Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 9/8 bl. 5-10
  • Waarom samewerking noodsaaklik is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom samewerking noodsaaklik is
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grond—So te sê ’n lewende organisme!
  • Vennootskappe vir voortplanting
  • Miere in die tuin
  • ’n Gevaarlike lewe
  • Skoongepik en -gesuig
  • Die enigste bron van onenigheid
  • Die verbasende ontwerp van lewende dinge
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Heuningmiere—’n Woestynlekkerny
    Ontwaak!—2011
  • “Gaan na die mier”
    Ontwaak!—1990
  • Skoenlappers, plante en miere—’n Onderlinge verwantskap
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 9/8 bl. 5-10

Waarom samewerking noodsaaklik is

“Geen organisme is ’n eiland nie—elkeen het ’n verhouding met ander organismes, hetsy direk of indirek.”—“Symbiosis—An Introduction to Biological Associations.”

DIE “web van die lewe”—hoe gepas is daardie uitdrukking tog, want die lewe is ’n netwerk van onderling verbonde en onderling afhanklike organismes! Die mens is beslis deel van daardie web. Kyk maar net na jou eie liggaam vir bewys hiervan. In jou spysverteringskanaal werk ’n magdom vriendelike bakterieë stilletjies saam om jou te help om gesond te bly deur skadelike invallers te vernietig en deur te help met vertering en die vervaardiging van noodsaaklike vitamiene. In ruil daarvoor voorsien jy, die gasheer, die bakterieë van voedsel en ’n gunstige omgewing.

Soortgelyke bondgenootskappe kom in die diereryk voor, veral onder herkouende diere, soos beeste, takbokke en skape. Hulle grootpens, die eerste deel van hulle maag, wat uit etlike kompartemente bestaan, huisves ’n hele ekosisteem van bakterieë, swamme en protosoa. Deur middel van gisting breek hierdie mikrobes sellulose, ’n veselagtige koolhidraat wat in plante voorkom, in verskeie voedingstowwe op. Selfs sekere insekte wat sellulose eet, insluitende lede van die kewer-, kakkerlak-, vismot-, termiet- en perdebyfamilies, maak van bakterieë in die verteringsproses gebruik.

Sulke noue samewerking onder ongelyksoortige organismes word simbiose genoem, wat “saam lewe” beteken.a “Hierdie bondgenootskappe is onontbeerlik vir die ontwikkeling van elke lewende stelsel”, sê Tom Wakeford in sy boek Liaisons of Life. Kom ons kyk kortliks na grond, want dit is waar baie van die aarde se lewende stelsels ontstaan.

Grond—So te sê ’n lewende organisme!

Die Bybel sê dat grond krag het (Genesis 4:12). Hierdie stelling is waar, want gesonde grond is baie meer as net lewelose stof. Dit is ’n komplekse groeimedium en is propvol organismes. Net een kilogram bevat moontlik baie meer as 500 miljard bakterieë, ’n miljard swamme en tot 500 miljoen veelsellige diertjies, van insekte tot wurms. Baie van hierdie organismes werk saam om organiese materiaal—soos dooie blare en diereafval—af te breek terwyl hulle stikstof daaruit opneem, wat hulle omsit in verbindings wat plante kan absorbeer. Hulle verander koolstof ook in koolstofdioksied en ander verbindings wat plante nodig het vir fotosintese.

Peulplante, soos lusern, klawer, ertjies en sojabone, het ’n spesiale verhouding met bakterieë, deurdat hulle toelaat dat hulle wortelstelsels daarmee “besmet” word. Die bakterieë beskadig die plante glad nie, maar stimuleer eerder die wortels om klein knoppies te vorm. Die bakterieë maak hulle daar tuis en word tot 40 keer groter en word dan bakteroïede genoem. Hulle taak is om stikstof om te sit in verbindings wat die peulplante kan gebruik. In ruil hiervoor kry die bakterieë voedsel van die plante.

Swamme, of skimmels, speel ook ’n sleutelrol in plante se groei. Trouens, feitlik elke boom-, struik- of grassoort het ’n geheime, ondergrondse verhouding met swamme. Hierdie organismes “besmet” ook die wortels, waar hulle die plante help om water en belangrike minerale, soos yster, fosfor, kalium en sink, te absorbeer. In ruil hiervoor absorbeer die swamme, wat nie hulle eie voedsel kan vervaardig nie omdat hulle nie chlorofil het nie, koolhidrate van die plant.

’n Plant wat baie afhanklik is van swamme, is die orgidee. In die natuur begin die bondgenootskap met die orgidee se stofagtige sade, wat hulp nodig het om te ontkiem. Swamme help ook die volwasse plant deur te vergoed vir sy wortelstelsel, wat nogal klein is. Swamme, sê Wakeford, “vorm ’n groot en dinamiese web wat voedsel opvang en verseker dat daar ten volle in die orgidee se voedingsbehoeftes voorsien word. Op sy beurt ontvang [die swam] klein hoeveelhede vitamiene en stikstofverbindings van die plant. Die orgidee se vrygewigheid het egter definitiewe perke. Die plant hou die swam deur middel van natuurlike swamdoders in toom, ingeval dit enige tekens sou toon dat dit opwaarts wil beweeg, weg van sy gewone tuiste in die wortels om die orgidee se stam te koloniseer.”

By blomplante is verhoudings onder die grond nie die enigstes wat bestaan nie; daar is ook ander, meer ooglopende bondgenootskappe.

Vennootskappe vir voortplanting

Wanneer ’n by op ’n blom land, knoop dit ’n simbiotiese verhouding met die gasheer aan. Die by ontvang nektar en stuifmeel terwyl die blom stuifmeel kry van ander blomme van dieselfde soort. Hierdie bondgenootskap stel blomplante in staat om voort te plant. Nadat blomme bestuif is, hou hulle op om voedsel te vervaardig. Hoe weet insekte dat die “restaurant” nou toe is? Blomme “vertel” hulle op verskeie maniere. Hulle verloor moontlik hulle reuk of hulle blare of hulle verander miskien van posisie of kleur—hulle word byvoorbeeld dowwer. Dit is dalk vir ons teleurstellend, maar dit is ’n daad van groot “hoflikheid” teenoor hardwerkende bye, wat hulle energie nou kan toespits op plante wat nog oop is vir besigheid.

In onlangse jare het die aantal bestuiwers, veral bye, in sommige gebiede skerp afgeneem. Dit is ’n onheilspellende tendens, want bykans 70 persent van blomplante is afhanklik van insekte vir bestuiwing te word. Daarbenewens kom 30 persent van ons voedsel van gewasse wat deur bye bestuif word.

Miere in die tuin

Party miere geniet ook ’n simbiotiese bondgenootskap met plante. In ruil vir nesmaakplek en voedsel sal hierdie insekte hulle gasheer bestuif, sy sade versprei, help om dit van voedsel te voorsien of dit teen plantvreters beskerm, hetsy dit ander insekte of soogdiere is. Sekere miere wat in die hol dorings van die akasiaboom huis opsit, vernietig selfs klimplante wat die boom bedreig en wat hulle ontdek terwyl hulle die gebied om die boom patrolleer. Die akasia toon sy dankbaarheid vir hierdie eersteklas tuindiens deur die miere van soet nektar te voorsien.

Aan die ander kant verkies sekere miere “veeteelt”, en die vee wat hulle aanhou, is plantluise wat soet heuningdou afskei wanneer die miere hulle met hulle voelers streel. Die boek Symbiosis sê aangaande plantluise: “Die miere pas hierdie insekte soos beeste op; hulle melk hulle vir voedsel en beskerm hulle teen roofdiere.” Net soos ’n melkboer sy koeie dalk oornag in ’n koeistal sal sit, dra miere dikwels die plantluise saans na die veiligheid van die miernes en neem hulle hulle soggens terug na die “weiveld”, gewoonlik na jonger, voedsamer blare. En ons praat nie van net ’n paar plantluise nie. Miere kan in net een nes “troppe” van duisende plantluise hê!

Terwyl sekere skoenlappersoorte nog in die ruspestadium is, word hulle ook deur miere versorg. Die swartgevlekte blouskoenlapper het byvoorbeeld ’n simbiotiese verhouding met rooimiere. Trouens, die skoenlapper kan nie sy lewensiklus voltooi sonder hulle hulp nie. As ’n ruspe beloon hy sy gashere met soet afskeidings. Later, wanneer die skoenlapper uit sy papie kom, verlaat hy die miernes veilig en ongedeerd.

’n Gevaarlike lewe

Sou jy, as jy ’n voël was, ’n lewende slang in jou nes inbring? “Nooit!” sê jy. Tog is daar een voëlsoort wat dit wel doen—die skreeu-uil. Die slang word die blindeslang genoem. In plaas daarvan dat dit die neskuikens skade aandoen, eet die slang miere, vlieë en ander insekte en hulle larwes of papies. ’n Berig in die tydskrif New Scientist sê dat kuikens wat saam met ’n blindeslang grootgemaak word, “vinniger groei en ’n baie groter kans het om te oorleef” as dié wat sonder hierdie lewende stofsuier grootgemaak word.

Die waterdikkop lewe nie saam met ’n blote slang nie; dit hou daarvan om ’n nes te bou naby dié van ’n krokodil—’n reptiel wat jag maak op sekere voëls! Maar in plaas daarvan dat dit op die spyskaart beland, tree die waterdikkop as ’n wag op. As enige gevaar die dikkop of die krokodil se nes bedreig, skree die voël. As die krokodil êrens anders is, laat hierdie lawaai hom vinnig huis toe kom.

Skoongepik en -gesuig

Het jy al ooit voëls soos bosluisvoëls of renostervoëls gesien wat op die rug van ’n wildsbok, bees, kameelperd of renoster sit en aan hulle vel pik? Hierdie voëls is nie lastig nie, want hulle doen hulle gashere eintlik ’n groot guns deur luise, bosluise en ander parasiete te eet waarvan die diere nie self kan ontslae raak nie. Hulle eet ook ontsteekte weefsel en maaiers. Renostervoëls maak selfs ’n blaasgeluid wat hulle gashere teen moontlike gevaar waarsku.

Omdat die seekoei in water lewe, word dit deur voëls sowel as visse skoongemaak. Daar is ’n soort karp wat ’n moddervis genoem word, wat alge, dooie vel en parasiete—feitlik enigiets wat aan die seekoei vassit—“opsuig”. Hulle maak selfs sy tande en tandvleis skoon! Ander vissoorte help ook—sommige maak wonde skoon en ander gebruik hulle lang snoet om tussen die seekoei se tone en op ander moeilik bereikbare plekke skoon te maak.

Natuurlik lok visse ook ongewenste besoekers soos skaaldiere, eksterne bakterieë, swamme en luise, en hulle het soms ook beskadigde of besmette weefsel waarvan hulle ontslae moet raak. Met dié doel gaan seevisse gewoonlik na hulle plaaslike skoonmaaksentrum. Daar maak helderkleurige kleefvisse, lipvisse en skoonmakergarnale hulle goed skoon, en in ruil vir hulle moeite kry hulle ’n gratis maaltyd. Sommige groot visse het selfs ’n hele span skoonmakers!

Visse wat skoongemaak wil word, het verskillende maniere waarop hulle dit aandui. Byvoorbeeld, party neem vreemde houdings in—met hulle kop na onder en stert na bo. Of hulle hou hulle bek en kieue wawyd oop, amper asof hulle sê: “Kom binne. Ek sal nie byt nie.” Die skoonmakers is gretig om aan die werk te spring, selfs al is die vis ’n skrikwekkende roofdier soos ’n bontpaling of ’n haai. Terwyl hulle skoongemaak word, verander sommige visse van kleur, moontlik om parasiete sigbaarder te maak. In akwariums sonder skoonmakervisse word seevisse “kort voor lank vol parasiete en sieklik”, sê die boek Animal Partnerships. “Maar sodra ’n skoonmakervis in die akwarium gesit word, begin dit die visse daarin skoonmaak, en asof hulle weet wat gebeur, staan die ander tou om skoongemaak te word.”

Hoe meer ons leer, hoe meer ontsag voel ons vir die harmonie en onderlinge afhanklikheid wat ons in die lewende wêreld om ons kan sien. Soos musikante in ’n orkes, speel elke organisme sy rol om die simfonie van die lewe—insluitende menselewe—nie net moontlik nie, maar ook genotvol te maak. Dit is sekerlik ’n bewys van intelligente ontwerp en ’n Allerhoogste Ontwerper!—Genesis 1:31; Openbaring 4:11.

Die enigste bron van onenigheid

Dit is werklik hartseer dat mense dikwels ’n gebrek aan samewerking met die natuur openbaar. Anders as diere, wat meestal deur instink beheer word, word mense deur verskillende faktore beïnvloed, van liefde en ander goeie eienskappe tot haat en gierige eiebelang.

Omdat mense blykbaar al hoe meer deur laasgenoemde beheer word, is baie mense besorg oor die toekoms van ons planeet (2 Timoteus 3:1-5). Maar hulle neem nie die Skepper in ag nie. Die verwesenliking van God se voorneme met die aarde sal nie net ’n behoorlike balans in die natuur herstel nie, maar dit sal ook tot ongekende harmonie onder alle skepsele lei, insluitende mense.

[Voetnoot]

a Daar is drie algemene kategorieë van simbiose: mutualisme, wanneer albei organismes bevoordeel word; kommensalisme, wanneer een organisme bevoordeel word sonder om die ander te benadeel; en parasitisme, wanneer een organisme bevoordeel word ten koste van die ander. Hierdie artikel meld voorbeelde van mutualisme.

[Venster/Prent op bladsy 7]

’n Tweeledige organisme

Daardie korserige grys of groen vlekke wat ’n mens dikwels op rotse en boomstamme sien, is waarskynlik korsmosse. Volgens party bronne is daar tot 20 000 soorte! Korsmosse lyk dalk soos een organisme, maar in werklikheid bestaan dit uit ’n kombinasie van ’n swam en ’n wier.

Waarom verenig die twee organismes? Swamme kan nie hulle eie voedsel vervaardig nie. Deur middel van mikroskopiese draadjies verbind ’n swam homself dus aan ’n wier, wat suikers deur middel van fotosintese vervaardig. Party van hierdie suikers lek deur die wande van die wier, en dit word deur die swam geabsorbeer. Die wier ontvang op sy beurt vog van sy gasheer en word teen te veel sonlig beskerm.

Een wetenskaplike het skertsend gesê dat korsmosse “swamme is wat landbou ontdek het”. En hulle is nogal bedrewe daarmee, want volgens die boek Liaisons of Life “dek [korsmosse] tien keer meer van die aardoppervlak as tropiese reënwoude”. Hulle kom voor van die Noordpool tot die Suidpool en floreer selfs op die rûe van insekte!

[Venster/Prente op bladsy 8]

Koraal—’n Wonderwerk van simbiose

Koraalriwwe bestaan uit poliepe en wiere. Wiere word op elke beskikbare plekkie in poliepselle aangetref en gee aan koraal sy helder kleure. Hulle oortref dikwels ook die poliepe in gewig, soms met 3 tot 1, wat koraal meer van ’n plant as ’n dier maak! Die wiere se hooffunksie is egter om organiese verbindings te fotosintetiseer, waarvan hulle 98 persent aan hulle gasheer gee as “huurgeld”. Poliepe het hierdie voeding nie net nodig om te oorleef nie, maar ook om ’n rifvormende kalksteenskelet te bou.

Die wiere word op ten minste twee maniere deur die bondgenootskap bevoordeel. Eerstens, hulle kry hulle voedsel in die vorm van die poliepe se afvalprodukte—koolstofdioksied, stikstofverbindings en fosfate. Tweedens, hulle geniet die beskerming van ’n stewige skelet. Wiere het ook sonlig nodig, en daarom groei koraalriwwe in helder, goed beligte water.

Wanneer koraal aan stres blootgestel word, soos wanneer die watertemperatuur styg, verwerp die poliepe die wiere en verbleik. Daarna kan dit verhonger en doodgaan. In onlangse jare het wetenskaplikes ’n angswekkende toename in koraalverbleiking oor die hele wêreld waargeneem.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

’n Les in samewerking

Twee straalvliegtuie het deur die lug gevlieg soos voëls in formasie. Maar dit was nie ’n roetinevlug nie; dit was ’n wetenskaplike eksperiment wat gebaseer is op vroeëre studies van pelikane. Navorsers het gevind dat pelikane wat in formasie vlieg, ekstra stygkrag kry van die voëls voor hulle, wat tot gevolg het dat hulle hartklop 15 persent stadiger is as wanneer hulle alleen vlieg. Kan vliegtuie by dieselfde aërodinamiese beginsels baat vind?

Om uit te vind, het ingenieurs ’n toetsvliegtuig toegerus met gesofistikeerde elektroniese apparate wat die vlieënier in staat gestel het om sy vliegtuig binne 30 sentimeter te hou van ’n spesifieke punt ten opsigte van die voorste vliegtuig, wat sowat 90 meter voor hom was. (Sien foto.) Die gevolg? Sy straalvliegtuig het 20 persent minder lugweerstand ondervind as gewoonlik en het tot 18 persent minder brandstof gebruik. Navorsers meen dat hierdie bevindings militêre sowel as burgerlike toepassings sal hê.

[Erkenning]

Straalvliegtuie: NASA Dryden Flight Research Center; voëls: © Joyce Gross

[Prente op bladsy 5]

’n Bees se grootpens huisves ’n hele ekosisteem van bakterieë, swamme en protosoa (vergrote inlasfoto)

[Erkenning]

Inlasfoto: Melvin Yokoyama and Mario Cobos, Michigan State University

[Prent op bladsy 7]

Bye stel blomplante in staat om voort te plant

[Prent op bladsy 8, 9]

’n Koei en ’n bosluisvoël

[Prent op bladsy 10]

’n Engelvis en ’n klein skoonmakervis

[Prent op bladsy 10]

’n Gespikkelde skoonmakergarnaal op ’n seeanemoon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel