Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/06 bl. 25-27
  • ’n Buitengewoon pragtige tradisionele tuin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Buitengewoon pragtige tradisionele tuin
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Miniatuurreënwoud
  • Voel die aantrekkingskrag
  • Ons liefde vir tuine
    Ontwaak!—1997
  • Kos uit jou eie tuin
    Ontwaak!—2003
  • ’n Kykie na ’n paar welbekende tuine
    Ontwaak!—1997
  • ’n Pragtige tuin
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 5/06 bl. 25-27

’n Buitengewoon pragtige tradisionele tuin

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GUADELOUPE

HULLE het in ’n pragtige plek gewoon, maar kon dit nie geniet nie. Vanaf die 17de eeu was dít die lot van duisende ongelukkige Afrikane wat uit hulle tuislande na Guadeloupe en Martinique ontvoer is. Hulle sou die res van hulle lewe as slawe op die suikerrietplantasies van hierdie Karibiese eilande werk.

Baie plantasie-eienaars op die eilande het verwag dat die slawe hulle eie kos moet voorsien, en gevolglik het die slawe tuine aangelê. Hulle het beslis nie meer werk nodig gehad nie, maar hulle kon ten minste voedsel kweek waarvan hulle gehou het. Hulle het maniok, jams en ander voedselgewasse gekweek wat beter geproe het en voedsamer was as enigiets wat hulle van hulle eienaars sou ontvang het. Hulle het ook medisinale kruie gekweek, sowel as speserye om mee te kook.

In 1848 het die Franse regering slawerny op die eilande afgeskaf, maar die pas bevryde burgers het nog steeds hulle tuine aangelê. Vandag bewerk die mense van Guadeloupe en Martinique, waarvan baie nakomelinge van daardie hardwerkende Afrikane is, nog steeds tuine wat vandag Kreoolse tuine genoem word.

’n Miniatuurreënwoud

Die slawehuishoudings het gewoonlik twee soorte tuine gehad. Die groentetuin was gewoonlik ’n ent van die huis af. Die “huistuin” (of, jardin de case, soos dit plaaslik bekend staan) was langs die huis, en dit is waar die tipiese Kreoolse tuin van vandag gevind word. Sulke tuine is dig begroei met blomme, grasse, bome en struike wat so ruig soos ’n reënwoud kan wees. Aangesien plante al die beskikbare plek in beslag neem, is jou eerste indruk dalk dié van ’n pragtige deurmekaarspul. Hierdie tuin is egter goed uitgelê en in seksies verdeel. Smal paadjies gee die tuinier toegang tot al sy plante.

Die tuin strek van agter die huis tot voor, waar dit as ’n pragtige ontvangsarea gebruik word. Besoekers word verwelkom tussen pragtige krotons, gouetrompetrankers en die helderkleurige blare van bougainvilleas en bosvlamme.

Ander gedeeltes van die Kreoolse tuin, gewoonlik dié in die skadu van die huis, bevat medisinale plante. Basielkruid, kaneel, bokkruid (goatweed), baybessieblare en paraffienbos is deel van die tradisionele eilandapteek. Lemoengras groei ook in die tuin, en wanneer die gedroogde blare daarvan gebrand word, hou dit die muskiete weg.

Baie mense op die eilande is trots op hulle kennis van medisinale plante. In die verlede, wanneer iemand siek geword het of beseer is, was die dokter dikwels ver weg. Die kruie van die Kreoolse tuin het die mense dus in staat gestel om hulle eie gesondheidsprobleme te behandel. Hierdie plante word nog steeds as geneesmiddels gebruik, maar selfbehandeling kan gevaarlik wees. Kruie wat verkeerd gebruik word, kan die pasiënt se toestand laat vererger eerder as om dit te genees. Hedendaagse inwoners van die eilande laat dus hulle mediese sorg oor aan diegene wat opgelei is in die geneeskunde.

Die hoofdeel van ’n Kreoolse tuin, die deel agter die huis, word opsygesit vir voedselgewasse. Daar sal jy jams, eierplante, mielies, ’n soort spinasie, blaarslaai en ander gewasse vind, asook die speserye wat saam met daardie kossoorte gaargemaak word. Piesangbome groei dalk ook daar, en jy sal moontlik broodbome sowel as avokado-, koejawel- of mangobome sien.

Voel die aantrekkingskrag

Wanneer jy verby ’n Kreoolse tuin loop, sal jy dit dalk van naderby wil bekyk. Sodra jy in die tuin is, kan jy die blomme en blare bewonder terwyl die son op hulle helder kleure skyn. Die briesie dra ook ’n mengsel van reuke wat lekkerder as gebottelde parfuum ruik. Ja, jy verlustig jou in die tuin, en jy is maar net ’n besoeker. Stel jou voor hoeveel die huisbewoner wat daardie tuin aangelê het en elke dag daarin tyd deurbring, dit geniet!

Sal die Kreoolse tuin bly voortbestaan? Sommige eilandbewoners kla dat die jongmense nie daarin belangstel om hierdie aantreklike en nuttige tradisie te bewaar nie. Nogtans beskou baie jongmense, sowel as ouer persone, die tuin se prag en sy kulturele betekenis as iets kosbaars. Elke Kreoolse tuin is ’n herinnering aan hoe slawe uit Afrika die beste van hulle slegte omstandighede gemaak het.

[Venster op bladsy 27]

WAT BETEKEN “KREOOLS”?

Die woord “Kreool” het oorspronklik verwys na mense van Europese afkoms wat in die Nuwe Wêreld gebore is, maar dit het deesdae verskillende betekenisse. Party Haïtiane gebruik “Kreools” om iets te beskryf wat baie aantreklik of van hoë gehalte is. Sommige tale in Jamaika, Haïti en ander plekke word Kreools genoem. Eenvoudig gestel is kreools ’n taal wat ontwikkel het uit ’n pidgintaal maar die moedertaal geword het van ’n sekere groep sprekers.

“Kreools” kan ook ’n spesifieke lewenswyse aandui, naamlik die inheemse kultuur wat op talle Karibiese eilande ontwikkel het. In Puerto Rico en die Dominikaanse Republiek het die verwante Spaanse woord criollo hierdie konnotasie. In die Karibiese Eilande het die nakomelinge van inboorlinge, Afrikane en Europeërs deur die jare heen met mekaar gemeng en ondertrou, wat pragtige kinders en interessante tradisies tot gevolg gehad het. Dit is in die gees van sulke tradisies dat die Kreoolse tuin van Guadeloupe en Martinique sy naam gekry het.

[Prente op bladsy 26]

Inlasfoto’s (van bo): alpinia, peper, pynappel, kakao en koffie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel