Jongmense vra . . .
Wat moet ek doen wanneer my ouers stry?
DIT is altyd ontstellend as jou ouers stry. Jy is immers lief vir hulle en jy maak staat op hulle vir ondersteuning. Wanneer dit dus lyk of hulle eenvoudig nie met mekaar oor die weg kan kom nie, is daar dalk ’n paar dinge waaroor jy bekommerd kan raak. Waarom lyk dit soms of jou ouers nie op dieselfde golflengte is nie?
Verskillende beskouings
Jesus het gesê dat ’n man en ’n vrou “een vlees” word wanneer hulle trou (Matteus 19:5). Maar beteken dit dat jou pa en ma altyd dieselfde beskouing van sake sal hê? Glad nie. Om die waarheid te sê, enige twee mense—selfs ’n man en vrou wat werklik verenig is—sal soms met mekaar verskil.
As jou ouers meningsverskille het, beteken dit nie dat hulle huwelik besig is om te verbrokkel nie. Jou ouers is heel waarskynlik nog lief vir mekaar—al werk hulle soms op mekaar se senuwees. Waarom stry hulle dan? Miskien het hulle verskillende benaderings tot sekere sake. Dis nie altyd verkeerd nie, en dit beteken ook nie dat hulle verhouding tot mislukking gedoem is nie.
Ter toeligting: Het jy al ooit saam met goeie vriende gaan fliek en uitgevind dat jou opinie van wat julle gesien het, van hulle s’n verskil? Dit kan gebeur. Selfs mense wat geheg is aan mekaar, sal dinge verskillend beskou.
Dit kan ook die geval wees met jou ouers. Dalk is albei van hulle besorg oor die gesin se finansies, maar elkeen het sy eie beskouing van hoe om te begroot; albei van hulle wil ’n gesinsvakansie beplan, maar elkeen het ’n ander opinie van wat ontspanning is; of albei van hulle wil baie graag hê dat jy goed moet vaar op skool, maar elkeen het ’n ander idee van wat die beste manier sal wees om jou te motiveer. Die punt is, eenheid vereis nie eenvormigheid nie. Selfs twee mense wat in ’n eenvlees-band verenig is, kan verskillende beskouings hê.
Maar waarom laat jou ouers soms toe dat hulle verskille spanning tussen hulle veroorsaak? Waarom ontaard ’n bespreking in ’n volskaalse argument bloot weens iemand anders se beskouing?
Die rol van onvolmaaktheid
Baie argumente tussen ouers kan aan onvolmaaktheid toegeskryf word. Die Bybel sê: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Jou ouers is nie volmaak nie, net so min as wat jy volmaak is. Van tyd tot tyd sê almal van ons dinge wat ons nie werklik bedoel nie, en soms kan ons woorde seermaak ‘soos swaardsteke’.—Spreuke 12:18.
Dit het waarskynlik al met jou gebeur. Kan jy byvoorbeeld aan ’n tyd dink toe jy kwaai gestry het met iemand na aan jou? Jy kan waarskynlik. “Almal het meningsverskille”, erken ’n jong meisie met die naam Marie.a “Om die waarheid te sê, die mense vir wie ek die liefste is, kan my ook die meeste irriteer—heel moontlik omdat ek soveel van hulle verwag!” Christenmans en -vrouens verwag baie van mekaar, aangesien die Bybel ’n hoë standaard vir hulle stel (Efesiërs 5:24, 25). Omdat hulle onvolmaak is, is dit net ’n kwessie van tyd voordat een of albei van hulle ’n fout gaan maak. Die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23; 5:12.
Daarom is dit glad nie verbasend dat die verhouding tussen jou ouers ten minste soms ietwat gespanne sal wees nie. Trouens, die apostel Paulus het geskryf dat egpare “verdrukking in hulle vlees”, of soos The New English Bible daardie frase vertaal, “pyn en verdriet”, sal hê (1 Korintiërs 7:28). ’n Veeleisende baas, ’n verkeersknoop, ’n onverwagte rekening—dit is net ’n paar van die uitdagings wat die druk by die huis kan laat opbou.
Die wete dat jou ouers onvolmaak is en dat hulle dalk onder groot druk is, kan jou help om hulle rusies in perspektief te plaas. Dit is wat Marie gevind het. “Deesdae lyk dit of my ouers meer kibbel as voorheen”, sê sy, “en soms wonder ek of hulle net moeg raak vir mekaar. Maar dan dink ek by myself: ‘Wees realisties—25 jaar van getroude lewe en vyf kinders is nie kinderspeletjies nie!’” Dalk kan jy ook “meegevoel” betoon as jy besef dat daar baie eise aan jou ouers gestel word.—1 Petrus 3:8.
Hoe om die situasie te hanteer
Jy besef dalk dat jou ouers onvolmaak is en jy weet dat hulle met daaglikse druk te kampe het. Maar die vraag bly staan: Wat kan jy doen wanneer hulle stry? Hier is ’n paar wenke:
◼ Moenie inmeng nie (Spreuke 26:17). Dit is nie jou verantwoordelikheid om huweliksberader te speel of om onenigheid tussen jou ouers uit te stryk nie. Enige poging om betrokke te raak, sal in elk geval waarskynlik boemerang. “Ek het al skeidsregter probeer speel, en dan sê hulle gewoonlik vir my dat dit niks met my te doen het nie”, sê die 18-jarige Charlene. Laat jou ouers die probleem oplos.
◼ Hou dinge in perspektief (Kolossense 3:13). Soos vroeër gemeld is, beteken die feit dat jou ouers van tyd tot tyd stry nie noodwendig dat hulle op die punt staan om uitmekaar te gaan nie. Moet dus nie te bekommerd raak as jou ouers af en toe rusie maak nie. Melanie, 20, sê van haar ouers: “Al stry hulle, weet ek dat hulle mekaar en die gesin nog liefhet. Hulle sal die probleem oplos.” Dit is ook heel moontlik die geval wanneer jou ouers ’n meningsverskil het.
◼ Bid oor wat jou kwel. Jy hoef nie jou kwelgedagtes op te krop nie. Die Bybel sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Gebed kan ’n verskil maak. Die apostel Paulus het aan die Filippense geskryf: “Laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
◼ Pas jou op. Dit is onverstandig om jou te verknies oor iets waaroor jy nie beheer het nie. Dit kan selfs jou gesondheid aantas. Die Bybel sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig” (Spreuke 12:25). Probeer om angstigheid te verlig deur tyd saam met vriende te bestee wat jou bemoedig, en deur aan heilsame bedrywighede deel te neem.
◼ Praat met jou ouers. Hoewel jy nie betrokke hoef te raak by jou ouers se argumente nie, kan jy beslis met hulle praat oor hoe hulle stryery jou raak. Kies ’n geskikte tyd om een van hulle te nader (Spreuke 25:11). Praat met “sagmoedigheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Moenie beskuldig nie. Verduidelik eenvoudig hoe dit jou laat voel.
Probeer gerus hierdie wenke. Jou ouers sal dalk net op jou pogings reageer. En al doen hulle dit nie, weet jy ten minste dat hoewel jy nie jou ouers se optrede kan beheer nie, jy wel iets kan doen omtrent hoe jy reageer wanneer hulle stry.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra . . . ” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnoot]
a Name in hierdie artikel is verander.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Waarom vind ouers dit soms moeilik om met mekaar oor die weg te kom?
◼ Wat sal jy vir ’n jonger broer of suster sê wat ontsteld is omdat julle ouers stry?
[Venster op bladsy 20]
’N WOORDJIE AAN OUERS
Meningsverskille is onvermydelik in die huwelik. Dit hang egter van julle af hoe julle dit hanteer. Jongmense word diep geraak deur hulle ouers se argumente. Dit is ’n saak wat ernstige aandag verdien, aangesien julle huwelik in werklikheid ’n voorbeeld is wat julle kinders waarskynlik sal volg as hulle trou (Spreuke 22:6). Gebruik meningsverskille eerder as ’n geleentheid om doeltreffende maniere te demonstreer om geskille uit te stryk. Probeer die volgende:
Luister. Die Bybel sê dat ons “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Moenie olie op die vuur gooi deur “kwaad vir kwaad [te] vergeld” nie (Romeine 12:17). Al lyk dit nie of jou huweliksmaat wil luister nie, kan jy kies om te luister.
Probeer om te verduidelik en nie te kritiseer nie. Sê vir jou huweliksmaat op ’n kalm manier hoe sy of haar gedrag jou geraak het. (“Ek voel seergemaak wanneer jy . . . ”) Weerstaan die drang om te beskuldig en te kritiseer. (“Jy gee nie vir my om nie.” “Jy luister nooit nie.”)
Onderbreek die gesprek. Soms is dit die beste om die saak te los en die bespreking te hervat wanneer julle afgekoel het. Die Bybel sê: “Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat; gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”—Spreuke 17:14.
Vra mekaar, en indien nodig die kinders, om verskoning. Brianne, 14, sê: “Soms sal my ouers, nadat hulle gestry het, my en my ouer broer om verskoning vra omdat hulle weet hoe dit ons laat voel.” Een van die waardevolste lesse wat julle julle kinders kan leer, is hoe om nederig te sê: “Ek is jammer.”
Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van 8 Januarie 2001, bladsye 8-14, en 22 Januarie 1994, bladsye 3-12.
[Prent op bladsy 19]
Moenie beskuldig nie. Verduidelik eenvoudig hoe jy voel