Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/07 bl. 23-25
  • Vere—’n wonder van ontwerp

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vere—’n wonder van ontwerp
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vele funksies van vere
  • “’n Bietjie te volmaak”
  • Meer as vere nodig om te kan vlieg
  • Waar het hulle sulke pragtige vere gekry?
    Ontwaak!—1990
  • Net om mooi te lyk?
    Ontwaak!—2004
  • Die natuur was eerste
    Ontwaak!—2010
  • Kroonkraanvoëls—kleurvolle gekuifde dansers
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 7/07 bl. 23-25

Vere—’n wonder van ontwerp

MET ’n afwaartse swiep van sy vlerke styg ’n seemeeu op. In die lug swenk en draai hy terwyl hy sonder inspanning hoër gedra word op die wind. Die voël hang byna bewegingloos in die lug terwyl hy die posisie van sy vlerke en stert net effens aanpas. Wat stel hom in staat om hierdie funksies met sulke grasie en presisie te verrig? Tot ’n groot mate is dit sy vere.

Vandag is voëls die enigste diere wat vere het. Die meeste voëls het verskillende soorte vere. Die sigbaarste vere is die kontoervere, wat mekaar oorvleuel en aan voëls hulle gladde, stroombelynde vorm gee. Kontoervere sluit vlerk- en stertvere in, waarsonder ’n voël nie kan vlieg nie. ’n Kolibrie het moontlik minder as 1 000 van hierdie vere en ’n swaan meer as 25 000.

Vere is ’n wonder van ontwerp. Die sentrale veerskag, wat die ragis genoem word, is buigbaar en besonder sterk. Die veerskag vertak in rye inmekaarsluitende spriete wat die vlag van die veer vorm. Die spriete skakel aan mekaar deur middel van honderde klein baardjies, wat aan mekaar haak en ’n soort ritssluiter vorm. Wanneer baardjies uithaak, rits die voël dit eenvoudig toe deur die veer glad te stryk. Jy kan dieselfde doen deur ’n veer liggies deur jou vingers te trek.

Veral die vliegvere aan die vlerk is asimmetries—die veer is smaller aan die voorkant as aan die agterkant. Hierdie klassieke draagvlakontwerp stel elke vliegveer in staat om soos ’n klein vlerk te funksioneer. As jy van naderby na ’n groot vliegveer kyk, sal jy ook ’n groef sien wat aan die onderkant van die ragis loop. Hierdie eenvoudige ontwerpelement versterk die skag, wat dit in staat stel om te buig en te wring sonder om te knak.

Die vele funksies van vere

Versprei tussen die kontoervere van baie voëls is lang, dun vere wat haarvere genoem word, sowel as poeiervere. Sensors by die wortels van die haarvere maak die voël vermoedelik bewus van enige versteuring van sy dekvere en help hom moontlik selfs om te weet min of meer hoe vinnig hy vlieg. Die spriete van die poeiervere—die enigste vere wat aanhoudend groei en nooit afgewerp word nie—word ’n fyn poeier wat blykbaar help om die voël se vere waterdig te maak.

Buiten die ander funksies wat vere verrig, beskerm dit voëls ook teen hitte, koue en ultravioletlig. Byvoorbeeld, see-eende floreer blykbaar ten spyte van snerpend koue seewinde. Hoe? Onder hulle byna ondeurdringbare kontoervere is daar ’n digte laag sagte vere wat donsvere genoem word; dit kan tot 1,7 sentimeter dik wees en bedek die grootste deel van die eend se liggaam. Donsvere is so doeltreffend as ’n isolasiemateriaal dat geen sintetiese materiaal wat tot nog toe gemaak is, daarby kan kers vashou nie.

Vere verslyt uiteindelik en daarom vervang voëls dit deur te verveer. Die meeste voëls werp hulle vlerk- en stertvere in ’n voorspelbare, gebalanseerde volgorde af sodat hulle nog steeds kan vlieg.

“’n Bietjie te volmaak”

Veilige vliegtuie is die produk van presisie-ontwerp, -ingenieurswerk en -vakmanskap. Wat van voëls en vere? Weens die afwesigheid van bewyse in die fossielverslag, is daar groot meningsverskille onder evolusioniste oor hoe vere ontstaan het. Die debat word gekenmerk deur “fundamentalistiese geesdrif”, “venynige slegsêery” en “paleontologiese passie”, sê die tydskrif Science News. Een evolusionistiese bioloog, wat ’n simposium oor die evolusie van vere gereël het, het erken: “Ek sou nooit kon dink dat enige wetenskaplike kwessie ooit tot sulke slegte gedrag en verbitterdheid aanleiding kon gee nie.” As dit duidelik is dat vere geëvolueer het, waarom raak mense dan so venynig tydens besprekings van die proses?

“Vere is ’n bietjie te volmaak—dis die probleem”, sê die Yale-universiteit se Manual of Ornithology—Avian Structure and Function. Daar is geen aanduiding dat vere ooit verbeter moes word nie. Trouens, die “oudste bekende fossielveer lyk so baie na die vere van vandag se voëls dat dit nie daarvan onderskei kan word nie”.a Maar volgens die evolusieteorie moet vere die resultaat wees van geleidelike, kumulatiewe veranderinge in vroeëre huiduitgroeisels. Wat meer is, “vere sou nie kon evolueer as daar nie genoeg nut was in die aanpassings wat in elkeen van die tussenstadiums plaasgevind het nie”, sê die Manual.

Eenvoudig gestel, evolusie kon selfs teoreties gesproke nie ’n veer voortbring nie tensy elke stap in ’n lang reeks toevallige, oorerfbare veranderinge aan die bou van die veer die dier se kanse op oorlewing aansienlik verbeter het. Selfs baie evolusioniste meen dat dit onmoontlik is dat iets wat so kompleks is soos ’n veer en so volmaak aan sy doel beantwoord, op hierdie wyse kon ontstaan.

Verder, as vere progressief oor ’n lang tydperk ontwikkel het, behoort daar tussenvorme in die fossielverslag te wees. Maar geen tussenvorme is al ooit gevind nie, slegs oorblyfsels van ten volle gevormde vere. “Ongelukkig vir die evolusieteorie is vere baie kompleks”, sê die Manual.

Meer as vere nodig om te kan vlieg

Die feit dat vere so volmaak is, is net een probleem waarmee evolusioniste te kampe het, want feitlik elke deel van ’n voël is vir vlieg ontwerp. Voëls het byvoorbeeld ligte, hol bene sowel as ’n buitengewoon doeltreffende asemhalingstelsel en gespesialiseerde spiere om hulle vlerke te klap en te beheer. Hulle het selfs ’n aantal spiere wat die posisie van individuele vere beheer. En voëls het senuwees wat elke spier verbind met hulle klein maar merkwaardige brein wat vooraf geprogrammeer is om al hierdie stelsels gelyktydig, outomaties en met presisie te beheer. Ja, hierdie hele, ongelooflik komplekse kombinasie van elemente is nodig om te kan vlieg, nie net die vere nie.

Hou ook in gedagte dat elke voël as ’n piepklein sel begin wat al die instruksies vir sy ontwikkeling en instinkte bevat sodat hy eendag sal kan vlieg. Kon dit alles uit ’n lang reeks nuttige ongelukke voortgespruit het? Of is die eenvoudigste verduideliking ook die redelikste en wetenskaplikste—dat voëls en hulle vere bewys lewer van ’n hoogs intelligente Maker? Ons hoef net na die bewyse te kyk om die antwoord te kry.—Romeine 1:20.

[Voetnoot]

a Die fossielveer is van Archaeopteryx, ’n uitgestorwe dier wat soms voorgehou word as ’n “verlore skakel” in die lyn van afstamming van moderne voëls. Die meeste paleontoloë beskou dit egter nie meer as ’n voorouer van vandag se voëls nie.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Vervalste “Bewyse”

Sommige fossiel-“bewyse” wat vroeër entoesiasties aanvaar is as bewys dat voëls uit ander diere geëvolueer het, is sedertdien as vervalsings ontmasker. In 1999 was daar byvoorbeeld ’n artikel in die tydskrif National Geographic oor ’n fossiel van ’n geveerde dier met ’n stert soos dié van ’n dinosourus. Die tydskrif het gesê dat die dier “werklik ’n ontbrekende skakel is in die komplekse ketting wat dinosourusse met voëls verbind”. Maar dit het later aan die lig gekom dat die fossiel ’n vervalsing is en dat dit uit die fossiele van twee verskillende diere bestaan. Trouens, daar is nog nooit so ’n “ontbrekende skakel” gevind nie.

[Erkenning]

O. Louis Mazzatenta/National Geographic Image Collection

[Venster op bladsy 25]

Deur Die Oë Van ’N Voël

Mense word gefassineer deur voëls se helder en dikwels reënboogkleurige vere. Maar vir ander voëls lyk vere dalk selfs interessanter. Sommige voëls het vier soorte kleursensitiewe keëltjies in hulle oë, terwyl mense net drie soorte het. Hierdie ekstra keëltjies stel voëls in staat om ultravioletlig te sien, wat vir mense onsigbaar is. Mannetjies en wyfies van sommige voëlspesies lyk vir mense eenders, maar die mannetjie se vere weerkaats ultravioletlig anders as die wyfie s’n. Die voëls kan die verskil sien, en dit kan hulle help om ’n potensiële maat te identifiseer.

[Diagram op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Spriet

Baardjie

Ragis

[Prent op bladsy 24]

Kontoervere

[Prent op bladsy 24]

Haarveer

[Prent op bladsy 25]

Poeierveer

[Prent op bladsy 25]

Donsveer

[Prent op bladsy 24, 25]

Malgas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel