Pitch Lake—Die asfaltmeer van Trinidad en Tobago
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TRINIDAD
WAT het Hongkong se Hawetonnel, Oostenryk se Transalpynse Snelweg en Engeland se Jubileumwegviaduk gemeen? Die padoppervlak van al drie is op die een of ander stadium bedek met ’n mengsel wat ’n unieke asfalta bevat—asfalt wat uit Trinidad en Tobago se Pitch Lake-meer kom.
Die groot Pitch Lake-asfaltmeer is ’n natuurlike oppervlakafsetting van asfalt. In 1814 het ’n aardrykskundige woordeboek dit “’n baie merkwaardige verskynsel” genoem. Kom kyk self terwyl ons die meer besoek, wat naby die suidwestelike kus van Trinidad geleë is.
’n Wandeling op die meer
Ons kom by die dorp La Brea (Spaans vir “die pik”), waar dit lyk of van die sypaadjies in die grond insak. Party huise staan selfs skeef, asof hulle onder hulle eie gewig meegee. Ons het min tyd om te wonder waarom dit die geval is, want voor ons lê ’n gebied uitgestrek wat soos ’n reusagtige verlate parkeerterrein lyk. Ons het Pitch Lake bereik. Ons gids vertel ons dat die meer oor sowat 47 hektaar strek en in die middel ongeveer 80 meter diep is. “Kom ons bekyk dit van naderby”, stel hy voor.
Ons gee versigtig ons eerste treë op die meer en vind dat die oppervlak verbasend hard is, al is dit ongelyk. Trouens, die meer kan maklik die gewig van ’n vragmotor en ander swaar masjinerie dra! (As dit egter lank op een plek gelaat word, sal dit stadig wegsink.) Maar ons moet mooi trap! Op hierdie vaste oppervlak is daar plek-plek klein kolle klewerige bitumen wat die niksvermoedende besoeker ’n onaangename en taai verrassing kan gee.
Vandat ons hier aangekom het, was daar nou en dan ’n skerp reuk in die lug. “Dit is swawelwaterstofgas”, word daar vir ons gesê. Klein hoeveelhede vorm in die meer, tesame met metaan, etaan en koolstofdioksied. Ons gids breek ’n stuk asfalt oop, en ons sien dat dit soos Switserse kaas lyk—vol gate wat deur vasgekeerde gasborrels veroorsaak is.
Pitch Lake is ook ’n belangrike natuurlewehabitat. Party waterpoele wat op die oppervlak en in die grasryke rande om die meer vorm, is die blyplek van die skaars gemaskerde eend (Oxyura dominica). Ons sal waarskynlik nie vandag hierdie klein voël sien nie, want hy bly dikwels bewegingloos of verdwyn stil onder die water as iemand nader kom. Ons stap verby gras wat tot borshoogte groei, en skielik verskyn daar nog ’n voël, die lellangtoon (Jacana jacana). Sy donker lyf vorm ’n teenstelling met die liggeel onder sy vlerke. Die Amerikaanse koningriethaan (Porphyrula martinica) en ander moerasvoëls kom ook hier voor. Varswatervissies kan in die waterpoele gevind word, en soms word kaaimans gesien.
Al 400 jaar in gebruik
Ons gids wys na die kus en vertel dat die Britse ontdekkingsreisiger sir Walter Raleigh in 1595 in hierdie gebied anker gegooi het. Die meer, wat nou in ’n laagte lê, was destyds ’n gelyke vlakte met strome asfalt wat tot by die kus gestrek het. Raleigh het die asfalt gebruik om lekplekke in sy skepe toe te stop en het gesê dat dit “van uitstekende gehalte” is en “nie in die son smelt soos pik van Noorweë nie en dus baie nuttig is vir skepe wat met hawens in die suide handel dryf”.b
Die Kanadees, dr. Abraham Gesner, wat later die Vader van die Oliebedryf genoem is, het in 1846 ’n nuwe lampolie deur die distillasie van Trinidad se asfalt verkry. Hy het dit keroseen genoem. Ongelukkig het die swael in hierdie asfalt die olie nogal sleg laat ruik. Gesner het later ’n ander asfaltbron gevind wat feitlik reukloos was.
Trinidad se meerasfalt het werklik tot sy reg gekom toe die waarde daarvan vir padbou ontdek is. In 1876 het ingenieurs voorgestel dat dit vir die padoppervlak van Pennsilvaniëlaan in Washington, DC, gebruik word. Ondanks swaar verkeer het die padoppervlak blykbaar 11 jaar lank in ’n uitstekende toestand gebly. Dit het gehelp om Trinidad se asfalt ’n goeie naam te gee.
In onlangse jare kon oliemaatskappye goedkoper bitumen as ’n neweproduk van petroleumraffinering lewer. Maar ingenieurs het aangehou om Trinidad se natuurlike asfalt te gebruik wanneer hulle snelweë, brûe, lughawens en seehawens bou. Waarom?
’n Unieke mengsel
Dit is bekend dat hierdie asfalt, as dit ingesluit word in mengsels wat vir padbou gebruik word, help om die padoppervlakke sterker, duursamer, stewiger en glyvryer te maak—om nie eers te praat van die dofgrys oppervlak wat dit vir bestuurders makliker maak om in die nag te sien nie. Die meer se asfalt is al met welslae gebruik vir padoppervlakke waar temperature in die somer hoër as 40 grade Celsius word en in die winter tot onder minus 25 grade Celsius daal. Lughaweaanloopbane wat met hierdie asfalt gebou is, hou lank ondanks die druk waaraan dit onderwerp word as gevolg van swaar vliegtuie wat gedurig opstyg en land. Hierdie oppervlakke is ook bestand teen die verwerende uitwerking van ontysingsvloeistowwe sowel as brandstof en olie wat daarop uitlek. Baie van hierdie oppervlakke het meer as 20 jaar lank gehou met min of geen instandhouding nie.
Die kenmerke van Trinidad se meerasfalt word aan sy besondere samestelling toegeskryf. Die bitumen daarin bestaan uit 63 tot 67 persent maltene en 33 tot 37 persent asfaltene. Maltene is ’n klas klewerige petroleumchemikalieë wat bitumen klewerig maak. Die maltene in hierdie meerasfalt is al beskryf as “uiters klewerig en sementagtig eerder as olierig, soos in die geval van sekere soorte bitumen wat deur raffinaderye verkry word”. Asfaltene is ’n ander groep koolwaterstowwe wat help om bitumen ’n termoplastiese stof te maak—’n stof wat sag en vloeibaar word wanneer dit verhit word en verhard terwyl dit afkoel. Die kenmerke en relatiewe verhoudings van al hierdie komponente gee die asfalt eienskappe wat raffinaderye nie maklik kan nadoen nie.
Ontginning en raffinering
Die gedreun van swaar masjinerie trek ons aandag, en wanneer ons omkyk, sien ons mynboutoerusting tot op die meer ry. Dit is eintlik ’n yslike trekker wat met sterk metaaltande, of -vurke, toegerus is om asfalt van die meeroppervlak af te skeur. Die stukke asfalt word dan in spoorbusse gelaai wat deur kabels getrek word waarin dit na ’n nabygeleë fabriek vervoer kan word. Meer as negemiljoen ton asfalt is al sedert die laat 1800’s hier ontgin! Teen die huidige tempo van verbruik sal die geskatte tienmiljoen ton oorblywende asfalt na raming nog 400 jaar hou.
Nadat etlike ton asfalt uit die meer gehaal is, krimp en verdwyn die gat wat ontstaan het binne ’n paar weke. Dit gee die indruk dat die meer homself hervul. Maar die “vaste” asfalt is eintlik ’n baie vloeitrae vloeistof wat eenvoudig in die gat invloei. Die hele meer is dus voortdurend maar onmerkbaar aan die beweeg.
Onthou jy die skewe huise wat ons vroeër gesien het? Hulle verskuiwing kan deels toegeskryf word aan ondergrondse asfaltare wat weg van die meer af loop. In hierdie gebied moet mense versigtig kies waar hulle hulle huis bou.
“Kom ons gaan op na die fabriek toe”, stel ons gids voor. Die raffineringsproses is eintlik baie eenvoudig. Die onbehandelde asfalt word in groot vate gegooi wat elkeen meer as 100 ton kan hou. Hier word die asfalt gesmelt deur kronkelende pype waardeur stoom beweeg wat tot ongeveer 165 grade Celsius verhit word. Dit stel vasgekeerde gasse vry en raak van die oortollige water ontslae wat sowat 30 persent van die onbehandelde asfalt se gewig uitmaak. Dan word die asfalt gesif om stukkies hout en ander plantmateriaal te verwyder. Laastens word die warm asfalt uitgegooi in veselbordvate wat met silikonpapier uitgevoer is. Die vate word hier in die fabriek gemaak, en elkeen hou sowat 240 kilogram. Die hele raffineringsproses neem ongeveer 18 uur.
“Die gesuiwerde asfalt word Epuré genoem”, sê ons gids. Dit meng maklik met raffinaderybitumen en ander stowwe en lewer sodoende hoëgehaltemengsels wat vir padbou gebruik word. In onlangse jare is dit ook gebruik om ’n verskeidenheid verwe te maak sowel as produkte vir binding, isolering en waterdigting. Dit is dus al in baie huise en geboue oor die hele wêreld gebruik.
’n Skrywer het sake goed opgesom toe hy geskryf het: “Daar is iets . . . fassinerends omtrent hierdie wonderlike werk van God, wat die natuurkenner met ontsag en bewondering vervul.” Ja, Trinidad en Tobago se Pitch Lake-asfaltmeer is beslis ’n interessante plek om te besoek!
[Voetnote]
a Die woorde bitumen, asfalt, teer en pik word dikwels uitruilbaar gebruik. Maar bitumen is ’n algemene benaming vir ’n klas donker, swaar koolwaterstofverbindings wat in teer, pik en petroleum voorkom. Teer is ’n donker klewerige stof wat as ’n kondensaat uit die afbrekende distillasie van stowwe soos hout, steenkool en turf verkry word. Die verdere verdamping van teer lewer pik as ’n halfvaste residu. Daar is betreklik min bitumen in teer en pik.
Wanneer petroleum, of ruolie, verdamp het, bly ’n residu agter wat feitlik net uit bitumen bestaan. Bitumen wat van petroleum verkry word, word ook asfalt genoem. Maar op baie plekke verwys “asfalt” na ’n mengsel van bitumen en mineraalaggregate soos sand of gruis, wat dikwels in padbou gebruik word. In hierdie artikel verwys “asfalt” na of die ongeraffineerde of die geraffineerde produk van Pitch Lake.
b Die Bybel erken ook die waterdigtingseienskappe van asfalt of bitumen. Toe Noag opdrag gekry het om die ark te bou, is daar vir hom gesê dat hy “dit binne en buite met teer [moet] bedek” (Genesis 6:14). En volgens Eksodus 2:3 is die papirusmandjie waarin Moses weggesteek is, met “asfalt en pik” bestryk.
[Prent op bladsy 24, 25]
Pitch Lake is ’n natuurlike oppervlakafsetting van asfalt
[Prent op bladsy 26]
’n Asfaltraffinadery
[Prent op bladsy 26]
Asfalt word uit die meer ontgin