’n Boon wat ’n wêreldreisiger was
Die verhaal van een man se toegewydheid aan ’n koffieboompie is al beskryf as “die romantiesste hoofstuk in die geskiedenis van die verspreiding van die koffieboom”, sê die boek “All About Coffee”. Daardie enkele boompie het ’n belangrike rol gespeel in die ontstaan van die hedendaagse koffiebedryf, wat ’n jaarlikse omset van R455 miljard het en volgens die tydskrif “Scientific American” slegs deur petroleum oortref word in terme van dollars wat wêreldwyd verhandel word.
DIE fassinerende verhaal van koffie begin in die hooglande van Etiopië, waarvandaan die wilde koffieboom oorspronklik kom. Die bome wat daarvan afgestam het, word Coffea arabica genoem, en dit lewer twee derdes van die wêreldproduksie. Daar bestaan egter onsekerheid oor presies wanneer die eienskappe van die geroosterde boon ontdek is. Nietemin is arabica-koffie teen die 15de eeu G.J. op die Arabiese Skiereiland verbou. Ondanks ’n verbod op die uitvoer van die vrugbare boon het die Nederlanders in die jaar 1616 bome of lewensvatbare sade bekom. Kort voor lank het hulle plantasies in Ceylon, nou Sri Lanka, en Java, nou deel van Indonesië, aangeplant.
In 1706 het die Nederlanders ’n jong boom van hulle plantasies in Java na die botaniese tuin in Amsterdam, Nederland, geneem. Die boom het gefloreer. Die bome wat daarvan afgestam het, is toe na Nederlandse kolonies in Suriname en op die Karibiese Eilande verskeep. In 1714 het die burgemeester van Amsterdam een van hierdie bome aan koning Lodewyk XIV van Frankryk gegee. Die koning het dit in ’n kweekhuis laat plant in die Jardin des Plantes, die Koninklike Tuin, in Parys.
Die Franse was gretig om met koffie te begin handel dryf. Hulle het sade en bome gekoop en dit na die eiland Réunion verskeep. Die sade het nie ontkiem nie, en volgens party gesaghebbendes het al die bome behalwe een uiteindelik doodgegaan. Maar in 1720 is 15 000 sade van daardie enkele boom geplant, en ’n plantasie is uiteindelik gevestig. Hierdie bome was so waardevol dat enigiemand wat een van hulle afgekap het, die doodstraf kon kry! Die Franse het ook gehoop om plantasies op die Karibiese Eilande aan te plant, maar hulle eerste twee pogings het misluk.
Gabriel Mathieu de Clieu, ’n Franse vlootoffisier wat in Parys met verlof was, was vasbeslote om op sy terugreis van Frankryk af ’n boom na sy plantasie op Martinique te neem. Hy het in Mei 1723 na die eiland gevaar met ’n boom wat afgestam het van die boom in Parys.
De Clieu het vir die reis sy kosbare boom in ’n houer gesit wat gedeeltelik van glas gemaak was sodat die boom sonlig kon kry en warm kon bly op bewolkte dae, verduidelik All About Coffee. ’n Medepassasier, wat moontlik jaloers was op De Clieu en nie wou hê dat hy sukses moes behaal en roem moes verwerf nie, het die boom by hom probeer afneem, maar het nie daarin geslaag nie. Die boom het dit oorleef. Dit het ook ’n aanval deur Tunisiese seerowers oorleef, asook ’n hewige storm en, die ergste van alles, ’n tekort aan vars water toe die skip stil gelê het in die windstiltestreek. “Daar was so min water”, het De Clieu geskryf, “dat ek meer as ’n maand lank my karige rantsoen moes deel met die boom waarvan ek hoë verwagtings gehad het en wat die bron van my vreugde was.”
De Clieu se toegewydheid is beloon. Die koffieboom het gesond op Martinique aangekom, en dit het gefloreer en vermeerder in die tropiese klimaat. “Van hierdie enkele boom het Martinique direk of indirek saad voorsien aan al die lande van die Amerikas behalwe Brasilië, Frans-Guiana en Suriname”, sê Gordon Wrigley in sy boek Coffee.
Intussen wou Brasilië en Frans-Guiana ook koffiebome hê. In Suriname het die Nederlanders nog steeds bome gehad wat van die boom in Amsterdam afgestam het, maar hulle het dit streng bewaak. Frans-Guiana het egter in 1722 sade gekry van ’n misdadiger wat na Suriname ontsnap het en ’n paar sade gesteel het. Die owerheid in Frans-Guiana het ingestem om hom sy vryheid te gee in ruil vir die sade, en hulle het hom gerepatrieer.
Aanvanklike, slinkse pogings om lewensvatbare sade of saailinge na Brasilië te neem, het misluk. Toe het Suriname en Frans-Guiana in ’n grensgeskil gewikkel geraak en Brasilië gevra om ’n bemiddelaar te stuur. Brasilië het Francisco de Melo Palheta, ’n leëroffisier, na Frans-Guiana gestuur met die opdrag om die geskil op te los en om ’n paar koffiebome terug te bring.
Die samesprekings was ’n sukses, en die goewerneur het ’n afskeidsbanket vir Palheta gehou. As ’n blyk van waardering vir hierdie eregas het die goewerneur se vrou ’n pragtige ruiker aan Palheta oorhandig. Maar tussen die blomme was lewensvatbare koffiesade en -saailinge versteek. Daar kan dus gesê word dat Brasilië se koffiebedryf, wat vandag ’n omset van miljarde rande het, in 1727 in ’n ruiker begin het.
Al die koffiebome in Sentraal- en Suid-Amerika stam dus af van die jong boom wat in 1706 van Java na Amsterdam geneem is, asook die boom in Parys wat daarvan afgestam het. Wrigley verduidelik: “Gevolglik is die hele genetiese basis van die arabica-koffiebedryf baie klein.”
Vandag word sowat 15 miljard koffiebome op meer as 25 miljoen gesinsplase in ongeveer 80 lande verbou. Hulle opbrengs word gebruik om die 2,25 miljard koppies koffie te maak wat elke dag gedrink word.
Dit is ironies dat probleem deesdae oorproduksie van koffie is. Hierdie situasie word gekompliseer deur politieke en ekonomiese beleide en magtige kartelle, wat daartoe gelei het dat koffieboere in baie lande behoeftig of selfs brandarm is. Hierdie situasie is verstommend, veral wanneer ons dink aan De Clieu wat byna 300 jaar gelede sy kosbare rantsoen water met ’n enkele boompie gedeel het.
[Venster op bladsy 20]
DIE TWEE ALGEMEENSTE KOFFIESOORTE
“Rou koffiebone is die sade van plante van die Rubiaceae-familie, wat bestaan uit ten minste 66 soorte van die genus Coffea”, sê die tydskrif Scientific American. “Die twee soorte wat kommersieel benut word, is Coffea arabica, wat twee derdes van die wêreldproduksie lewer, en C[offea] canephora, dikwels robusta-koffie genoem, wat ’n derde van die wêreldproduksie lewer.”
Robusta-koffie het ’n skerp geur en word gewoonlik in oplosbare vorm in kitskoffie gebruik. Die boom lewer ’n goeie opbrengs en is bestand teen siekte. Dit word sowat 12 meter hoog, twee keer so hoog soos die ongesnoeide, delikater arabica-boom wat nie so ’n goeie opbrengs lewer nie. Kafeïen maak tot 2,8 persent van die robusta-boon se gewig uit, terwyl dit in die geval van die arabica-boon nooit meer as 1,5 persent is nie. Hoewel arabica 44 chromosome het en robusta en al die wilde koffiesoorte 22, is party al met ander gekruis om hibriede voort te bring nie.
[Venster/Prent op bladsy 20]
KOFFIE WORD “GEDOOP”
Toe koffie aanvanklik in die 17de eeu in Europa aangekom het, het sommige Katolieke priesters dit as ’n brousel van Satan gebrandmerk. Hulle het dit beskou as ’n potensiële plaasvervanger vir wyn, wat volgens hulle deur Christus geheilig is. Pous Klemens VIII het egter na bewering die drankie geproe en dadelik daarvan gehou, sê die boek Coffee. Hy het die godsdiensdilemma opgelos deur die koffie simbolies te doop, wat dit vir Katolieke aanvaarbaar gemaak het.
[Tabel/Kaart op bladsy 18, 19]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
HOE KOFFIE VERSPREI HET
1. 1400’s Arabica-koffie word op die Arabiese Skiereiland verbou
2. 1616 Die Nederlanders bekom koffiebome of lewensvatbare sade
3. 1699 Die Nederlanders neem bome na Java en ander
Oos-Indiese eilande
4. 1700’s Koffie word in Sentraal-Amerika en op die Karibiese
Eilande verbou
5. 1718 Die Franse neem koffie na Réunion
6. 1723 G. M. de Clieu neem ’n koffieboom van Frankryk na
Martinique
7. 1800’s Koffie word in Hawaii verbou
[Erkenning]
Bron: Uit die boek “Uncommon Grounds”
[Prent op bladsy 18, 19]
Gabriel Mathieu de Clieu deel sy drinkwater met ’n koffieboompie op pad na Martinique, 1723
[Foto-erkennings op bladsy 19]
Kaart: © 1996 Visual Language; De Clieu: Tea & Coffee Trade Journal