Jongmense Vra . . .
Hoe kan ek ophou om myself seer te maak?
“My emosionele pyn was buite beheer. Toe vind ek iets wat ek wel kon beheer—fisiese pyn.”—Jennifer, 20.a
“As iets my ontstel het, het ek my gesny. Dit was my manier van huil. Ná die tyd het ek beter gevoel.”—Jessica, 17.
“Ek het dit nou omtrent twee weke laas gedoen. Vir my is dit ’n lang tyd. Ek dink nie ek sal ooit heeltemal ophou nie.”—Jamie, 16.
JENNIFER, Jessica en Jamie ken mekaar nie, maar hulle het baie in gemeen. Al drie het emosionele pyn ervaar. En al drie het hulle wanhoop op dieselfde manier probeer verlig. Jennifer, Jessica en Jamie het tydelike verligting gevind deur hulleself seer te maak.b
Dit klink dalk vreemd, maar selfbesering—wat snyery en selfverminking insluit—het verbasend algemeen geword onder tieners en jong volwassenes. Die National Post van Kanada sê dat die gewoonte “ouers bang maak, voorligtingsonderwysers verbaas en dokters laat kopkrap”. Dit sê ook dat selfbesering “een van die ergste verslawings kan word waarvan dokters weet”. Het jy of iemand wat na aan jou is, aan hierdie gewoonte verslaaf geraak? Indien wel, wat kan jy daaromtrent doen?
Probeer eers vasstel waarom jy voel dat jy jou moet seermaak. Onthou dat snyery meer as net ’n senuweeagtige gewoonte is. Dit is gewoonlik ’n manier om die een of ander vorm van stres die hoof te bied. Die snyer gebruik fisiese pyn om emosionele pyn te verlig. Vra jou dus af: ‘Waarom maak ek myself seer? Waaroor dink ek wanneer ek voel dat ek myself moet sny?’ Is daar ’n situasie in jou lewe—dalk waarby jou gesin of jou vriende betrokke is—wat jou ontstel?
Dit sal ongetwyfeld moed verg om so ’n selfondersoek te doen. Maar die belonings kan groot wees. Dikwels is dit die eerste stap om die gewoonte van selfbesering af te leer. Maar meer is nodig as om net uit te vind wat die oorsaak van jou gewoonte is.
Die voordele wanneer jy iemand in jou vertroue neem
As jy ’n probleem met selfbesering ontwikkel het, sal dit jou help as jy ’n volwasse vriend wat jy vertrou, van die gevoelens vertel wat jou ontstel. ’n Bybelspreuk sê: “Bekommernis druk ’n mens neer; ’n vriendelike woord vrolik hom op” (Spreuke 12:25, Die Bybel, 1983). Wanneer jy iemand in jou vertroue neem, kan dit jou die geleentheid gee om die vertroostende, vriendelike woorde te hoor wat jy nodig het.—Spreuke 25:11.
Met wie moet jy praat? Dit sal goed wees om iemand ouer as jy te kies wat bewys het dat hy of sy verstandig, volwasse en simpatiek is. Christene het die voordeel dat hulle met gemeentelike ouer manne kan praat, wat “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm . . . , soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” is.—Jesaja 32:2.
Toegegee, die gedagte dat jy jou geheim vir iemand gaan vertel, kan skrikwekkend wees. Jy voel dalk soos Sara. “Aan die begin was dit vir my moeilik om enigiemand te vertrou”, erken sy. “Ek het gedink dat wanneer mense my leer ken—wanneer hulle my regtig leer ken—hulle my sou verafsku en niks meer met my te doen sou wou hê nie.” Maar nadat Sara iemand in haar vertroue geneem het, het sy die waarheid besef van wat die Bybel in Spreuke 18:24 sê: “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer.” Sy sê: “Die geestelik volwasse Christene wat ek in my vertroue geneem het, het my nooit verwyt nie, maak nie saak wat ek vir hulle omtrent my gewoonte van selfbesering vertel het nie. Hulle het my eerder praktiese wenke gegee. Hulle het uit die Skrif met my geredeneer en my geduldig gerusgestel wanneer ek moedeloos en heeltemal waardeloos gevoel het.”
Praat gerus met iemand oor jou probleem met selfbesering. As jy voel dat jy nie van aangesig tot aangesig met iemand kan praat nie, probeer om dit in ’n brief of oor die telefoon te doen. Wanneer jy iemand in jou vertroue neem, kan dit jou werklik help om hierdie probleem te oorkom. Jennifer sê: “Die belangrikste was dat ek geweet het dat iemand regtig vir my omgee en dat daar iemand was met wie ek kon praat wanneer dit nie goed gegaan het nie.”c
Die belangrikheid van gebed
Donna het nie geweet watter kant toe nie. Aan die een kant het sy gevoel dat sy God se hulp nodig het. Aan die ander kant het sy gedink dat hy haar nie sou ondersteun voor sy nie ophou om haarself te sny nie. Wat het Donna gehelp? Een van die dinge was om na te dink oor 1 Kronieke 29:17, wat Jehovah God “’n ondersoeker van die hart” noem. “Jehovah het geweet dat ek in my hart regtig wou ophou om myself te sny”, sê Donna. “Toe ek hom in gebed om hulp begin vra het, was dit wonderlik. Ek het stadigaan al hoe sterker geword.”
Die psalmis Dawid, wat self baie teëspoed ondervind het, het geskryf: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Ja, Jehovah weet van jou lyding. Wat meer is, hy gee vir jou om (1 Petrus 5:7). As jou hart jou veroordeel, moet jy onthou dat God ‘groter is as jou hart en alles weet’. Ja, hy verstaan waarom jy jouself seermaak en waarom dit vir jou moeilik is om op te hou (1 Johannes 3:19, 20). As jy hom in gebed nader en hierdie gewoonte probeer oorkom, sal hy “jou werklik help”.—Jesaja 41:10.
Maar sê nou jy val terug in die gewoonte? Beteken dit dat jy heeltemal misluk het? Glad nie! Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.” Met hierdie Bybelvers in gedagte sê Donna: “Ek het meer as sewe keer geval, maar ek het nie moed opgegee nie.” Donna het gevind dat volharding noodsaaklik is. So ook het Karen. “Ek het geleer om dit nie as ’n mislukking te beskou as ek terugval nie, maar as ’n tydelike terugslag, en om soveel keer van voor af te begin as wat nodig is”, sê sy.
Wanneer verdere hulp nodig is
Jesus het gesê dat ‘dié wat siek is, ’n geneesheer nodig het’ (Markus 2:17). In baie gevalle moet die hulp van ’n gekwalifiseerde deskundige ingeroep word om vas te stel of die gewoonte van selfbesering deur ’n onderliggende versteuring veroorsaak word en daarna behandeling voor te skryf.d Jennifer het besluit om sulke hulp te kry, wat die ondersteuning van liefdevolle Christenopsieners aangevul het. “Die ouer manne is nie dokters nie, maar hulle het my baie ondersteun”, sê sy. “Hoewel ek partykeer nog die drang kry om myself seer te maak, kan ek dit suksesvol beheer met die hulp van Jehovah, die gemeente en die vaardighede wat ek hiervoor aangeleer het.”e
Wees verseker dat jy kan leer om hierdie gewoonte te vervang met beter maniere om probleme die hoof te bied. Bid soos die psalmis: “Vestig my voetstappe stewig in u woord, en laat niks skadeliks my oorheers nie” (Psalm 119:133). Jy sal beslis meer tevrede voel en selfrespek opbou wanneer jy hierdie gewoonte afleer sodat dit jou nie meer oorheers nie.
[Voetnote]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
b Vir meer inligting oor selfbesering—wat dit behels en die oorsake daarvan—sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom maak ek myself seer?” in die Ontwaak! van Januarie 2006.
c Jy kan oefen om jou gevoelens in woorde uit te druk deur dit soms neer te skryf. Die skrywers van die psalms in die Bybel was mense wat intense emosies ervaar het en hulle gevoelens van verwyt, woede, frustrasie en hartseer in woorde uitgedruk het. Lees gerus deur Psalm 6, 13, 42, 55 en 69 as voorbeelde hiervan.
d Soms is selfbesering die newe-effek van ’n ander toestand, soos depressie, bipolêre versteuring, obsessief-kompulsiewe steurnis of ’n eetversteuring. Ontwaak! staan nie enige spesifieke benadering tot behandeling voor nie. Christene moet seker maak dat enige behandeling wat hulle volg, nie in stryd is met Bybelbeginsels nie.
e Vorige nommers van die Ontwaak! het dinge bespreek wat dikwels agter selfbesering sit. Sien byvoorbeeld die reekse “Verstaan gemoedsversteurings” (8 Januarie 2004), “Hulp vir tieners met depressie” (8 September 2001), “Wat sit agter eetversteurings?” (22 Januarie 1999), asook die artikel “Jongmense vra . . . Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?” (8 Augustus 1992).
IETS OM OOR TE DINK
◼ Wat anders kan jy doen wanneer jy benoud voel en jy jouself wil seermaak?
◼ Wie kan jy in jou vertroue neem as jy ’n probleem het met selfbesering?
[Venster/Prente op bladsy 20]
HOE ANDER KAN HELP
Hoe kan jy ’n familielid of ’n vriendin help wat ’n probleem het met selfbesering? Aangesien die lyer dalk dringend ’n vertroueling nodig het, kan jy wys dat jy bereid is om te luister. Probeer om “’n ware metgesel” te wees wat “gebore [is] vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Toegegee, jou eerste reaksie is dalk om paniekerig te raak en daarop aan te dring dat sy dadelik ophou om haarself te sny. Maar hierdie benadering sal haar waarskynlik net van jou vervreem. Jy sal buitendien meer moet doen as om vir haar te sê dat sy moet ophou. Dit sal insig verg om die persoon wat haarself seermaak, nuwe maniere te leer om probleme te oorkom (Spreuke 16:23). Dit sal ook tyd neem. Wees dus geduldig. Wees “gou . . . om te hoor, stadig om te praat”.—Jakobus 1:19.
As jy ’n jongmens is, moet jy nie aanneem dat jy die persoon wat haarself seermaak, op jou eie kan help nie. Onthou dat daar dalk ’n onderliggende probleem of steurnis kan wees wat behandel moet word. Selfbesering kan ook lewensgevaarlik wees—selfs wanneer die persoon nie selfmoordneigings het nie. Dit sal dus wys wees om die snyer aan te moedig om die saak onder die aandag van ’n bekwame, liefdevolle volwassene te bring.
[Prente op bladsy 19]
Moet nooit die waarde daarvan onderskat om ’n geliefde in jou vertroue te neem en om te bid nie