Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/22 bl. 20-23
  • Ons het iets beters gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het iets beters gevind
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Professionele sukses
  • Ek word bewus van my geestelike behoefte
  • My waardes en prioriteite verander
  • ’n Nuwe lewe in Jehovah se diens
  • Die voortrefliker waarde om Jehovah te dien
  • Die wêreldwye aantrekkingskrag van Latyns-Amerikaanse musiek
    Ontwaak!—1998
  • Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?
    Ontwaak!—2004
  • Mag Christene dans?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom jy Christelike vergaderinge moet bywoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/22 bl. 20-23

Ons het iets beters gevind

SOOS VERTEL DEUR FRANCIS DEL ROSARIO DE PÁEZ

In 1988 het ek en my broers, saam met ander musiekgroepe, voor duisende mense in Madison Square Garden in die stad New York opgetree. Ons groep, waarvan ek die danseres was, het ’n entoesiastiese ontvangs gekry. Jare vroeër het my pa stappe gedoen om ons sukses moontlik te maak.

MY PA, wat self ’n musikant was, het besef dat my sewe ouer broers musiektalent het. Hy het dus ons huis verkoop en toe musiekinstrumente asook die nodige toerusting gekoop om hulle te help om ’n musiekgroep te vorm. Ek was toe nog klein, want ek is net ’n paar jaar vroeër in 1966 gebore. Destyds het ons gesin in die dorp Higüey in die Dominikaanse Republiek gewoon.

My broers se eerste konsert is in 1978 in die Higüey-stadsaal gehou. Later het hulle hulle in die hoofstad, Santo Domingo, gevestig. Hulle het ’n nuwe styl van merengue begin sing en speel, wat hulle baie gewild gemaak het.a Die groep het bekend geword as Los Hermanos Rosario (Die Rosario-broers).

Aangesien dit al lankal my droom was om ’n beroemde danseres te wees, wou ek graag by my broers aansluit. Gedurende ’n partytjie het my broer Pepe, wat die leier van die groep was, my genooi om te dans en gesê: “Francis is my jongste sussie, en sy kan goed dans.” Die mense was beïndruk met hoe ek gedans het. Ek het die geleentheid aangegryp om vir Pepe te vra of ek saam met hulle groep as danseres kon optree. Toe ek 16 was, het ek dus begin om by al die konserte van Los Hermanos Rosario te dans.

Professionele sukses

Voorheen was daar vroue wat as sangeresse in merengue-groepe opgetree het, maar geen vrou het al as danseres saam met ’n groep mans opgetree nie. Ek het al my dansbewegings self uitgewerk en ’n nuwe dansstyl gebruik om by ons unieke merengue-musiek te pas. Toe my danstegniek welbekend geword het, is dit a lo Francis Rosario genoem.

Ons het ’n merengue-lied gesing wat “Cumandé” genoem is en die volgende woorde ingesluit het: “Y ahora todo el mundo como Francis Rosario” (Almal in die gehoor dans soos Francis Rosario). Dan het hulle my dansstyl nagedoen. Soms het hulle net op die vloer bly sit en my dopgehou eerder as om self te dans. Uiteindelik is net ’n foto van my gebruik om ons groep se konserte te adverteer. Almal het geweet dit beteken dat Los Hermanos Rosario ’n konsert aanbied.

Nadat ek saam met my broers begin optree het, het ander musikante by die groep aangesluit, onder andere die drie Páez-broers. Ek is later met een van hulle, die trompetspeler Roberto, getroud. Die Páez-broers het tot die sukses van die groep begin bydra. Los Hermanos Rosario het baie uitnodigings begin ontvang om op televisie in Santo Domingo op te tree, sowel as om konserte in ander lande te hou.

In 1988 het ons op toer in die Verenigde State en Kanada gegaan. Een van ons konserte was dié in Madison Square Garden wat aan die begin genoem is. Baie van die gewildste merengue-groepe het daar opgetree, en ons groep het die beste ontvangs gekry. Ná daardie uitvoering het konsertorganiseerders ons altyd laaste op die program laat optree. My danspassies het al hoe gewilder geword en die bewonderaars van Los Hermanos Rosario het toegeneem. Verkope van ons opnames het ook die hoogte ingeskiet.

Ons het baie gereis en Colombia, Ecuador, Panama, Puerto Rico, Curaçao, Spanje, Duitsland en ander lande besoek. Kort voor lank het ons een van die gewildste musiekgroepe in Latyns-Amerika geword. Die dans, die verhoog, die kostuums en die grimering het die belangrikste dinge in my lewe geword.

Toe ek nog ongetroud was, het ek altyd gesê dat as ’n man in my belangstel maar nie van dans hou nie, ek eerder my verhouding met hom sou verbreek as om my dans op te gee. Maar my prioriteite in die lewe sou spoedig verander.

Ek word bewus van my geestelike behoefte

Hierdie verandering het begin toe ons in 1991 op toer in die Kanariese Eilande was. Ek en Roberto is kort tevore getroud. Sy broer Freddy, wat ook ’n lid van ons groep was, het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en het altyd hulle publikasies by hom gehad.

Eendag het ek die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Freddy se kamer gesien en daardeur begin blaai. Die hoofstuk “Watter soort plek is die hel?” het my belangstelling geprikkel, want my ma het altyd gesê dat iemand wat slegte dinge doen, in die hel sal brand. Ek was dus bang om hel toe te gaan.

’n Paar weke later, terwyl ons nog op die Kanariese Eilande was, het ek ’n miskraam gehad. Toe hulle my hospitaal toe geneem het, het ek vir Roberto gevra om die boek te kry wat ek in Freddy se kamer gesien het. Ek wou dit lees terwyl ek herstel het. Ek het die boek terdeë geniet. Ek het onder andere geleer dat die Bybelse hel eenvoudig die gemeenskaplike graf van die mensdom is en dat dit nooit eens in God se hart opgekom het om enigiemand te folter nie (Jeremia 7:31). Ek was beïndruk deur die Bybellering dat die dooies van hoegenaamd niks bewus is nie.—Prediker 9:5, 10.

Toe ons na die Dominikaanse Republiek teruggekeer het, het Freddy een van Jehovah se Getuies gevra om ons te besoek. Hy het ons vertel van die Bybelse hoop van ewige lewe op ’n paradysaarde, en dit het ook my man se belangstelling gewek (Psalm 37:29; Lukas 23:43). Ons het gevra vir ’n Bybelstudie.

My waardes en prioriteite verander

Namate my Bybelkennis toegeneem het, het my siening oor die werk waarvoor ek so lief was, begin verander. Bybelbeginsels het my denke begin vorm (Romeine 12:2). Ek het my afgevra: ‘Hoe kan ek op dié manier voor al hierdie mense dans? Dis nie wat ek wil doen nie.’ Ek het tot God gebid: “Help my asseblief om uit hierdie situasie te kom.” Ek het met my man oor my gevoelens gepraat, en hy het saamgestem. “Wees geduldig, liefling”, het hy gesê. “Verlaat jy eers die groep, en daarna sal ek volg.”

Ek het weer swanger geraak, en aangesien dit in elk geval my dans beperk het, was ek vry om meer dikwels Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Dit het my sowel as vir Roberto versterk, en dit het ons laat besef hoe belangrik dit is om saam met Jehovah se volk te vergader. Ons het ook besef dat ons die onderrigting en aanmoediging wat ons by Christelike vergaderinge kry, nodig het om vooruitgang op die weg van Bybelwaarheid te maak (Hebreërs 10:24, 25). Selfs wanneer ons nie in die Dominikaanse Republiek opgetree het nie, het ek en Roberto na ’n Koninkryksaal gesoek en die vergaderinge bygewoon.

Nadat ons baba gebore is, het ek weer begin werk, maar my hart was nie meer daarin nie. Die verandering het duidelik geword, en die pers het my begin kritiseer. Ek is dikwels gevra: “Waarom dans jy nie meer soos voorheen nie?” Ek het tot Jehovah bly bid vir ’n uitkoms sodat ek nie probleme met my broers sou hê nie. Ek was teen daardie tyd een van die eienaars van die groep, en ek wou nie ’n konfrontasie met hulle hê nie.

Toe ek weer swanger geraak het, het ek vir Rafa, wat die groepleier ná die dood van ons broer Pepe geword het, gesê dat ek meer tyd saam met my kinders wou deurbring en nie sou terugkom werk toe nie. Hy het vir my gesê om te maak soos ek goeddink. Nie een van my broers het ooit my Bybelstudie teëgestaan nie. Hiervoor was ek baie dankbaar.

’n Nuwe lewe in Jehovah se diens

In 1993, ná tien jaar saam met die groep, het ek my dansloopbaan beëindig en my onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy. Ek het ’n verkondiger van die goeie nuus van God se Koninkryk geword, en nadat Roberto die groep verlaat het, is ons in 1994 gedoop (Matteus 24:14). Beide Freddy en Roberto se ander broer, Julio, het Getuies geword, sowel as Manuel Pérez, ’n ander lid van die groep. Tot vandag toe dien hulle almal Jehovah getrou.

Baie mense het nie verstaan waarom ek die vermaaklikheidsbedryf verlaat het nie, aangesien ek my werk soveel geniet het. Party het, soos ’n welbekende televisieregisseur in ons land, gedink dat ek bloot deur ’n fase gaan. “Soos alle ander kunstenaars, sal sy daaroor kom en na die groep terugkeer”, het hy voorspel. Maar dit het nooit gebeur nie. Ek was vasbeslote om soveel as moontlik in Jehovah se diens te doen.

Ons het nou drie kinders: Katty, Roberto en Obed. Ons probeer hulle leer dat geestelike dinge baie belangriker is as materiële dinge. Ons is in ’n goeie posisie om hulle te waarsku teen die wêreld se bedrieglike invloed en om hulle betroubare leiding in die lewe te gee. Ons weeklikse gesinstudie is van groot waarde, want dit help ons om verenig te bly in ’n wêreld waar gesinne al hoe meer verbrokkel.

Ons het ons kinders probeer leer om Jehovah te beskou as ’n werklike persoon op wie hulle kan vertrou (Spreuke 3:5, 6; Hebreërs 11:27). Ons het hulle ook help besef hoe belangrik dit is om Christelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem. Om ons kinders in die weg van Bybelwaarheid te sien opgroei, is ’n kosbare geskenk. Ek het die afgelope twee jaar as hulppionier gedien, ’n term wat Jehovah se Getuies gebruik vir dié wat elke maand 50 uur of meer daaraan wy om ander van hulle Bybelse oortuigings te vertel. En my man dien nou al jare lank as ’n ouer man in die Christengemeente.

Die merengue is nog steeds vir my ’n pragtige dans. Maar ongelukkig is die merengue wat vandag gewild is, baie anders as wat dit destyds was. Dit was voorheen oor die algemeen heilsaam. Deesdae moet ons egter baie selektief wees wanneer ons aanvaarbare merengue-musiek wil vind.

Die voortrefliker waarde om Jehovah te dien

Die wêreld bied baie dinge aan, maar ’n mens moet dieper as die oppervlak kyk. Dit is waar dat die musiekbedryf op die oog af baie aantreklik en onskadelik kan lyk. Maar dit is nie. Baie in die bedryf gebruik dwelms of lei onsedelike lewens. Wanneer ’n mens aan ’n konsert deelneem, assosieer jy met mense wat net vir die oomblik lewe en wat hoegenaamd geen gewete het nie.—1 Korintiërs 15:33.

Ons het tot die besef gekom dat die beste ding wat enigeen kan doen, is om Jehovah te dien. Ek onthou hoe ek ná een van ons grootste konserte na die hotel teruggegaan het en leeg gevoel het. Ek besef nou dat dit was omdat ons nie ons belangrikste behoefte, ons geestelike behoefte, bevredig het nie.—Matteus 5:3.

Ons fokus in die lewe is nou om ons Skepper te behaag, veral deur die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig en aan ander te leer (Matteus 24:14; Handelinge 20:35). Dit verskaf ons gesin geluk en tevredenheid. Ons is waarlik dankbaar om onder God se volk te wees en om ware vriende—broers en susters in die geloof—te hê wat saam met ons die wonderlike hoop het op ewige lewe in God se nuwe wêreld.—Markus 10:29, 30; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

Ons het finansieel baie goed gedoen in die vermaaklikheidswêreld. Maar deur kennis van ons God, Jehovah, in te neem, het ons geestelike rykdom gevind wat baie meer werd is as enige materiële rykdom. Ons is so bly dat ons ’n God met ’n voorneme kan dien, ’n gelukkige God wat ons nooi om op hom te vertrou! (Psalm 37:3). Ons is heeltemal oortuig daarvan dat ons iets baie beters gevind het as roem en materiële rykdom, en ons bede is dat Jehovah ons en ons gesin sal help om vir ewig sy wil te doen.

[Voetnoot]

a Merengue is dansmusiek in 2/4-maat. In sy tradisionele vorm speel ’n klein groepie musikante merengue op die trekklavier, die guiro (’n metaalskraper) en die tambora (’n klein trom wat op albei kante geslaan word). Mettertyd is groter groepe (ook bekend as orquestas in die Dominikaanse Republiek) gevorm. Vandag gebruik baie merengue-groepe ’n klawerbord, saksofone, trompette en congatromme, sowel as ander instrumente.

[Prent op bladsy 21]

Saam met ander lede van die groep vroeg in my loopbaan

[Prent op bladsy 21]

’n Konsert in die stad New York, omstreeks 1990

[Prent op bladsy 23]

Voor die Koninkryksaal

[Prent op bladsy 23]

Inlasfoto: Gedurende ’n gesinsbybelstudie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel