Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/8 bl. 4-7
  • ’n Kykie na ’n paar welbekende tuine

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kykie na ’n paar welbekende tuine
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë tuine
  • Van Arabiese tuine tot Engelse tuine
  • Landskappe van die Ooste
  • ’n Universele liefde
  • Ons liefde vir tuine
    Ontwaak!—1997
  • Kos uit jou eie tuin
    Ontwaak!—2003
  • Japannese tuine—die natuur in miniatuur
    Ontwaak!—1993
  • Sal jy die lewe in ’n paradys aanvaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/8 bl. 4-7

’n Kykie na ’n paar welbekende tuine

DIE mens se eerste ondervinding van ’n paradys was in ’n tuin wat in ’n gebied met die naam Eden geleë was, moontlik naby die Wan-meer, in hedendaagse Turkye. ’n Rivier wat in vier riviere vertak het, het die tuin natgemaak vir Adam en Eva, wat dit moes ‘bewerk en bewaak’. Watter genot sou dit tog wees om ’n tuin te bewerk waarin daar ’n oorvloed was van ‘bome wat begeerlik is om te sien en goed om van te eet’!—Genesis 2:8-15.

Eden was ’n volmaakte tuiste. Adam en Eva en hulle nakomelinge moes die grense daarvan uitbrei, deur heel waarskynlik God se uitstekende oorspronklike ontwerp as hulle model te gebruik. Mettertyd sou die hele aarde ’n paradys wees wat vol, maar nie oorvol nie, sou wees. Die opsetlike ongehoorsaamheid van ons eerste ouers het egter veroorsaak dat hulle uit hierdie veilige hawe gesit is. Ongelukkig is alle ander mense buite hierdie tuiste in Eden gebore.

Die mens is nietemin deur die Skepper gemaak om in die Paradys te lewe. Dit was dus natuurlik dat toekomstige geslagte hulle deur nabootsings daarvan sou probeer omring.

Vroeë tuine

Die Hangende Tuine van Babilon is as een van die wonders van die antieke wêreld bestempel. Dit is meer as 2500 jaar gelede deur koning Nebukadnesar gebou vir sy Mediese vrou wat na die woude en heuwels van haar vaderland verlang het. Hierdie 22 meter hoë trapvormige struktuur van booggewelwe, almal met welige plantegroei, het genoeg grond gehad om groot bome te kweek. Die koningin, wat met heimwee vervul was, is waarskynlik vertroos terwyl sy deur hierdie terrasvormige, Edenagtige gebied gewandel het.

Tuinontwerp was gewild in die vrugbare Nylvallei in Egipte. “Egipte”, sê The Oxford Companion to Gardens, “is die oorsprong van die wêreld se oudste prente van tuine en die ligging van ’n besonder lang . . . tradisie van tuinbou.” Op ’n uitlegplan van ’n tuin wat aan ’n Egiptiese amptenaar in Thebe behoort het en uit omstreeks 1400 v.G.J dateer, is daar dammetjies, lanings en tuinpaviljoene. Naas koninklike tuine was tempeltuine die weligste, met hulle boomgroepe, blomme en kruie wat deur kanale uit dammetjies en mere natgelei is en wat vol watervoëls, visse en lotusblomme was.—Vergelyk Exodus 7:19.

Die Perse het ook vroeg naam gemaak in die wêreld van tuine. Die tuine van Persië en Egipte was so asemrowend dat Aleksander die Grote se seëvierende leërs in die vierde eeu v.G.J. na Griekeland teruggekeer het met ’n hele hoop sade, plante en idees. In Atene het Aristoteles en sy leerling Teofrastos die groeiende lys flora versamel en ’n botaniese tuin aangelê om plante te bestudeer en te klassifiseer. Talle ryk Grieke het, soos die Egiptenare en Perse voor hulle, welige tuine gehad.

Romeinse stadsbewoners het huis en tuin een laat word in die beperkte ruimte van die stad. Die rykes het pragtige lushowe by hulle landhuise laat aanbring. Selfs die tiran Nero wou sy Eden hê; hy het dus honderde gesinne meedoënloos uitgesit, hulle huise gesloop en ’n privaat park van meer as 50 hektaar om sy paleis aangelê. Later, omstreeks 138 G.J., by keiser Hadrianus se landhuis in Tivoli, het Romeinse tuinaanleg sy hoogtepunt bereik. Die landhuis het 243 hektaar parke, damme, mere en fonteine gehad.

Die eertydse Israeliete het ook tuine en parke gehad. Die Joodse geskiedskrywer Josefus skryf van pragtige parke met baie strome by ’n plek met die naam Etam, sowat 13 tot 16 kilometer van Jerusalem af. Etam se parke was moontlik deel van die ‘tuine, parke, damme en bos’ wat Salomo volgens die Bybel ‘vir hom gemaak het’ (Prediker 2:5, 6). Net buite Jerusalem op die Olyfberg was die Tuin van Getsemane, wat vanweë Jesus Christus welbekend geword het. Hier het Jesus ’n toevlugsoord gevind waar hy sy dissipels rustig kon onderrig.—Matteus 26:36; Johannes 18:1, 2.

Van Arabiese tuine tot Engelse tuine

Toe Arabiese leërs in die sewende eeu G.J. oos- en weswaarts versprei het, het hulle, soos Aleksander, op die tuine van Persië afgekom. (Vergelyk Ester 1:5.) “Die Arabiere”, skryf Howard Loxton, “het gevind dat die Persiese tuine baie soos die paradys was wat in die Koran aan die getroues beloof is.” Soos sy Persiese model, was die tipiese Arabiese tuin, van Moorse Spanje tot Kasjmir, in vier dele verdeel deur vier strome wat in die middel bymekaargekom het by ’n dam of ’n fontein, wat ’n mens aan die vier riviere van Eden laat dink.

In die noorde van Indië, by die Dal-meer in die pragtige Kasjmir-vallei, het 17de-eeuse Mongoolse heersers meer as 700 paradysagtige tuine aangelê. Dit het ’n skitterende kleurpalet gevorm wat onderbreek is deur honderde fonteine, terrasse en watervalle. Die swart marmerpaviljoen wat op die oewer van die Dal-meer deur sjah Jahan (bouer van die Taj Mahal) gebou is, het steeds die inskripsie: “As daar ’n paradys op die aarde is, is dit hier, is dit hier, is dit hier.”

’n Paar eeue tevore het Europa van die Middeleeue na die 14de-eeuse Renaissance oorgegaan. Die tuinmaaktradisie van Rome, wat vertrap is toe die Middeleeue in die vyfde eeu G.J. begin het, het weer begin bloei—dié keer onder beheer van die kerk. Die Christendom het die tuin as ’n ‘voorlopige paradys’ beskou. Op ’n negende-eeuse plan van ’n klooster is daar twee tuine wat “Paradys” genoem is. Die Christendom se tuine het weldra groter en mooier geword, maar pleks dat dit geestelike ideale weerspieël het, het baie van hulle simbole van mag en rykdom geword.

Toe Karel VIII van Frankryk in 1495 Napels, Italië, verower het, het hy huis toe geskryf: “Julle sal nie glo watter pragtige tuine ek in hierdie stad het nie . . . Dit lyk of net Adam en Eva nodig is om dit ’n aardse paradys te maak.” Maar as Karel tot in die 17de eeu gelewe het, sou hy die uitgestrekte tuine van koning Lodewyk XIV op Franse bodem gesien het. Die boek The Garden beweer dat die tuine by die paleis van Versailles “steeds daarop aanspraak kan maak dat dit die wêreld se grootste en mooiste is”.

Die Renaissance het egter ’n nuwe definisie van paradys gehad: die natuur moet diensbaar wees aan die verligte mensdom wat die tuin in orde moet bring deur dit van alle woestheid te suiwer. Bome en blomme is almal in presiese meetkundige vorme geplant. Die vroeë Romeinse snoeikuns—die kuns om bome en struike te vorm deur dit te knip en op te lei—het dus ’n ongelooflike oplewing gehad.

Toe, in die 18de en 19de eeu, het ontdekkingsreise en seehandel nuwe plante en tuinmaakidees aan die westerse wêreld voorgestel. Dit was nou Engeland se beurt om tuinaanleg op die voorgrond te bring. “In 18de-eeuse Engeland”, sê The New Encyclopædia Britannica, “het die mens al hoe meer bewus geword van die sigbare wêreld waarvan hy deel uitmaak. Hy het daaraan begin dink om eerder sy eie lewe by die sigbare wêreld aan te pas as om sy mensgemaakte meetkundige orde daarop af te dwing.” Manne soos William Kent en Lancelot Brown het uitgeblink in tuinaanleg. Brown het meer as tweehonderd landgoedere in Engeland uitgelê. Twee manne wat presidente van die Verenigde State geword het, Thomas Jefferson en John Adams, het in 1786 deur Engeland gereis om Engelse tuine te bestudeer.

Landskappe van die Ooste

China se tuinmaaktradisie is vir die Oosterse beskawing wat die tradisies van Egipte, Griekeland en Rome vir die Westerse beskawing is. Die Chinese het oorspronklik ’n animistiese godsdiens beoefen, waarin riviere, rotse en berge alles as verstoflikte geeste beskou is en dus gerespekteer moes word. Later het Taoïsme, Confucianisme en Boeddhisme vinnig deur die land versprei en hulle eie vorme van tuine voortgebring.

Aan die ander kant van die Japanse See het Japannese tuine hulle eie styl ontwikkel, waar die vorm belangriker as die kleur is en elke item sy presiese plek het. In ’n poging om, in ’n beperkte gebied, die natuur se estetika en verskeidenheid weer te gee, sal die tuinier sy rotse met groot sorg plaas en sy tuin met absolute presiesheid aanlê en snoei. Dit kan duidelik gesien word met bonsai (wat “potplant” beteken), die kuns om ’n dwergboompie of miskien ’n boomgroep in ’n presiese vorm en verhouding te snoei.

Hoewel die styl van die Oosterse tuin van sy Westerse ekwivalent verskil, weerspieël dit ook ’n hunkering na die Paradys. Gedurende die Heian-tydperk in Japan (794-1185), skryf Japannese tuinhistorikus Wybe Kuitert, het tuiniers die atmosfeer van ’n “paradys op aarde” probeer skep.

’n Universele liefde

Met inbegrip van selfs stamme wat jagter-insamelaars was en in “natuurlike” tuine—oerwoude, bosse en grasvelde—gewoon het, is die liefde vir tuine universeel. Wat “die Asteke van Mexiko en die Inkas van Peru” betref, sê die Britannica: “Die veroweraars het vertel van pragtuine met terrasvormige heuwels, boomgroepe, fonteine en vywers . . . , baie soos eietydse tuine in die Weste.”

Ja, eertydse boomgroepe langs die Nyl, landskappe van die Ooste, hedendaagse stadsparke en botaniese tuine—wat openbaar dit? Die mens se hunkering na die Paradys. Skrywer Terry Comito het oor hierdie blywende “verlange na die Paradys” gesê: “Tuine is plekke waarin die mens weer huis toe kom.” En watter mens sal nie daarvan hou om te sê nie: ‘My huis is soos die Tuin van Eden’? Maar is ’n aardwye Eden—en nie net vir die rykes nie—slegs ’n droom? Of is dit ’n toekomstige gewisheid?

[Prent op bladsy 7]

Kunstenaarsvoorstelling van die Hangende Tuine van Babilon

[Prent op bladsy 7]

’n Klassieke tuin in Japan

[Prent op bladsy 7]

Versailles, Frankryk

Deur die geskiedenis heen het mense na die Paradys gesmag

[Erkenning]

French Government Tourist Office/Rosine Mazin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel