondse kwekery bedryf. Op ’n diepte van 1 400 meter in hulle Creighton-myn, naby Sudbury, Kanada, word 50 000 saailinge elke jaar gekweek. Opgaartenks wat met tydskakelaars toegerus is, besproei die boompies daagliks met 2 000 liter kunsmis en water. Om sonlig na te boots, bly dertig 1 000 watt-gloeilampies “die eerste week 24 uur per dag aan, dan 18 uur aan en 6 uur af gedurende die volgende drie weke en dan—net soos in die buitelug—12 uur aan en 12 uur af vir die res van die tyd”, sê die koerant. Die groeiseisoen begin laat in Januarie, en teen die einde van Mei is die rooiden- en banksdensaailinge gereed om in en om die mynmaatskappy se eiendom geplant te word. Van die klein boompies word ook aan gemeenskapsgroepe geskenk.

Tuinmaak verlig die nadraai van beroerte

“Tuinmaak verskaf mense die meeste lewensvreugde ná ’n beroerte”, berig die Duitse koerant Gießener Allgemeine. Ses maande nadat hulle uit rehabilitasie ontslaan is, is 70 pasiënte wat ’n beroerte gehad het, gevra watter bedrywighede hulle voldoening verskaf. Dinge soos huiswerk, inkopies, kook, lees, stap, motorbestuur, hulle werk en ’n aantal sosiale geleenthede is voorgestel. Maar volgens hulle was tuinmaak die enigste bedrywigheid wat hulle meer voldoening in die lewe gegee het. Volgens die arbeidsterapeut Brigitte Oberauer maak tuinmaak “dit makliker vir beroertepasiënte om hulle aandag op sekere dinge toe te spits en nie hulle konsentrasie te verloor nie. Dit hou die sintuie besig en dra die boodskap oor dat nuwe dinge groei en dat die lewe aangaan. Ná ’n ernstige siekte is dit ’n belangrike boodskap.” Om buitekant te werk, kan ook die afsondering verbreek wat dit meebring wanneer ’n mens binnenshuis bly, sowel as beweeglikheid bevorder en jou balans oefen.

Versorging van bejaardes stuur op krisis af

“As lewenstandaarde nie nou verhef en die een of ander veiligheidsnet vir bejaardes daargestel word nie, sal daar in 2030 of 2040 moontlik ’n ontsaglike humanitêre krisis wees”, waarsku Richard Jackson, direkteur van die Wêreldwye Verouderingsinisiatief in Washington, DC. Volgens die internasionale uitgawe van The Miami Herald is daar wêreldwyd ’n toename in bejaardes weens ’n langer lewensduur en ’n afname in vrugbaarheid. Byvoorbeeld, teen 2050 sal die getal bejaardes in Mexiko na verwagting van 5 persent tot 20 persent styg. Daar is ’n soortgelyke groei in die bejaarde bevolking in talle ontwikkelende lande, soos China, waar daar na verwagting teen die middel van die eeu 332 miljoen senior burgers sal woon. Ons is nou in “’n wedloop teen die tyd” om in die “ontsaglike behoefte aan maatskaplike dienste” vir bejaardes te voorsien, het die artikel gesê.

Tuisbehandeling vir kinders?

Die onoordeelkundige gebruik van medisyne vir kinders het ’n gewoonte in Brasilië en ander lande geword, berig Folha Online. Baie gesinne hou ’n voorraad medisyne in die huis. Maar “in teenstelling met wat baie mense dink, kan selfs medisyne wat sonder ’n voorskrif gekoop kan word, ’n kind se gesondheid onherstelbaar benadeel—indien dit verkeerd of onnodig gebruik word”. En baie kinderkwale, soos ’n bietjie hoeserigheid, sal vanself weggaan sonder die gebruik van medisyne. “Ons het ’n kultuur wat enige probleem met medisyne probeer oplos”, sê Lúcia Ferro Bricks, ’n kinderarts by die Kinderinstituut van Hospitaalklinieke in São Paulo. Voedselaanvullings word ook misbruik, want ’n behoorlike dieet sal gewoonlik in die kind se behoeftes voorsien. “Wanneer ouers my vra om ’n vitamien voor te skryf, sê ek vir hulle om ’n paar vrugte te neem en ’n voedsame sap vir die kind te maak”, sê Bricks.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel