Iets blywenders as kuns
Soos vertel deur Rakel Koivisto
In 1950 het my voorstel vir ’n monument ter ere van diegene wat in die Tweede Wêreldoorlog omgekom het, ’n nasionale kompetisie gewen. Toe my yslike granietmonument ’n jaar later by ’n plegtige seremonie in Tuusula, Finland, onthul is, was ek nie daar nie. Laat ek verduidelik waarom.
EK IS in 1917 gebore, die jongste in ’n gesin van agt kinders wat op ’n plattelandse dorpie in die suide van Finland gewoon het. Hoewel ons arm was, het ek gelukkig en veilig gevoel. My ouers was bestendige, godvresende mense, en hulle het ons geleer om geestelike dinge te waardeer. In ons huis is daar groot waarde geheg aan ’n Bybel wat my pa gekoop het.
As kind het ek klein beeldjies uit hout gekerf. Van my familielede het gedink my werk is besonder goed en het my dus aangemoedig om kuns te studeer. Ná verloop van tyd het ek toelating verkry tot die Universiteit van Nywerheidskuns in Helsinki. Hierdie hoogaanskrewe universiteit, die middelpunt van die Finse kunslewe, was ’n fassinerende milieu vir ’n jong plaasmeisie, en ek het daarin verdiep geraak. Toe ek in 1947 gegradueer het, het ek gedink dat ek iets blywends in hierdie wêreld kon agterlaat.
’n Keerpunt
Toe het my doelwitte dramaties verander. Op ’n dag het my suster Aune na my toe gekom en opgewonde uitgeroep: “Ek het die waarheid gevind!” Sy het die boek “Laat God waaragtig wees”, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, ontvang. Ek was nie beïndruk nie. Kort daarna het ek gesien dat ’n meisie wat voorheen ’n medestudent by die universiteit was, dieselfde boek het. Toe ek dit afkraak, het sy vinnig geantwoord: “Hou op lag! Hierdie boek sal jou help om die Bybel te verstaan.” Ek het die boek gekry en dit feitlik in een slag deurgelees. Ek het nie meer gelag nie; trouens, ek was oortuig dat die Getuies die waarheid het. Ek het ook besef dat Jehovah God my iets aanbied wat kuns my nie kan gee nie—die ewige lewe.
Toe ek eers die Getuies leer ken het, het hulle my nie na hulle vergaderinge genooi nie. Ek het dus gedink dat die vergaderinge net vir lede is. Daarom het ek die inisiatief geneem en gevra of ek dit dalk kan bywoon. Ek was verheug om te hoor dat almal by Christelike vergaderinge welkom is. Vergaderingbywoning het my geloof versterk, en ek het besluit om my lewe aan Jehovah toe te wy. Hierdie besluit het ek op 19 November 1950 in die openbaar bekend gemaak, toe ek en my suster albei gedoop is. Tot ons groot vreugde het ons vier ander susters en ons dierbare ouers ook uiteindelik Getuies geword.
Watter loopbaan moet ek kies?
Terwyl ek die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het ek al hoe meer opgang gemaak in my loopbaan in die kunste. Nadat ek aan die universiteit gegradueer het, het ek as ’n assistent gewerk vir ’n professor in die beeldhoukuns. Toe het my idee vir die monument ter ere van diegene wat in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het, ’n nasionale kompetisie gewen, soos aan die begin genoem is. My voorstel vir die titel daarvan was: “Die weg waarlangs terugkeer onmoontlik is”, wat my nuwe beskouing van oorlog weerspieël het (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). Toe die standbeeld—wat meer as vyf meter hoog is—onthul is, was ek nie daar nie omdat die seremonie patrioties en nie in ooreenstemming met my Bybelse oortuigings was nie.
Namate ek bekendheid as ’n kunstenaar verwerf het, is ek belowende werkgeleenthede aangebied. Nogtans het ek my prioriteite ontleed. Hoewel ek lief was vir my werk, was my begeerte om ander geestelik te help, selfs sterker. Daarom het ek in 1953 begin dien as ’n pionier, soos voltydse evangeliedienaars van Jehovah se Getuies genoem word.
Soms is daar vir my gesê dat ek my talent vermors. Maar ek het besef dat enige persoonlike prestasies as ’n beeldhouer net tydelik sou wees. Selfs granietmonumente verbrokkel mettertyd. Maar as ’n pionier kon ek die meeste van my tyd gebruik om ander te help om die weg na die ewige lewe te vind! (Johannes 17:3). Ek het egter nie van beeldhoukuns vergeet nie. Ek het aangehou om elke nou en dan klein beeldjies vir my eie genot te maak en het dit verkoop om myself te onderhou.
Ek trek na die platteland
In 1957, ná vier jaar van pionierdiens in Helsinki, is ek deur die Finse takkantoor van Jehovah se Getuies genooi om te gaan dien in Jalasjärvi, ’n plattelandse dorpsgebied in die Suid-Ostrobothnia-streek. Daar moes ek aansluit by Anja Keto, wat 17 jaar jonger was as ek. Hoewel ek Anja nie geken het nie, het ek die toewysing met vreugde aanvaar en by haar ingetrek. Ek en sy was die enigste Getuies in die gebied, en ons het dus byna altyd saam in die bediening gewerk. Ons het kort voor lank onafskeidbare vriendinne geword.
Toe ek na Jalasjärvi trek, moes ek terugkeer na die eenvoudige, plattelandse lewensomstandighede soos dié waarin ek gelewe het voordat ek 20 jaar vroeër deel geword het van die kunskringe van die hoofstad. Die winters was besonder moeilik, en soms moes ons deur sneeu sukkel wat tot by ons heupe gekom het. Ons het in ’n klein houthuisie gewoon, wat allesbehalwe luuks was. Ons het ons water uit ’n nabygeleë fontein geskep, en soms het ’n yslagie oornag op die water gevorm wat ons ingedra het. Maar ons het alles gehad wat ons nodig gehad het (1 Timoteus 6:8). Dit was ’n gelukkige, bedrywige tyd.
Besig met lonende werk
Aanvanklik het dit egter gelyk asof ons pogings nie baie suksesvol was nie omdat die plaaslike inwoners bevooroordeeld teen ons was. Om hulle te help om ons werk te verstaan, het ons gereël om rolprente te vertoon wat deur Jehovah se Getuies gemaak is, soos The New World Society in Action en The Happiness of the New World Society. Dit het hulle gehelp om ons en ons organisasie te leer ken en om die positiewe uitwerking van ons bedrywighede op mense regoor die wêreld te sien. Baie het vir hierdie vertonings opgedaag.
By een geleentheid het Eero Muurainen, ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, die rolprent The New World Society in Action in ’n gemeenskapsaal vertoon. Die saal het so vol geword dat ek net in die verste hoekie staanplek kon kry. Ek moes op een been staan met my rug teen die muur, en daar was nie plek om my ander voet op die vloer te sit nie. Ná die rolprent het baie mense ons genader en gevra dat ons hulle besoek.
Ons het ook ’n groot kassetspeler gebruik om opnames van Bybeltoesprake in plaashuise te speel. By een geleentheid het ons gereël om ’n toespraak om sewe-uur die aand in die huis van een gesin te speel, en ons het die hele dorpie daarvoor genooi. Vroeg daardie oggend het ons per fiets na ’n dorpie gery wat sowat 25 kilometer daarvandaan was, om daar te gaan preek, aangesien ons gedink het dat ons genoeg tyd sou hê om dit voor die aand te doen. Maar toe ons die dorpie verlaat het, het die reën die pad in ’n modderbad verander.
Uiteindelik was ons fietse so vol modder dat die wiele nie wou draai nie, en ons moes ons fietse huis toe dra. Gevolglik kon ons eers laat die aand na ons vergadering toe gaan. Ons het ons swaar kassetspeler saamgedra en om tienuur die aand daar aangekom. Ons was daarvan oortuig dat almal al weg sou wees. Maar tot ons verbasing was die huis vol dorpenaars wat nog steeds op ons gewag het! ’n Opgewekte bespreking het op die toespraak gevolg. Toe ons uiteindelik in die vroeë oggendure by die huis aankom, was ons doodmoeg maar baie gelukkig!
Die afstande tussen dorpies was so groot dat die Getuies in die streek ons gehelp het om ’n motor te koop—’n ou Russiese voertuig. Dit het ons predikingswerk baie makliker gemaak. Later het dit beroemd geword, aangesien die biskop van die bisdom tydens sy besoek vir die kerklede gesê het om ons nie in hulle huise te verwelkom nie. Hy het gepraat van twee dames met ’n blou motor. Die waarskuwings het onmiddellik ’n uitwerking op mense gehad. Hulle wou weet wie hierdie twee dames was en wat hulle so gevaarlik gemaak het! Hulle nuuskierigheid het tot talle goeie Bybelbesprekings gelei. Die woorde van Jesaja is inderdaad waar: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.”—Jesaja 54:17.
Mettertyd het ons werk vrugte afgewerp. Ons het weeklikse vergaderinge met ’n klein groepie belangstellendes begin hou. Ons groep het uiteindelik gegroei, en in 1962 is ’n gemeente van 18 Getuies, meestal susters, gevorm. Twee jaar later is ek en Anja gestuur na die dorpsgebied Ylistaro, in dieselfde streek.
’n Inspirerende omgewing
Hoewel ons die natuurskoon en rustigheid van die platteland in ons nuwe toewysing waardeer het, het ons veral die mense waardeer. Hulle was oor die algemeen gasvry en vriendelik. Talle was weliswaar baie godsdienstig en patrioties en het ons soms ergerlik weggewys; maar daar was ander wat diepe eerbied vir die Bybel getoon het. Wanneer ons die Bybel uitgehaal het, het vroue dikwels hulle huiswerk laat staan om te luister en het mans hulle hoede afgehaal—hoede wat andersins gelyk het asof dit aan hulle koppe vasgeplak is. Soms wanneer ons die Bybel met mense gestudeer het, het die hele huisgesin, en selfs bure, gekom en die studie bygewoon.
Die opregte, eerlike mense wat ek in die velddiens ontmoet het, was ’n inspirasie vir my kuns. Wanneer ek tyd gehad het, het ek ’n bietjie klei gevat en daarmee begin werk. Aangesien ek nog altyd gefassineer is deur aantreklike en komieklike menslike kenmerke, het amper al die standbeelde wat ek gemaak het, mense uitgebeeld. Baie daarvan was van vroue wat hulle huiswerk doen. ’n Tydskrifartikel het omtrent my standbeelde gesê: “Hulle straal die warmte van die aarde en vreedsaamheid uit, tesame met humor en ’n ontspanne balans . . . ’n Hartlike liefde vir mense tesame met ryk kunsvaardigheid is die skeppende oorsprong van hierdie standbeelde.” Maar ek het seker gemaak dat ek nie te veel klem plaas op kuns nie. Ek het getrou gebly by my besluit om Jehovah voltyds te dien.
In 1973 het ek ’n werksaanbod gekry wat ek beslis nie kon weier nie. Ek is gevra om ’n groot reliëf in klei te maak vir die nuwe voorportaal van die Finse takkantoor van Jehovah se Getuies in Vantaa. Psalm 96:11-13 is gekies as die tema van hierdie werk. Hoe verheug was ek tog om my vaardighede te gebruik om Jehovah te loof!
Aangesien ek gedurende my pionierdae hoofsaaklik vir my eie genot kunswerke geskep het, was ek verras toe ek in die laat 1970’s ’n kunstenaarspensioen ontvang het. Ek het die finansiële ondersteuning natuurlik waardeer, maar het gedink: ‘Is dit al wat ek sou gehad het as ek my lewe aan kuns gewy het? ’n Bietjie ekstra geld om my aftrede gemakliker te maak?’ Hoe min was dit tog in vergelyking met die beloning van die ewige lewe!—1 Timoteus 6:12.
Terug na die stad
Die jaar 1974 het ’n groot verandering in ons lewe en bediening meegebring. Ons is gestuur na Turku, ’n groot stad. Destyds is talle nuwe woonstelle daar gebou, en aangesien soveel mense soontoe getrek het, was meer Koninkryksverkondigers nodig. Aanvanklik was ons nie baie bly oor ons nuwe stedelike toewysing nie. Dit was asof dit moeiliker was om die predikingswerk onder stadsbewoners te doen, aangesien baie van hulle onverskillig was. Maar ons het geleidelik by daardie gebied aangepas, en ons het baie mense gevind wat Bybelwaarhede waardeer.
Oor die jare heen het ek en Anja die voorreg gehad om meer as 40 mense te help om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Hoe verbly hierdie geestelike kinders tog ons harte! (3 Johannes 4). In onlangse jare het my gesondheid agteruitgegaan, maar ek is meer bewus van Jehovah se ondersteuning, die liefde van die gemeente en die “versterkende hulp” van my liewe pioniermaat, Anja (Kolossense 4:11; Psalm 55:22). Toe ek en Anja byna 50 jaar gelede ontmoet het, dink ek nie een van ons kon ons indink dat ons lewenslank pioniermaats sou wees nie.
’n Gewilde gesegde lui: “Die lewe is kort, maar kuns is vir ewig.” Hierdie frase is egter nie my leuse nie. Ek stem saam met die apostel Paulus se woorde in 2 Korintiërs 4:18: “Die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.” Al die vreugdes wat ek as ’n kunstenaar gehad het—“die dinge wat gesien word”—was tydelik. Dit kan beslis nie vergelyk word met die vreugdes wat ek uit Jehovah se diens geput het nie, en dit lei nie tot die ewige lewe nie. Ek is so dankbaar dat ek my lewe gewy het aan “die dinge wat nie gesien word nie”, dinge wat blywender is as kuns!
[Prent op bladsy 19]
Ek werk aan my granietmonument
[Prent op bladsy 21]
Saam met Anja (links), 1957
[Prent op bladsy 22]
Saam met Anja (regs) vandag