Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/12 bl. 19-21
  • Ek het ware liefde en gemoedsrus gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het ware liefde en gemoedsrus gevind
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Politieke aktivis
  • ’n Nuwe wending in my lewe
  • Ek maak veranderinge
  • Seëninge te midde van beroeringe
  • Ware gemoedsrus!
  • Young People Ask—What Will I Do With My Life? (Deel 1)
    Ons Koninkryksbediening—2012
  • ‘Jehovah, laat my asseblief toe om u te dien’
    Ontwaak!—2007
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2008
  • Is ’n wêreld sonder terrorisme moontlik?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 6/12 bl. 19-21

Ek het ware liefde en gemoedsrus gevind

Soos vertel deur Egidio Nahakbria

Terwyl ek grootgeword het, het ek verlate en ongeliefd gevoel. Maar nou voel ek geliefd en geniet ek ware gemoedsrus. Hoe het hierdie drastiese verandering plaasgevind? Kom ek verduidelik.

EK IS in 1976 in ’n hut met ’n moddervloer gebore in die berge van Oos-Timor, wat destyds deel van Indonesië was. Ek was die agtste van tien kinders, en ons ouers was brandarm. Omdat my ouers nie vir ons almal kon sorg nie, het hulle my identiese tweelingbroer gehou en my neef gevra om my groot te maak.

In Desember 1975, kort voordat ek gebore is, is Oos-Timor deur Indonesië binnegeval. Dit het ’n guerrilla-oorlog tot gevolg gehad wat meer as twee dekades lank geduur het. My vroegste herinneringe is dus van geweld en lyding. Ek onthou nog goed hoe soldate ons dorpie aangeval het en hoe almal vir hulle lewe moes vlug. Ek en my neef het na ’n afgeleë berghang gevlug waar duisende Timorese skuiling gaan soek het.

Die soldate het egter ons skuilplek ontdek, en kort voor lank het vyandelike bomme op ons neergereën. Ek het aaklige herinneringe van die verskrikking, dood en verwoesting wat gevolg het. Toe ons uiteindelik na ons dorpie teruggekeer het, het ek heeltyd in vrees gelewe. Baie van ons bure het verdwyn of is doodgemaak, en ek was bang dat ek volgende sou wees.

Toe ek tien was, het my neef siek geword en gesterf, en daarom het my ouers my gestuur om by my ouma te gaan bly. Sy was ’n verbitterde weduwee wat my as ’n las beskou het. Sy het my soos ’n slaaf laat werk. Toe ek eendag te siek was om te werk, het sy my geslaan en net daar gelos om te sterf. Gelukkig het een van my ooms my in sy huis ingeneem.

Op 12-jarige ouderdom het ek uiteindelik begin skoolgaan. Kort daarna het my oom se vrou siek geword, en hy het baie depressief geraak. Ek wou nie nog ’n las vir hulle wees nie, en daarom het ek weggehardloop en aangesluit by ’n groep Indonesiese soldate wat in die oerwoud gebly het. Ek was hulle helper—ek het klere gewas, kos gekook en die kamp skoongemaak. Hulle het my goed behandel, en ek het nuttig gevoel. Maar ná ’n paar maande het my familie my gevind en druk op die soldate uitgeoefen om my na my dorpie terug te neem.

Politieke aktivis

Toe ek klaar was met hoërskool, het ek na Oos-Timor se hoofstad, Dili, getrek en universiteit toe gegaan. Daar het ek baie jongmense ontmoet wat ’n soortgelyke agtergrond as ek gehad het. Ons het tot die slotsom gekom dat nasionale onafhanklikheid en maatskaplike verandering slegs deur middel van politieke optrede teweeggebring sou word. Ons studentegroep het talle politieke betogings gereël, waarvan die meeste in oproere ontaard het. Baie van my vriende is beseer. Party is selfs doodgemaak.

Teen die tyd dat Oos-Timor in 2002 onafhanklikheid verkry het, was die land verwoes, het tienduisende mense hulle lewe verloor en was honderdduisende ontwortel. Ek het gehoop dat toestande sou verbeter. Maar probleme soos wydverspreide werkloosheid, armoede en politieke onrus het voortgeduur.

’n Nuwe wending in my lewe

Destyds het ek by familie gewoon. ’n Verlangse familielid genaamd Andre, wat jonger as ek is en wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het ook daar gebly. As ’n vroom Rooms-Katoliek het ek nie daarvan gehou dat een van my familielede by ’n ander godsdiens betrokke raak nie. Tog wou ek meer van die Bybel weet en het ek nou en dan die Bybel gelees wat Andre in sy slaapkamer gehou het. Wat ek gelees het, het my belangstelling verder gewek.

Toe Andre vir my in 2004 ’n gedrukte uitnodiging na die Herdenking van Jesus se dood gegee het, het ek besluit om dit by te woon. Aangesien ek die uitnodiging verkeerd verstaan het, het ek twee uur te vroeg by die vergaderplek aangekom. Toe die Getuies, plaaslike sowel as buitelandse Getuies, daar begin aankom het, het hulle vriendelik my hand geskud en my tuis laat voel. Ek was beïndruk. Gedurende die Gedenkmaaltoespraak het ek elke teks in ’n notaboek neergeskryf en dit later in my Katolieke Bybel nageslaan om te sien of die spreker die waarheid gepraat het. En hy het!

Die volgende week is ek na my kerk toe om die mis by te woon. Toe ek en ’n paar ander laat daar aankom, het die priester ’n stuk hout gegryp en ons woedend by die kerk uitgejaag. Terwyl ons buite gestaan het, het die priester die diens afgesluit deur vir die gemeente te sê: “Mag die vrede van Jesus op julle rus.” Een vrou het dapper uitgeroep: “Hoe kan jy van vrede praat terwyl jy nou net daardie mense by die kerk uitgejaag het?” Die priester het haar geïgnoreer. Ek is daar weg en het nooit weer teruggekeer nie.

Kort daarna het ek die Bybel begin studeer en die Getuies se vergaderinge saam met Andre begin bywoon. Ons familie was ontsteld en het ons begin teëstaan. Andre se ouma het ons gewaarsku: “Ek sal ’n gat grou en julle twee daarin begrawe as julle aanhou om met die mense van daardie nuwe godsdiens te studeer.” Haar dreigemente het ons egter nie afgeskrik nie. Ons was vasbeslote om geestelike vordering te maak.

Ek maak veranderinge

Terwyl ek die Bybel gestudeer het, het ek tot die besef gekom dat ek nooit werklik geweet het wat liefde is nie. Ek was hard en heeltyd op die verdediging, en ek het dit moeilik gevind om mense te vertrou. Maar die Getuies het opregte belangstelling in my getoon. Toe ek baie siek geword het en my familie niks gedoen het om my te help nie, het die Getuies my besoek en my gehelp. Hulle liefde was nie “blote woorde en lippetaal” nie, maar “ware liefde, wat deur dade bewys word”.—1 Johannes 3:18, Today’s English Version.

Ondanks my intimiderende voorkoms en houding het die Getuies my met “meegevoel” en “broederlike geneentheid” behandel (1 Petrus 3:8). Vir die eerste keer in my lewe het ek geliefd begin voel. Ek het sagmoediger geword en het liefde vir God en my medemens begin ontwikkel. Gevolglik het ek my toewyding aan Jehovah in Desember 2004 deur waterdoop gesimboliseer. Andre is kort daarna gedoop.

Seëninge te midde van beroeringe

Ná my doop het ek ’n brandende begeerte gehad om ander te help wat nog nooit ware liefde of geregtigheid ondervind het nie. Daarom het ek die voltydse Christelike bediening betree, of begin pionier, soos Jehovah se Getuies dit noem. Dit was baie verkwikkender om ander van die Bybel se opbouende boodskap te vertel as om by politieke betogings en oproere betrokke te wees. Uiteindelik kon ek mense werklik help!

In 2006 het politieke en streekspanning weer in Oos-Timor kop uitgesteek. Faksiegevegte het weens ou griewe uitgebreek. Die stad Dili is aangeval, en baie mense in die oostelike deel van die land het vir hulle lewe gevlug. Ek het saam met ander Getuies gevlug na Baucau, ’n groot dorp sowat 120 kilometer oos van Dili. Daar het ons beproewing in ’n seën verander, aangesien ons ’n nuwe gemeente kon stig—die eerste gemeente buite Dili.

Drie jaar later, in 2009, het ek ’n uitnodiging ontvang om ’n spesiale skool vir voltydse Christenbedienaars by te woon, wat in Djakarta, Indonesië, gehou is. Die Getuies in Djakarta het my in hulle huise en hulle harte verwelkom. Hulle opregte liefde het my diep getref. Ek het besef dat ek deel is van ’n “gemeenskap van broers”, ’n internasionale “gesin”, wat werklik vir my omgee.—1 Petrus 2:17.

Ware gemoedsrus!

Ná die skool het ek na Baucau teruggekeer, waar ek nog steeds woon. Dit verskaf my groot vreugde om die mense hier geestelik te help, net soos ander my eens gehelp het. Byvoorbeeld, in een afgeleë dorpie buite Baucau studeer ek en ander Getuies die Bybel met omtrent 20 mense, insluitende ’n aantal bejaardes wat nie kan lees of skryf nie. Die hele groep woon weeklikse vergaderinge by, en drie persone het by ons geestelike “gesin” aangesluit as gedoopte lede van die Christengemeente.

’n Hele paar jaar gelede het ek Felizarda ontmoet, ’n goedhartige meisie wat Bybelwaarheid aangeneem het en vinnig tot doop gevorder het. Ons is in 2011 getroud. Ek is ook baie bly dat Andre, my familielid, by die Takkantoor van Jehovah se Getuies in Oos-Timor dien. En die meeste van my familielede, selfs Andre se ouma wat ons eens wou begrawe, respekteer nou my geloof.

In die verlede was ek vol woede. Ek het gevoel dat niemand vir my lief is of ooit vir my lief kan wees nie. Maar Jehovah het my gehelp om uiteindelik ware liefde en gemoedsrus te vind!

[Prent op bladsy 19]

Egidio as ’n politieke aktivis

[Prent op bladsy 21]

Egidio en Felizarda saam met lede van die Baucau-gemeente, Oos-Timor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel