Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/07 bl. 24-27
  • Svalbard—land van die koue kusstreke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Svalbard—land van die koue kusstreke
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die land van ysgrond en die aurora borealis
  • Plante en diere
  • Die steenkoolmynbedryf en bedreigde diere
  • ’n Geoloog se paradys
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2007
  • Steenkool—Swart gesteentes uit die donker dieptes
    Ontwaak!—2005
  • Indrukwekkende reuse van die Noorde van Kanada
    Ontwaak!—1993
  • Op soek na ’n noordelike deurvaart
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 2/07 bl. 24-27

Svalbard—land van die koue kusstreke

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NOORWEË

ONS vlieg in die middel van ’n dik wolklaag en kan niks sien nie. Skielik kom ons vliegtuig uit die wolkmassa, en ’n wit, Arktiese landskap verskyn onder ons. Die uitsig is asemrowend! Ons staar in verwondering na gletsers, ligblou fjords en sneeubedekte berge. Die ongerepte terrein van sneeu en ys strek so ver as wat die oog kan sien. Dit is Svalbard, ’n eilandgroep naby die Noordpool wat tussen 74 en 81 grade noorderbreedte geleë is, en ons het hier besoek kom aflê!

Die naam Svalbard, wat “Koue Kus” beteken, het in 1194 vir die eerste keer in Yslandse geskiedenisboeke verskyn. Maar dit is met die “ontdekking” van die land, 400 jaar later in 1596, dat Svalbard eintlik bekend geword het. In daardie jaar het ’n groep Nederlandse ontdekkingsreisigers onder leiding van Willem Barents noordwaarts gevaar toe die seeman op die uitkykpos onbekende land, ’n ruwe bergreeks, op die horison raakgesien het. Hierdie ontdekkingsreisigers het by die noordwestelike deel van Svalbard aangekom, wat Barents “Spitsbergen” genoem het. Vandag is dit die naam van die grootste eiland in die groep. Barents se ontdekking het die weg gebaan vir ’n tydperk van grootskaalse bedrywigheid in die Svalbard-omgewing, onder andere walvis-, robbe- en pelsjag, verkenningstogte en uiteindelik steelkoolmynbou, wetenskaplike navorsing en toerisme. Deur die jare heen het verskeie lande ’n aandeel aan hierdie bedrywighede gehad, maar sedert 1925 staan die eilandgroep onder Noorweegse beheer.

Die land van ysgrond en die aurora borealis

Ons vliegtuig daal oor die Ysfjord neer en land by Svalbard-lughawe. Ons kry ons huurmotor en ry na Longyearbyen, vernoem na die Amerikaanse mynmagnaat John M. Longyear, wat in 1906 die eerste steenkoolmyne in hierdie gebied in werking gestel het. Longyearbyen is die grootste gemeenskap in Svalbard, met ’n bevolking van sowat 2 000. Ja, in hierdie uitgestrekte landskap waar die natuur feitlik ongerep is, vind ons ’n moderne dorp met ’n supermark, ’n poskantoor, ’n bank, ’n openbare biblioteek, skole, kleuterskole, hotelle, kafees, restaurante, ’n hospitaal en ’n plaaslike koerant. Longyearbyen is die enigste gemeenskap van sy grootte in die wêreld wat so ver noord geleë is, meer as 78 grade noorderbreedte.

Ons vind verblyf by ’n gastehuis wat voorheen deel van die steenkoolmyners se kwartiere was. Dit kyk uit oor Longyearbyen en het ’n uitsig op die majestueuse berg Hiorthfjellet. Dit is Oktober, en die berge is met sneeu bedek. Daar is nog nie sneeu op die valleivloer nie, maar die grond is heeltemal verys. Dit is ysgrondwêreld dié. Net die ys in die boonste grondlaag smelt vir ’n kort tydjie in die somer. Daarbenewens is die klimaat hier matiger as in ander gebiede op hierdie breedtegraad weens die gunstige winde en seestrome. Van waar ons bly, kan ons die son op die berge sien skyn, terwyl die vallei in ’n blouerige skadu lê. Tussen 26 Oktober en 16 Februarie in Longyearbyen styg die son nie bo die horison uit nie. Maar die aurora borealis, of noorderlig, helder dikwels die donker winter op. Aan die ander kant geniet Svalbard die middernagson in die lente- en somermaande, en in Longyearbyen kom hierdie verskynsel tussen 20 April en 23 Augustus voor.

Plante en diere

Dit is minus agt grade Celsius, en ’n snerpende wind waai, maar die lug is helder. Ons is gereed vir ’n uitstappie. Ons gids neem ons op ’n staptog teen Sarkofagen-berg op en teen die Longyearbreen-gletser af. Terwyl ons die verysde heuwels uitklim, vertel hy ons dat ’n aantal pragtige blomme tydens die lente en somer hier groei. Trouens, Svalbard is verbasend ryk aan plantelewe, met sowat 170 blomplantspesies. Twee tipiese blomme is die wit of geel Svalbard-papawer en die welriekende pers steenbreek.

Verder op teen die sneeubedekte berghang kom ons op spore af van die Svalbard-sneeuhoender, die enigste standvoël in Svalbard. Al die ander voëls, soos Brünnich se duikerhoenders, klein papegaaiduikers, verskeie seemeeue en pers strandlopertjies, is trekvoëls. Die Arktiese sterretjie is veral interessant. Baie van hulle migreer tot aan die ander einde van die aarde, na Antarktika.

Ons sien ook die spore van ’n poolvos. Hierdie uitgeslape kalant is ’n aasdier, wat karkasse en afval vreet, maar hy vul sy dieet aan met jong voëls en eiers. Die vos is een van die twee ware landsoogdiere wat inheems in Svalbard is. Die ander een is die goedgeaarde Svalbard-rendier. Ons sien hulle verskeie kere van naby tydens ons besoek aan Svalbard. Hulle kyk ons kalm aan en laat ons redelik na aan hulle kom om foto’s te neem voordat hulle begin wegbeweeg. Hierdie soort rendier het kort bene en ’n dik, warm pels. Noudat dit herfs is, is hulle spekvet—hulle ekstra laag vet is hulle voedselreserwe, wat nodig is vir die koue winter.

Die ysbeer, die koning van die Noordpool, word deur baie as ’n mariene soogdier beskou, aangesien hy die meeste van sy tyd op die seeys deurbring, waar hy robbe jag. Maar jy kan alleenlopende bere op byna enige plek in Svalbard teëkom. Ons gids hoop dit gebeur nie met ons nie. Die ysbeer kan baie aggressief wees, en daarom dra ons gids veiligheidshalwe ’n geweer. Sedert 1973 is dit onwettig om ysbere hoegenaamd te jag, en wanneer ’n ysbeer doodgemaak is, word die saak altyd ondersoek. Hoewel die ysbeerbevolking in Svalbard nou redelik groot is, is mense bekommerd oor die toekoms van hierdie ontsagwekkende dier. Die Noordpool lyk dalk wit, vars en suiwer, maar giftige besoedelstowwe soos PCB’s het ’n uitwerking op die omgewing gehad. Die besoedelstowwe bou in ysbere op, aangesien hulle aan die bopunt van die voedselketting is, en dit belemmer blykbaar hulle voortplantingsvermoë.

Ons bereik die spits van Sarkofagen-berg en word beloon met ’n asemrowende uitsig oor talle wit pieke in die verte. Na die suidweste lê die indrukwekkende, geronde berg Nordenskiöldfjellet, met goue sonstrale wat daarop val. Ver onder ons is Longyearbyen; en hoog bo ons, die ligblou Arktiese hemel. Dit voel regtig of ons bo-op die wêreld staan. ’n Paar snye brood en ’n warm swartbessiedrankie wat gemaak is van swartbessiesap, suiker en warm water en gewild is onder voetslaners, verfris ons, en ons is reg vir die tog ondertoe al langs die Longyearbreen-gletser.

Die steenkoolmynbedryf en bedreigde diere

’n Besoek aan ’n ou steenkoolmyn is nog ’n interessante ondervinding. Ons frisgeboude gids, ’n oud-steenkoolmynwerker, wys ons Myn 3, net buitekant Longyearbyen. Met oorpakke en veiligheidshelms met koplampe aan, vergesel ons hom diep die berg in. Hy vertel ons dat die steenkoolmynbedryf sedert die vroeë 1900’s die vernaamste bedrywigheid op Svalbard is. Die mynwerkers het baie jare lank ’n uiters moeilike bestaan gevoer. Hulle moes dikwels op hulle hande en knieë deur lang strekgange kruip, in horisontale steenkoollae wat op party plekke net meer as 70 sentimeter hoog was. Ons kry die geleentheid om dit self te probeer en ons beny die mynwerkers glad nie. Hulle werk was moeilik, die lug was vol stof van die steenkool en rotse, die geraasvlak was hoog en daar was altyd die gevaar van ontploffings en ineenstortings. Vandag word meer moderne metodes ingespan. Die steenkoolmynbedryf is nog steeds ’n noodsaaklike deel van Svalbard se ekonomie, maar oor die afgelope paar dekades het toerisme al hoe belangriker geword.

Mense het nie altyd in ag geneem hoe maklik die Arktiese natuurlewe geskaad kan word nie. Soms het die jag van walvisse, walrusse, rendiere, ysbere en ander diere party spesies byna laat uitsterf in Svalbard. Maar bewaringswette het gehelp om verskeie bedreigde diersoorte te rehabiliteer.

’n Geoloog se paradys

Svalbard is al as ’n “paradys vir geoloë” beskryf. Aangesien die plantegroei baie yl is, is die landskap soos ’n geologiese prenteboek. Ons sien die kenmerkende geologiese strukture in die berge, wat uit duidelik gedefinieerde rotslae bestaan en byna soos enorme laagkoeke lyk. Rotse uit alle tydperke van die aarde se geskiedenis kan gevind word. Party is uit sand en klei gevorm; ander deur organiese materiaal. Deur die eeue heen is baie dooie plante en diere met klei bedek en as fossiele bewaar. Trouens, fossiele word in rotse uit alle geologiese tydperke gevind.

In die Svalbard-museum bestudeer ons ’n aantal fossiele van termofiele, of hitteliewende, plante en diere, wat toon dat die klimaat op die eilandgroep voorheen veel warmer was as wat dit vandag is. Op party plekke in Svalbard is die steenkoollae tot vyf meter dik! In die steenkoollae is die fossieloorskot van naaldbome sowel as bladwisselende bome gevind. Fossielvoetspore van ’n plantetende dinosourus is nog ’n bewys dat die klimaat voorheen matiger en die plantegroei weliger was.

Hoe kan hierdie groot klimaatsveranderinge verklaar word? Ons vra geoloog Torfinn Kjaernet, verteenwoordiger van die Direktoraat van Mynbou in Longyearbyen. Volgens hom dink die meeste geoloë dat die hoofrede kontinentale drywing is. Geoloë sê dat Svalbard op ’n tektoniese plaat geleë is wat vir ’n baie lang tydperk noord gedryf het, moontlik van naby die ewenaar af. Volgens moderne satellietwaarneming dryf Svalbard nog steeds in ’n noordoostelike rigting teen ’n paar sentimeter per jaar.

Wanneer ons vliegtuig Svalbard verlaat, stem ons saam dat ons besoek ons baie gegee het om oor te dink. Die uitgestrekte Arktiese landskap, die diere wat so goed daarby aangepas is, en al die verskillende plante laat ons dink oor die diversiteit van die skepping, die mens se nietigheid en die manier waarop mense hulle bestuurderskap oor die natuur uitgeoefen het. Wanneer ons suid vlieg, kry ons ’n laaste blik oor die land van die koue kusstreke, waar ’n paar sneeubedekte bergpieke bo die wolklaag uitsteek en met ’n bleek, pienkerige skakering in die laatmiddagson gloei.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Noordpool

GROENLAND

SVALBARD

Longyearbyen

75°N

YSLAND

NOORWEË

60°N

RUSLAND

[Prent op bladsy 25]

Longyearbyen

[Prent op bladsy 25]

Baie blomplante, soos die pers steenbreek, oorleef in die ongunstige Arktiese klimaat

[Erkenning]

Knut Erik Weman

[Prente op bladsy 26]

Die Svalbard-sneeuhoender en die Svalbard-rendier

[Erkenning]

Knut Erik Weman

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel