“Die liefde faal nooit nie”
SOOS VERTEL DEUR SAMUEL D. LADESUYI
Ek is verstom wanneer ek terugkyk op die jare en alles sien wat bereik is. Jehovah het wonderlike dinge oor die hele aarde gedoen. In Ilesha, Nigerië, het die handjievol van ons wat in 1931 die predikingswerk begin doen het 36 gemeentes geword. Die ongeveer 4 000 wat in Nigerië getuig het toe die eerste gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in 1947 aangekom het, het tot meer as 180 000 toegeneem. In die beginjare het ons nie verwag, of sou ons ons selfs nie kon indink, dat so ’n uitbreiding sou plaasvind nie. Hoe dankbaar is ek tog dat ek ’n aandeel aan hierdie wonderlike werk gehad het! Laat ek julle daarvan vertel.
MY PA het van dorp tot dorp gegaan en in vuurwapens en buskruit handel gedryf; hy was selde tuis. Hy het sover ek weet sewe vrouens gehad, maar nie almal het by hom gewoon nie. My pa het my ma geërf van sy broer wat gesterf het. Sy het sy tweede vrou geword, en ek het by haar gewoon.
Eendag het my pa huis toe gekom nadat hy sy eerste vrou besoek het, wat in ’n nabygeleë dorpie gewoon het. Terwyl hy daar was, het hy uitgevind dat my halfbroer skoolgaan. My halfbroer was tien jaar oud, net so oud soos ek. My pa het dus besluit dat ek ook moet skoolgaan. Hy het vir my nege pennies gegee—drie pennies vir ’n handboek en ses pennies vir ’n lei. Dit was in 1924.
’n Bybelstudiegroep word gevorm
Van kleins af het ek ’n liefde vir die Woord van God, die Bybel, gehad. Ek het die Bybelklasse op skool geniet en my Sondagskoolonderwysers het my altyd geprys. In 1930 het ek dus die geleentheid aangegryp om ’n lesing by te woon wat gehou is deur ’n besoekende Bybelstudent, een van die eerstes wat in Ilesha getuig het. Ná die lesing het hy ’n eksemplaar van die boek Die harp van God in Joroeba by my gelaat.
Ek het Sondagskool gereeld bygewoon. Toe het ek Die harp van God saam met my begin neem en dit gebruik om van die leerstellings wat daar geleer is te weerlê. Dit het tot argumente gelei, en kerkleiers het my herhaaldelik gewaarsku om nie hierdie ‘nuwe leer’ te volg nie.
Die daaropvolgende jaar, terwyl ek die straat af geloop het, het ek op ’n groep mense afgekom wat geluister het na ’n man wat hulle onderrig het. Die spreker was J. I. Owenpa, ’n Bybelstudent. Hy is daarheen gestuur deur William R. Brown (wat dikwels Bible Brown genoem is), wat vanuit Lagos oor die Koninkrykspredikingswerk toesig gehou het. Ek het uitgevind dat ’n Bybelstudiegroepie in Ilesha gevorm is om Die harp van God te bestudeer, en ek het my dus by hulle aangesluit.
Ek was die jongste in die groep—’n blote skoolseun van omtrent 16. Normaalweg sou ek verleë, selfs bang, gevoel het om sulke noue verkeer te hê met manne wat in hulle dertigerjare en ouer was. Maar hulle was baie bly om my in hulle midde te hê, en hulle het my aangemoedig. Hulle was vir my soos vaders.
Teenstand van die geestelikes
Ons het spoedig ernstige teenstand van die geestelikes begin ondervind. Katolieke, Anglikane en ander, tussen wie daar voorheen konflik was, het nou teen ons saamgestaan. Hulle het met die plaaslike hoofmanne ooreengekom om stappe te doen om ons te ontmoedig. Hulle het die polisie gestuur om beslag te lê op ons boeke, wat hulle beweer het vir die mense skadelik is. Maar die streekoffisier het gewaarsku dat hulle geen reg gehad het om die boeke te neem nie, en twee weke later is die boeke aan ons terugbesorg.
Hierna is ons na ’n vergadering ontbied waar ons die oba, of opperhoof, asook ander vooraanstaande mense van die dorp ontmoet het. Ons was destyds omtrent 30 in getal. Die idee was om ons te belet om die “gevaarlike” boeke te lees. Hulle het gevra of ons vreemdelinge is, maar toe hulle ons gesigte goed bekyk het, het hulle gesê: “Dis ons seuns, hoewel daar ’n paar vreemdelinge onder hulle is.” Hulle het vir ons gesê dat hulle nie wil hê ons moet voortgaan om die boeke te bestudeer van ’n godsdiens wat ons gaan kwaad doen nie.
Ons het huis toe gegaan sonder om enigiets te sê, want ons het ons voorgeneem om ons glad nie aan daardie vooraanstaande mense te steur nie. Die meeste van ons was baie tevrede met wat ons geleer het en was vasbeslote om met ons studie voort te gaan. Hoewel ’n paar bang geword en hulle aan ons groep onttrek het, het die meeste van ons dus ons studie in ’n skrynwerker se werkswinkel voortgesit. Ons het nie ’n studiehouer gehad nie. Ons het met gebed begin en dan maar beurte gemaak om die paragrawe in die boek te lees. Ná sowat ’n uur het ons weer gebid en daarna huis toe gegaan. Maar ons is dopgehou, en die hoofmanne en godsdiensleiers het aangehou om ons elke twee weke te ontbied en ons te waarsku om nie die Bybelstudente se lektuur te bestudeer nie.
Intussen het ons die bietjie kennis wat ons gehad het probeer gebruik om die mense te help, en baie het met ons saamgestem. Mense het hulle een vir een by ons aangesluit. Ons was baie bly, maar ons het nog steeds nie veel geweet van die godsdiens waarvan ons lede was nie.
Vroeg in 1932 het ’n broer uit Lagos gekom om ons te help organiseer, en in April het “Bible” Brown ook gekom. Toe broer Brown sien dat daar ’n groep van omtrent 30 was, het hy verneem na die vordering wat ons met ons lesery gemaak het. Ons het hom alles vertel wat ons geweet het. Hy het gesê dat ons gereed was om gedoop te word.
Aangesien dit die droë seisoen was, moes ons na ’n rivier 14 kilometer van Ilesha af gaan, en ons was omtrent 30 wat gedoop is. Van toe af het ons onsself as verkondigers van die Koninkryk beskou en van huis tot huis begin gaan. Ons het nie verwag dat ons dit sou moes doen nie, maar ons was nou gretig om dit wat ons geweet het aan ander oor te dra. Ons moes goed voorberei om ondersteuning uit die Bybel te hê waarmee ons die valse leerstellings wat ons teëgekom het, kon weerlê. Daarom het ons gewoonlik by ons vergaderinge die leerstellings bespreek en mekaar gehelp met wat ons geweet het.
Ons predikingsbedrywighede
Ons het die dorpsgebied met ons predikingswerk gedek. Mense het ons bespot en vir ons geskreeu, maar ons het nie omgegee nie. Ons vreugde was groot omdat ons die waarheid gehad het, hoewel ons nog baie moes leer.
Ons het elke Sondag van huis tot huis gegaan. Mense het vrae gestel en ons het dit probeer beantwoord. Sondagaande het ons ’n openbare lesing gehou. Ons het nie ’n Koninkryksaal gehad nie, dus het ons vergaderinge in die ope lug gehou. Ons het mense bymekaargebring, ’n lesing gehou en hulle genooi om vrae te stel. Soms het ons in die kerke getuig.
Ons het ook gegaan na gebiede waar mense nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor het nie. Ons het meestal met fietse gegaan, maar soms het ons ’n bus gehuur. Wanneer ons by ’n dorpie aangekom het, het ons hard op ’n horing geblaas. Die hele dorpie sou ons hoor! Mense het vinnig gekom om uit te vind wat aan die gang is. Dan het ons ons boodskap oorgedra. Nadat ons afgesluit het, het mense oor mekaar geval om eksemplare van ons lektuur te kry. Ons het baie lektuur versprei.
Ons het gretig uitgesien na die koms van God se Koninkryk. Ek onthou nog toe ons die 1935 Yearbook ontvang het hoe een van die broers, toe hy die hele rooster van dagteksbesprekings vir die jaar sien, gevra het: “Beteken dit ons gaan nog ’n hele jaar voltooi voordat Armageddon kom?”
In antwoord het die studiehouer gevra: “Broer, dink jy ons sal ophou om die jaarboek te lees as Armageddon môre sou kom?” Toe die broer nee geantwoord het, het die studiehouer gesê: “Waaroor bekommer jy jou dan?” Ons het verlangend na Jehovah se dag uitgesien en doen dit nog steeds.
Die oorlogsjare
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die invoer van ons boeke verbied. Een broer in Ilesha het onwetend die boek Rykdom vir ’n polisieman aangebied. Die polisieman het gevra: “Aan wie behoort hierdie boek?” Die broer het gesê dat dit sy eie is. Die polisieman het gesê dat dit ’n verbode boek was, en hy het hom na die polisiestasie geneem en hom opgesluit.
Ek het na die polisiestasie toe gegaan en nadat ek navraag gedoen het, het ek die broer se borggeld betaal. Daarna het ek vir broer Brown in Lagos geskakel om hom in kennis te stel van wat gebeur het. Ek het ook gevra of daar enige wet was wat die verspreiding van ons boeke verbied het. Broer Brown het vir my gesê dat slegs die invoer van ons boeke verbied was, en nie die verspreiding daarvan nie. Drie dae later het broer Brown ’n broer van Lagos gestuur om te sien wat aan die gang was. Hierdie broer het besluit dat ons almal die volgende dag met tydskrifte en boeke in die predikingswerk moes uitgaan.
Ons het in verskillende rigtings gegaan. Ná ongeveer ’n uur het ek die tyding gekry dat die meeste van die broers gearresteer is. Ek en die besoekende broer het dus na die polisiestasie gegaan. Die polisie het geweier om te luister na ons verduideliking dat die boeke nie verbied was nie.
Die 33 broers wat gearresteer is, is na die Hooflanddroshof in Ife gestuur, en ek het hulle vergesel. Die dorpsmense wat gesien het hoe ons weggeneem word, het geskreeu: “Dit is vandag die laaste sien van hierdie mense. Hulle sal nie weer hierheen kom nie.”
Die klag is by die hoofmagistraat, ’n Nigeriër, ingedien. Al die boeke en tydskrifte is uitgestal. Hy het gevra wie die polisiehoof gemagtig het om hierdie mense te arresteer. Die polisiehoof het geantwoord dat hy volgens opdrag van die streekoffisier gehandel het. Die hoofmagistraat het die polisiehoof en vier van ons verteenwoordigers, ek inkluis, na sy kantoor geroep.
Hy het gevra wie mnr. Brown is. Ons het vir hom gesê dat hy die verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap in Lagos is. Hy het toe vir ons gesê dat hy ’n telegram van mnr. Brown in verband met ons ontvang het. Hy het daardie dag die saak uitgestel en die broers borg toegestaan. Die volgende dag het hy die broers vrygespreek, hulle vrygelaat en die polisie beveel om die boeke terug te gee.
Ons het gesing toe ons na Ilesha teruggekeer het. Die mense het weer begin skreeu, maar hierdie keer het hulle gesê: “Hulle is terug!”
Jehovah se standaard van die huwelik word duidelik gemaak
Dit was in 1947 dat die eerste drie Gileadgegradueerdes in Nigerië aangekom het. Een van hierdie broers, Tony Attwood, is steeds hier en dien by die Nigeriese Bethel. Ons het sedertdien groot veranderinge in Jehovah se organisasie in Nigerië sien plaasvind. Een van die groot veranderinge was ons beskouing van veelwywery.
Ek het in Februarie 1941 met Olabisi Fashugba getrou en genoeg geweet om nie enige ander vroue te neem nie. Maar tot 1947 toe die sendelinge gekom het, was veelwywery algemeen in die gemeentes. Daar is vir broers wat hulle aan veelwywery skuldig gemaak het, gesê dat hulle uit onkunde met meer as een vrou getrou het. Indien hulle dus twee of drie of vier of vyf vroue gehad het, kon hulle hulle hou, maar hulle moes nie nog neem nie. Dit was die beleid wat ons gevolg het.
Baie mense was gretig om hulle by ons aan te sluit, veral die Gerub-en-Seraf-genootskap in Ilesha. Hulle het gesê dat Jehovah se Getuies die enigste mense was wat ander die waarheid geleer het. Hulle het met ons leringe saamgestem en wou hulle kerke in Koninkryksale omskep. Ons het hard gewerk om dit te bewerkstellig. Ons het selfs sentrums gehad om hulle ouderlinge op te lei.
Toe het daar nuwe riglyne omtrent veelwywery gekom. Een van die sendelinge het in 1947 ’n lesing by ’n kringbyeenkoms gehou. Hy het oor goeie gedrag en gewoontes gepraat. Daarna het hy 1 Korintiërs 6:9, 10 aangehaal, wat sê dat die onregverdiges nie die Koninkryk van God sal beërf nie. Hy het toe bygevoeg: “En dié wat hulle aan veelwywery skuldig maak, sal nie God se Koninkryk beërf nie!” Mense in die gehoor het uitgeroep: “O, dié wat hulle aan veelwywery skuldig maak, sal nie God se Koninkryk beërf nie!” Verdeeldheid was die gevolg. Dit was soos ’n oorlog. Baie van dié wat pas met ons begin assosieer het, het hulle assosiasie gestaak en gesê: “Dank die Vader, ons het nie baie diep betrokke geraak nie.”
Die meeste broers het egter veranderinge in hulle lewe begin aanbring deur hulle vroue te laat gaan. Hulle het vir hulle geld gegee en gesê: ‘As jy jonk is, gaan kry vir jou ’n ander man. Ek het ’n fout begaan deur met jou te trou. Nou moet ek ’n man van een vrou wees.’
Weldra het ’n ander probleem opgeduik. Nadat party besluit het om een vrou te hou en die ander te laat gaan, het hulle van plan verander en besluit hulle wou een van die ander vroue terugneem en die een laat gaan wat hulle voorheen gehou het! Probleme het dus weer ontstaan.
Verdere riglyne het van die hoofkantoor in Brooklyn gekom, wat op Maleagi 2:14 gegrond was en wat na “die vrou van jou jeug” verwys. Die riglyne was dat mans die eerste vrou met wie hulle getrou het, moes hou. Dit is hoe die kwessie uiteindelik opgelos is.
Diensvoorregte
In 1947 het die Genootskap die gemeentes begin versterk en hulle in kringe begin indeel. Hulle wou ryp broers met gevorderde kennis aanstel as ‘knegte vir die broers’, wat nou kringopsieners genoem word. Broer Brown het my gevra of ek so ’n aanstelling sou aanvaar. Ek het gesê dat ek gedoop is om Jehovah se wil te doen, en het bygevoeg: “Jy het my dan self gedoop. Dink jy ek sal weier noudat daar ’n kans is om Jehovah in groter mate te dien?”
In Oktober daardie jaar is sewe van ons gevra om na Lagos te gaan waar ons opleiding ontvang het voordat ons in die kringwerk uitgestuur is. In daardie dae was die kringe baie groot. Die hele land is in net sewe kringe verdeel. Daar was min gemeentes.
Ons werk as knegte vir die broers was moeilik. Ons het elke dag baie kilometers geloop, dikwels deur stikkende tropiese woude. Ons moes elke week van dorpie tot dorpie gaan. Met tye het dit gevoel asof my bene ingee. Soms het ek gevoel dat ek besig is om dood te gaan! Maar daar was ook heelwat vreugde, veral om die toenemende getalle mense te sien wat die waarheid aanneem. In slegs sewe jaar het die aantal verkondigers in die land immers vervierdubbel!
Ek het tot 1955 aan die kringwerk deelgeneem toe swak gesondheid my genoodsaak het om na Ilesha terug te kom, waar ek as stadsopsiener aangestel is. Aangesien ek by die huis was, kon ek meer aandag daaraan wy om my gesin geestelik te help. Vandag dien al ses my kinders Jehovah getrou.
Ware liefde faal nooit nie
Wanneer ek op die jare terugkyk, het ek soveel waarvoor ek dankbaar kan wees. Daar was teleurstellings, bekommernisse en siekte, maar daar was ook baie vreugdes. Hoewel ons kennis en begrip oor die jare ontwikkel het, het ek deur ondervinding die betekenis van 1 Korintiërs 13:8 geleer, wat sê: “Die liefde faal nooit nie.” As jy Jehovah liefhet en standvastig in sy diens bly, sal hy jou deur jou moeilikhede help en jou ryklik seën.
Die lig van die waarheid word al helderder. In die dae toe ons eers begin het, het ons gedink Armageddon sou gou kom; dit is waarom ons ons gehaas het om alles te doen wat ons kon. Maar dit was alles tot ons voordeel. Dit is waarom ek met die woorde van die psalmis saamstem: “Ek wil die HERE prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.”—Psalm 146:2.
[Prent op bladsy 23]
Samuel saam met Milton Henschel in 1955
[Prent op bladsy 24]
Samuel saam met sy vrou, Olabisi