Die Spaanse Armada—’n reis met ’n tragiese einde
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
MEER as vier eeue gelede het twee vlote in die waters van die smal Engelse Kanaal geveg. Die geveg was tussen Protestante en Katolieke en was deel van die 16de-eeuse stryd tussen die leërs van die Protestantse koningin Elizabeth I van Engeland en die Rooms-Katolieke koning Filips II van Spanje. “Vir hulle was die botsing tussen die Engelse en Spaanse vlote in die Kanaal ’n finale stryd tot die dood toe tussen die magte van die lig en die magte van die duisternis”, verduidelik die boek The Defeat of the Spanish Armada.
Engelse waarnemers wat destyds gelewe het, het die Spaanse Armada, of groot vloot, beskryf as “die grootste vlootmag wat hulle al ooit op die oop see gesien het”. Maar die krygstog waarop die Armada was, was ’n tragiese fout—veral vir die duisende wat hulle lewens verloor het. Wat was die doel daarvan, en waarom het dit misluk?
Waarom die beplande inval?
Engelse seerowers het Spaanse skepe jare lank geplunder, en koningin Elizabeth van Engeland het die Nederlandse opstand teen die Spaanse bewind aktief ondersteun. Daarbenewens het die Katolieke Filips II verplig gevoel om Engelse Katolieke te help om hulle land te bevry van die toenemende Protestantse “kettery”. Daarom was daar sowat 180 priesters en godsdiensraadgewers aan boord van die Armada. Selfs toe die bemanning van die Armada bymekaargekom het, moes elke man sy sondes aan ’n priester bely en die Nagmaal ontvang.
Die godsdiensstemming van Spanje en sy koning was verpersoonlik deur die bekende Spaanse Jesuïet Pedro de Ribadeneyra, wat gesê het: “God ons Here, wie se saak en allerheiligste geloof ons verdedig, sal voor ons uitgaan—en met so ’n kaptein het ons niks om te vrees nie.” Maar die Engelse het gehoop dat ’n beslissende oorwinning die weg sou baan vir Protestantse idees om vinnig deur Europa te versprei.
Die Spaanse koning se invalsplan het eenvoudig gelyk. Hy het die Armada beveel om met die Engelse Kanaal op te vaar en die Hertog van Parma en sy 30 000 geharde soldate in Vlaandere op te laai.a Die gesamentlike magte sou dan die Kanaal oorsteek, op die kus van Essex aan wal gaan en teen Londen opruk. Filips het aangeneem dat Engelse Katolieke teen hulle Protestantse koningin sou draai en by sy leër sou aansluit.
Filips se plan het egter ernstige leemtes gehad. Hy het aangeneem dat hy God se ondersteuning en leiding het, maar hy het twee groot struikelblokke oor die hoof gesien—die mag van die Engelse vloot en die probleem om die Hertog van Parma se manskappe op te laai sonder ’n geskikte diepwaterhawe waar hulle kon ontmoet.
’n Ontsaglike maar moeilik hanteerbare vloot
Filips het die Hertog van Medina-Sidonia as die bevelvoerder van die Armada aangestel. Hoewel die hertog min ondervinding in die vloot gehad het, was hy ’n uitstekende organiseerder wat gou die samewerking van sy ervare kapteins gekry het. Saam het hulle ’n strydmag georganiseer en het hulle die ontsaglike vloot so goed as moontlik van voorraad voorsien. Hulle het die seine, afvaartbevele en formasies wat hulle multinasionale mag sou verenig, sorgvuldig uitgewerk.
Op 29 Mei 1588 het die 130 skepe, bykans 20- 000 soldate en 8 000 matrose wat die Armada uitgemaak het, uiteindelik uit Lissabon se hawe vertrek. Weens teenwinde en ’n storm moes hulle egter by La Coruña, in Noordwes-Spanje, vir herstelwerk en nog voorraad aandoen. Omdat die Hertog van Medina-Sidonia besorg was oor onvoldoende proviand en siekte onder sy manne, het hy ’n reguit brief aan die koning geskryf aangaande sy bedenkinge oor die hele onderneming. Maar Filips het daarop aangedring dat sy admiraal by die plan hou. Die moeilik hanteerbare vloot het dus sy reis voortgesit en uiteindelik die Engelse Kanaal bereik, twee maande nadat dit uit Lissabon weggeseil het.
Gevegte in die Engelse Kanaal
Toe die Spaanse vloot die kus van Plymouth, in Suidwes-Engeland, bereik, het die Engelse hulle ingewag. Albei kante het omtrent ewe veel skepe gehad, maar hulle ontwerp het verskil. Die Spaanse skepe het hoog op die water gesit, en hulle dekke was vol kortafstandkanonne. Groot skiettorings op die voor- en agterstewe het hulle soos drywende forte laat lyk. Die Spaanse gevegstaktiek het vereis dat hulle manskappe aan boord van die ander skepe gaan en die vyand oorrompel. Die Engelse skepe was laer en vinniger, met meer langafstandkanonne. Hulle kapteins se plan was om nie naby die vyand te kom nie en om die Spaanse skepe van ’n afstand af te vernietig.
Om opgewasse te wees teen die groter beweeglikheid en vuurkrag van die Engelse vloot, het die Spaanse admiraal ’n verdedigende formasie in die vorm van ’n sekel, of halfmaan, uitgewerk. Die sterkste skepe met die beste langafstandkanonne moes die kante bewaak. Ongeag van watter rigting die vyand aanval, die Armada kon in daardie rigting draai en die vyand trotseer soos ’n buffel wat sy horings vir ’n aankomende leeu wys.
Die twee vlote het oor die hele lengte van die Engelse Kanaal geskermutsel, en hulle het twee kleinerige stryde geveg. Die Spaanse verdedigende formasie was doeltreffend, en die langafstandsvuur van die Engelse het geen Spaanse skepe gesink nie. Die Engelse kapteins het tot die slotsom gekom dat hulle die formasie op die een of ander manier moet opbreek en die afstand tussen hulle moet verminder. Die geleentheid het hom op 7 Augustus voorgedoen.
Die Hertog van Medina-Sidonia het by sy bevele gebly en die Armada na ’n ontmoeting met die Hertog van Parma en sy troepe gelei. Terwyl die Hertog van Medina-Sidonia gewag het op tyding van die Hertog van Parma, het hy sy vloot beveel om by Calais, aan die Franse kus, anker te gooi. Terwyl die Spaanse skepe geanker en kwesbaar was, het die Engelse agt skepe ingestuur, wat hulle volgelaai het met ontvlambare stowwe en aan die brand gesteek het. Die meeste van die Spaanse kapteins het desperaat weggeseil om die gevaar te ontwyk. Toe het die sterk wind en stroom hulle noordwaarts gedwing.
Met dagbreek die volgende dag is die finale stryd gevoer. Die Engelse skepe het van ’n kort afstand op die Spaanse skepe geskiet en ten minste drie skepe vernietig en talle meer beskadig. Aangesien die Spanjaarde min ammunisie gehad het, moes hulle die aanval hulpeloos verduur.
’n Hewige storm het daartoe gelei dat die Engelse hulle aanval tot die volgende dag uitgestel het. Daardie oggend het die Armada hulle weer in die sekelformasie opgestel en, met min ammunisie oor, na die vyand gedraai en hulle gereed gemaak om te veg. Maar voordat die Engelse kon begin skiet, is die Spaanse skepe na die wal gedwing, onstuitbaar deur die wind en strome na rampspoed gedryf op Seeland se sandbanke naby die Nederlandse kus.
Toe die situasie hopeloos lyk, het die windrigting verander en die Armada noordwaarts na die veiligheid van die oop see gestoot. Maar die roete terug na Calais is deur die Engelse vloot versper, en die wind het die beskadigde Spaanse skepe nog steeds noordwaarts gedryf. Die Hertog van Medina-Sidonia het besluit dat hy nie anders kon as om die krygstog te staak en soveel skepe en manne as moontlik te red nie. Hy het besluit om na Spanje terug te keer deur om Skotland en Ierland te seil.
Storms en skipbreuke
Die Armada se beskadigde skepe het ’n baie moeilike terugrit huis toe gehad. Voedsel was skaars, en aangesien hulle vate gelek het, was daar min water. Die aanvalle deur die Engelse het baie van die skepe erg beskadig, en min was seewaardig. Toe, naby die noordwestelike kus van Ierland, het die Armada hewige storms teëgekom wat twee weke lank geduur het. Sommige skepe het spoorloos verdwyn! Ander het op die Ierse kus skipbreuk gely.
Op 23 September het die eerste skepe van die Armada uiteindelik Santander, Noord-Spanje, binnegesukkel. Ongeveer 60 skepe en net omtrent die helfte van die manne wat uit Lissabon weggeseil het, het teruggekeer huis toe. Duisende het in die see verdrink. Baie ander het weens hulle wonde of siekte tydens die reis huis toe beswyk. Selfs vir die oorlewendes wat die Spaanse kus bereik het, het die beproewing voortgeduur.
Die boek The Defeat of the Spanish Armada sê: “Etlike [skepe se bemanning] het glad nie voedsel gehad nie en het weens verhongering omgekom”, al was hulle in ’n Spaanse hawe geanker. Die boek sê dat een skip in die Spaanse hawe Laredo gestrand het “omdat daar nie genoeg manne oor was wat die seile kon laat sak en die anker kon uitgooi nie”.
’n Betekenisvolle nederlaag
Die oorwinning oor die Armada het die Protestante van Noord-Europa vertroue gegee, al het godsdiensoorloë onverpoos voortgewoed. Die feit dat Protestante geglo het dat hulle oorwinning ’n bewys was van goddelike guns, kan gesien word op ’n Nederlandse medalje wat die gebeurtenis herdenk. Die inskrywing daarop sê: Flavit יהוה et dissipati sunt 1588, wat beteken “Jehovah het geblaas en hulle is verstrooi, 1588”.
Mettertyd het Groot-Brittanje die rol van ’n wêreldmoondheid ingeneem, soos die boek Modern Europe to 1870 sê: “Groot-Brittanje het in 1763 die wêreld se grootste kommersiële en koloniale mag geword.” Trouens, “in 1763 het die Britse Ryk die wêreld soos ’n herrese en vergrote Romeinse Ryk oorheers”, sê die boek Navy and Empire. Later het Groot-Brittanje met sy voormalige kolonie die Verenigde State van Amerika verenig en die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid gevorm.
Bybelstudente vind die opkoms en ondergang van die politieke wêreldmoondhede fassinerend. Dit is omdat die Heilige Skrif heelwat inligting verskaf oor die opeenvolgende wêreldregerings, naamlik Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en uiteindelik die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid. Trouens, die Bybel het die opkoms en ondergang van etlike van hierdie moondhede lank voor die tyd voorspel.—Daniël 8:3-8, 20-22; Openbaring 17:1-6, 9-11.
Wanneer ’n mens terugkyk, is dit duidelik dat die gebeure van die somer van 1588, toe die Spaanse Armada se pogings om Engeland te verower onsuksesvol was, baie betekenisvol is. Byna 200 jaar nadat die Armada verslaan is, het Groot-Brittanje wêreldprominensie verkry en later ’n sleutelrol in die vervulling van Bybelprofesie gespeel.
[Voetnoot]
a Hierdie gebied was deel van Spaanse Nederland, waaroor Spanje gedurende die 16de eeu geheers het. Dit het die kusgebiede van Noord-Frankryk, België en Holland ingesluit.
[Diagram/Kaart op bladsy 26, 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die reis van die Spaanse Armada
—— Roete van krygstog
–– Terugreis
X Gevegte
SPANJE
Lissabon
La Coruña
Santander
VLAANDERE
Calais
SPAANSE NEDERLAND
VERENIGDE NEDERLANDE
ENGELAND
Plymouth
Londen
IERLAND
[Prent op bladsy 24]
Koning Filips II
[Erkenning]
Biblioteca Nacional, Madrid
[Prent op bladsy 24]
Koningin Elizabeth I
[Prent op bladsy 24, 25]
Die Hertog van Medina-Sidonia was die bevelvoerder van die Spaanse Armada
[Erkenning]
Cortesía de Fundación Casa de Medina Sidonia
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Museo Naval, Madrid