As die voedsel sou opraak
IN SOMMIGE wêrelddele neem stadsbewoners dit as vanselfsprekend aan dat daar altyd genoeg voedsel teen bekostigbare pryse te koop sal wees wanneer hulle na hulle plaaslike winkel of mark toe gaan. En as dit die geval is, dink verbruikers dalk nie eers twee keer aan waar die voedsel vandaan kom en hoe dit versprei word nie. Maar in krisistye begin mense dink aan wat dit verg om kos in hulle winkelmandjie te kry. As voedselvoorsiening om die een of die ander rede bedreig word, kan die gevolge rampspoedig wees.
Dink byvoorbeeld aan wat in een ekonomies onstabiele land in Noord-Afrika gebeur het. As gevolg van die kansellering van voedselsubsidies het die prys van brood oornag verdubbel. Uit protes hierteen het ontstoke skares die strate ingevaar, winkelvensters gebreek en banke en poskantore bestorm. Oproerigheid het regdeur die land versprei, en ’n noodtoestand is verklaar. Toe veiligheidsmagte op die skares geskiet het in ’n poging om die opstand te onderdruk, het 120 mense na bewering gesterf en is baie meer beseer.
Wat in September 2000 in Brittanje gebeur het, toon dat voedselvoorsiening selfs in ekonomies stabiele lande ’n probleem kan wees. Mense wat teen hoë brandstofpryse betoog het, het die uitgange van olieraffinaderye geblokkeer sodat afleweringsvragmotors nie kon uitkom nie. Binne ’n paar dae het vulstasies se voorraad opgeraak, motors en vragmotors het nie brandstof gehad nie en die voedselverspreidingstelsel het tot stilstand gekom. Oor die hele land was winkels en supermarkte, wat gewoonlik staatmaak op “op die nippertjie”-afleweringsdienste, se rakke leeg.
Daar is ’n aantal probleme verbonde aan voedselverspreiding in die ontwikkelende wêreld. Om verskeie redes—waaronder droogte, ekonomiese krisisse, burgerlike onrus en oorlog—“vind ondoeltreffende dienslewering en -onderbrekings baie dikwels plaas”, sê Feeding the Cities, uitgegee deur die Voedsel-en-landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (VLO). “Wanneer dit gebeur, al is die uitwerking daarvan net plaaslik of tydelik, is dit die armes wat ly.”
Ontleders meen dat vinnige stedelike groei “ontsaglike uitdagings” vir voedselverskaffers en -verspreiders sal bied. Daar word geraam dat meer as die helfte van die wêreldbevolking teen 2007 in stede sal woon. Volgens die VLO “sal die voorsiening van veilige en bekostigbare voedsel vir [stadsbewoners] soveel spanning op die voedselvoorsienings- en -verspreidingsketting plaas dat dit breekpunt sal bereik”.
Dit is uiters belangrik om kos in jou winkelmandjie en op jou tafel te kry. Hoe bestendig is die voedselvoorsieningstelsel dan? Waarom is deskundiges bekommerd dat dit breekpunt kan bereik? En sal daar ooit ’n tyd wees wanneer niemand bekommerd hoef te wees oor waar sy volgende maaltyd vandaan gaan kom nie?
[Prent op bladsy 3]
Plundering tydens ’n voedseltekort
[Erkenning]
BETAH/SIPA