Jongmense Vra . . .
Waarom maak ek myself seer?
“Ek het my polse so erg gesny dat ek steke moes kry. Maar ek het vir die dokter gesê dat ek my met ’n gloeilamp gesny het, wat die waarheid was—ek het net nie gesê dat ek dit moedswillig gedoen het nie.”—Sasha, 23.
“My ouers het my snye gesien, maar net dié wat soos krapmerke lyk en nie so erg is nie. . . . Partykeer sien hulle een wat hulle nog nie vantevore gesien het nie, en dan dink ek ’n verskoning uit. . . . Ek wil nie hê hulle moet weet nie.”—Ariel, 13.
“Vandat ek 11 jaar oud was, het ek myself seergemaak. Ek het geweet dat God groot waarde aan die menseliggaam heg, maar selfs dit kon my nie keer nie.”—Jennifer, 20.
MISKIEN ken jy iemand soos Sasha, Ariel of Jennifer.a Dalk is dit ’n skoolmaat. Dalk is dit jou broer of suster. Dalk is dit jy. Daar word geskat dat daar in die Verenigde State alleen miljoene mense is—baie van hulle jongmense—wat hulleself op verskillende maniere moedswillig seermaak, soos deur hulleself te sny, te brand, te kneus of hulle vel te krap.b
Hulleself moedswillig seermaak? In die verlede sou baie mense sulke gedrag met die een of ander vreemde gier of kultus verbind het. Maar in onlangse jare het kennis oor selfbesering—wat snyery of selfverminking insluit—drasties toegeneem. Klaarblyklik was daar ook ’n drastiese toename in die aantal mense wat erken dat hulle die probleem het. “Elke klinikus sê dat dit meer voorkom”, sê Michael Hollander, die direkteur van ’n behandelingsentrum in die Verenigde State.
Selfbesering is selde noodlottig, maar dit is gevaarlik. Kyk byvoorbeeld na Beth. “Ek gebruik ’n skeermes wanneer ek myself seermaak”, sê sy. “Ek is al twee keer in die hospitaal opgeneem. Eenkeer moes ek na die ongevalleafdeling toe gaan omdat ek ’n diep sny gehad het.” Soos baie lyers, het Beth selfs as ’n volwassene aangehou om haarself seer te maak. “Ek doen dit vandat ek 15 jaar oud is, en ek is nou 30”, sê sy.
Het jy of iemand wat jy ken, ’n slagoffer van selfbesering geword? Indien wel, moenie moed opgee nie. Hulp is beskikbaar. In die volgende nommer van die Ontwaak! gaan ons bespreek hoe mense wat hulleself seermaak, gehelp kan word.c Maar dit sal goed wees as ons eers kyk na die mense wat die siekte ontwikkel en die redes waarom hulle hulleself seermaak.
Mense uit verskillende agtergronde
Dit is moeilik om mense wat hulleself seermaak—of snyers, soos hulle soms genoem word—in ’n enkele kategorie te plaas. Party kom uit probleemgesinne en ander uit stabiele, gelukkige gesinne. ’n Aantal doen nie baie goed op skool nie, maar baie presteer besonder goed. Dikwels gee persone wat hulleself seermaak, geen of min aanduidings dat hulle ’n probleem het, want iemand wat teëspoed verduur, wys dit nie altyd nie. Die Bybel sê: “Selfs onder gelag kan die hart pyn ly.”—Spreuke 14:13.
Verder verskil die graad van selfbesering ook van persoon tot persoon. In een studie is daar byvoorbeeld bevind dat party mense hulle net een keer per jaar sny, terwyl ander dit gemiddeld twee keer per dag doen. Interessant genoeg, meer mans maak hulleself seer as wat vroeër gedink is. Nogtans kom die probleem meestal onder jong meisies voor.d
Selfs al kom party persone wat hulleself seermaak, uit verskillende agtergronde, het van hulle blykbaar sekere dinge in gemeen. Een ensiklopedie oor jongmense sê: “Adolessente wat hulleself seermaak, voel dikwels hulpeloos, vind dit moeilik om hulle emosies teenoor ander uit te spreek, voel afgesonderd of vervreemd, voel bang en het ’n swak selfbeeld.”
Party mense sal natuurlik sê dat daardie beskrywing by amper enige jongmens pas wat te kampe het met die vrese en onsekerhede van grootword. Maar vir die persoon wat haarself seermaak, is die stryd baie intens. Die onvermoë om kwellende gevoelens in woorde uit te druk en met ’n vertroueling daaroor te gesels, kan die druk van skool, die eise van die werk of die konflikte by die huis oorweldigend laat voel. Sy kan nie ’n oplossing sien nie en voel dat sy niemand het om mee te praat nie. Dit voel of die spanning ondraaglik is. Uiteindelik ontdek sy iets: Deur haarself fisies seer te maak, is dit asof sy in sekere mate verligting vind van haar emosionele pyn, en sy voel dat sy met haar lewe kan voortgaan—al is dit net tydelik.
Waarom gebruik die snyer liggaamlike pyn om emosionele pyn te probeer verlig? Ter toeligting: Dink aan wat gebeur wanneer jy in ’n dokter se spreekkamer is en ingespuit gaan word. Het jy al ooit agtergekom dat jy, wanneer die dokter jou ’n inspuiting gee, jou vel knyp of dit miskien met jou nael druk om jou aandag van die prik van die naald af te trek? Dit is soortgelyk aan wat iemand doen wat haarself seermaak, hoewel dit baie ernstiger is. Wanneer sy haarself sny, voorsien dit ’n mate van verligting van die emosionele pyn deurdat dit haar aandag daarvan aftrek. En die emosionele pyn is so erg dat die fisiese pyn, in vergelyking daarmee verkieslik is. Miskien is dit waarom een lyer snyery beskryf het as “medisyne vir my vrese”.
“’n Manier om stres die hoof te bied”
Vir diegene wat nie met die toestand bekend is nie, lyk selfbesering dalk soos ’n selfmoordpoging. Maar dit is gewoonlik nie die geval nie. “Oor die algemeen wil hierdie mense net ’n einde maak aan hulle pyn, nie aan hulle lewe nie”, skryf Sabrina Solin Weill, die uitvoerende redakteur van ’n tienertydskrif. Om dié rede noem een naslaanwerk selfbesering “’n ‘lewensredder’ eerder as ’n manier om selfmoord te pleeg”. Dit noem die gewoonte ook “’n manier om stres die hoof te bied”. Watter soort stres?
Daar is al gevind dat baie mense wat hulleself seermaak, die een of ander soort trauma, soos kindermolestering of -verwaarlosing, deurgemaak het. By ander is gesinsprobleme of ’n ouer wat ’n alkoholis is, die oorsaak. By party is dit as gevolg van ’n geestesversteuring.
Daar kan ook ander probleme wees. Sara het byvoorbeeld geworstel met wat sy selfpynigende perfeksionisme noem. Hoewel sy ernstige foute gemaak het en hulp ontvang het van Christen- ouer manne, het sy uiters skuldig gevoel oor haar daaglikse onvolmaakthede. “Ek het gedink dat ek ‘streng’ op myself moes word”, sê Sara. “Selfbesering was vir my net selfdissipline. My ‘selfdissipline’ het ingesluit dat ek my hare uittrek, my polse en arms sny, myself slaan en diep kneusplekke veroorsaak, myself straf deur dinge te doen soos om my hand onder vuurwarm water te hou, sonder ’n baadjie buite in die ysige koue te sit of ’n hele dag lank niks te eet nie.”
Die feit dat Sara haarself seergemaak het, was ’n aanduiding van diep selfhaat. “Daar was tye dat ek geweet het dat Jehovah my vir my sondes vergewe het”, sê sy, “maar ek wou nie hê hy moes dit doen nie. Ek wou ly omdat ek myself soveel gehaat het. Hoewel ek geweet het dat Jehovah nooit ’n plek van pyniging soos die Christendom se hel sou skep nie, wou ek hê dat hy so ’n plek net vir my moes maak.”
“Kritieke tye”
Party wonder dalk waarom hierdie ontstellende gewoonte eers in onlangse dekades aan die lig gekom het. Maar Bybelstudente weet dat ons nou in “kritieke tye [lewe] wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Daarom is hulle nie verbaas om te hoor dat mense—insluitende jongmense—gedrag openbaar wat moeilik is om te verklaar nie.
Die Bybel erken dat “verdrukking . . . ’n wyse waansinnig [kan] laat optree” (Prediker 7:7). Die uitdagings van adolessensie—wat in sommige gevalle gepaard gaan met tragiese lewensondervindinge—kan die grondslag lê vir ’n patroon van skadelike gedrag, insluitende selfbesering. ’n Jongmens wat afgesonder voel en glo dat sy niemand het om mee te praat nie, sal haarself dalk begin sny om verligting te probeer vind. Maar enige verligting wat selfbesering jou skynbaar bied, is van korte duur. Vroeër of later keer die probleme, en so ook die selfbesering, terug.
Diegene wat hulleself seermaak, wil gewoonlik ophou, maar hulle vind dit baie moeilik. Hoe het party dit reggekry om die gewoonte van selfbesering af te leer? Dit sal in die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ophou om myself seer te maak?” in die Ontwaak! van Februarie 2006 bespreek word.
[Voetnote]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
b Selfbesering moenie verwar word met tatoeëring of met die gebruik om gaatjies deur die vel te steek (body piercing) nie. Hierdie gebruike het gewoonlik meer te doen met mode as met kompulsiewe gedrag. Sien die Ontwaak! van 8 Augustus 2000, bladsye 18-9.
c Levitikus 19:28 sê: “Julle mag geen snye in julle vlees maak vir ’n afgestorwe siel nie.” Hierdie heidense gebruik—klaarblyklik om die gode wat na bewering oor die dooies geheers het, te paai—is anders as die gewoonte van selfbesering wat hier bespreek word.
d Om dié rede sal ons na persone wat aan hierdie toestand ly, as vroulik verwys. Die beginsels wat bespreek word, geld nogtans vir al twee geslagte.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Waarom maak party jongmense hulleself seer?
◼ Kan jy, nadat jy hierdie artikel gelees het, aan ’n paar beter maniere dink om ontstellende gevoelens die hoof te bied?
[Lokteks op bladsy 11]
“Selfs onder gelag kan die hart pyn ly.”—Spreuke 14:13
[Lokteks op bladsy 11]
“Oor die algemeen wil hierdie mense net ’n einde maak aan hulle pyn, nie aan hulle lewe nie”
[Lokteks op bladsy 12]
Ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”.—2 Timoteus 3:1