’n Kind se geloof
DUSTIN het van die Bybelstudies begin bywoon wat een van Jehovah se Getuies met sy ma gehou het. Al was hy net 11 jaar oud, was hy iemand wat diep oor dinge gedink het en talle weldeurdagte vrae gevra het. Kort voor lank het hy die voormalige sendeling wat met sy ma gestudeer het, gevra of hy sy eie Bybelstudie kan hê. Hy het ook sy skoolmaats begin vertel van die dinge wat hy leer.
Dustin het vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal begin bywoon en het selfs kommentare gelewer wanneer die gehoor genooi is om deel te neem. Toe hy en sy jonger broer en suster hulle pa besoek het, het die pa daarop aangedring dat hulle almal saam kerk toe gaan. Dustin het verduidelik waarom hy sou verkies om na die Koninkryksaal te gaan. Sy pa het ingestem en gesê dat hy Dustin sal toelaat om te gaan.
Een aand ná ’n vergadering by die Koninkryksaal kon Dustin se ma hom nêrens kry nie. Sonder om vir haar te sê, het hy die Teokratiese Bedieningskoolopsiener genader en gevra of hy by die skool kan aansluit. Sy ma het ingestem. Hy het met groot opgewondenheid na sy eerste toespraak uitgesien. Maar terselfdertyd het hy ook intense pyn in sy heup begin kry, en hy is dus na verskeie dokters geneem om ondersoek te word. Uiteindelik het die groot aand vir Dustin se toespraak by die Koninkryksaal aangebreek. Teen dié tyd moes hy al met krukke loop. Hoewel dit duidelik was dat hy in pyn verkeer, het hy sonder sy krukke na die verhoog geloop.
Kort daarna is Dustin gediagnoseer met Ewing-sarkoom, ’n seldsame soort beenkanker. Hy het die grootste deel van die volgende jaar in die kinderhospitaal in San Diego, Kalifornië, deurgebring. Chemoterapie, bestraling en die uiteindelike amputasie van sy regterbeen en -bekkenbeen het nooit sy sterk geloof en sy liefde vir Jehovah laat verflou nie. Toe hy te swak was om te lees, het sy ma, wat byna altyd aan sy sy was, hardop vir hom gelees.
Al het Dustin se toestand versleg, het hy nooit gekla nie. Hy het besig gebly en in sy rolstoel rondbeweeg om ander pasiënte en hulle ouers aan te moedig, insluitende ’n Getuie-pasiënt. Die hospitaalpersoneel kon sien dat Dustin en daardie jong Getuie anders was—dat hulle geloof hulle onderskraag het.
Dustin wou gedoop word. Christen- ouer manne het dus die vrae wat met doopkandidate van Jehovah se Getuies bespreek word, met hom deurgegaan terwyl hy op ’n rusbank gelê het, te swak om regop te sit. Op 16 Oktober 2004, op die ouderdom van 12 en ’n half jaar, is Dustin by ’n kringbyeenkoms gedoop.
Net voordat die dooptoespraak sou begin, is Dustin in sy rolstoel tot voor in die saal gestoot sodat hy sy plek by die ander doopkandidate kon inneem. Toe hulle gevra is om op te staan, het Dustin, aangetrek in sy beste pak, op sy een been gaan staan terwyl hy aan die armleuning van die stoel vasgehou het. Hy het die doopvrae met ’n harde, duidelike stem beantwoord. Almal in Dustin se gesin was daar, insluitende sy biologiese pa en stiefma. Hospitaalpersoneel en die ouers van ander jong kankerlyers van die hospitaal was ook teenwoordig.
Die dag nadat Dustin gedoop is, is hy weer in die hospitaal opgeneem. Die kanker het reeds na elke been in sy liggaam versprei. Toe hy al hoe swakker geword het en besef het dat hy gaan sterf, het hy sy ma gevra of dit wel die geval is. “Waarom vra jy?” het sy geantwoord, “is jy bang om dood te gaan?”
“Nee”, het hy gesê. “Ek sal net my oë toemaak, en wanneer ek hulle in die opstanding oopmaak, sal dit voel asof ek hulle net ’n oomblik gelede toegemaak het. Ek sal nie meer in pyn wees nie.” Toe het hy verduidelik: “Ek is net bekommerd oor my familie.”
Dustin het die volgende maand gesterf. Sy begrafnisdiens is bygewoon deur dokters, verpleegsters, die gesinne van hospitaalpersoneel, onderwysers, bure en, natuurlik, Dustin se familie—dié wat Jehovah se Getuies is, sowel as dié wat nie is nie. Dustin het gevra dat almal wat sy gedenkdiens bywoon, ’n goeie getuienis omtrent sy opvattings moet ontvang. Die Teokratiese Bedieningskoolopsiener, wat Dustin se enigste studentetoespraak aan hom toegewys het, het ’n puik, geloofversterkende toespraak in ’n stampvol saal gelewer.
Twee van Dustin se gunstelingtekste is uitgedruk vir dié wat sy gedenkdiens bygewoon het—Matteus 24:14 en 2 Timoteus 4:7. Sy sterk geloof en onkreukbaarheid was bemoedigend vir almal wat hom geken het. Ons sien uit daarna om hom in die opstanding terug te verwelkom.—Soos vertel deur die Getuie wat met Dustin gestudeer het.
[Lokteks op bladsy 27]
“Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar.”—2 Timoteus 4:7
[Prent op bladsy 26]
Bo: Dustin, toe hy nog gesond was
[Prent op bladsy 26]
Onder: Dustin word gedoop op die ouderdom van 12 1⁄2 jaar