Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 12/22 bl. 19-23
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Dit is die waarheid’
  • Kosbare diensvoorregte
  • Huwelik en swaar toetse
  • Van die gevangenis na ’n strafkamp
  • Herorganisering van die werk
  • Vervolging onder die Kommuniste
  • ’n Bevredigende lewe in Jehovah se diens
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Gelei deur geloof in God In ’n Kommunistiese land
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 12/22 bl. 19-23

Geloof tydens beproewinge in Slowakye

SOOS VERTEL DEUR JÁN BALI

EK IS op 24 Desember 1910 gebore. Dit was in die dorpie Záhor, wat nou in oostelike Slowakye geleë is. Destyds was ons dorpie deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk. In 1913 het ek en my ma na die Verenigde State gegaan waar my pa was, wat Záhor vroeër verlaat het. Twee jaar nadat ek en my ma in Gary, Indiana, aangekom het, is my suster, Anna, gebore. Toe het my pa siek geword en in 1917 gesterf.

Ek het ’n ywerige student geword en het veral in godsdiens belanggestel. By die Calvinistiese Kerk waar ek Sondagskool bygewoon het, het die onderwyser my belangstelling in geestelike dinge opgemerk. Om my geestelike honger te bevredig, het hy my ’n Holman-uitgawe van die Bybel gegee, wat sowat 4 000 vrae en antwoorde bevat het. Dit het my 11-jarige verstand baie gegee om oor na te dink.

‘Dit is die waarheid’

Gedurende daardie vroeë jare het van die Slowaakse immigrante in die gebied waar ons gewoon het, Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Een van hulle was my oom, Michal Bali, wat met ons oor Bybelwaarhede gepraat het. Maar in 1922 het my ma met my en my suster na Záhor teruggekeer, wat teen daardie tyd deel van oostelike Tsjeggo-Slowakye was.

Kort daarna het oom Michal ’n volledige stel Studies in the Scriptures, deur Charles Taze Russell, vir my gestuur, sowel as herdrukte nommers van die Watchtower van die heel eerste nommer van 1 Julie 1879 af. Ek het alles deurgelees, party dele verskeie kere, en dit het my daarvan oortuig dat ek die Bybelwaarheid gevind het waarna ek op soek was.

Omstreeks daardie tyd het party Bybelstudente wat van Slowaakse afkoms was, van die Verenigde State af na hulle geboorteland teruggekeer. Hulle het die eerste Slowaaksprekende groepe Bybelstudente in Tsjeggo-Slowakye gevorm. Ek en my ma het hierdie vroeë vergaderinge in ons dorpie Záhor sowel as in ander nabygeleë plekke bygewoon.

Hierdie vergaderinge het ooreengekom met Christelike vergaderinge van die eerste eeu. Ons het gewoonlik in die huis van een van die Bybelstudente byeengekom, waar ons om ’n tafel gesit het met ’n petroleumlamp in die middel daarvan om vir ons lig te gee. Omdat ek die jongste was, het ek ’n bietjie verder terug in die donker gesit en luister. Soms is ek egter genooi om deel te neem. Wanneer van die ander ietwat onseker was oor hoe iets in Slowaaks gestel is, het hulle gesê: “Wel, Ján, wat sê die Engels hieroor?” Ek was gretig om naby die lamp te gaan sit en die deel in die Engelse publikasie in Slowaaks te vertaal.

Onder diegene wat Bybelstudente in die Verenigde State geword het en teruggekeer het na wat toe Tsjeggo-Slowakye was, was Michal Šalata. Hy het teruggekeer na die nabygeleë dorpie Sečovce, waar hy voorheen gebly het, en het die predikingswerk in Tsjeggo-Slowakye help organiseer. Broer Šalata het my saam met hom op predikingsreise geneem. Ek het hom in 1924, toe ek 13 was, gevra om my te doop. Al het my ma gedink dat ek ’n bietjie jonk was vir so ’n ernstige stap, het ek haar oortuig dat ek seker was van my besluit. Daardie Julie het ek dus tydens ’n eendagbyeenkoms wat naby die Ondava-rivier gehou is, my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur in daardie rivier gedoop te word.

Kosbare diensvoorregte

Toe ek 17 was, het ek gehoor dat daar ’n paar kilometer van die dorpie waar ek gepreek het, ’n begrafnis gehou sou word. Dit was die eerste begrafnis wat die Bybelstudente in daardie gebied sou hou. Toe ek daar aankom, het ek deur die nuuskierige dorpenaars na die spreker gestap. Toe ek by hom uitkom, het hy vir my gesê: “Ek gaan eerste praat en dan moet jy verder praat.”

Ek het my toespraak gebaseer op die teks in 1 Petrus 4:7, wat sê: “Die einde van alles het naby gekom.” Ek het vir hulle uit die Skrif gewys dat selfs lyding en die dood binnekort iets van die verlede sal wees, en ek het die opstandingshoop verduidelik (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Ondanks die feit dat ek selfs jonger gelyk het as wat ek was—of dalk was dit daaraan te danke—het almal in die gehoor aandagtig geluister.

Ons het opwindende nuus in The Watchtower van 15 September 1931 ontvang, wat verduidelik het dat ons nie langer Bybelstudente of iets soortgelyks genoem wou word nie, maar dat ons as Jehovah se Getuies bekend wou staan. Nadat ons hierdie inligting gelees het, het die Bybelstudente in ons gebied reëlings getref vir ’n spesiale vergadering. Sowat 100 Bybelstudente het in die dorpie Pozdišovce bymekaargekom. Daar het ek die voorreg gehad om ’n toespraak te gee met die titel “Die nuwe naam”, wat op die bogenoemde Watchtower-artikel gebaseer was.

Daar was groot opgewondenheid in die gehoor en almal het hulle hand opgesteek toe hulle gevra is om dieselfde resolusie aan te neem wat deur medegelowiges in ander wêrelddele aangeneem is. Toe het ons ’n telegram na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gestuur wat gesê het: “Ons, Jehovah se Getuies, wat vandag in Pozdišovce byeengekom het, stem saam met die verduideliking in The Watchtower oor die nuwe naam, en ons neem hierdie nuwe naam, Jehovah se Getuies, aan.”

Die uitgestrekte gebied van Slowakye en Transkarpate, wat voor die Tweede Wêreldoorlog deel van Tsjeggo-Slowakye was, was ’n vrugbare veld vir ons Christelike bediening. Ons het hierdie groot gebied te voet en ook per trein, bus en met fietse gedek. Gedurende hierdie tyd is die “Fotodrama van die Skepping”, ’n rolprent- en skyfievertoning met gesinchroniseerde klank, in baie stede gewys. Ná elke vertoning is die adresse van belangstellendes geneem. Ek is baie van hierdie adresse gegee en is gevra om te reël dat Getuies die belangstellendes besoek. In party stede het ons ’n ouditorium gehuur waar ek ’n spesiale opvolgtoespraak gehou het.

In die 1930’s het ek die voorreg gehad om groter byeenkomste in die hoofstad, Praag, by te woon. In 1932 is die eerste internasionale byeenkoms in Tsjeggo-Slowakye gereël. Ons het by die Varieté-teater byeengekom. Die tema van die openbare toespraak “Europa staan voor vernietiging” het die mense se belangstelling gewek en omtrent 1 500 het dit bygewoon. Nog ’n internasionale byeenkoms is in 1937 in Praag gehou, en ek het die voorreg gehad om een van die toesprake te hou. Daar was afgevaardigdes van baie Europese lande, en ons almal het die nodige aanmoediging ontvang sodat ons die beproewinge kon verduur wat kort daarna tydens die Tweede Wêreldoorlog oor ons gekom het.

Huwelik en swaar toetse

Nadat ons na Tsjeggo-Slowakye teruggekeer het, het ek en my ma skouer aan skouer saam met mede-Bybelstudente in die nabygeleë dorpie Pozdišovce in die bediening gewerk. Daar het ’n mooi meisie met die naam Anna Rohálová my oog gevang. Toe ons ’n bietjie ouer geword het, het ons besef dat ons gevoelens vir mekaar meer as blote toegeneentheid tussen ’n Christenbroer en -suster is. Ons is in 1937 getroud. Van toe af het Anna my ondersteun, selfs tydens die “moeilike tye” wat voorgelê het.—2 Timoteus 4:2.

Kort ná ons troue was dit duidelik dat Europa vir die Tweede Wêreldoorlog voorberei. Teen November 1938 is dele in die suide van Transkarpate en Slowakye geannekseer deur Hongarye, wat ’n bondgenoot van Nazi-Duitsland was. Ons vergaderinge is deur die Hongaarse polisie verbied, en ons moes gereeld by die polisiestasie aanmeld.

Ná die begin van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 is ’n hele klompie van ons wat in Záhor was, mans sowel as vroue, in hegtenis geneem en na ’n ou kasteel geneem naby Mukachevo, wat nou in die Oekraïne is. Daar het ons baie mede-Getuies ontmoet wat van gemeentes in Transkarpate was. Nadat ons drie tot vier maande lank ondervragings moes verduur en dikwels geslaan is, het ons voor ’n spesiale militêre hof verskyn. Ons almal is net een vraag gevra: “Is jy bereid om vir Hongarye teen die USSR te veg?” Aangesien ons geweier het, is ons gevonnis en uiteindelik gestuur na ’n gevangenis in Boedapest, Hongarye, in Margitboulevard 85.

Al die gevangenes was op ’n hongerdieet. Siektes het kort voor lank uitgebreek en gevangenes het begin sterf. Hoe hartverblydend was dit tog toe my vrou al die pad van Záhor af gekom het om my te sien! Al kon ons net omtrent vyf minute deur die ystertralies met mekaar praat, was ek dankbaar teenoor Jehovah vir so ’n getroue metgesel.a

Van die gevangenis na ’n strafkamp

Van die gevangenis af is ek direk na Jaszbereny, Hongarye, geneem waar daar sowat 160 Getuies was. Terwyl ons daar was, het ’n Hongaarse offisier die laaste aanbod van die Hongaarse regering aan ons gemaak: “Tree vorentoe as julle bereid is om in die leër te dien.” Niemand het beweeg nie. Die offisier het gesê: “Hoewel ek nie saamstem met wat julle doen nie, bewonder ek julle vasbeslotenheid om nie julle geloof prys te gee nie.”

’n Paar dae later het ons aan boord van ’n skip op die Donau-rivier gegaan en het ons vertrek na ’n strafkamp naby die Joego-Slawiese stad Bor. Terwyl ons op die skip was, het die soldate en hulle bevelvoerder herhaaldelik druk op ons uitgeoefen om ons geloof te versaak. Die bevelvoerder het beveel dat die soldate ons met hulle gewere slaan, met hulle stewels skop en ons op ander maniere martel.

Toe ons aan luitenant-kolonel András Balogh, die bevelvoerder van die strafkamp by Bor, oorgelewer is, het hy vir ons gesê: “As ek die waarheid oor julle vertel is, gaan julle binnekort sterf.” Maar nadat hy die verseëlde boodskap van regeringsamptenare gelees het, het hy ons met respek behandel. Balogh het ons redelike bewegingsvryheid gegun en ons selfs toegelaat om ’n barak vir onsself te bou. Al was kos skaars, het ons ons eie kombuis gehad, en gevolglik is die kos regverdig verdeel.

In Maart 1944 het die Duitse besetting van Hongarye begin. Gedurende dié tyd is Balogh vervang met ’n Nazi-gesinde bevelvoerder Ede Marányi. Hy het streng dissipline toegepas, baie soos dié in die konsentrasiekampe. Maar nie lank daarna nie het Russiese troepe al hoe nader gekom, en die kamp by Bor is ontruim. Later, tydens ons tog van daar af, het ons die slagting van Jode by Cservenka gesien. Dat ons gespaar is, het vir ons na ’n wonderwerk gelyk.

Toe ons die grens tussen Hongarye en Oostenryk bereik het, is ons beveel om neste vir masjiengewere te grawe. Ons het verduidelik dat ons gevangenes was juis omdat ons geweier het om by militêre bedrywighede betrokke te raak. Aangesien ek voor in die groep was, het ’n Hongaarse offisier my gegryp en my begin slaan. “Ek sal jou doodmaak!” het hy geskreeu. “As jy nie werk nie, sal die ander jou slegte voorbeeld volg!” As András Bartha, ’n ouer Getuie wat die leiding in ons predikingswerk geneem het, nie tussenbeide getree het nie, sou ek my lewe verloor het.b

’n Paar weke later het die oorlog geëindig en het ons die terugtog aangepak huis toe. Ander gevangenes, wat vroeër uit Bor vrygelaat is, het vir mense vertel dat almal van ons wat na Cservenka geneem is, doodgemaak is. My vrou het dus ses maande lank gedink dat sy ’n weduwee is. Hoe verbaas was sy tog om my eendag voor haar deur te sien! Ons het trane van vreugde gestort toe ons mekaar weer vir die eerste keer in jare omhels het.

Herorganisering van die werk

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Slowakye weer met Tsjeggië verenig om Tsjeggo-Slowakye te vorm. Maar Transkarpate, waarvan ’n groot deel voor die oorlog aan Tsjeggo-Slowakye behoort het, het deel van die Oekraïne in die Sowjetunie geword. In 1945 het ek en Michal Moskal na Bratislava, nou die hoofstad van Slowakye, gegaan waar ons met verantwoordelike broers byeengekom het om die predikingswerk te herorganiseer. Hoewel ons liggaamlik en emosioneel uitgeput was, was ons gretig om voort te gaan met ons opdrag om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14; 28:18-20.

Ná die oorlog het byeenkomste groot momentum aan ons werk gegee. In September 1946 is die eerste een vir die hele land in die stad Brno gehou. Ek het die voorreg gehad om ’n toespraak te hou met die tema “Die oes, die voleinding van die wêreld”.

In 1947 is nog ’n nasionale byeenkoms in Brno gehou. Daar het Nathan H. Knorr, Milton G. Henschel en Hayden C. Covington, besoekers van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, aanmoedigende toesprake gehou. Ek het die voorreg gehad om hulle toesprake te tolk. Hoewel ons destyds omtrent 1 400 Koninkryksverkondigers in Tsjeggo-Slowakye gehad het, het sowat 2 300 die openbare toespraak bygewoon.

Vervolging onder die Kommuniste

In 1948 het die Kommuniste die land oorgeneem, en weldra is ’n verbod wat 40 jaar lank geduur het, op ons predikingswerk geplaas. In 1952 is baie van ons wat deur die owerheid as leiers beskou is, gevange geneem. Die meeste is van ondermyning aangekla, maar ’n paar van ons is van hoogverraad aangekla. Ek is in die gevangenis gegooi en is 18 maande lank gedurig ondervra. Toe ek gevra het in watter opsig ek ’n verraaier is, het die regter gesê: “Jy het oor die Koninkryk van God gepraat. En jy sê dat dit die heerskappy oor die wêreld gaan oorneem. Dit sluit ook Tsjeggo-Slowakye in.”

“As dit die geval is”, het ek geantwoord, “sal u almal wat die Onse Vader bid en vra dat ‘God se Koninkryk kom’, ook as verraaiers moet beskou.” Ek is nietemin tot vyf en ’n half jaar gevonnis en is na die berugte Kommunistiese gevangenis in Jáchymov, Tsjeggo-Slowakye, gestuur.

Nadat ek die grootste deel van my straftyd uitgedien het, is ek vrygelaat. My vrou, Anna, het my getrou ondersteun deur vir my te skryf en my te besoek, asook deur na ons dogter Mária om te sien. Ons is uiteindelik as ’n gesin herenig en het voortgegaan met ons Christelike bedrywighede, wat ons ondergronds gedoen het.

’n Bevredigende lewe in Jehovah se diens

Gedurende die afgelope meer as 70 jaar het Jehovah se Getuies in ons omgewing onder verskillende omstandighede gedien, meestal onder ’n Kommunistiese regering. Ja, ek het oud en fisies swak geword, maar ek dien nog steeds as ’n Christen- ouer man in Záhor, saam met getroue broers soos Ján Korpa-Ondo, wat nou 98 jaar oud is.c My geliefde vrou, wat werklik vir my ’n gawe van Jehovah was, het in 1996 gesterf.

Ek kan my die denkbeeldige toneel nog duidelik voorstel wat beskryf word op bladsye 228 tot 231 van die boek The Way to Paradise, wat in 1924 uitgegee is. Die leser is gevra om hom voor te stel dat hy in die Paradys is en hoor hoe twee mense gesels wat opgewek is. Hulle het gewonder waar hulle is. Toe het iemand wat Armageddon oorleef het, die voorreg gehad om vir die twee te verduidelik dat hulle opgewek en nou in die paradys is (Lukas 23:43). As ek Armageddon oorleef, sal ek graag sulke dinge aan my vrou, my moeder en ander geliefdes wil verduidelik wanneer hulle opgewek word. Maar as ek voor Armageddon sterf, sien ek uit na die tyd wanneer iemand in die nuwe wêreld my sal vertel van die dinge wat ná my dood gebeur het.

Vandag waardeer ek nog steeds die unieke en absoluut wonderlike voorreg om met die Soewereine Heer van die heelal te praat en nader aan hom te kan kom. Ek is vasbeslote om in ooreenstemming met die apostel Paulus se woorde in Romeine 14:8 te lewe: “As ons lewe, lewe ons vir Jehovah, en ook as ons sterf, sterf ons vir Jehovah. Of ons dan lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah.”

[Voetnote]

a Sien die verhaal van Andrej Hanák in die Ontwaak! van 22 April 2002, bladsye 19-24. Daarin word die toestande in hierdie gevangenis beskryf sowel as die gebeure by Cservenka wat later in hierdie artikel gemeld word.

b Sien Die Wagtoring van 15 Julie 1993, bladsy 11, vir meer inligting oor András Bartha.

c Sien sy lewensverhaal in Die Wagtoring van 1 September 1998, bladsye 24-8.

[Prent op bladsy 21]

Saam met Anna, ’n jaar ná ons troue

[Prente op bladsy 22]

Saam met Nathan H. Knorr in 1947 by die byeenkoms in Brno

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel