Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/11 bl. 24-25
  • Hoe die weer die loop van die geskiedenis kan verander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe die weer die loop van die geskiedenis kan verander
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toe die stormwinde gewaai het
  • Nederlaag weens die reën
  • Die Spaanse Armada—’n reis met ’n tragiese einde
    Ontwaak!—2007
  • Die goue era van koningin Elizabeth I—Mite of werklikheid?
    Ontwaak!—2010
  • Die Spaanse Bybel se stryd om behoue te bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Skepe van Kittim” bevaar die see
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 6/11 bl. 24-25

Hoe die weer die loop van die geskiedenis kan verander

DIE opgetekende geskiedenis vertel van merkwaardige gevalle waar die weer ’n vername rol in die afloop van gebeure gespeel het. Kom ons kyk na slegs twee voorbeelde.

Toe die stormwinde gewaai het

In 1588 het koning Filips van Spanje ’n vloot skepe, wat as die Spaanse Armada bekend gestaan het, gestuur om Engeland binne te val. Maar dinge het nie verloop soos verwag is nie omdat die weer sy planne in die wiele gery het.

Die Spaanse vloot het die Engelse Kanaal binnegevaar en is begroet deur ’n vloot Engelse skepe. Die Engelse skepe, wat makliker kon beweeg, het die Spaanse skepe aangeval, maar min skade aangerig. Daarna het die Spaanse Armada naby Calais anker gegooi waar hulle troepe moes optel om Engeland in te val.

Intussen het die Engelse, onder bedekking van die nag, ’n hele paar van hulle eie skepe aan die brand gesteek, wat onbeman met behulp van die wind en ’n gunstige seestroom in die rigting van die geankerde Spaanse skepe geseil het. Baie van die Spaanse skepe het hulle ankers losgesny om te voorkom dat die vuurskepe hulle tref. Hierdie optrede sou die Spanjaarde later duur te staan kom.

Ná hierdie voorval by Calais het al twee vlote die Noordsee ingeseil, met die wind van agter. Teen dié tyd het die Engelse vloot hulle voorraad buskruit opgebruik, en daarom het hulle na die Engelse kus teruggekeer. Die Spanjaarde, met die wind teen hulle en die Engelse tussen hulle en Spanje, is gedwing om noordwaarts om Skotland te seil, toe suidwaarts verby Ierland en uiteindelik terug na Spanje.

Teen dié tyd was die Spaanse vloot se voorraad kos en water gevaarlik laag, en die beskadigde skepe het talle gewonde soldate vervoer, asook ander wat skeurbuik gehad het. Die hele vloot is dus op skraal rantsoen geplaas, wat die bemanning nog verder verswak het.

Nadat die vloot om Skotland gevaar het, het ’n hewige Atlantiese storm baie van die skepe nader aan die kus van Ierland gedryf. Normaalweg sou hulle anker gegooi het en vir gunstige winde gewag het. Maar omdat baie van die ankers tydens die vorige voorval met die vuurskepe losgesny is, het 26 van die Spaanse skepe op die Ierse kus skipbreuk gely, wat die dood van sowat 5 000 tot 6 000 man tot gevolg gehad het.

Teen die tyd dat die Armada Spanje bereik het, het byna 20 000 mense hulle lewe verloor. Die weer was ongetwyfeld die beslissende faktor in die swaar verlies van manne en skepe. Die Nederlanders het klaarblyklik so gedink. Later het die Nederlanders, op ’n medalje wat die Spaanse Armada se ondergang gevier het, die gewilde oortuiging weerspieël dat God vir natuurrampe verantwoordelik is en het hulle die woorde: “Jehovah het geblaas en hulle is verstrooi”, op die medalje gegraveer.

Nederlaag weens die reën

Die Slag van Waterloo in 1815 was nog ’n gebeurtenis wat ernstig deur die weer beïnvloed is en wat die wêreld verander het. Geskiedenisverslae toon dat meer as 70 000 man in net ’n paar uur op die slagveld by Waterloo, ongeveer 21 kilometer suid van Brussel, België, gesneuwel het of gewond is. Die Britse Hertog van Wellington het die slagveld gekies en beheer oor die hoogliggende terrein behou. Hoewel Napoleon se Franse leër Wellington se troepe in getal oortref het, moes Napoleon die vyand voor sononder verslaan, want Wellington sou daardie aand versterkings van die Pruisiese leër ontvang. Maar die weer het weer eens ’n sleutelrol gespeel.

’n Stortreën het die nag voor die geveg geval. Die meeste van die soldate het gesê dat hierdie aand die ellendigste aand was wat hulle ooit moes deurmaak. Selfs toe sommige van hulle klein tente kon oprig, het een soldaat gekla dat die beddens binne die tente so nat was dat ’n mens sou sê dat dit op die bodem van ’n meer gelê het. Die deurweekte grond is deur die reën in ’n moeras omskep. Om te verseker dat hy Wellington vroeg verslaan, was Napoleon van plan om met dagbreek aan te val. Hy kon egter eers ure later sy aanval loods.

Die hoofrede vir dié vertraging was die toestand van die grond, wat ietwat droër moes word voordat die geveg kon begin. Die modder het ook die doeltreffendheid van die kanonne, Napoleon se gunstelingwapen, belemmer. Eerstens is die trefafstand van die kanonne verminder omdat dit moeilik was om hierdie swaar masjiene in die modder rond te beweeg. Tweedens was die kanonkoeëls veronderstel om van die grond af op te slaan en sodoende verdere verwoesting onder Wellington se troepe te saai. Maar dit het nie gebeur nie omdat die sagte, nat grond baie van die energie geabsorbeer het. Dit was vir Napoleon en sy troepe ’n ramp. Weens die uiterste weerstoestande is Napoleon se leër dus verslaan en is hy verban.

In albei die bogenoemde gevalle het die weer blykbaar ’n beslissende uitwerking gehad op gebeure wat die loop van die wêreldgeskiedenis grootliks sou verander. Hierdie verwikkelinge het weer ’n sleutelrol in die opkoms van die Britse Ryk gespeel.

[Prent op bladsy 24]

Die Spaanse Armada

[Erkenning]

© 19th era/Alamy

[Prent op bladsy 25]

Die slag van Waterloo

[Erkenning]

© Bettman/CORBIS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel