Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/06 bl. 16-18
  • Waarom is die see sout?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is die see sout?
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat hou die soutvlakke stabiel?
  • Verbasende stabiliteit
  • “Uit die edelste ouers gebore”
    Ontwaak!—2006
  • Sout—iets waardevols
    Ontwaak!—2002
  • ’n Besonderse see—maar dood!
    Ontwaak!—2008
  • Water—lewensbloed van die aarde
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 7/06 bl. 16-18

Waarom is die see sout?

AS AL die sout in die see eweredig oor die land versprei word, sou dit ’n laag vorm wat meer as 150 meter dik is—sowat 45 verdiepings hoog! Waar kom al daardie sout vandaan, veral as ’n mens in ag neem dat tallose varswaterstrome en -riviere in die oseane uitvloei? Wetenskaplikes het ’n aantal bronne ontdek.

Een bron is die grond onder ons voete. Wanneer reënwater deur grond en rotse syfer, los dit klein hoeveelhede minerale op, insluitende soute en die chemiese komponente daarvan, wat dan deur strome en riviere see toe gedra word (1). Hierdie proses word verwering genoem. Die soutkonsentrasie in varswater is natuurlik baie laag, daarom kan ons dit nie proe nie.

’n Ander bron is soutvormende minerale in die aardkors onder die oseane. Water dring die seebodem deur krake binne, word superverhit en keer met opgeloste minerale terug na die oppervlak. Hidrotermiese openinge—waarvan sommige diepseegeisers vorm—stort hierdie chemiese sop in die see uit (2).

In ’n omgekeerde proses wat ’n soortgelyke resultaat tot gevolg het, stort onderseevulkane groot hoeveelhede warm rots in die oseane uit, waar die rots chemiese stowwe in die water vrystel (3). Nog ’n bron van minerale is die wind, wat deeltjies van die land af see toe dra (4). Al hierdie prosesse maak seewater ’n oplossing van byna elke bekende element. Die grootste soutkomponent is egter natriumchloried—gewone tafelsout. Dit maak 85 persent van die opgeloste soute uit en is die hoofrede waarom seewater sout smaak.

Wat hou die soutvlakke stabiel?

Soute word in die see gekonsentreer omdat die water wat uit die see verdamp, byna suiwer is. Die minerale word agtergelaat. Terselfdertyd word nog minerale in die oseane gestort; tog bly die soutvlak in seewater stabiel teen omtrent 35 dele per duisend. Klaarblyklik word soute en ander minerale teen ongeveer dieselfde tempo bygevoeg en verwyder. Dit gee aanleiding tot die vraag: Waarheen gaan die soute?

Baie soutkomponente word in die liggame van lewende organismes opgeneem. Byvoorbeeld, koraalpoliepe, weekdiere en skaaldiere neem die soutkomponent kalsium op vir hulle skulpe en skelette. Mikroskopiese alge wat diatome genoem word, haal silika uit die water uit. Bakterieë en ander organismes verteer opgeloste organiese materiaal. Wanneer hierdie organismes doodgaan of geëet word, gaan lê die soute en die minerale in hulle liggame uiteindelik op die seebodem as dooie materiaal of as uitwerpsels (5).

Baie soute wat nie deur biochemiese prosesse verwyder word nie, word op ander maniere verwyder. Byvoorbeeld, klei en ander terrigene materiaal wat in die oseane beland deur middel van riviere, landafloop en vulkaniese neerslag, bind soms sekere soute en voer dit dan na die seebodem toe. Party soute bind ook aan rots. Daar is dus ’n aantal prosesse wat baie van die sout op die seebodem laat beland (6).

Baie navorsers glo dat geofisiese prosesse die siklus voltooi, hoewel dit oor ’n baie lang tydperk plaasvind. Die aardkors bestaan uit reusagtige plate. Party plate kom by subduksiesones bymekaar, waar een plaat onder ’n ander een induik en in die warm aardmantel insink. Gewoonlik sink die digter oseaniese plaat onder die ligter kontinentale plaat in en neem dit, soos ’n ontsaglike vervoerband, terselfdertyd die vrag souterige sediment saam. Op hierdie manier word baie van die aardkors stadig herwin (7). Aardbewings, vulkane en rugsones is drie bewyse van hierdie proses.a

Verbasende stabiliteit

Die soutgehalte van die oseaan wissel van plek tot plek en soms van seisoen tot seisoen. Die soutste waters wat nie deur land ingeperk word nie, is in die Persiese Golf en die Rooi See, waar baie verdamping plaasvind. Dele van die oseaan wat varswater van groot riviere of baie reënval ontvang, is minder sout as seewater oor die algemeen. Dit is ook die geval met seewater naby smeltende poolys, wat bevrore varswater is. Aan die ander kant word die omliggende seewater souter wanneer ys vorm. Maar oor die algemeen is die soutgehalte van die oseaan baie stabiel.

Seewater het ook ’n relatief stabiele pH, wat ’n maatstaf is van die suurheid of alkaliniteit van ’n stof; ’n pH van 7 is neutraal. Die pH van seewater wissel tussen 7,4 en 8,3, wat effens alkalies is. (Mensebloed het ’n pH van ongeveer 7,4.) As die pH buite hierdie grense sou beweeg, sou die oseane in groot moeilikheid wees. Om die waarheid te sê, dit is juis wat wetenskaplikes nou vrees kan gebeur. Baie van die koolstofdioksied wat mense in die atmosfeer vrystel, beland in die oseane, waar dit met water reageer om koolsuur te vorm. Dit is dus moontlik dat mensebedrywighede die oseane stadigaan laat versuur.

Baie van die meganismes wat seewater chemies stabiel hou, word nie ten volle verstaan nie. Wat ons geleer het, beklemtoon nietemin die eindelose wysheid van die Skepper, wat omgee vir sy handewerk.—Openbaring 11:18.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die seebodem—Sy geheime word onthul”, in die Ontwaak! van 22 November 2000.

[Diagram/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Reën

1 Minerale in rotse

2 Hidrotermiese opening

3 Ondersese uitbarsting

4 Wind

OSEAAN

SEEBODEM

AARDKORS

5 Diatome

6 Vulkaniese erslag

7 SUBDUKSIESONE

[Erkennings]

Opening: © Science VU/Visuals Unlimited; uitbarsting: REUTERS/Japan Coast Guard/Handout

Diatome: Dr. Neil Sullivan, USC/NOAA Corps; foto van vulkaan: Dept. of Interior, National Park Service

[Venster/Diagram op bladsy 18]

Soute in die see

Hoewel wetenskaplikes seewater al meer as ’n eeu bestudeer, verstaan hulle nog steeds nie die chemiese samestelling daarvan ten volle nie. Maar hulle kon wel die verskillende opgeloste komponente van sout isoleer en bereken in watter verhoudings hulle voorkom. Hierdie komponente sluit in:

[Diagram]

55% chloried

30,6 natrium

7,7 sulfaat

3,7 magnesium

1,2 kalsium

1,1 kalium

0,4 bikarbonaat

0,2 bromied

en ’n aantal ander, soos boraat, stronsium en fluoried.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Souter as die oseaan

Party binnelandse watermassas is souter as die oseaan. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die Dooie See, die soutste watermassa op aarde. Water met opgeloste soute en minerale vloei in die Dooie See in, wat in Bybeltye die Soutsee genoem is (Numeri 34:3, 12). Omdat die kus van die Dooie See die laagliggendste droë plek op aarde is, kan die water dit net op een manier verlaat—deur verdamping, wat die seevlak in die somer met tot 25 millimeter per dag kan laat verlaag.

Gevolglik is die soutgehalte van die boonste waterlaag omtrent 30 persent—byna tien keer hoër as dié van die Middellandse See. Omdat die waterdigtheid toeneem namate die soutgehalte toeneem, dryf swemmers baie hoog in die water. Om die waarheid te sê, hulle kan sonder die hulp van ’n dryfapparaat op hulle rug lê en koerant lees.

[Venster op bladsy 18]

Sout help om die lug skoon te maak

Navorsing het getoon dat besoedelingsdeeltjies in die lug neerslag uit wolke oor die land onderdruk. Besoedelde wolke oor die oseaan bring egter geredeliker reën voort. Die verskil word toegeskryf aan seesoutaërosol, wat deur brandersproei gevorm word.

Waterdruppeltjies wat om besoedelingsdeeltjies in die atmosfeer vorm, is dikwels te klein om as reëndruppels te val; daarom bly hulle net in die lug hang. Seesoutaërosol voorsien kondensasiekerne in wolke oor die see en trek hierdie klein druppeltjies aan wat dan groter druppels vorm. Die resultaat is reën, wat ook help om die atmosfeer van besoedeling te suiwer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel