Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/08 bl. 12-15
  • Waar ek die naam Jehovah vir die eerste keer gehoor het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar ek die naam Jehovah vir die eerste keer gehoor het
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Krygsgevangene
  • Ek leer omtrent die ware God
  • Spesiale diens
  • Lektuurproduksie tydens die verbod
  • Onwelkome besoeke
  • Jehovah, ’n sterk toring
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
    Ontwaak!—2002
  • Jehovah het my in ’n woestyntronk onderskraag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 6/08 bl. 12-15

Waar ek die naam Jehovah vir die eerste keer gehoor het

Soos vertel deur Pavol Kovár

Gedurende die hewige bomaanval het ons net-net daarin geslaag om by ’n tydelike skuiling uit te kom. Toe die bomaanval vererger en ons skuiling geskud het, het ’n medegevangene hardop gebid: “O Jehovah, red ons! Ter wille van u heilige naam, red ons asseblief!”

DIT was 8 Januarie 1945, en ek was ’n krygsgevangene in die Oostenrykse stad Linz. Daar was ongeveer 250 van ons in daardie skuiling, en ons het almal die bomaanval oorleef. Toe ons daar uitkom, was daar oral om ons verwoesting. Die hartgrondige gebed wat ek gehoor het, was diep in my verstand geëts, al het ek nie geweet wie gebid het nie. Ek wil graag vertel hoe ek uiteindelik geleer het wie Jehovah is, maar laat ek eers ’n bietjie uitbrei oor my agtergrond.

Ek is gebore op 28 September 1921 in ’n huis naby die dorp Krajné, in Wes-Slowakye, wat destyds deel van Tsjeggo-Slowakye was. My ouers was Protestante wat ernstig was oor hulle godsdiens. My pa het Sondagoggende uit die Familiebybel voorgelees, en my ma en ons vier kinders het aandagtig geluister. Maar ek onthou nie dat my pa ooit die naam Jehovah gebruik het nie. Die lewe in ons omgewing was eenvoudig, maar ons was tevrede met die bietjie wat ons gehad het.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 begin het, was mense bang. Baie het die lyding goed onthou wat sowat 20 jaar tevore deur die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak is. In 1942 is ek vir diens in die Slowaakse leër opgeroep. Hoewel Slowakye hom amptelik aan die kant van Duitsland geskaar het, is ’n poging in Augustus 1944 aangewend om demokrasie te herstel. Toe dit misluk het, was ek een van duisende Slowaakse soldate wat as gevangenes na gebiede onder Duitse beheer geneem is. Ek het uiteindelik in Gusen beland, ’n onderkamp langs die berugte Mauthausen-konsentrasiekamp, naby Linz.

Krygsgevangene

Ons moes gaan werk by die vliegtuigfabriek nie ver van die dorp Sankt Georgen an der Gusen nie. Daar het ek by ’n saagmeule gewerk. Ons het min gehad om te eet, en ons rantsoene is in Januarie 1945 verder verminder, aangesien die Nazi-leër besig was om die oorlog aan alle fronte te verloor. Die enigste warm maaltyd wat ons gekry het, was ’n bietjie sop. Elke oggend het werkers van die kamp in Mauthausen by die tronk aangekom. Die wagte het dikwels die gevangenes wat te swak was om te werk, doodgeslaan. Later het medegevangenes die lyke op ’n wa gelaai en na die krematorium geneem.

Ondanks die ellende het ons gehoop dat die oorlog binnekort tot ’n einde sou kom. Op 5 Mei 1945, vier maande ná die bomaanval wat aan die begin beskryf is, het ek wakker geword omdat die tronk in beroering was, en ek het buitentoe gehardloop. Die wagte was weg, die gewere het op ’n hoop gelê, en die hekke het wawyd oop gestaan. Ons kon die ander kamp oorkant ’n weiveld sien. Vrygelate gevangenes het daaruit gestroom soos bye uit ’n brandende byekorf. Tydens die bevryding het party wreed wraak geneem. Die slagting wat plaasgevind het, is nog steeds in my geheue geëts.

Gevangenes het wraak geneem deur die kapos, gevangenes wat met die tronkbewaarders saamgewerk het, dood te slaan. Dikwels was die kapos selfs wreder as die Nazi-wagte. Ek het gesien hoe ’n gevangene ’n kapo doodslaan terwyl hy skree: “Hy het my pa doodgemaak. Ons het saam hier aan die lewe gebly, en net twee dae gelede het hy hom doodgemaak!” Teen die aand was die weiveld vol van die lyke van kapos en ander gevangenes—honderde van hulle. Later, voordat ons vertrek het, het ons deur die kamp gaan loop om te kyk na die dinge wat gebruik is om mense mee tereg te stel—veral die gaskamers en die oonde.

Ek leer omtrent die ware God

Teen die einde van Mei 1945 was ek terug by die huis. In die tussentyd het my ouers nie net God se naam, die naam wat ek in die bunker gehoor het, geleer nie, maar hulle het ook Jehovah se Getuies geword. Kort nadat ek teruggekeer het, het ek Oľga, ’n geestelikgesinde meisie, ontmoet, en ons het ’n jaar later getrou. Haar ywer vir Bybelwaarheid het my aangespoor om aan te hou om van Jehovah te leer. Gedurende een van die laaste byeenkomste voordat die nuwe Kommunistiese bewind in 1949 ’n verbod op ons predikingswerk geplaas het, is ek en Oľga, saam met 50 ander, in die Váh-rivier in Piešťany gedoop. Na verloop van tyd het ons twee dogters gehad, Oľga en Vlasta.

Ján Sebín, ’n Getuie wat gehelp het om die predikingswerk ná die Tweede Wêreldoorlog te herorganiseer, het dikwels by ons gekuier en was my intieme metgesel in die bediening. Ondanks toenemende vervolging deur die Kommuniste het ons aangehou om die predikingswerk te doen. Ons het goeie oordeel aan die dag gelê wanneer ons met mense oor Bybelwaarhede gepraat het en het kort voor lank baie Bybelstudies gehad. Toe Ján ons gebied verlaat het, het ek en my vrou daardie studies verder behartig. Later, by ons byeenkomste, het ons dikwels van hierdie dierbares ontmoet, saam met hulle kinders en kleinkinders. Watter vreugde het dit ons tog gebring!

Spesiale diens

Teen 1953 was baie Getuies wat die leiding in die predikingswerk geneem het, in die tronk. Ek is dus gevra om met die predikingswerk te help in ’n gebied wat omtrent 150 kilometer van ons huis af was. Ek het elke tweede week, nadat ek op ’n Saterdagmiddag klaar was met my sekulêre werk, per trein van die dorp Nové Mesto nad Váhom gereis na Martin, in die noorde van Sentraal-Slowakye. Daar het ek tot laat in die aand en die hele Sondag Bybelstudies gehou. Sondagaand het ek ’n trein terug na Nové Mesto geneem. Ek het gewoonlik omtrent teen middernag daar aangekom, en ’n bejaarde egpaar was so gaaf om my die nag by hulle te laat oorslaap. Dan het ek direk na my sekulêre werk gegaan en Maandagaand teruggekeer na my gesin, in die dorp Krajné. Wanneer ek naweke nie by die huis was nie, het Oľga na ons dogters omgesien.

In 1956 is ek genooi om as ’n kringopsiener te dien, ’n werk wat behels het dat ek gemeentes in ons gebied besoek om hulle geestelik te versterk. Aangesien baie wat in daardie hoedanigheid gedien het, in die tronk was, het ek gevoel dat ek hierdie verantwoordelikheid moes aanvaar. Ek en my vrou was vol vertroue dat Jehovah ons gesin sou help.

Volgens die Kommunistiese wet moes alle burgers ’n werk hê. Die regering het dié wat nie gewerk het nie, as parasiete beskou en hulle in die tronk gegooi. Ek het dus aangehou om sekulêr te werk. Ek het elke maand twee naweke by die huis saam met my gesin deurgebring en aan geestelike en ander bedrywighede deelgeneem; maar die ander twee naweke het ek een van die ses nabygeleë gemeentes in die kring besoek.

Lektuurproduksie tydens die verbod

Kringopsieners het die verantwoordelikheid gehad om te reël dat elke gemeente in die kring Bybellektuur kry. Aanvanklik is tydskrifte hoofsaaklik met die hand oorgeskryf of getik. Later kon ons fotonegatiewe van Die Wagtoring in die hande kry en dit na die gemeentes stuur. Die tydskrifte is dan op fotografiese papier gedupliseer. Aangesien dit agterdog kon wek as iemand groot hoeveelhede van hierdie papier gekoop het, moes dié wat die aankope gedoen het, moedig wees en goeie oordeel aan die dag lê.

Štefan Hučko het ’n groot liefde vir hierdie werk ontwikkel, en hy was baie bedrewe daarin. Om toe te lig: By een geleentheid het Štefan teruggekeer na ’n fotografiese winkel in ’n stad ver van waar hy gewoon het; hy was egter op die punt om uit te loop omdat daar niks beskikbaar was nie. Maar toe sien hy die vriendelike winkelassistent wat vroeër belowe het om vir hom papier te bestel. Net toe Štefan haar wou nader, het hy ’n polisieman die winkel sien binnekom. Terselfdertyd het die winkelassistent vir Štefan gesien en vriendelik uitgeroep: “Meneer! Jy’s gelukkig. Ons het die besending fotografiese papier ontvang wat jy wou hê.”

Štefan het vinnig gedink en geantwoord: “Ek is jammer, dame, maar jy verwar my seker met iemand anders. Ek wil net ’n film hê.”

Toe Štefan by sy motor kom, kon hy eenvoudig nie ry sonder daardie kosbare besending fotografiese papier waarvoor hy gekom het nie. Hy het dus later, nadat hy sy jas uitgetrek, sy pet afgehaal en sy voorkoms probeer verander het, weer by die winkel ingegaan en direk na die winkelassistent geloop. “Ek was verlede week hier”, het hy verduidelik, “en jy het belowe om fotografiese papier vir my te bestel. Het julle dit ontvang?”

“O ja, ons het”, het sy geantwoord. “Maar weet jy, meneer, net ’n paar minute gelede was hier ’n man wat net soos jy gelyk het. Dis ongelooflik—hy kon jou tweelingbroer gewees het!” Štefan het gou die groot voorraad papier gekoop en gegaan, en hy het Jehovah gedank dat Hy dit voorsien het.

Gedurende die 1980’s het ons mimeograafmasjiene en klein rubberdrukperse begin gebruik om Bybellektuur in solders en ander geheime plekke te produseer. Mettertyd was die aantal eksemplare van elke nommer van ons tydskrifte—sowel as die eksemplare boeke en boekies—net soveel as die aantal Getuies, en selfs meer.

Onwelkome besoeke

Op ’n dag gedurende die 1960’s is daar vir my gesê om aan te meld by die militêre afdeling van die maatskappy waar ek gewerk het. Drie mans in burgerdrag het my ondervra en wou weet: “Hoe lank assosieer jy al met Jehovah se Getuies? En wie is almal by julle vergaderinge?” Toe ek nie spesifieke besonderhede gee nie, het hulle gesê dat hulle later met my in verbinding sou tree. Dit was my eerste ontmoeting met die Staatsveiligheidsdiens, die geheime polisie.

Kort daarna is ek van my werksplek na die polisiestasie geneem. ’n Skoon stuk papier is voor my neergesit, en ek is gevra om die name van ander Getuies neer te skryf. Toe die man ná om en by ’n uur terugkom, was daar niks op die papier nie, en ek het verduidelik dat ek nie enige name kan voorsien nie. Die volgende week het dieselfde ding gebeur. Maar hierdie keer is ek geslaan, en op pad uit het hulle my al met die gang af geskop.

Daarna het hulle my ’n jaar lank in vrede gelaat. Toe het die polisie ’n man gestuur om my te besoek. Hy was ’n medegevangene in die Nazi-konsentrasiekamp. Hy het vir my gesê: “Ons moet ons benadering teenoor julle verander. Wanneer ons een Getuie in die tronk stop, kom daar vyf uit.” Die regering se plan was om ten minste ’n mate van beheer oor ons werk te verkry. Maar ek was vasbeslote om geen inligting te voorsien wat hulle in staat sou stel om dit te doen nie.

Ek was jare lank onder dié wat van tyd tot tyd sulke ontmoetings met die geheime polisie gehad het. Soms het hulle ons as vriende behandel, maar op ander tye het hulle een van ons tronk toe gestuur. Gelukkig is ek nooit in die tronk gesit nie, maar daardie ongewenste ontmoetings met die polisie het voortgeduur tot in 1989, die jaar toe Kommunisme in Tsjeggo-Slowakye ineengestort het.

’n Paar weke ná die ineenstorting het ’n hooggeplaaste lid van die Staatsveiligheidsdiens van Bratislava my besoek. Hy het om verskoning gevra en gesê: “As dit van my afgehang het, sou ons jou nooit gepla het nie.” Toe het hy twee sakke ingelegde vrugte as ’n geskenk uit sy motor gehaal.

Jehovah, ’n sterk toring

Hoewel ek my eerste 40 jaar as een van Jehovah se Getuies onder ’n verbod gedien het, het ek ’n gelukkige, vervullende lewe gehad. Die dinge wat ons gedurende daardie jare ondervind het, het ons getroue medegelowiges baie nader aan mekaar gebring. Ons het ons vriendskappe gekoester, asook die feit dat ons op mekaar kon vertrou.

In Maart 2003 het ek my dierbare vrou, Oľga, aan die dood afgestaan. Sy was gedurende ons hele getroude lewe ’n lojale metgesel. Ons was al daardie jare saam besig in die Christelike bediening. Ek dien nog steeds as ’n Christen- ouer man in ons gemeente en soek na verdienstelikes vir wie ek Bybelwaarhede kan vertel. Die naam Jehovah, wat ek vir die eerste keer gedurende die Tweede Wêreldoorlog in ’n bunker gehoor het, was nog altyd vir my ’n sterk toring.a—Spreuke 18:10.

[Voetnoot]

a Broer Pavol Kovár is op 14 Julie 2007 oorlede, gedurende die voorbereiding van hierdie artikel. Hy was 85.

[Prent op bladsy 12]

In 1942, toe ek in die Slowaakse leër was

[Prent op bladsy 12]

Later was ek in die tronk in Gusen (op die agtergrond)

[Erkenning]

© ČTK

[Prent op bladsy 12]

My pa het Sondagoggende vir ons uit die Bybel gelees

[Prent op bladsy 13]

Op ons troudag in 1946

[Prent op bladsy 15]

Saam met Oľga kort voor haar dood

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel